PEN Afrikaans Nuusbrief: September 2017

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans

Belangrike reëlings vir PEN Afrikaans se AJV op 16 September

Ons nooi hiermee al ons lede nogmaals hartlik uit na PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering (AJV) 2017. 

Ons AJV word gehou op Saterdag, 16 September, om 12:30 in die Wellington Biblioteek oorkant die Breytenbach Sentrum op Wellington tydens vanjaar se Tuin van Digters-fees. 

(Klik hier vir aanwysings na die Breytenbach Sentrum.)

Die Tuin van Digters bied 'n vol en interessante program vir alle liefhebbers van die Afrikaanse woordkuns en ons is baie bly dat ons gedurende die fees op Breyten se verjaardag kan vergader.

Bonus: Opbetaalde lede van PEN Afrikaans sal vanjaar gratis toegang tot die 2017 Tuin van Digters-fees op 15 en 16 September kry. Hierdie toegang kos andersins R250. Ons bedank die nuwe bestuurder van die Breytenbach Sentrum, Francois Lötter, vir die ruimhartige ondersteuning.

Let wel: Slegs opbetaalde lede van PEN Afrikaans het stemreg by die AJV en kom vir gratis toegang tot die fees in aanmerking. As jy nog nie betaal het nie, maar graag gratis toegang tot die fees wil hê, moet jy jou ledegeld van R300 voor of op 13 September 2017 betaal. Indien jy nog nie 'n faktuur ontvang het nie, laat weet asseblief spoedig na penafrikaans@gmail.com.

Die agenda vir PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering, 16 September 2017, Wellington

1. Verwelkoming
2. Verskonings en vasstelling van ’n kworum
3. Afspraak oor lede wat volmag het om vir ander te stem
4. Goedkeuring van notule vir die AJV gehou op 20 Augustus 2016 en sake voortspruitend uit die notule
5. Voorsittersverslag
6. Tesourier se verslag
7. Bestuurder se verslag
8. Die nuwe PEN Afrikaans Vertaalfonds
9. Verwikkelinge rondom kopiereghervorming: Waar staan ons nou?
10. Verkiesing van ’n nuwe bestuur
11. Algemeen

Die notule vir PEN Afrikaans se AJV 2016 kan hier afgelaai word.

Toegang tot die vergadering is uiteraard gratis, maar wees asseblief so vriendelik om te laat weet of jy beplan om die AJV by te woon. Ons sal graag wil seker maak dat daar genoeg sitplek vir almal is. RSVP na penafrikaans@gmail.com

Voorstelle vir die agenda kan ook na penafrikaans@gmail.com gestuur word.

Volmagte en nominasies vir nuwe bestuurslede vir PEN Afrikaans

'n Nuwe bestuur sal by ons AJV op 16 September verkies word. Indien jy iemand wil nomineer as voorsitter, ondervoorsitter of bestuurslid stuur asseblief jou nominasie na penafrikaans@gmail.com. Opbetaalde lede is ook welkom om hulself te nomineer en verkiesbaar te stel.

Indien jy 'n opbetaalde lid is en dus stemreg het, maar nie die vergadering kan bywoon nie, word jy vriendelik versoek om volmag te verleen aan 'n ander opbetaalde lid wat namens jou mag stem.

Om volmag aan 'n ander lid te gee, moet jy asseblief die volmagvorm hier aflaai, invul, onderteken, skandeer en stuur na penafrikaans@gmail.com.

Ledegeld vir 2017 en uitstaande kwitansies 

Alle lede wat hul ledegeld van R300 vir 2017 betaal het, moes kwitansies vir hul betaling ontvang het. Die kwitansies is uitgestuur vanaf die adres mail-service@accounting.sageone.co.za. Indien jy dus jou ledegeld gedurende 2017 betaal het en geen kwitansie ontvang het nie, laat weet ons asseblief so gou moontlik daarvan by penafrikaans@gmail.com.

