Persvrystelling: Laat jou ou boeke ’n nuwe blaadjie omslaan

  • 0

Is jy mal oor jou ou, verwaarloosde hardebandboeke, maar wens jy kon die kuns bemeester om hulle met liefde reg te dokter? Dan is die boekherstelspesialis Peter Packery se kursusse by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl die antwoord op jou drome. Packery – wat meer as vier dekades se ervaring in boekherstel en -bindwerk, insluitend die herstel van uiters waardevolle boeke, onder die blad het – bied van 4 tot 6 Julie 2018 ’n inleidende kursus oor die herstel van ou hardebandboeke aan. Hy was voorheen by die Suid-Afrikaanse Biblioteek se restourasiedepartement betrokke en het vir 26 jaar sy eie boekherstel en -bindbesigheid bedryf. In Oktober vanjaar bied hy ook ’n gevorderde kursus aan.

Geen vooraf kennis word vir die driedagkursus benodig nie. Die inhoud sluit werkprosedures, bindstyle, Japannese en Westerse papier, greinrigting, die dele van die boek en die samestelling daarvan, bladsyherstelwerk en invoeging van los bladsye, kleefstowwe, boekrugherstelwerk asook die herstel van skutblaaie in.

Die tweetalige kursus kos R1 500 per persoon en vind daagliks van 09:00 tot 16:30 in die Konferensielokaal in die Besoekersentrum by die Taalmonument plaas. Eie gereedskap (waaronder ’n beenmes) kan gebruik word of ’n stel kan teen R200 aangekoop word. Koffie en tee is ingesluit, maar deelnemers moet sorg vir hul eie middagete of van die Volksmond Koffiewinkel gebruik maak.

’n Gevorderde boekherstelkursus wat fokus op gevorderde tegnieke soos leerbind- en bladgoudwerk, vind plaas van 1 tot 3 Oktober 2018. Dit is geskik vir deelnemers wat reeds basiese boek- en papierherstelwerk onder die knie het.

Die ATM bied jaarliks ’n hele reeks kursusse en werkswinkels aan wat fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Vanjaar se program sluit onderwerpe soos argivering, taaltoerisme en stersirkelsfotografie in. Voorstelle vir bykomende werkswinkels oor soortgelyke onderwerpe is welkom. Vir meer inligting en besprekings, kontak Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of stuur ’n e-pos na bemarking2@taalmuseum.co.za.  Sien www.taalmonument.co.za vir meer en volg ons op Facebook.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top