Persvrystelling: RSG Skatkis vol woordwalse

  • 2

 

RSG Skatkis is ’n splinternuwe konsep waarmee RSG sy luisteraars vir vier dae lank met drama, woordkuns, ’n dokumentêr en boonop ’n eksklusiewe dubbeldoor-bekendstelling gaan bederf. Dit word moontlik gemaak deur ’n borgskap van die Dagbreek Trust.

Die reeks aanbiedinge is gepas in die jaar waarin 80 Jaar van Afrikaanse Radio gevier word. Die gevierde en bekroonde kortverhaalskrywer Abraham H de Vries is ook vanjaar 80 jaar oud en RSG het vier van sy kortverhale as opdrag-radiodramas laat verwerk. Dit vorm deel van RSG Skatkis en word oor verskeie aande uitgesaai.

André Kotzé het die vier verhale vir die radio verwerk. Die verhale is “Jy moet jou by kry”, “Die rooi vaas”, “Dit was ’n voorgevoel” asook “ ’n Poeliesman weet nooit”.

Braam is een van die Sestigers en is onlangs met die NP van Wyk Louw-toekenning bekroon.

80 oftewel 80 jaar is ’n deurlopende tema in hierdie radio-skatkis.

Die Tsjeggies-gebore Britse dramaturg sir Tom Stoppard, wat ook 80 is, se If You’re Glad, I’ll be Frank is destyds in Afrikaans vertaal en deur Margot Luyt opgevoer. Luisteraars sal dus sy klassieke Frank & Gladys ook kan hoor ter herdenking van Luyt wat vanjaar haar 70ste verjaardag gevier het. Die spelers sluit in Louw Verwey en Kitty Albertyn.

Marlene van Niekerk stel haar twee nuwe digbundels eksklusief in ’n gesprek met die aktrise Susanne Beyers bekend. Van Niekerk se bundels, Gesant van die mispels asook In die stille agterkamer verskyn gesamentlik later vanjaar. Van Niekerk sal ook vir RSG Skatkis van haar nuwe verse voorlees.

Die akteur Johny Klein gaan van die bobaas-storieverteller Ferdinand Deist se tydlose Sandveld-stories voorlees. Luisteraars gaan hoor van "Hermaans Askies se opperasie", "Die suster m’t die snor", asook die "Dood vannie founmannetjie" – heerlike buiklag-vermaak.

Die voordragkunstenaar en akteur Chris van Niekerk lewer ’n kragtoer in Luigi Pirandello se Die man met die blom in sy mond. Pirandello sou vanjaar 150 jaar oud wees en hierdie kort drama gaan oud en jonk diep roer.

Die Italiaanse dramaturg Luigi Pirandello wat Die man met die blom in sy mond geskryf het, het in 1934 die Nobelprys vir letterkunde ontvang vir sy “byna magiese kragte om sielkundige analise in goeie teater te omskep”. Van Niekerk speel teenoor Anrich Herbst en glo my, elke luisteraar sal ’n hand vol snesies byderhand moet hê.

Die skrywer-digter Kirby van der Merwe het spesiaal ’n vernuwende versprogram vir RSG Skatkis saamgestel en gaan verras met die verse wat hy uit die literêre skatkis gelig het. Die gedigte en digters tree met mekaar in gesprek rondom die tema van ’n vertoonkas.

Die aktrise June van Merch en sangeres-musikant Hilandi du Toit reis vreesloos deur ’n vers- en klanklandskap in ’n produksie getiteld Ry-ry rymlangs wat hulle vir RSG saamgestel het. Van Merch gaan van haar eie verse voorlees, maar meesters soos ID du Plessis, AG Visser, Ingrid Jonker, Adam Small en Antjie Krog kan ook gehoor word.

In Die Woordemaker, ’n dokumentêr deur Ina Strydom ter huldiging van WA de Klerk wat vanjaar ’n eeu oud is, kry die skryfkuns van dié groot Afrikaanse literêre figuur nuwe lewe, terwyl RSG se uitvoerende regisseur: drama Kobus Burger uittreksels van wyle Ryk Hattingh se bekroonde roman, Huilboek, in ’n aangrypende program saamgestel het.

Veteraan-akteurs soos wyle Limpie Basson kan gehoor word in Thornton Wilder se Ons dorp, wat destyds deur Suzanne van Wijk opgevoer is. Ons dorp is in 1937 geskryf en dus ook 80 jaar oud. Dit het in 1938 die Pulitzer-prys vir Drama ontvang is steeds gewild in Suid-Afrika en word nog gereeld (gewoonlik in Engels) opgevoer.

En dan is Krisjan Fourie, Nic de Jager en Paul Riekert reg om laataand die spoke op te jaag in Die onsigbares. Die “spook” van die gifmoordenaar Daisy de Melker gaan in hierdie reeks haar verskyning maak.

RSG Skatkis word van Dinsdag 28 November tot Vrydag 1 Desember op RSG aangebied. Die reeks produksies is moontlik gemaak deur ’n borgskap van die Dagbreek Trust.

Die aanbiedinge begin saans om 19:00. Die eerste aand van RSG Skatkis sal egter tussen 20:00 en 21:00 gehou word. Van Woensdag tot Vrydag is dit van 19:00 tot 22:00. RSG Skatkis sal deur Christelle Webb-Joubert en Renske Jacobs aangebied word.

  • 2

Kommentaar

  • Theunis Kotzee

    Is Johny Klein se voorlesing van Sandveld Stories geskryf deur Ferdinand Klein op CD of ander meduim verkrygbaar?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top