US-persvrystelling: Taalbeleid van 2016

  • 3

Universiteit Stellenbosch (US) (Foto: www.sun.ac.za)

Persvrystelling uitgereik deur Universiteit Stellenbosch (US) 

Agtergrond

Die Wes-Kaapse afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika het onlangs in die guns van die Universiteit Stellenbosch (US) beslis in Gelyke Kanse en agt ander applikante se aansoek om die hersiening en tersydestelling van die proses vir die hersiening van die Taalbeleid en die 2016 Taalbeleid self. Van die belangrikste vertrekpunte van die 2016 Taalbeleid is dat taal toegang tot die instelling moet bevorder, en die akademiese en beroepsukses van studente en personeel moet ondersteun. In sy uitspraak, het Regter Daniel Dlodlo die volgende oor die Beleid gesê: “As ’n mens die Beleid van 2016 holisties beskou, besef jy dit is in verhouding tot die mikpunte waarna dit streef. Ek kan my nie ’n beter en meer sorgvuldig opgestelde beleid voorstel nie.” Die US is intussen in kennis gestel dat die applikante vir verlof tot appèl teen die uitspraak aansoek gedoen het.

“Taalbeleid van 2016 beste om Universiteit Stellenbosch se veelvuldige doeleindes te bereik”

“Ek kom tot die slotsom dat die Universiteit Stellenbosch (US) besluit het dat die Taalbeleid wat hy in 2016 aanvaar het die beste is om sy veelvuldige doeleindes van die voorkoming van uitsluiting, die bevordering van meertaligheid, die versekering van integrasie en die beskerming van Afrikaans te bereik. Die Universiteit het duidelik etlike faktore in ag geneem en alles opgeweeg.”

Dít was die siening van die Wes-Kaapse afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika in die onlangse uitspraak (skakels na die volledige hofuitspraak volg onder) in die aangeleentheid tussen Gelyke Kanse en agt ander applikante (waaronder die president van die Konvokasie van die US), en die Universiteit Stellenbosch.

Die applikante het aansoek gedoen om die hersiening en tersydestelling van die besluite van die US se Senaat en Raad op onderskeidelik 9 en 22 Junie 2016 om die Taalbeleid van 2016 ingevolge artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997 te aanvaar, sowel as van die beleid self, en ook om ’n bevel wat die US noop om na sy vorige Taalbeleid van 2014 terug te keer. Volgens die applikante was dit noodsaaklik dat die Afrikaanse aanbod nie verminder word nie en dat Afrikaans die hoofonderrigtaal van die US bly.

Hof wys hoofaansoek van die hand

Die hof het die aansoekers se hoofaansoek sowel as hulle aansoek om verlof om ’n verdere beëdigde verklaring in te dien en mondelinge getuienis daaroor aan te bied, met koste van die hand gewys. Die US het ook met welslae, en met twee kostebevele in sy guns, twee skrappingsaansoeke ingedien om onnodige, nietersaaklike en hoorsêgetuienis uit die aansoekers se funderende en antwoordende eedsverklarings te verwyder. Die US het aangebied om die koste verbonde aan die buitetydse indiening van sy antwoordende stukke te betaal, en die hof het die US beveel om dit ooreenkomstig die aanbod te doen.

Kortom het die hof bevind dat die Taalbeleid van 2016 aan die Hoëronderwystaalbeleid voldoen. In die woorde van regter Dlodlo het die “applikante nie die hof oortuig dat die US-beleid van 2016 enigsins ongrondwetlik is nie”, en die hof het dus ook oor die grondwetlikheid van die beleid in die US se guns beslis.

Wat betref verskeie bewerings deur die applikante dat die hersiening van die Taalbeleid in 2016 onder verdenking staan weens onder andere die voorafbepaling van die proses en uitkomste, partydigheid, onbehoorlike beïnvloeding, bedekte beweegredes, versuim om alle inligting in ag te neem, en dat die US voor politieke druk en dreigemente van geweld geswig het, was daar volgens die hof geen bewyse van onvanpaste gedrag nie.

