Persvrystelling: Winterskool weer met trots in 2018 aangebied

  • 0

33 jaar nadat die eerste Herfsskryfskool op Potchefstroom aangebied is (in April 1985), maak die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit steeds so – maar soos in die vorige twee jaar met ’n Winterskool.

Dosyne gevestigde skrywers het oor die jare hier ’n wegspringplek of hupstoot vir hul loopbane kom vind. Van 4 tot 8 Junie 2018 bied die ATKV-Skryfskool weer so ’n skolingsgeleentheid aan opkomende woordsmede.

Opwindende, bekroonde skrywers wat ook boeiende geselsers is, kom gee inspirasie en wenke aan dié wat die leer wil klim as skrywers van verhale, rubrieke en gedigte: Etienne van Heerden, Jolyn Phillips, Jaco Kirsten, Martie Swanepoel, Gerda Taljard en Valda Jansen.

Die hartklop van die Winterskool is die werkswinkels waartydens kursusgangers kan slyp aan die pennevrugte wat hulle by inskrywing moet voorlê. Jaco Kirsten (rubrieke), Hans du Plessis (verhaalkuns) en Bernard Odendaal en Jolyn Phillips (digkuns) sal die leiding by die drie werkswinkelgroepe neem.

’n Ander sterkpunt van die Winterskool is dat kursusgangers uit die spreekwoordelike perd se bek kan hoor wat uitgewers verwag van skryfwerk wat die paal gaan haal by die manuskripkeurders. In 2018 kom maak verteenwoordigers van die Afrikaanse hoofstroomuitgewers weer ’n draai by die Winterskool.

Stel jy belang om die Winterskool 2018 by te woon? Om meer te verneem oor die skryfkompetisie waardeur drie gelukkiges gratis bywoning van die Winterskool kan wen, kontak vir Kobie van Aswegen (sekretaresse) van die ATKV-Skryfskool: kobie.vanaswegen@nwu.ac.za; tel 018 299 1783.

Skakel met Bernard Odendaal, direkteur van die ATKV-Skryfskool, vir onderhoude: bernard.odendaal@nwu.ac.za; tel 018 299 1782.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top