Penseel-bekendstelling: Tien riglyne vir die aspirantskrywer

  • 5

Danie Marais, bestuurder van PEN Afrikaans, het die volgende toespraak gelewer by die Penseel-bekendstelling, US Museum, 20 Oktober 2016

daniepenseelOm te skryf in ’n poging om die wêreld, jouself en die mense om jou te verstaan, word nie as verstandig beskou nie. Om ’n oomblik terug te staan, te lees en te dink voor jy doen, is nie die norm nie.

“Alles van waarde is weerloos,” het die Nederlandse digter Lucebert geskryf, maar die globale neoliberale massapsigose waarin ons nie anders kan as probeer lewe nie, is onbeïndruk deur hierdie insig. Die wêreld waarin ons beland het, werk volgens een primitief eenvoudige beginsel wat bepaal: Alles van geldwaarde is waardevol. Alles anders beteken niks.

Vir jou om dus vanaand hier te sit en te luister na my maak nie sin nie. Om met bloed, sweet en trane te geskryf het aan jou werk wat in Penseel gepubliseer is, maak nie sin nie. Om te droom in ’n taal wat die Empaaier se mark nie praat of verstaan nie, is onmeetbaar vir die rekenmeesters wat telling hou van alles – alles wat geldwaarde het – en maak dus geen sin nie.

Om vanaand hier ernstig te gesels oor skryfwerk wat gebou is om dalk te hou, is egter nie méér onsinnig as die skynbaar onstrafbare kriminele vernietiging van diere, mense, tale en kulture in die naam van groot profyt en vooruitgang vir ’n paar groot korporasies en kapitaliste nie.

En daarom is ek nietemin bly om hier te wees en baie bly dat julle gekom het. Desnieteenstaande en juis omdat daar tans soveel wegholbrande en storms om ons woed, verheug dit my dat daar steeds jongmense is wat wil erns maak met woorde, skoonheid en begrip.

Ek glo steeds soos die sanger-liriekskrywer van Broken Bells, James Mercer, in “The Mall and Misery” sing:

What you’ve never been told
There’s a real world
Somewhere a good girl
Lives and breathes.

Daarom begin ek dink die pleeg van gedigte en stories is een van die radikaalste dade van protes en stille verset teen die waansinnige logika van die monster-Frankenstein-wêreld wat ons klaarblyklik geskep het.

Laat ons dan in daardie radikale kultuurterroristiese gees van kinderlik opregte woede en verset vanaand dink oor wat skryfwerk laat werk. ’n Mens wil immers nie verdere sout in ons wonde vryf deur die clichés van die lewens wat aan ons opgedring word, met ander clichés te beantwoord nie. Soos Tom Waits dit gestel het: “The world is a hellish place, and bad writing is destroying the quality of our suffering.” 

Laat ons begin by “Wat swak gedigte weet” – ’n vers uit my derde bundel, Solank verlange die sweep swaai:

Wat swak gedigte weet
Poetry makes nothing happen – WH Auden

Hoekom depress vrot poësie my dan so mateloos?

Vroeër het ek gehoop
dis oor slegte gedigte leuens is
wat soos goue sandale
verlange obseen maak.
Ek het gedink dis die voorspelbare vertwyfeling
die Highveld Stereo-hartstog
die emosionele pornografie
die infantiele woordspel
die kreupel rymdwang en die paraplegiese paarrym
die zombie-hallelujas
die grillerige intimiteite en nat klapsoene
die ongesofistikeerde teleurstelling
die hangtiet-ontboesemings in wolke van opdringerige parfuum
die onafgewerkte noodkrete
die selfmoordbriefies vol spelfoute
die onbelese arrogansie
die onbeholpe pretensie
die selfbewuste eerlikheid
die vervelige nagmerries
die macho selfbejammering
die loopmagiese realisme
die voorstedelike surrealisme
die alewige gatkruip by die doofstom Muse
die arseen poeticas
die aansitterige besorgdheid oor die natuur
die kleingeestige politieke prekerigheid ...

Maar dis alles bysaak –
dis die onmiskenbare waarheid in swak poësie
wat my moedeloos maak.