Aanvegting van die Taalbeleid van 2016

Die applikante het die Taalbeleid van 2016 self aangeveg op grond daarvan dat dit onbestaanbaar is met artikel 29(2) en artikel 9(2) van die Grondwet; dat dit strydig is met die reg op toegang tot hoër onderwys in artikel 29(1) van die Grondwet; dat dit neerkom op onbillike diskriminasie teen Afrikaanssprekendes en wit en bruin studente, en dat dit uit pas is met die Hoëronderwystaalbeleid.

Aanvegting van die hersieningsproses en -prosedure

Die applikante het voorts beweer dat die beleid van 2016 die eindproduk was van “onregmatige voorskrywing”, “partydigheid” en “bedekte beweegredes” deur die Universiteitsbestuur, wat “voorgegee het om oorleg te pleeg, en versuim het om tersaaklike inligting te oorweeg”. Teen hierdie agtergrond het die applikante dan ook die US se proses in aanloop tot die aanvaarding van die Taalbeleid van 2016 aangeveg. 

Volgens die applikante het die US prosedureel irrasioneel opgetree; het die US-bestuur die proses (selfs aan die Universiteitsraad) voorgeskryf onder die voorwendsel van oorlegpleging, terwyl daar inderwaarheid geen werklike oorlegpleging was nie; het die Universiteit die beleid om bedekte beweegredes aanvaar, naamlik om die US se afwykings van die beleid van 2014 te regulariseer en politieke druk en die moontlikheid of dreigemente van geweld af te weer, en het die US boonop versuim om alle tersaaklike inligting in ag te neem.

Taalbeleid voldoen aan Grondwet en Hoëronderwystaalbeleid

Die hof het bevestig dat die Taalbeleid van 2016 uitdruklik verklaar dat dit beoog “om uitvoering te gee aan artikel 29(2) van die Grondwet wat betref taalgebruik in die US se akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste, sowel as aan artikel 29(1) in soverre dit met hoëronderwystoegang verband hou”. Dít, het die hof geargumenteer, vereis noodwendig ’n toename in billike toegang tot die US vir alle studente en personeel, sowel as pedagogies verantwoordbare onderrig en leer. En aangesien die US se kampusse in die Wes-Kaap geleë is, het die instelling hom tot meertaligheid verbind deur die provinsie se drie amptelike tale, naamlik Afrikaans, Engels en Xhosa, te gebruik.

In navolging van die twee grondwetlike beginsels van ’n “verbintenis tot diversiteit” en “tot die uitwissing van die nalatenskap van Suid-Afrika se rasseverlede (waaronder ongelyke toegang tot openbare onderwys)”, het die US volgens die hof reg gehandel om ’n balans te vind tussen (a) Afrikaanssprekende studente se reg op hulle taal en kultuur, (b) die bevordering van meertaligheid, en (c) die regte van hoofsaaklik Afrikane wat nie Afrikaans magtig is nie, om ook toegang tot onderrig aan die US te kry.

Die ingeboude redelikheidstandaard in die Grondwet (artikel 29) vereis ’n konteksgevoelige oorweging van elke aanspraak op onderrig in ’n voorkeurtaal. In reaksie op die applikante se bewerings dat die Taalbeleid van 2016 op onbillike diskriminasie teen Afrikaanssprekende wit en bruin studente neerkom, het die hof gesê Afrikaanssprekendes se regte “moet ontleed word met volle erkenning aan die historiese konteks van staatsteun vir Afrikaans, die miskenning van ander inheemse tale, en rasse-uitsluiting van onderwys”. Die verbintenis tot gelykheid, regstelling en gelyke toegang tot verdere onderwys bly grondliggende komponente van die grondwetlike missie.

