PEN Afrikaans: Voorsittersverslag by die Algemene Jaarvergadering 2015

  • 0

penvoorsitter650

Dit is vir my ’n groot plesier om u namens PEN Afrikaans te verwelkom by ons derde algemene jaarvergadering. Die sakelys vir vandag is per e-pos aan u gestuur, en so ook die notule van die vorige algemene jaarvergadering, in 2013.

Ten aanvang vra ek goedkeuring vir vandag se sakelys, en daarna vir die 2013-notule. 

Ons bevind ons in ’n tyd waarin die winde van verandering sterk teen Afrikaans waai - vandag se vergadering wil egter een van hoopvolle afwagting wees oor die uitdagings wat ons in die gesig staar, en die uitdagings wat ons op ons beurt aan ander wil rig. Ek glo nie daarin om in sak en as te sit terwyl Afrikaanse boeke tans steeds relatief baie beter in die handel vaar as boeke in die ander landstale nie - insluitende Engelse publikasies.

Ek wil graag aansluit by die woorde van die nuutverkose president van die ANC Youth League, Collin Maine. Waar ekonomiese vryheid vir hom alleen bereik kan word deur gehalte-onderwys, is ons uitgangspunt dat ’n lewenskragtige boekekultuur met ’n sterk skrywerskorps ook slegs behaal kan word mits Suid-Afrikaanse onderwys op ’n gehalte-vlak bedryf word.

Die agteruitgang wat die afgelope twee dekades in die onderwys merkbaar is, kan aan verskeie probleme op skrywersterrein gekoppel word. Aan die een kant is daar die groeiende tekort aan bekwame redigeerders en taalversorgers, soos deur uitgewers gerapporteer is; aan die ander kant bly die verwagte opbloei van skryfwerk uit die bruin en swart gemeenskap steeds ’n ideaal eerder as ’n werklikheid.

Die verwaarlosing van Suid-Afrikaanse onderwys is ’n daad van aktiewe verraad teenoor die geslagte van die toekoms. Dit promoveer nie alleen onkunde nie, maar maak dit vir toekomstige lesers al hoe moeiliker om sinvolle toegang tot die letterkunde van die verlede te hê. Dit sal vir ’n skolier van vandag net so moeilik wees om NP van Wyk Louw se Raka te lees as Adam Small se Kitaar, my kruis en AC Jordan se Wraak van die voorvaders, of selfs Es’kia Mphahlele  se Down Second Avenue. Dit is ’n ope vraag hoe toeganklik die jongste werke van Breyten Breytenbach, Marlene van Niekerk en Ingrid Winterbach vir die gemiddelde voorgraadse student van vandag is. Oorbruggingskursusse vir skoliere wat universiteit toe wil gaan, het ’n noodsaaklikheid geword weens ontoereikende onderwys.

Suid-Afrikaanse onderwys word tans versmoor deur die owerheid se onwilligheid om meer te bestee aan behoorlike handboeke en voorgeskrewe boeke. Die twee-boeke-per-vak-per-graad-beleid, wat in 2014 aangekondig en geïmplementeer is, verskraal en reglementeer die vloei van inligting en kennis na skoliere. Dit mag politieke sin maak, maar pedagogies is dit ’n ramp - veral vir die swart inheemse tale, waar voorgeskrewe boeke voorheen een van die belangrikste groeipunte vir prosa en drama in daardie tale was.

Transformasie is die sleutelkonsep van ons tyd; wat die Afrikaanse taal betref, sal ons eers werklik van ’n getransformeerde letterkunde kan praat as die getal bruin en swart skrywers dramaties toeneem. Maar meer daaroor later.

By die jaarvergadering van 2013 in Potchefstroom het Sonja Loots gewys op die verlammende effek wat PEN Afrikaans ervaar het weens die department van sosiale ontwikkeling se gesloer om PEN Afrikaans as nie-winsgewende organisasie te registreer. Die saak is eers in Mei 2014 opgelos nadat ons prokureurs aangestel het om namens ons op te tree. Daarna kon ons eers aandag gee aan ’n strategie vir die pad vorentoe, en laat verlede jaar kon ons danksy befondsing deur die Dagbreektrust ’n bestuurder vir PEN Afrikaans aanstel. U ken hom - Danie Marais.