Die goeie gedig is die frats, die leuen,
want die wêreld ís van kak styl en hol retoriek gemaak –
die lewe is ’n heruitsending van ’n sepie
die dood bloot formaliteit.

Goeie gedigte is die kopligte
wat jou fataal verblind,
want dis ’n moorddadig geykte uitdrukking
agter die stuur van dié twaalfton-cliché.

Daar is natuurlik geen wetenskaplike formule vir ’n sterk, geslaagde en per definisie ongeykte gedig nie, maar ek dink daar’s ’n paar riglyne wat enige jong en ou digter kan help om in ’n belowende rigting te sukkel.

Ná die keurwerk wat in ek die laaste dekade behartig het en die slypskole wat ek in hierdie tien jaar aangebied of aan deelgeneem het, sou ek graag hierdie tien riglyne om algemene foute en oorbodige skryfwerk te vermy op die hart van enige aspirantskrywer van enige ouderdom wil druk:

1. Gaan soek die woorde wat soos ekstras op die stel van jou gedig rondstaan.

Die woorde in ’n gedig is soos die ratte in ’n masjien: as ’n rat draai, maar geen ander wiel laat draai nie, is dit nie deel van die masjien nie. Dit wil sê, alle oortollige woorde móét geskrap word. 

2. Staan stil by enige woord of frase wat jou pla – hetsy omdat die klank jou steur of omdat sekere semantiese of assosiatiewe konnotasies verwarring veroorsaak. As ’n woordkeuse jou krapperig maak, is dit waarskynlik nog nie die regte een nie.

Die verskil tussen die regte en amper die regte woord is die verskil tussen ’n vuurvliegie en ’n weerligstraal, het Mark Twain gesê.

3. Wanneer jy van rym en ’n vaste metrum gebruik maak, onthou die woorde van Ralph Waldo Emerson (“The Poet”, 1844): “For it is not metres, but a metre-making argument, that makes a poem – a thought so passionate and alive, that, like the spirit of a plant or an animal, it has an architecture of its own, and adorns nature with a new thing. The thought and the form are equal in the order of time, but in the order of genesis the thought is prior to the form.” 

Met ander woorde, die betekenis van jou woorde en die sentrale gedagtes wat jou gedig vergestalt moet die metrum bepaal – dit mag nie ondergeskik aan die ritme of rym wees nie.

Let wel: Daardie sentrale gedagte gaan jy eers vind deur middel van die skryf van die gedig wat bes moontlik, soos Robert Frost gesê het, as ’n knop in jou keel begin. (Sien riglyn 8 hier onder.)

4. “The natural object is always the adequate symbol. Go in fear of abstractions.” (Ezra Pound)

Die onkritiese gebruik van woorde soos siel, hart, liefde, pyn, eensaamheid, smart en vrede is selde sinvol. Dit laat die meeste lesers afskakel. In die reël is konkrete voorwerpe die beste simbole en konkrete taalgebruik die mees poëtiese.

Ek dink die groot Amerikaanse modernis Wallace Stevens was reg toe hy gesê het: “To a large extent, the problems of poets are the problems of painters.”

Dit gaan dus oor dit wat jou woorde die leser laat sien. En abstraksies wys nie prentjies nie.

Soos die Poolse Nobelprys-wenner Czeslaw Milosz skryf in The Witness of Poetry: “[W]e apprehend the human condition with pity and terror not in the abstract but always in relation to a given place and time, in one particular province, one particular country.”

5. En die volgende punt wat hierby aansluit: skryf sekuur oor die klein goedjies en jy tref al die groot goed ook. Kyk stip rond en gee aandag aan die lewe om jou en jy sal al die groot simbole en temas onder jou neus begin sien.

6. Wees versigtig vir gemaniëreerde skryfwerk en foefies. Enige onreëlmatige kommagebruik of woordspel trek die leser se aandag en moet dan ook nadere kritiese ondersoek kan verduur. ’n Foefie lyk maklik na die onwillekeurige stilistiese spiertrekkings van ’n digter wat homself aandagsoekerig as slim en oulik aan die leser probeer verkoop.

Dis belangrik wat jy skryf en nie dat jy dit skryf nie.