“Wanneer ’n mens die wedywerende belange van Afrikaanssprekendes en van Afrikane met geen of onvoldoende Afrikaansvaardigheid opweeg, is dit belangrik om in gedagte te hou dat die Grondwet na gelyke geleenthede streef, en nie ongelyke of gelyksoortige laste nie. Dit vereis gelyke voordele, nie gelyke nadele nie.”

“Ek vind dit moeilik om te aanvaar dat die beleid bedoel is om Afrikaans te verminder”

Daarbenewens het die hof dit “betwyfel dat daar enige afname in die Afrikaanse aanbod sal wees vergeleke met dié van die beleid van 2014”, en dat die nuwe beleid dalk selfs Afrikaanse onderrig kan vermeerder deur meer parallelmediumlesings en opvoedkundige tolking. “Ek vind dit moeilik om te aanvaar dat die beleid bedoel is om Afrikaans te verminder,” het regter Dlodlo gesê.

“Of die Afrikaanse aanbod afneem of nie, is ’n kwessie van implementering en nie ’n noodwendige gevolg van die beleid nie. Tog is dit nie die implementering van die beleid wat hier ter sprake is nie. As ’n mens die beleid van 2016 holisties beskou, besef jy dit is in verhouding tot die mikpunte waarna dit streef. Ek kan my nie ’n beter en meer sorgvuldig opgestelde beleid voorstel nie. Ek glo die US het weliswaar ’n ‘gepaste regverdiging’ aangevoer vir enige moontlike afname in Afrikaanse onderrig wat onvermydelik uit die beleid voortspruit,” het die regter gesê.

Hof vind geen gronde vir bewerings van onvanpaste gedrag

In antwoord op die verskeie bewerings deur die applikante, wat die hof opgesom en beskryf het as “onregmatige voorskrywing”, “voorgee om oorleg te pleeg”, “bedekte beweegredes”, “versuim om tersaaklike inligting te oorweeg” en “partydigheid”, was die bevindinge soos volg: 

