Persverklaring: Hendrik Theys en Ria Olivier reageer op "gesamentlike persverklaring"

  • 5

Persverklaring uitgereik deur Hendrik Theys en Ria Olivier

Reaksie op US-verklaring, 10 Oktober 2016

Die "gesamentlike" persverklaring van die US en ʼn delegasie van "bruin senior onderwyskundiges" oor die US se taalbeleid, is deur slegs twee van die vier delegasielede wat die opvolgvergadering met US-bestuurslede bygewoon het, ondersteun. “Daar is aanvanklik ooreengekom dat ʼn persverklaring slegs op die basis van konsensus tussen die US en die "senior onderwyskundiges" uitgestuur sal word en dat ons name onderaan die verklaring sou verskyn,” sê Hendrik Theys, ʼn lektor in Afrikaans aan KSUT en ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad.

Die inhoud was egter van so 'n aard dat ons ons nie daarmee kon vereenselwig nie, veral om die volgende redes:

  • Ons kon nie vaaghede soos ‘gelyke kanse vir studentesukses’ as ʼn plaasvervanging van ʼn duidelike stelling oor die gelyke status van Afrikaans by die US aanvaar nie.
  • Ook die betekenis van woorde soos ‘meertalig’ moet uitgestippel word en beteken op sigself min.
  • Die implementering van moniteringsmeganismes is nog nie duidelik uitgespel nie, Sommige fakulteite en dosente se blatante minagting van die huidige beleid, soos deur studente duidelik gemaak, is juis 'n bewys van gebrekkige monitering.
  • Ons kan ook nie, soos in die persverklaring gemeld, erkenning gee aan die bestaan van enige ‘strewe’ in die taalbeleid om spesifiek sosio-ekonomies benadeelde Afrikaanssprekendes te akkommodeer nie. Inteendeel, ons sien niks in die beleid wat hierdie strewe verwoord nie. Daarbenewens word die kinders uit die betrokke gemeenskappe reeds deur die Universiteit se toenemend eentalige taalpraktyk uitgesluit en benadeel.

Trouens, alle Afrikaanse studente en andertalige studente, uitgesluit diegene wat van huis uit Engels is, word erg benadeel omdat hulle nie so goed vertroud is met die taal van onderrig en leer soos hul moedertaal nie. Dit kom onses insiens daarop neer dat die studente se reg op moedertaalonderrig in die gedrang kom. Vanuit owerheidsweë en by monde van die Staatspresident is die Afrikaanse gemeenskap die versekering gegee dat Afrikaans as onderrigtaal nie afgeskaf gaan word nie;  dis immers 'n nasionale bate.

Die volgende bykomende kwessie is van belang:

  • By ʼn vorige vergadering met ons het die US te kenne gegee dat daar nie ongelykheid is nie tussen Afrikaans en Engels, wat alreeds akademiese tale is. Ons persverklaring hieroor en die opsomming van die gesprek wat aan die rektor gestuur is, is nie weerspreek nie.
  • Gedurende die US se Raadsvergadering van 26 September is die rektor volgens mediaberigte gevra hoekom dit nie aan ons duidelik gemaak is dat die raad alreeds ʼn mosie oor die gelykheid van Afrikaans en Engels verwerp het nie. Hierop is blykbaar geantwoord dat die groep (ons) ʼn "wanvoorstelling" van die beleid gemaak het, dat die kwessie reeds met ons bespreek is en dat ons gelukkig is met die US se taalbeleid soos aan ons verduidelik. Gedurende ons onlangse vergadering met die US het ons oor bovermelde berig oor die gesprek in die Raad navraag gedoen, waarop daar ontken is dat ʼn gesprek met hierdie strekking sou plaasgevind het.

Na ons mening sal hierdie "wanvoorstelling" slegs deur 'n transkripsie van die notules van die raadsvergadering van 26 September bevestig of weerlê kan word.

Ons verklaar onsself bereid om deel te neem aan gesprekke wat daarop gemik is duidelikheid te kry oor die bovermelde sake. Gegee die talle onduidelikhede en ons prinsipiële besware, is dit voortydig om nou al deel te neem aan ʼn gesamentlike inisiatief wat onder meer daarop gemik is om die taalbeleid aan skoolhoofde en leerders te verduidelik, of om ‘verkeerde persepsies’ op te klaar.

Ons sal enige inisiatief ondersteun wat sorgsaam omgaan met Afrikaans en die ander inheemse tale as onderrig- en navorsingstale - ten einde studente 'n billike kans op akademiese sukses te bied.

