Persvrystelling: "Dans van die Vlamme" by die Taalmonument

  • 0

Die Psychedelic Theatre is op Vrydag 30 Desember 2016 weer terug op die Tuinteater-verhoog vir hul tiende “Dans van die Vlamme”-vertoning by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl.

Die uurlange “Dans van die Vlamme”-vertoning sluit in musiek, vuurdansers wat vlamme eet en uitblaas en onder andere met brandende hoelahoepels, palmkerse en vuurslange dans.

Marvin-Lee Beukes, akteur en stigterslid van die Psychedelic Theatre, sê dat hul tiende vertoning vanjaar ’n kaleidoskoop van verskillende vuurvertonings sal insluit, wat vergesel word met musiek deur die groep Ward 10.

“In Desember is ons terug in die Paarl met ons nuutste werk. Ons sien uit daarna om plaaslike inwoners, toeriste én vakansiegangers by die Taalmonument te ontvang vir  ’n onvergeetlike aand van pragtige uitsigte, ’n ongelooflike  sonsondergang, ’n piekniek én ’n vuurdansbelewenis.”

Die piekniek begin om 18:00. Die vertoning self begin om 20:30 in die Tuinteater op die grasperk reg aan die voet van die monument. Die hekke open reeds om 17:00. Besoekers is welkom om hul eie drankies (verkieslik geen glas) en piekniekmandjie saam te bring of een (teen R250 vir twee persone of R350 met ’n mandjie ingesluit) by Volksmond Koffiewinkel te bestel (tel 021 863 2800). Volksmond sal oop wees vir koffie, ligte verversings, wyn en bier.

Kaartjies is vooraf  by Computicket en die Taalmonument te koop teen R100 vir volwassenes, R80 vir studente en R50 vir kinders onder 13 jaar. Die Tuinteater is ’n rookvrye sone en geen stoele word toegelaat nie. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar.

Die piekniekkonsertreeks sluit ook vertonings in deur Arno Carstens en Refentse (2 Desember 2016), Coenie de Viliers, Hemelbesem en Yoma (6 Januarie 2017), The Rockets (27 Januarie 2017), ’n Valentynskonsert (met onder andere André Schwartz op 14 Februarie 2017), Bobby van Jaarsveld (24 Februarie 2017), Amanda Strydom en Jak de Priester (10 Maart 2017) en Die Heuwels Fantasties (31 Maart 2017). Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top