Persvrystelling: Sandveldkos wen by die Gourmand World Cookbook Awards

  • 0

Rina Theron se selfgepubliseerde kookboek, Sandveldkos: Kosnostalgie en stories van gister, is pas aangewys as die Suid-Afrikaanse wenner in die plaaslike kategorie by die Gourmand World Cookbook Awards (http://www.cookbookfair.com/). Hierdie internasionale kompetisie word as die “Oscars” vir kookboeke beskryf, met inskrywings van meer as 200 lande wat aan die toekennings in 2018 sal deelneem. Sandveldkos sal nou in sy kategorie teen wenners van ander lande te staan kom, met die kortlys (ses boeke per kategorie) wat in Januarie bekend gemaak sal word, waarna die algehele wenner met die gesogte titel van “Best in the world” sal wegstap. Die wenners sal op 26 Mei 2018 by ’n galageleentheid in Yantai, China, aangekondig word.

Hierdie eer volg kort op die hakke van die SA Independent Publishers Awards, wat in Oktober 2017 in Richmond aangebied is tydens die BoekBedonnerd-fees, waar Sandveldkos met die louere weggestap het as beste selfgepubliseerde boek in die koskategorie.

Oor die boek

Sandveldkos: Kosnostalgie en stories van gister is ’n versameling resepte, huiswenke, veldmedisyne en staaltjies wat die mense van die Sandveld (die gebied neffens die Weskus van Suid-Afrika) goedgunstiglik met Rina Theron gedeel het. Die boek vertel ook die geskiedenis van die Sandveld en bevat onderhoude met en profiele van bekendes uit die gebied wat hulle kosbare onthouresepte deel. Resepte met bestanddele uniek aan die Sandveld, die heerboontjie en die wit Sandveld-aartappel, vorm ’n kerndeel van hierdie erfeniskookboek.

Oor die skrywer

Rina Theron het meer as 40 jaar gelede as “inkommer” op die plaas Aan het Berg in die Sandveld kom woon. Hier het sy later self geboer ná die afsterwe van haar man. Ná haar aftrede, en met meer tyd op hande, het sy besluit om haar passie vir geskiedenis en kos uit te leef deur die mense van die Sandveld se stories en resepte in Sandveldkos: Kosnostalgie en stories van gister op te teken.

Kortliks

  • Die boek het drie jaar geneem om te voltooi.
  • Dit is self uitgegee en op bestelling by die skrywer beskikbaar. Die boek kan bestel word by 083 691 0808, rinatheron8@gmail.com of www.facebook/Sandveldkos. Die koste beloop R485 (posgeld uitgesluit) wat ’n bonusboekie met mosselresepte insluit.
  • Alle foto’s behalwe die voorblad is deur die mense van die Sandveld voorsien.

Onderhoude en artikels oor die boek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top