Ons het egter een inbetaling ontvang van 'n lid wie se identiteit ’n raaisel is. Aangesien ’n naam en faktuurnommer nie hierdie betaling vergesel het nie, kon ons nie die betaling met die korrekte faktuur versoen en 'n kwitansie uitreik nie. Al inligting wat op die bankstaat te sien is, is die volgende:  MAGTAPE CREDIT STANCOM – R570 xx2641 UNIV VAN 9350

Met ander woorde, as jy jou ledegeld op 2 Augustus 2017 betaal het en nog nie 'n kwitansie ontvang het nie, laat weet ons asseblief. Dit beteken jy is 'n opbetaalde, stemgeregtigde lid wat gratis toegang tot die Tuin van Digters-fees kan kry, maar ons kan ongelukkig nie jou naam tot ons lys van opbetaalde lede byvoeg nie.

Die Tuin van Digters-fees op Wellington

Tuin van Digters vind vanjaar op 15 en 16 September by die Breytenbach Sentrum op Wellington plaas.

Hier is van die hoogtepunte: 
* Die Ingrid Jonker-prys (vir Afrikaanse debuutdigbundels wat in 2015 en 2016 gepubliseer is) word op Saterdag, 16 September, op die fees aan Hilda Smits oorhandig 
* Die huldiging van die digter Wilma Stockenström met 'n lesing deur prof. Ronel Foster en voordrag en sang deur Laurinda Hofmeyr onder begeleiding van Schalk Joubert  
* ’n Gesprek deur PEN Afrikaans oor ‘Breyten se invloed op die generasies ná hom’ met Danie Marais, Louise Viljoen, Andries Bezuidenhout, Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé 
* Die bekendstelling van Nuwe Stemme 6 
* Andries Bezuidenhout gesels met Bibi Slippers oor haar veelbekroonde digbundel, Fotostaatmasjien 
* Gesprekke met Jolyn Philips en Corné Coetzee wat vanjaar hul digdebute gemaak het 
* Riku Lätti en die Wasgoedlyn se digtersangers van die nag 
* Tribal Echo wat nuwe toonsettings van gedigte van Adam Small sing 

Klik hier vir die Tuin van Digters se program en alle ander relevante inligting oor die fees.

Die Breytenbach Sentrum se 10de bestaansjaar word ook by die Tuin van Digters gevier. Die tema vir 2017 is "UITDAGEND SKEPPEND". Die aanhaling dui op beweging – in uitdaag en in skep. Dit is ook die Breytenbach Sentrum se tema vir 2017 en vorentoe en het sy oorsprong in Breyten Breytenbach se woorde tien jaar gelede op 26 Februarie 2007 met die opening van die Breytenbach Sentrum.

Kaartjies kos R100 vir die Vrydag, R200 vir die Saterdag en R250 vir die tweedag-pakket. Studente met bewys van ’n geldige studentekaart betaal R60 per dag. PEN Afrikaans se jaarvergadering sal ook op Saterdag 16 September by die Tuin van Digters plaasvind en opbetaalde lede sal gratis toegang kry.

Besprekings en navrae kan gedoen word by Jeanne-Mari Gerber by besprekings@breytenbachsentrum.co.za, 021 873 2786, 073 435 1022, h/v Burger- en Malherbestraat, Wellington, 7655.

Internasionale blootstelling vir PEN Afrikaans se Trippel-7-projek

Op Wêreldgeletterdheidsdag, 8 September, vanjaar het PEN International die kollig gewerp op die sogenaamde Civil Society-programme wat PEN in vennootskap met Sida wêreldwyd finansieel ondersteun (Swedish International Development Cooperation Agency). Ons is baie trots om ons Trippel-7-projek in hierdie geselskap ten toon te kon stel.

Klik hier om meer te lees oor die verskillende projekte en om te sien hoe mooi die kollig op Trippel-7 val.

Nogmaals hartlike dank vir al haar moetie aan Anzil Kulsen, ons bestuurslid wat die projek se tweede fase bestuur het. 'n Groot dankie ook weer aan Bernard Odendaal, eweneens 'n bestuurslid, wat gehelp het om die Trippel-7-kandidate se deelname aan die ATKV Winterskryfskool 2017 moontlik te maak.