Omdat PEN Afrikaans in ’n sekere sin vir ’n groot deel van 2014 onaktief was, buiten nou vir enkele nuusbriewe en ’n paar persverklarings, was dit nie gerade om ledegelde te hef nie. Ons glo sterk in PEN Afrikaans as ’n organisasie wat kan diens lewer aan sy lede; die tydelike opheffing van daardie diens is iets wat ons nie kan goedpraat nie, al was dit weens omstandighede buite ons beheer.

In dieselfde gees het die bestuur in 2014 besluit om nie verteenwoordigers van PEN Afrikaans na PEN International se kongres te stuur nie.

Ons sal in die maande wat kom weer briewe uitstuur om ledegelde te hef - dit sal gepaard gaan met nuwe inisiatiewe rondom outeurskontrakte, raad en leiding aan voornemende skrywers, en samewerking met sowel uitgewers as LitNet.

Voor Danie Marais se koms het ons twee projekte geloods: Die insameling van boeke om ’n biblioteek te help vestig vir die laerskool Dennegeur buite Grabouw, en die Ukusela eKapa-fondsinsamelingsprojek. Ons dank gaan in albei gevalle aan Bettina Wyngaard, wat ons middel verlede jaar as bestuurslid gekoöpteer het.

Vir my was veral die boekinsameling ’n taamlike leerkurwe. Edele ideale verseker nie altyd ruim skenkings nie; Bettina had gelukkig raad, en nadat sy op die prokureursorde se kollektiewe nommer gedruk het, het die boeke ingestroom. Die les wat ek geleer het, is dat skrywers nie so maklik afstand doen van boeke as prokureurs nie!

Ons het op 8 November 2014 in samewerking met Ukusela eKapa ‘n fondsinsamelingspoging gehou by die Protea-boekwinkel in Stellenbosch. Ukusela eKapa is deel van die Cape Town World Design Capital inisiatief. Hulle het 10 000 kleibekers gemaak, met die vingerafdrukke (squeeze) van Suid-Afrikaners. ‘n Gedeelte van hulle projek is om die squeeze van bekende Suid-Afrikaners op bod te verkoop, en die geld te skenk aan die organisasie van die ikoon se keuse. Een bekertjie van elke ikoon word dan by die KIKS ten toon gestel. In reaksie op ons oproep aan lede, het Ingrid Winterbach, Koos Kombuis, Diana Ferrus, Karin Brynard, Zandra Bezuidenhout en ek gesqueeze. Die bekertjies moet nog op bod verkoop word, en ons is in afwagting op hulle terugvoer.

‘n Toekomstige projek wat ek met trots aan die groot klok hang, is die Trippel 7-loodsprojek. Hierdie projek neem sewe woordkunstenaars vir sewe dae deur sewe Noord-Kaapse dorpe met die doel om kort kreatiewe skryfkunskursusse aan te bied en vir voornemende skrywers uit minderbevoorregte gemeenskappe die geleentheid te skep om hulle werk te publiseer.

Die potensiële skrywers wat gedurende die padrit van sewe dae geïdentifiseer word, sal dan gementor word om hulle werk gereed te kry vir publikasie.

Ons het pas verlede week verneem dat PEN International befondsing vir die projek sal voorsien. Ek wil Bettina Wyngaard, wat die projek geïnisieer het en ten nouste betrokke sal bly by die uitvoering daarvan, geluk en voorspoed toewens daarmee.

Indien dié projek suksesvol is, kan dit uitgebrei word. Gedagtend aan wat ek vroeër gesê het oor ons onderwysstelsel, sal dit waarskynlik ’n wydlopende langtermynprojek kan word.

As skrywers in ’n verskeidenheid van dissiplines - van literêr tot joernalistiek - bevind die lede van PEN Afrikaans hulle tans in een van die mees gedronge tydperke sedert Afrikaans sy neerslag as taal gevind het. Die politieke omgewing is turbulent vanweë die komende verkiesings in 2016, met heelwat emosionele retoriek teen die taal as simbool van die ou bestel. Daar is aktiewe marginalisering van Afrikaans deur die Minister van Hoër Onderwys, mnr Blade Nzimande, met negatiewe gevolge vir die taal op die kampusse van Universiteit van die Vrystaat, Noordwes-Universiteit en Maties.