Hendrik Theys (Ondervoorsitter:  Afrikaanse Taalraad)
Ria Olivier (Projekbestuurder:  Afrikaanse Taalraad)

 

Gesamentlike persverklaring deur die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch en senior onderwyskundiges

Wim de Villiers, Danie van Wyk
Universiteitseminaar

"Senior onderwyskundiges en die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) gaan teen die agtergrond van die nuwe Taalbeleid in die Wes-Kaapse onderwyssektor ruimtes skep vir gesprekvoering oor akademiese sukses vir spesifiek Afrikaanssprekende studente uit histories-benadeelde omgewings in ’n meertalige hoëronderwysinstelling."


Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

  • 5

Kommentaar

  • Breyten Breytenbach

    Dankie vir hierdie beginselvaste stellingname oor kwessies van kernbelang en die helder uiteensetting van wat werklik plaasgevind het.

  • Hierdie verklaring stel die bogpratery netjies aan die kaak. Die Raad van die US, waarvan die meederheid meelopers van die Bestuur is, wou immers nie 'n voorstel aanvaar dat Afrikaans en Engels gelyke status as onderrigtale aan die US geniet nie en die nuwe taalbeleid is in ooreenstemming met daardie onwilligheid. Die nuwe taalbeleid berei die weg voor vir die uitfasering van Afrikaans aan die US, waar alreeds 20% van die voltydse akademiese personeel nie meer in Afrikaans onderrig kan gee nie.

  • By oorweging van die verklaring blyk dit dat die lede van die US-bestuur gedurende die vergadering by implikasie aangedui het dat my verklaring oor wat gedurende die mees onlangse vergadering van die Raad bespreek was, verkeerd is aangesien hul na bewering aanvoer dat "`n gesprek met hierdie strekking nie (gedurende die vergadering van die raad) plaasgevind het nie".

    Die enigste afleiding waartoe ek kan kom, is dat daar of weer `n misverstand ontstaan het of dat iemand nie die waarheid praat nie. Ek gaan my nie hieroor uitspreek nie maar ag dit in die omstandighede wel in die belang van almal betrokke, asook die publiek in die algemeen, om my transkripsie van wat wel op die raad gesê is hier te plaas. Die opname tot my beskikking gestel is nie baie duidelik nie en lees die transkripsie nie goed nie. Ek onderstreep daarom die relevante gedeeltes:

    Transkripsie

    Vraagsteller: Ainsley Moos

    "En dan tweedens, net soos in die media oor die Gelyke Kanse Groep (berig is) dat die Rektor sou gesê het dat in terme van die Taalbeleid het Afrikaans en Engels gelyke status en ek dink ons moet dit dalk net ophelder en ons moet net vra: is dit toe gekommunikeer of is die persverklarings van die groepe met wie die bestuur ontmoet het verkeerd? As ons net daaroor duidelikheid kan kry."

    Reaksie deur Prof Wim de Villiers:

    I am also going to ask Prof Koopman to speak to that specific issue and this is following a meeting that we had with Prof Koopman and Prof Schoonwinkel where we discussed the implications of the new language policy with teachers from the Suid-Afrikaanse Onderwysers Ontwikkelingstrust and that is Danie van Wyk and others, a group of them – it was about six or seven of those leaders and we really in a very systematic and careful fashion, the new language policy and the implications thereof for folks who prefer to learn in Afrikaans where that was explained to this group and they were satisfied ...
    I think the press release that was put out by the group following this was a bit of a misrepresentation
    , but I want Mr Koopman perhaps to speak to that.

    Reaksie van Prof Koopman:

    Very briefly, we are very happy that we can have these meetings with the group that the Rector referred to. We will have a follow up with a smaller group later this week that we have to (inaudible) and education work especially in so called brown or coloured communities and we are now planning to go with them to meet different regions here in the Western Cape, Southern Cape and Northern Cape groups of principals to explain the policy to them and they after that specific public declaration indicated to me that they adhere to the way that especially Prof Schoonwinkel explained the policy so that must not be viewed from their side as something that they intentionally like to skew regarding our policy, so they are very positive when I also mentioned to them that that is not the formulation in the policy that was here present. So there is no hard feeling on their side, they are very positive, very happy ...

  • Johannes Comestor

    Maak lede van die US-bestuur, soos Wim de Villiers en Nico Koopman, 'n gewoonte daarvan om eerder Engels as Afrikaans in die US-raadsvergaderings te praat? Op die US-webwerf het ek waargeneem dat De Villiers soms/dikwels/meesal/by voorkeur eerder Engels as Afrikaans praat as hy die US-studente toespreek, bv 'n tyd gelede uitsluitlik Engels by 'n byeenkoms van "studenteleiers". Is dit nie iets waaroor ampsdraers soos De Villiers en Koopman deur die US-raadsvoorsitter en ander raadslede aangespreek behoort te word nie? Is dit nie oorgenoeg as hulle Afrikaans al hoe meer uit die lesinglokale verban nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top