Persvrystelling: Teater en musiek vir almal by die Suidoosterfees!

  • 0

Die tyd kom al hoe nader! Die 15de Suidoosterfees – met die tema "Fantastiese 15" – vind van 26 April tot 1 Mei in Kaapstad plaas en beloof om weer een vir die boeke te wees.

kykNET SOF Hip Pops is ’n produksie waar alternatiewe vorme van musiek op ’n unieke wyse vermeng word. Kaapstad is lank reeds bekend vir haar sosiaal bewuste benadering tot hip-hop. Daar is die afgelope tyd ’n aantal jong kunstenaars wat ’n meer lighartige benadering tot lirieke en ritme volg. En nou, vir die heel eerste keer in die musiekgeskiedenis, word hierdie kletsrymers met klassieke musiek gekombineer. Hierdie is ’n eenmalige musiekkonsert, eie in sy soort en gaan Suid-Afrika aan die gons hê.

Jack Parow

Kunstreffers: Konsert van Hoop is ’n musiek- en dansskouspel, aangebied in samewerking met die Kunstekaap. Die program is gevul met optredes deur kunstenaars soos Laurika Rauch en die Libertaskoor, asook die wenners van die Suidoosterfees Talentsoektog 2017: The Unknown Dansgroep, Vusumuzi Mpofu (digter) en Anja van den Berg (sangeres). Robin Peters van The Voice-faam sing bekende treffers soos Bruno Mars se "Versace on the floor" en die operasangers, Janel Speelman en Xolane Marman, sing bekende klassieke werke. Hierdie is ’n geleentheid vir jonk en oud, waar die sterre van môre die verhoog met die lewende legendes van vandag deel.

Janel Speelman

Suidoosterfees spog verder met die produksie Sai & Katallies (se long walk to freedom). In ons soeke na ontsnaproetes uit ons “tronke”, vergeet ons soms die sleutel van die sel in ons broeksak. Die produksie wys daarop dat al stap jy fisies agter vryheid aan, al vlug jy landuit, sal jy nooit vrykom van bitterheid as jy nie vergewe nie. Klaas glo dat hy vry sal wees as hy Nelson Mandela se stem slegs eenmaal kan hoor.

Sai & Katallies (se long walk to freedom)

Nog ’n gehalte musiekproduksie by vanjaar se Suidoosterfees is Karoo swing innie Kaap. Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe deel die verhoog in hierdie konsert waar Afrikaanse musiek afgestof word. Hierdie kunstenaars stel hul gedeelde liefde vir “big band swing” ten toon. Hierdie nostalgiese reis is vir elkeen wat lus voel om te jol.

Katlego Maboe, Emo Adams en Bobby van Jaarsveld

Die Suidoosterfees-span wens vir ieder en elk ’n voorspoedige Werkersdag toe en hoop dat elke feesganger die dag sal geniet.

Bly op hoogte van die jongste Suidoosterfees-nuus op Facebook (@Suidoosterfees), Twitter (@Suidoosterfees), Instagram (@suidoosterfees2018) en besoek www.suidoosterfees.co.za.

Foto's: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top