Op publikasiefront gaan dit nie sleg met Afrikaans nie. Om u ’n idee te gee van die omvang van verkope: Die drie top-verkopers van die oomblik is Deon Meyer se Ikarus, Nataniel se 150 Stories en Francois Smith se Kamphoer. Van al drie is daar tot op hede flink verby 20 000 eksemplare verkoop. Onder die top 500  verkopers is daar 18 wat meer as 10 000 eksemplare verkoop het - sewe daarvan is godsdienstige publikasies.

Toe ons op 25 Maart vanjaar hier op Wellington ’n gespreksaand gehad het, met Breyten Breytenbach, Adam Small, Bettina Wyngaard en Danie Marais as sprekers, is deur almal gewag gemaak van die noodsaaklikheid dat transformasie sigbaar moet wees in die huis van die lettere. Die sprekers is lewendig en positief uit die gehoor ondersteun.

Maar as ’n mens kyk na die groter prentjie - dus enersyds probeer vasstel watter titels onder die top-500-Afrikaanse verkopers is geskryf deur bruin en swart skrywers, en andersyds hoe boeke in die ander landstale verkoop - dan kan mens nie anders as om op te merk dat transformasie nog nie sigbaar geword het nie. Boeke in Engels en Afrikaans oorheers die boekhandel, en daar is geen ontluikende boekbedryf in ons ander inheemse tale nie.

Toe die SAUK in Maart vanjaar dit rugbaar gemaak het dat sy nuusdiens in alle inheemse tale buiten Engels drasties gaan verskraal, en dat op een van die TV-kanale wat landswyd alle kykers bereik,  naamlik 404 op DSTV slegs Engels gehore sou kon word, het ons vertoë gerig tot die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taal-gemeenskappe. Hierdie liggaam is ingevolge artikel nege van ons grondwet geskep om onder meer as kommissie om te sien na taalbelange in Suid-Afrika.

Die Kommissie is tans besig om ’n beleidstuk oor meertaligheid te formuleer. Ek het informeel uit die geledere van die kommissie verneem dat ’n standpunt ten gunste van ’n omvattende benadering met die klem op meer- en nie eentaligheid nie op die tafel en nasionale agenda gesit gaan word. PEN Afrikaans wil sy steun by voorbaat aan hierdie benadering en inisiatief toesê, en ook die hoop uitspreek dat dit sal help om die pogings tot die vernietiging van Afrikaans as doseertaal aan universiteite te stuit.

Ek wil ook graag die versoek aan die nuwe bestuur rig dat ondersoek ingestel moet word na ’n manier om inspraak te kry in die aktiwiteite van hierdie parlementêre liggaam. Vermoedelik sal ons moet registreer as erfenis-organisasie (in ons geval taal-erfnis, waarmee die kommissie te make het), wat dan sal meebring dat ons as belanghebbende organisasie geken sal word in hul promovering van ’n meertaligheidsbeleid vir Suid-Afrika.

PEN Afrikaans het ’n uitnodiging aan prof Wim de Villiers, rektor van US, gerig om ons toe te spreek oor die taalbeleid aan sy universiteit; gebeurde het ons ingehaal en die toespraak is voorlopig op ys geplaas. Dit is moontlik nie heeltemal gerade vir ’n liggaam soos PEN Afrikaans om hom te bemoei met studentepolitiek nie, maar in die lig van die standpunt wat ek hierbo oor veeltaligheid ingeneem het, wil ek tog ons posisie oor Open Stellenbosch uiteensit aan die hand van ’n stuk opgestel deur ons bestuurder, Danie Marais:

Een van die onrusbarendste aspekte van die onlangse woelinge rondom Afrikaans op die Stellenbosse universiteitskampus, was dat lede van die Open Stellenbosch-beweging te kenne gegee het hulle wil dekoloniseer en daarom Engels as enigste onderrigtaal op Stellenbosch eis. Hul argument is dat Afrikaans sekere studente onregverdig bevoordeel terwyl dit ander uitsluit en dat ’n openbare instelling nie slegs een inheemse taal mag bevorder nie. Afrikaans word gesien as oorblyfsel van apartheid en die stryd om meertaligheid as ’n rookskerm vir die verskansing van wit meerderwaardigheid en bevoordeling.

Hoewel ’n mens swart studente se griewe oor rassisme op kampus goed verstaan en geen beswaar teen die verwydering van simbole het wat aan ons apartheid-verlede herinner nie, is hierdie redenasie ondeurdag.

Dekolonisering in Engels is ’n oksimoron en dit maak die meeste vooraanstaande post-koloniale denkers duidelik.