  • Die bewerings dat die bestuur aan die Raad voorgeskryf het hoe die beleid moes lui, is ongegrond. Die Statuut van die Universiteit identifiseer duidelik die Raad as die hoogste besluitnemingsliggaam van die US, met die bestuur in ’n ondergeskikte posisie.
  • Die Raad het nie die struktuur van die taalhersieningsproses bevraagteken nie, want dit was weldeurdag en deursigtig. Sowel die Raad as die Senaat is besluitnemingsliggame met veelvuldige lede, wat gesamentlik ’n wye verskeidenheid belangstellende partye verteenwoordig.
  • Die US-bestuur het gepas opgetree om die proses aan te voor en te bepaal, want bestuurslede kon veranderende omstandighede en die impak van die Taalbeleid van 2014 die beste beoordeel.
  • Die lede van die werkgroep wat in beheer was van die hersieningsproses het oor gepaste kwalifikasies en ervaring beskik, en die meeste was van buite die US-administrasie.
  • Die werkgroep het die meeste tersaaklike dokumente en inligting oorweeg, waaronder die toepaslike regsbeginsels in die Grondwet, die Wet op Hoër Onderwys, die Hoëronderwystaalbeleid, sowel as die tersaaklike demografiese inligting, ’n behoorlik gestaafde opname van studentevoorkeure, en die koste verbonde aan volle parallelmediumonderrig.
  • Die werkgroep het die bydraes van studente en ander belanghebbendes oorweeg, en daarop gereageer deur gewysigde konsepte op te stel vir fakulteite, die Senaat, die Institusionele Forum, die Raad en die uitvoerende komitees van die Raad en Senaat se kommentaar. Die vierde weergawe van die beleid is ná lang en intense debatvoering en omvattende kommentaar van regsadviseurs goedgekeur. Dat die kommentaar van diegene ten gunste van ’n toename in die Afrikaanse aanbod óf gelyke aanbiedinge in Afrikaans en Engels nie aanvaar is nie, beteken nie dit is nie oorweeg nie.
  • Daar was geen bewyse dat ’n “radikale minderheid” die inhoud van die Taalbeleid aan die US-bestuur voorgeskryf het nie. Die wydverspreide ontwrigting op kampusse in 2015 en 2016 het nie in enige opsig met die Taalbeleid verband gehou buiten dat dit ’n dringendheid geskep het om die kwessie op te los nie.
  • Die bewerings oor bedekte beweegredes, naamlik die regularisering van vroeëre afwykings van die Taalbeleid van 2014, en die afwering van politieke druk en die dreigement van geweld, het die hof as “onbillik en sonder enige meriete” beskryf. Die genoemde afwykings is teen die tweede kwartaal van 2016 gestaak – maande voordat die beleid van 2016 aanvaar is. Uit die US se antwoordende stukke was dit ook “baie duidelik dat die gevaar van geweld nie die inhoud van die beleid van 2016 beïnvloed het nie”.
  • In antwoord op die US se bevestiging dat alle tersaaklike inligting oorweeg en aan die Senaat en Raad voorgelê is, het regter Dlodlo gesê: “Ek twyfel nie vir ’n oomblik oor hierdie stelling nie.”
  • Die US het die resultate van sy eie opname oorweeg, wat sterk steun getoon het vir die behoud van Afrikaans as hoofonderrigtaal. Hoewel die opname op steun vir Afrikaans gedui het, het die resultate egter ook beduidend meer steun vir dubbelmedium- en Engelse onderrig getoon.
  • Daar was geen gronde vir die argument dat die US ’n bedekte beweegrede gehad het nie. Dat die bestuur ’n bepaalde siening gehad het oor ’n taalbeleid, wat hulle gehoop het die Raad aanvaar, staaf gewoon nie ’n argument van partydigheid teen Afrikaanse onderrig nie. Die bestuur was daarop geregtig om sy mening te vorm en in die openbaar te lug. Die hof het bevind dat “die applikante oënskynlik nie op ekstrinsieke bewyse van partydigheid staatmaak nie. Hulle argument is dat partydigheid die enigste moontlike verklaring vir die besluit is. In die stukke is daar geen grondslag om tot ’n gevolgtrekking van partydigheid te kom nie.”

Waarom die beleid van 2014 verander?

Die hof het die redes vir die wysiging van die beleid van 2014, sowel as die beweegrede vir én inhoud van die beleid van 2016, sorgvuldig oorweeg.

Met die Taalbeleid en -plan van 2014 wou die US dit vir Engelssprekende studente makliker maak om aan die Universiteit te studeer. Tog was dit in 2015 en 2016 duidelik dat die beleid nie-Afrikaansvaardige studente – meestal swart Afrikane – uitsluit. Hierdie studente het nie die Afrikaanse (A-opsie-) of dubbelmedium- (T-opsie-) lesings ten volle verstaan nie; hulle het gestigmatiseer gevoel deur gelyktydige tolking (slegs in Engels), en boonop uitgesluit van die kampuslewe, waaronder koshuisvergaderings en -geleenthede. Daarteenoor was bykans alle Afrikaanssprekende studente vaardig genoeg in Engels om akademiese inhoud te verstaan.

Die hof het die beleid van 2014 beskryf as “’n dapper poging om weg te beweeg van die US se verlede en die gelyke status van Engels en Afrikaans te erken”. In sy antwoordende hofstukke het die US verduidelik dat die beleid van 2014 aangepas moes word weens die veranderende demografie van sy studentekorps en die toenemende vraag na Engels. In ’n onvoorsiene gevolg het die beleidsvoorneme om die US ewe toeganklik vir almal te maak, nou juis swart Afrikaanstudente van volle en billike toegang uitgesluit, soos die destydse eerstejaarsyfers toon:

  • 82,7% van Afrikaanssprekende studente was wit; 17% was bruin.
  • 62% van bruin studente was Engelssprekend.
  • 63% van eerstejaars wat nié Afrikaans as ’n graad 12-vak gehad het nie, was swart Afrikane.
  • 61% van alle swart Afrikaaneerstejaars het nie Afrikaans as ’n graad 12-vak gehad nie.