7. Moenie kla nie en moenie verduidelik nie.

Daar is natuurlik ook uitsonderings op hierdie veralgemening, soos op al die ander reëls, maar verduidelikings, veral van beelde, in ’n gedig is dodelik. Dis soos iemand wat ’n opname maak om te verduidelik wat in sy skildery aangaan. Die prent oftewel beelde moet self praat.

Om aan die slot van ’n gedig verby te skryf, is die mees algemene beginnersfout en iets wat ervare digters ook steeds nou en dan oorkom.

8. Beskou kreatiewe skryfwerk as ’n vorm van denke op soek na ontdekking en begrip. As jy ’n aha-effek, ’n oomblik van ontdekking en verheldering, met die skryf van ’n gedig ervaar het, bestaan die kans dat ’n leser dieselfde opwindende ervaring sal hê.

’n Digter wat voor hy begin skryf, reeds presies weet wat hy wil sê en dit met die gedig bloot op ’n mooi, liriese manier wil sê, se kans om ’n werklik goeie vers te skryf, is baie skraal. ’n Gedig wat geskryf word ter illustrasie of dramatisering van ’n idee of oortuiging, is uit die staanspoor beperk. Wanneer ’n gedig of verhaal egter as ’n eksperiment benader word waarvan die resultate onseker is, kan die skrywer saam met die leser iets ontdek. Die kragtigste poësie dramatiseer en deurvors vrae, nie antwoorde nie.

’n Goeie roman, sê die Nobelpryswenner VS Naipaul, kan nie van die waarheid onderskei word nie – “is indistinguishable from truth”. Dieselfde geld ’n goeie gedig.

“Die waarheid in poësie word as insig ervaar,” skryf die Pulitzer-wenner Louise Glück. “Dit is bitter skaars,” sê sy, “maar in vergelyking daarmee voel alle ander gedigte bloot na intelligente kommentaar.”

9. Die poësie en letterkunde is ’n gesprek. Om sinvol aan die gesprek deel te neem moet jy die gesprek volg. Die enigste manier om die gesprek te volg is deur te lees. Jy skryf as leser. Punt.

10. Charles Bukowski was reg toe hy gesê het: “’n Skrywer moet skryf om sy eie gat te probeer red.” As jy só skryf, sal jou werk outomaties interessant en relevant wees.

Bukowski was ook reg toe hy opgemerk het: “Die wêreld het loodgieters meer nodig as digters.”

Die uitdaging is dus om gedigte so noodsaaklik soos goeie loodgietery te skryf. Wat uiteindelik die meeste tel, is daardie gedigte wat vir jou eie psigiese oorlewing noodsaaklik is om te skryf; die gedigte wat net jy só sou kon skryf in die taal wat jy die magtigste is.

Sodra jy jou eerste noodsaaklike gedig geskryf het, vind jy jou stem asof dit nog altyd geduldig op jou gewag het.

En laastens: Moet eenvoudig nie tou opgooi nie. Wees hardkoppiger as Donald Trump. Want ons vyande – die Filistyne, die ertjietellers, die verstandiges, die manne en vroue in die pakke wat graag praat van die “bottom line”, die apparatsjiks van die nuwe fascisme, die dronklappe van mag, die maaifoedies van allerlei dogmas en die blinde pragmatiste – hulle slaap nie. Hulle sal nie rus voor die laaste troefalaboom val en die laaste dromer die pen neerlê nie. Mag hulle op die graniet en die giftige spookasem van ’n nuwe geslag dodelike digters byt.

penseelbestuur

Penseel-komitee
Agter vlnr: Elzanne Coetzee, Lisa Slippers, SZ Minnaar, Elodi Troskie, Maret Blom, Chanté du Plessis, Anél Watson, Anja Fourie. Voor vlnr: Lelanie de Roubaix (personeelverteenwoordiger), Zian Blignaut (voorsitter), Igna Botha (ondervoorsitter), Suzanne Koen. Afwesig: Jana Wentzel.

Penseel MMXVI is teen R60 te koop en kan bestel word by Lelanie de Roubaix, lderoubaix@sun.ac.za.

  • 5

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top