Persverklaring deur Johan Theron, prokureur, US-raadslid, uitgereik na Maandag 26 September 2016 se vergadering van die US Raad

  • 8

Foto van Johan Theron: Werksmans

Persverklaring deur Johan Theron, prokureur, US-raadslid, uitgereik na Maandag 26 September 2016 se vergadering van die US Raad

Op 21 Julie het 'n Kans in Afrikaans! ‘n persverklaring uitgereik nadat ‘n afvaardiging bestaande uit bruin lede van die organisasie met die US-bestuur vergader het. Die verklaring het aangedui dat daar gedurende die vergadering met die US-bestuur ooreengekom is dat Afrikaans gelyke status met Engels sal geniet en dat Afrikaanse studente, veral dié uit arm bruin gemeenskappe, nie deur die nuwe taalbeleid benadeel sal word nie.

Die “ooreenkoms” soos verwoord in die persverklaring, wat klaarblyklik deur die US-bestuur gekondoneer is, het vreemd opgeval, aangesien:

  • Die volgende mosie op ‘n spesiale vergadering van die Raad op 21 Mei 2016 verwerp is:

Dat die Raad hom verbind tot gelyke status aan Afrikaans en Engels en die betekenisvolle ontwikkeling van isiXhosa as 'n akademiese taal en dat die taalbeleid daarop ingestel moet wees om dit in vervulling te laat gaan.

  • Die nuwe Taalbeleid wat op 22 Junie 2016 deur die Raad aanvaar is, Afrikaans finaal ondergeskik aan Engels gestel het.

Op Sondag 25 September het Rapport ‘n artikel van Waldemar Pelser gepubliseer waarin hy opgemerk het dat hy ingelig is dat professor De Villiers en sy topbestuur teenoor ‘n Kans in Afrikaans! onderneem het om Afrikaanse gemeenskappe oor die Wes-Kaap heen te besoek om te hoor waarom dié taal vir miljoene Kapenaars die poort tot naskoolse onderwys is. Prof De Villiers en sy span sal ook glo die universiteit se taalbeleid aan dié gemeenskappe – hoofsaaklik bruin – verduidelik, en benadruk dat Afrikaans en Engels gelyke status behou sodat Afrikaanse bruin studente nie gerelegeer word tot ’n opvoedingsghetto nie.

Die stelling dat Afrikaans en Engels ingevolge die nuwe Taalbeleid gelyke status geniet as onderrigtaal is bloot onwaar en lede van die Raad het derhalwe op die Raadsvergadering van 26 deser die rektor versoek om uitklaring te verskaf aangaande die beweerde onderneming. Prof De Villiers het daarop geantwoord dat die afvaardiging hom klaarblyklik verkeerd verstaan het, aangesien Afrikaans en Engels inderdaad nie gelyke status geniet nie. Professor Koopman het ook gedurende die vergadering aangedui dat hy reeds die lede van die afvaardiging meegedeel het dat hulle interpretasie van die onderneming wat die status van Afrikaans betref, verkeerd is.

Ek het daarna die rektor se bestuurspan versoek om ‘n persverklaring in dié verband uit te reik ten einde die wanpersepsie wat daar mag onstaan het aangaande die status van Afrikaans reg te stel. My versoek is van die hand gewys. Ek laat dit aan die publiek oor om hul eie afleiding in dié verband te maak. Ek is egter oortuig dat indien die persverklaring van ‘n Kans in Afrikaans! in Julie vanjaar sou lui dat daar ooreengekom is dat Engels ondergeskik is aan Afrikaans, ‘n persverklaring deur die universiteit die volgende dag sou verskyn het om dit reg te stel.

Ek ondersteun die pogings van ‘n Kans in Afrikaans! en spesifiek die pleidooie van die afvaardiging wat met die rektor se bestuurspan vergader het. Ek vertrou dat hulle pogings vrugte sal afwerp.


Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

  • 8

Kommentaar

  • Johan jy is buite orde. Bedank indien jy nie jou fidusiêre pligte as 'n raadslid wil nakom nie.

    • Johan de Beer

      Piet Oompies, hoekom gee jy nie maar jou regte naam nie, of is dit? Wat is nou eintlik jou punt met die kommentaar, moet die publiek in die duister gehou word? Hou by die punt van bespreking. Dalk is jy een vd US-raadslede wat hul 'ondemografiese' beleidsrigtings in Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap se kele wil afdruk.

    • Johannes Comestor

      Enigeen wat steeds dink dat die Universiteit Stellenbosch op die akademiese pad is en nie doelbewus en openlik en amptelik teen blankes diskrimineer nie, kan gerus die dokument oor toelatingsbeleid lees. Die US wil ongelykhede regstel en diversiteit bevorder. Rasdiversiteit word sonder meer tot 'n bate verklaar. Die US beskou regstelling as sy verantwoordelikheid. Die beleid beoog die vermeerdering van nie-wit studente, met as implikasie dat by toelating toenemend teen wit kandidate gediskrimineer word ten einde selfopgelegte diversiteitsteikens te haal. Sodanige rassediskriminasie word billik genoem. Selfklassifikasie geld met verskoning dat apartheidsnorme toegepas word. Vir plaaslike studente word ras eerder as akademiese verdienste as toelatingsnorm gebruik. Vir buitelandse student word glo voorkeur aan akademiese verdienste gegee. Lees die dokument en vra uself af: Het die Universiteit Stellenbosch 'n akademiese of eerder 'n politieke missie?

  • Wilhelm Fourie

    Dankie, Johan! Dit is goed om te sien dat nie almal ruggraatloos is nie. Die verwydering van Afrikaans is 'n kulturele misdaad teen al die taal se sprekers. Indien dit iets goeds na vore bring is dit hopelik dat Afrikaanssprekendes oor alle grense heen saamstaan!

  • Ai Johan, dankie vir jou optrede. Ek is oortuig daarvan dat die nuwe toelatingsbesleid nie grondwetlik aanvaarbaar is nie.

  • Die US Raad is nie 'n partypolitieke koukus waarin almal dieselfde deuntjie moet sing nie. Dankie Johan dat jy die moed het om die gekonkelry deur die US bestuur (Wim de Villiers en kie) en Uitvoerende Komitee van die Universiteitsraad (George Steyn en kie) aan die kaak te stel met 'n "kul jou hier, kul jou daar" benadering. Ek hoop van harte dat Gelyke Kanse se hofgeding teen die US sal slaag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top