Gevolglik het die US besluit om ’n nuwe taalbeleid te aanvaar wat tot gevolg sou hê dat 100% van die leerinhoud ten minste in Engels aangebied word. Terselfdertyd bestuur die US die Afrikaanse aanbod om steeds toegang te bied aan studente wat verkies om in Afrikaans te studeer, en om Afrikaans so ver redelik moontlik as onderrigtaal te ontwikkel. 

Die Taalbeleid van 2016

Volgens die beleid van 2016 beoog dit uitdruklik om uitvoering te gee aan artikel 29(2) (taal in onderwys) en artikel 29(1)(b) (toegang tot hoër onderwys) in samehang met artikel 9 (gelykheid en die verbod op direkte en indirekte onbillike diskriminasie) van die Grondwet.

In die uitspraak verklaar die hof dan ook: “As ’n mens die beleid van 2016 van nader bekyk, is dit duidelik dat dit nie die Afrikaanse aanbod verminder nie. Die beleid is om die Afrikaanse aanbod te behou en, indien moontlik, te verhoog, onderworpe aan vraag en hulpbronne.” Die applikante het aangevoer die beleid van 2016 sal Afrikaans “feitlik uitsluit”.

“Dit is te betwyfel of daar enige afname in die Afrikaanse aanbod sal wees vergeleke met die aanbod in die beleid van 2014. Dít sal afhang van hoe fakulteite die beleid implementeer. Indien dit wel afneem, kan dit nie as ’n gevolg van die beleid beskryf word nie. Dit sal eerder ’n direkte gevolg wees van die aard van studentevraag en die perke van die US se hulpbronne. Ek vind dit moeilik om te aanvaar dat die beleid bedoel is om Afrikaans te verminder. Soos ek dit verstaan, is die beleid geskep en/of ontwerp om die omvang van Afrikaanse onderrig ingevolge die beleid van 2014 te handhaaf, en om soveel Afrikaanse onderrig te bied as wat die US moontlik kan, met inagneming van wat redelikerwys uitvoerbaar is.”

Die hof het ook daarop gewys dat die US nie verantwoordelik is vir die lot van Afrikaans in die hele Suid-Afrika nie, maar slegs vir wat binne die grense van die Universiteit self gebeur. Ander universiteite se besluit om hulle Afrikaanse aanbod te verminder of te staak, bepaal nie die wettigheid van die US se besluit om sy beleid te wysig nie.

“Die dieper kwessies in verband met ‘die oorwig van die meerderheid’ moet verstaan word as ’n aanvegting van die staat se beleid soos dit in die Hoëronderwystaalbeleid verskyn. Die US se beleid voldoen aan die Hoëronderwystaalbeleid. Die applikante se eintlike klagte is oënskynlik die gesamentlike nadelige uitwerking van verskeie universiteite se besluite op Afrikaanssprekendes. Soos die Hoogste Hof van Appèl beslis het, is die werklike teiken dus die staat se taalbeleid, en nie die US s’n nie. Myns insiens het die applikante nie hierdie hof oortuig dat die US-beleid van 2016 enigsins ongrondwetlik is nie,” het regter Dlodlo gesê. Hy het later ook bygevoeg die US-beleid is omsigtig gekalibreer om die gebalanseerde benadering te bewerkstellig wat die Hoëronderwystaalbeleid vereis.

Volgens die hof toon die inhoud van die Taalbeleid van 2016 die volgende:

  • Die US is deeglik bewus daarvan dat diegene van verskillende Suid-Afrikaanse taalgroepe Engels gebruik om met mekaar te kommunikeer.
  • Die US besef die beduidende akademiese, sake- en internasionale waarde van Engels.
  • Die US is bewus van die behoefte om die akademiese potensiaal van Afrikaans te bevorder, en gaan van die veronderstelling uit dat dit inderdaad redelik uitvoerbaar is om Afrikaanse onderrig te bied.
  • Die US weet dat bykans alle Afrikaanssprekende studente vaardig genoeg is in Engels om in Engels te kan studeer. Dít was trouens ’n kernoorweging in die aanvaarding van die beleid. Daarom het die US voorsiening gemaak vir ’n vlot oorgang na ’n universiteitsomgewing met meer Engelse as Afrikaanse onderrig.

