Persvrystelling: HemelBesem en Internasionale Woordeboekdag

  • 0

YOMA en HemelBesem (foto: Liné Enslin)

HemelBesem is die nuwe beskermheer van Borg ’n Woord. Sy beroep op Afrikaanssprekendes is: “Slegs met woorde maak die lewe sin: Jy kan my woord neem daarvoor. Neem eienaarskap van jou taal en borg ’n woord!”

HemelBesem is ’n sterk en vars stem in die Afrikaanse musiekwêreld. Sy lirieke dra ’n sterk boodskap oor en hy is baie betrokke by opheffingswerk onder die jeug. Hy en sy vrou Yoma, ook ’n rymkletser, het by meer as een geleentheid by die WAT opgetree.

Jy kan nou ook R20 000 belastingvry skenk vir ’n woord van jou keuse. Skenkers kwalifiseer uiteraard nie vir die prystrekking van R25 000 nie, maar ontvang wel ’n spesiaal bewoorde sertifikaat.

16 Oktober is die verjaarsdag van Noah Webster, en Woordeboekdag word internasionaal op dié datum ter ere van hierdie beroemde Amerikaanse woordeboekmaker gevier. Webster is in 1758 gebore en was ’n briljante student wat op 15-jarige ouderdom aan die Yale Universiteit begin studeer het. Later word hy die samesteller van die eerste Amerikaanse woordeboek en hy word dus beskou as die vader van die Amerikaanse leksikografie.

Op Woordeboekdag moet ons daaroor besin of ons woordeboeke nog relevant is. Mense raak gefrustreerd omdat hulle verouderde woordeboeke gebruik wat nie rekenskap gee van die duisende nuwe woorde en nuwe betekenisse van ou woorde nie.

Sondagaand 15 Oktober om 20:00 is daar ’n gesprek met HemelBesem en Frik Lombard van die WAT in Kwêla op kykNET.

"Neem eienaarskap van jou taal en borg ’n woord!”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top