Finaliste vir die kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-kompetisie

Baie geluk aan die ses finaliste in die fiksie- en niefiksie-afdeling van die kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-kompetisie. 

Dié pryse is ingestel om die belange van boeke en die leesgenot van boekliefhebbers te bevorder deur die wêreld van Afrikaanse boeke vir die breë Suid-Afrikaanse publiek toeganklik te maak. Dit dien ook as aanmoediging om hoë standaarde in die Afrikaanse boekjoernalistiek te handhaaf.

Twee pryse van R25 000 elk word toegeken vir die beste Afrikaanse resensie wat in 2016 oor Afrikaansie fiksie en niefiksie onderskeidelik verskyn het. Die kortlyste, wat uit 90 inskrywings saamgestel is, is soos volg:

FIKSIE

  • Danie Marais: “Die ‘Kook en Geniet’ van oneerbiedigheid” (oor Anton Kannemeyer en Conrad Botes se Bitterkomix 17, Media24-dagblaaie, 4 Julie 2016)
  • Charl-Pierre Naudé: “Digterlike afdruk van ʼn lewe verbeeld” (oor Bibi Slippers se Fotostaatmasjien, Media 24-dagblaaie, 5 Desember 2016)
  • Elmari Rautenbach: “Debuut se stiltes ’n elegie aan verlore liefde” (oor Valda Jansen se Hy kom met die skoenlappers, Media 24-dagblaaie, 18 Julie 2016)

NIEFIKSIE

  • Reinhardt Fourie: Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P. Brink en Ingrid Jonker(geredigeer deur Francis Galloway, Tydskrif vir letterkunde, September/Oktober 2016)
  • Daniel Hugo: “Een van die heel grotes” (oor Om Hennie Aucamp te onthou, saamgestel deur Danie Botha, Rapport, 14 Februarie 2016)
  • Emile Joubert: “Die afkook van ’n vol lewe vind hier beslag” (oor Wat die hart van vol is deur Peter Veldsman met Elmari Rautenbach, Media24-dagblaaie, 31 Oktober 2016)

Die keurders was die boekjoernalis en digter Bibi Slippers (sameroeper), senior joernalis en skrywer Jomarié Botha en digter en dosent Alfred Schaffer. Aangesien ’n werk van Slippers geresenseer is, is sy vir die finale keuring deur die redakteur van Huisgenoot, Yvonne Beyers, vervang.

Die keurders was dit eens dat die inskrywings deur die bank van ’n baie hoë gehalte was en werklik leeslus aanwakker. “Daar was heelparty gevalle waar ek nie noodwendig onder normale omstandighede in ’n sekere boek sou belangstel nie, maar die resensent se entoesiasme en insigte het my genoeg geprikkel om dit ’n kans te wil gee,” sê Slippers. 

“Dit was ook veral heerlik om verskillende resensies van belangrike boeke soos Die na-doodVlakwater en Koors te lees, en uiteenlopende interpretasies en leesbenaderings te kan ervaar via die resensente.” 

Daar was vanjaar heelwat nuwe name onder die resensente wat ingeskryf het. “Ek hoop dat ons deur inisiatiewe soos dié die poel selfs verder kan vergroot. Hoe meer ingeligte, intelligente menings uit verskillende perspektiewe verteenwoordig is, hoe beter vir alle rolspelers in die boekbedryf,” sê Slippers.

Die wenners word op 30 September 2017 saam met die wenners van die kykNET-Rapport-boekpryse in Kaapstad aangekondig.

Klier hier om meer te lees oor die boeke wat die kortlyste van die kykNET-Rapport-boekpryse gehaal het.

'n Oorsig van Afrikaanse resensies en boekbesprekings in Augustus

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Augustus 2017 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dié oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. 

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in September

Ten slotte is dit altyd 'n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Hartlik geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het.

Die publikasielyste vir September kan hier afgelaai word. 

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top