Die hof het bevind dat Afrikaanse studente in werklikheid minder benadeel sal word deur in Engels te moet leer, as Engelse studente wat in Afrikaans moet leer. “Indien die US dít nié in ag geneem het nie, sou die instelling irrasioneel opgetree het.”

Dus kom die hof tot die gevolgtrekking dat die beleid van 2016 om die volgende redes billik is:

  • Die US aanvaar dat toegang tot onderrig in die taal van ’n mens se keuse ten sterkste met menswaardigheid verband hou. Die US bied steeds onderrig in Afrikaans, en daarom is enige denkbare aantasting van waardigheid minimaal. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die meeste Afrikaanssprekendes wel in Engels kan leer.
  • Wanneer alle oorwegings opgeweeg word, is dit billik dat diegene wat deur die beleid benadeel word oorwegend wit Afrikaanssprekendes is, wat ’n historiese én huidige posisie van bevoorregting beklee.
  • Die beleid vereis die maksimum Afrikaanse aanbod binne die US se hulpbronne.
  • Dit verseker billike toegang tot die US en bevorder diversiteit deur ’n aantreklike en tegemoetkomende ruimte vir alle studente te skep, ongeag ras.

“Ek kom tot die slotsom dat die US besluit het dat die Taalbeleid wat hy in 2016 aanvaar het die beste is om die instelling se veelvuldige doeleindes van die voorkoming van uitsluiting, die bevordering van meertaligheid, die versekering van integrasie en die beskerming van Afrikaans te bereik. Die Universiteit het duidelik etlike faktore in ag geneem en alles opgeweeg. Volgens die wet mag hierdie hof nie daardie uiters moeilike proses bevraagteken nie, tensy die uitkoms ooglopend irrasioneel is,” het regter Dlodla gesê.


 

1. Artikel 29 van die Grondwet 

 

Artikel 29(1): “Elkeen het die reg – 

a) op basiese onderwys, met inbegrip van basiese onderwys vir volwassenes; en
b) op verdere onderwys wat die staat deur middel van redelike maatreëls in toenemende mate beskikbaar en toeganklik moet maak.”

 

Artikel 29(2): 

“Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings, oorweeg, met inagneming van –

a) billikheid;
b) doenlikheid; en
c) die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel.”

 

2. Artikel 9(2) van die Grondwet 

“Gelykheid sluit die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede in. Ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder, kan wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is vir die beskerming of ontwikkeling van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is.”

 

3. Hoëronderwystaalbeleid 

Die Hoëronderwystaalbeleid streef na ’n balans tussen die behoefte aan die transformasie van die hoër onderwys aan die een kant, en die voorkoming dat instellings se onderrigtale toegang en sukses verhinder onder diegene wat nie ten volle Engels- en Afrikaansvaardig is nie aan die ander, sowel as die ontwikkeling van meertaligheid in daardie instellings se daaglikse bedrywighede en kernaktiwiteite, waaronder die ontwikkeling van inheemse Afrika- en ander tale as wetenskaplike en akademiese tale. Boonop wil die beleid die langtermynhandhawing en -groei van Afrikaans as ’n wetenskaplike en akademiese taal in die hoëronderwysstelsel verseker.



Hofuitspraak

Die hofuitspraak is slegs in Engels beskikbaar.

Judgement in the Western Cape Division of the High Court of South Africa  in the matter between Gelyke Kanse and eight other applicants, and Stellenbosch University.