As die studente van Open Stellenbosch wil dekoloniseer, behoort hulle eerder op meer Xhosa as minder Afrikaans aan te dring, maar die feit bly staan: Solank (oorwegend wit) Afrikaanssprekendes die enigste groep is wat op hul taalregte staan, is dit makliker vir die regering om hierdie aansprake op die grondwet af te maak as die betoë van gegriefde, voorheen bevoordeelde wit mense.

Om egter, soos Open Stellenbosch met hul opspraakwekkende #Luister-video impliseer, kru rassisme en paternalisme as die gevolg van ’n universiteit se taalbeleid te sien, is ’n denkfout. Hoekom sou ’n eentalige Engelse universiteit op Stellenbosch outomaties meer harmonie en agting vir diversiteit beteken? Hoekom word daar aangedring om oor die taalbeleid te praat in reaksie op griewe oor rassisme?

In die lig van hierdie woelinge, en die verwagting dat daar in die aanloop na aanstaande jaar se verkiesing nog talle aanslae op Afrikaans sal wees, vra ek vir ’n hersiening van ons tans hopeloos verouderde Visie en Missie.

’n Ander saak wat ook sal moet oorstaan vir die nuwe bestuur, omdat ek gister eers daarvan te hore gekom het, is die voorgestelde nuwe wetgewing oor kopiereg. Die departement van Handel en Nywerheid het die konsep-wetgewing bekend gemaak en wag nou reaksie in. Dit is vir my duidelik dat ons lede die gevolge daarvan baie erg aan eie sak gaan voel - veral diegene wie se werk sonder toestemming vir opvoedkundige redes gebruik word. Die wet maak voorsiening vir ’n tribunaal wat oor die meriete van sulke aansoeke moet besluit. Skrywers mag tereg vrees dat die staat na willekeur boeke vir skole mag skep sonder om outeurs behoorlik te vergoed vir die gebruik van hul skryfwerk.

Ek wil aanbeveel dat PEN Afrikaans, in samewerking met die uitgewers van Afrikaanse boeke, ’n regsmening daaroor inwin en op die hoogste moontlike vlak protes teen die wetgewing aanteken.

Nou, ter afsluiting. Danie Marais sal in meer detail ingaan op aksies en sake ophande. Ek wil hom bedank vir sy geesdrif en onverskrokkenheid in die aangesig van SARS en ander institusionele hindernisse. Mag die volgende jaar vir hom meer projekte bring.

Aan die bestuur baie dankie vir jul hulp en bydraes. Naas Steenkamp het ons deur moeilike finansiële waters help vaar; Amanda Lourens wou in Potch al uittree, maar ons het haar omgepraat en sy het ons argivaris en geheue geword. Naomi Bruwer het vanjaar, toe die nood baie hoog was, ingestem om die rol van tesourier op haar te neem, en dit met grasie en groot helderheid gedoen. Louis Esterhuizen en Desmond Painter het onderskeidelik ’n boekwinkel en ’n baba gehad wat hul aandag elders vasgepen het, maar wanneer ons hul insette nodig gehad het, was hulle altyd gereed. Heilna du Plooy was vanuit Potchefstroom vir my van onmisbare waarde met inligting en wenke.

U moet in gedagte hou dat dit nie altyd vir almal moontlik is om aktief te dien in die bestuur nie. Ons het vroeg verlede jaar vir Bettina Wyngaard as bestuurslid gekoöpteer, en ek wonder of daar al ooit ’n meer positiewe koöptering was. Bettina se prokureursagtergrond, en haar eie natuurlike stiptelikheid, het ons meer as wat gesond is om te erken op prosedurele koers gehou. Haar benadering tot PEN Afrikaans het ons in staat gestel om dinge op ’n uiters professionele vlak te hanteer. Baie dankie daarvoor.

Nou, die groot noot op die orrel. As ons erns het met die konsep van transformasie, en as ons as liggaam dienstig wil wees vir almal wat kreatiewe werk in Afrikaans lewer, dan is dit nodig dat die bestuur dit reflekteer. Ek het in 2013 op Potchefstroom tydens ons vorige algemene jaarvergadering gepleit daarvoor, en wil nou daarmee saam beklemtoon dat dit tyd is dat die jonger geslag Afrikaanse skrywers besit neem van PEN Afrikaans.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top