Persvrystelling: Plaaslike film ding mee by internasionale rolprentfees

  • 0

Wanneer jy ’n stormagtige ma-seun-verhouding, dwelms en moord saamgooi, kry jy ’n storie vol intrige, emosie en spanning, wat kykers nie net vasgenael sal hou nie, maar ook kritici sal beïndruk. Een van die mees opspraakwekkende moordsake in Suid-Afrika kry eersdaags lewe op die grootskerm en is iets wat geen fliekliefhebber moet misloop nie! 

Net soos die ware verhaal waarop dit gebaseer is, het Ellen, die storie van Ellen Pakkies ook reeds die rolprentwêreld aan die gons en is dit op 27 Januarie 2018 by die Rotterdamse Internasionale Rolprentfees vertoon, lank voordat plaaslike kykers dit te siene gaan kry.

“Dit is vir my ’n groot voorreg om te weet dat hierdie klein film dit reggekry het om nie net aan internasionale standaarde te voldoen nie, maar ook erkenning te kry by so ’n gesogte fees. Dis regtig vir ons ’n groot eer en ek wil almal bedank wat dit moontlik gemaak het, veral Ellen Pakkies, ” sê uitvoerende vervaardiger, Paulo Areal.

Jill Levenberg as Ellen Pakkies

Die fliek, wat oor twee storielyne afspeel, vertel die storie van Ellen Pakkies (Jill Levenberg) se spanningsvolle verhouding met haar twintigjarige seun, Abie (Jarrid Geduld), wat aan dwelms verslaaf is. In 2007 het sy dood regoor die wêreld opslae gemaak. Die mees ontstellende aspek van die moordsaak was dat sy ma die moordenaar is. Advokaat Adrian Samuels (Clint Brink) neem dan haar saak in en is vasbeslote om te bewys dat Ellen nie ’n ander keuse gehad het nie. Maar wat het veroorsaak dat sy ophou hulp soek het? Hoe word ’n ma desperaat genoeg om haar eie seun se lewe te neem?

Bekroonde regisseur en stigter van Gambit Films, Daryne Joshua, wat bekend is vir sy suksesvolle debuutfilm, Noem My Skollie, was aan die stuur van hierdie indrukwekkende produksie, terwyl die draaiboek deur Amy Jephta geskep is met die hulp van die regte Ellen Pakkies se insette. Laasgenoemde het ook baie gehelp om die tonele in die fliek, wat in haar huis geskiet is, so outentiek as moontlik te herskep. Jill Levenberg, wat al verskeie rolle gehad het in films en televisiereekse soos GenadekansNoem my Skollie (wat in 2016 Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die Oscars was), LeemteWhile you weren’t lookingAbrahamBekkies gevindAs ek huis toe komFluit-fluitAtlasUitvlucht en Suidooster (waarvoor sy in 2017 genomineer is vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning) speel die rol van Ellen Pakkies en het reeds baie positiewe terugvoer oor haar vertolking ontvang. Elton Landrew, Shimmy Isaacs en Kay Smith is ook in die fliek te sien.  Die vervaardiger is Schalk Burger.

Ellen Pakkies en Jill Levenberg

“Die Rotterdamse Internasionale Rolprentfees is een van die mees gesogte internasionale filmfeeste. Ek is baie opgewonde dat ons klein Suid-Afrikaanse projek bo duisende ander inskrywings, van regoor die wêreld, gekies is om deel te wees daarvan in 2018. Baie geluk en baie dankie aan die vervaardigers en filmspan, ons kan trots wees op hierdie prestasie. Ek hoop ook dat mense nou ook die omstandighede rondom Ellen Pakkies se merkwaardige verhaal beter sal verstaan,” sê Daryne Joshua.

Ellen, die storie van Ellen Pakkies is die ontstellende verhaal van ’n vrou wat deur die strafproses geplaas word, teregstaan op ’n moordaanklag en gedryf is deur ’n onwrikbare liefde vir haar seun. Dit delf in die innerlike psige van ’n familie wat deur dwelms vernietig word in een van die gevaarlikste gemeenskappe in Suid-Afrika. ’n Plaag, met gevolge wat verder strek as die Kaapse Vlaktes en wat die staat se onvermoë om die armstes van die armes te beskerm, beklemtoon. Dié kykNET Films produksie is vervaardig in samewerking met M-Net, die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) en TMPBC (The Moving Billboard Picture Company). Dit word op 7 September 2018, landswyd, deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.

Sosiale media

Facebook: https://www.facebook.com/Die-Ellen-Pakkies-Storie-208819606253993/
Instagram: @ellenpakkies
Twitter: @EllenPakkies

Foto's:  Lindsey Appolis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top