Per ongeluk deur Lloyd Zandberg: ’n resensie

  • 0

Per ongeluk
Lloyd Zandberg
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082552

Die lewe is kleurryk waar dié debutant aan sy stories kom. Nog minder vervelend. Ook goed so.

Karakters kan ’n storie maak of breek. Hierdie karakters ís die storie – geskryf met ’n pen vol kleur.

En wat ’n welkome nuwe stem uit Namibië is Lloyd Zandberg. 

Ek gee graag jong of nuwe stemme ’n kans, ons wil immers nie die kraan van waardevolle Afrikaanse letterkunde laat leegloop nie. En soms sluit jy ’n skatkis of juwelekissie oop.

Hier is ’n wapad waar die lig helder flonker.

Met die lees van sy kortverhaalbundel Per ongeluk klink Zandberg veel ouer as sy 26 jaar.

Sy verwysingsraamwerk, sy ervarings, die goed waarna hy verwys, dit alles spreek van iemand ouer.

Maar dis sy fyn waarnemingsvermoë en waarskynlik goeie geheue wat hierdie stories so kosbaar maak.

Vermaaklik is hulle gewis, ek het myself ’n hele paar keer vang hardop lag (wat het die ander mense in openbare plekke van my gedink?).

Tog het die stories baie subteks en substansie.

Soms lees ek sekere goed van myself raak en ek is baie ver van Namibië gebore.

Ander stories weer maak dat jy wens jy kan dit sien afspeel, maar gelukkig het ons almal verbeelding.

Maak gereed vir:

Aunty Ash wat saam met die skrywer se oom op skool was en later soos familie beskou is en selfs ook die Duitse dubbelken ontwikkel het.

Of ’n meisietjie met te veel tande in haar mond op Usakos. Kyk uit vir waarmee hy haar voorkoms vergelyk.

Of die ontnugtering as jy verneem (nogal jou ma vertel jou dit) dat die tandmuis nie bestaan nie.

Of ’n pa wat hom “voos suip” as die ma met ’n ander man by die huis opdaag en dit net nadat hulle aangebou het en eintlik nou weer gelukkig moet wees.

Hy het ’n lekker familiêre trant. Val met die deur in die huis in ’n storie oor die en daai of so en so, asof jy ook die karakter jou lewe lank ken.

En dis wat dit so ’n plesier maak om die stories te lees.

In die eerste verhaal “Amper normaal” (ek wonder al my lewe lank wat normaal nou eintlik is) is ’n huldeblyk aan Minnie, die Zandbergs se huiswerker, kompleet met ’n gedig ook ingesluit. Zandberg sê ook dat die verhaal eintlik ’n huldeblyk aan alle huiswerkers is.

Zandberg het skreeusnaakse beskrywings. ’n Mens wonder hoe lank hy aan elke storie gewerk het.

Die drie goed wat Zandberg ontstel bespreek hy op bl 106 en dis nie naastenby wat ’n mens sou verwag nie.

Tot aan die einde kry hy dit reg om die leser te verras. Jy dink jy het al alles gehoor, dan kom nog ’n kwinkslag of haas onmoontlike absurditeit.

Hy beeld mense en die lewe uit in vele skakerings met gepaste kommentaar, as ’n mens dit so kan stel.

Dit is goeie debuut, beide wat die genre en skrywer se ouderdom betref. Mense is altyd bly en dankbaar vir nuwe goeie stemme in die letterkunde.

Lloyd Zandberg se naam moet weer op ’n boekomslag pryk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top