Section 1 
Section 2
Section 3
Section 4
Section 5

Agtergrondinligting oor die US se Taalbeleid

In Matieland (2016), die Universiteit Stellenbosch se jaarblad, praat Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig, reguit oor taal en die verkeerde aanname dat die Taalbeleid die einde beteken van Afrikaans as onderrigtaal by die US. Hieronder volg ’n uittreksel oor taalimplementering uit dié artikel: 

Hoe sal die nuwe Taalbeleid prakties toegepas word?

Vir voorgraadse modules is Afrikaans en Engels die tale van leer en onderrig. Waar dit redelikerwys uitvoerbaar en opvoedkundig verantwoordbaar is, sal lesings afsonderlik in Afrikaans en Engels vir groot groepe aangebied word, maar tutoriale en praktika sal studente van albei taalgroepe weer in een sessie saamtrek.

In lesings waar Afrikaans én Engels gebruik word, word alle inligting minstens in Engels oorgedra, aangevul met ’n samevatting of beklemtoning in Afrikaans. Vrae word in dieselfde taal as die vraag beantwoord. Vir eerstejaarmodules sal intydse tolking gedurende elke lesing beskikbaar wees. In verdere studiejare sal tolking op versoek van die fakulteit voorsien word.

Voorgraadse lesings kan in een taal aangebied word net waar die aard van die leerstof dit regverdig, die dosent slegs in een taal kan klas gee, of die klasgroep per stembrief eenparig vir een taal stem. Vir ten minste eerstejaarstudente sal intydse tolking na die “ander” taal beskikbaar wees.

Studente sal verder in Afrikaans én Engels ondersteun word deur konsultasies in kantoortyd; roetine-tutoriale en -praktika; inligtings- en kommunikasietegnologie ondersteunde leer (klank- en video-opnames); en die dienste van die Taalsentrum.

Alle verpligte leesstof sal beskikbaar wees in Engels en, buiten gepubliseerde materiaal, ook in Afrikaans. US-moduleraamwerke en -studiegidse is steeds in Engels én Afrikaans beskikbaar. In voorgraadse modules word vraestelle vir toetse, eksamens en ander assesserings in Afrikaans én Engels opgestel, en kan studente alle assesserings en geskrewe werk in Afrikaans of Engels voltooi. Die meertalige model ondersteun Afrikaanse studente wat in hul eerste studiejaar nog nie Engels op ’n akademiese vlak bemeester het nie. Teen hul finale studiejaar kan hulle nasionaal en internasionaal meedoen. 

Vir studente met Afrikaans as voorkeurtaal sal Afrikaans ruim en prakties in al drie taalmodusse aangewend word. Hoewel alle inligting ook in Engels oorgedra word, word Afrikaans nie op die agtergrond geskuif nie. Ons vertrekpunt is kennisoordrag deur meer as een taal, ingestel op die behoeftes van studente.

  • 3

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Jan Marais se skenking het die stigting van die Universiteit Stellenbosch moontlik gemaak. Marais se skenkingsvoorwaarde is dat onderrig aan die US moet geskied "door middel van die Hollandse taal in zijn beide vormen (dit wil zeggen Afrikaans sowel als Nederlands) en wel te dien einde dat in sodanige onderwijs de Hollandse taal in zijn beide vormen als voormeld geen mindere plaats dan de andere officiele landstaal zal innemen" (Pieter Kapp, Nalatenskap sonder einde: Die verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers, Stellenbosch: Het Jan Marais Nationale Fonds, 2015, p 167). Dit is baie duidelik uit die bostaande persvrystelling dat Engels die hoofonderrigtaal aan die US geword het en dat Afrikaans tot 'n mindere plek afgeskaal is. Volgende jaar gaan die US sy eeufees vier. Gaan die US dan of vroeër erken dat hy Marais se stigtingsvoorwaarde doelbewus ignoreer of sal die US voortgaan om hierdie feit op 'n immorele manier te kamoefleer deur te skuil agter bv die uitspraak wat regter Daniel Dlodlo in Engels gelewer het?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top