PEN Afrikaans Nuusbrief: Desember 2017

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans

Eerste suksesvolle aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds

Ná die eerste sperdatum vir aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds, wat opgerig is met finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), is drie verdienstelike aansoeke toegestaan.
 
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds sal die volgende drie vertaalprojekte befonds:

  • ’n Nederlandse vertaling van Abjater wat so lag deur Wilma Stockenström
  • ’n Nederlandse vertaling van P.G. du Plessis se Fees van die ongenooides
  • ’n Nederlandse vertaling van Alles begin met Anna deur Annemari Coetser.

Uitgeverij Aldo Manuzio, wat onlangs Karel Schoeman se Stemme-trilogie tot groot lof in Nederlands uitgegee het, sal Abjater wat so lag en Fees van die ongenooides publiseer.
 
Abjater wat so lag word ’n klassieke werk van die Afrikaanse letterkunde geag. Dit het oorspronklik in 1991 verskyn en het beide die W.A. Hofmeyr-prys en die Hertzogprys ontvang. Volgens Joan Hambidge is dit “meesleurend, intiem, subtiel, pynlik en ‘n roman wat binne die sub-genre van die belydenisliteratuur internasionaal kan meeding.”
 
Rob van der Veer, ’n vooraanstaande literêre vertaler, sal die Nederlandse vertaling behartig. Bestaande vertalings deur Van der Veer sluit in: Hierdie lewe, Die uur van die engel en Verliesfontein deur Karel Schoeman, Kroniek van Perdepoort deur Anna M. Louw en Buys deur Willem Anker. Laasgenoemde is in samewerking met Karina van Santen vertaal. 
 
Riet de Jong-Goossens, bekroonde en hoogs ervare vertaler van onder meer Marlene van Niekerk, Dan Sleigh en Ingrid Winterbach, sal die Nederlandse vertaling van P.G. du Plessis se Fees van die ongenooides aanpak. Fees van die ongenooides, wenner van die ATKV-prosaprys en die Helgaard Steyn-prys, het oorspronklik in 2009 verskyn en het sedertdien al meer as 30 000 eksemplare verkoop. Dit is ’n aangrypende en geliefde roman wat die verhaal van twee families tydens die Anglo-Boereoorlog vertel. Die Nederlandse vertaling sal die eerste anderstalige uitgawe van dié pryswenner wees.   
 
Uitgeverij Mozaïek, ’n afdeling van VBK Media, beoog om ’n Nederlandse vertaling van Alles begin met Anna deur Annemari Coetser in 2018 te publiseer. Alles begin met Anna, ’n familiesage wat oor drie geslagte en twee oorloë strek, is in September vanjaar plaaslik uitgegee en word goed ontvang. Riet de Jong-Goossens sal die Nederlandse vertaling in samewerking met Bert Aquarius, vertaler van Hans du Plessis se werk, behartig. Met die Nederlandse vertaling van Alles begin met Anna sal Annemari Coetser se werk vir die eerste keer in ’n ander taal gelees kan word. 
 
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.
 
Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Klik hier as jy hierdie goeie nuus verder via e-pos of sosiale media wil deel.

Benoemings vir die Jan H Marais-prys

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wag tans benoemings in vir die Jan H Marais-prys vir 2018. Die sentrale doelstelling van dié prys is erkenning van ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans. Vorige ontvangers is Hermann Giliomee in 2016 en Jaap Steyn en mede-ontvanger Jan van der Watt in 2017.

Benoemings sluit 31 Januarie 2018. Die wenner word einde Maart 2018 bekend gemaak en die prys word in Mei 2018 oorhandig.

Sanlamprys vir Jeuglektuur

Carin Krahtz is onlangs met goud bekroon in die Afrikaans-kategorie van die Sanlamprys vir Jeuglektuur. Haar wenroman, Blou is nie ‘n kleur nie, is deur die beoordelaars beskryf as ‘n aangrypende en universele storie, deurspek met spitsvondige dialoog.

Jan Vermeulen het die silwerprys ontvang vir Soen, ’n speurroman wat die leser deurgaans op die punt van sy stoel hou.

Die Sanlamprys vir Jeuglektuur is in 1980 bekend gestel en word tweejaarliks toegeken. Dit is oop vir inskrywings in al 11 amptelike tale. 'n Goue en silwerprys word in kategorieë vir Afrikaans, Engels en Afrika tale (Tshivenda, Xitsonga en Nguni- en Sotho-tale) uitgereik.

Baie geluk aan Krahtz, Vermeulen en die ander wenners van die 2017 Sanlampryse vir Jeuglektuur. ’n Volledige lys kan hier gelees word.

SALA-toekennings (South African Literary Awards)

Roela Hattingh het by die SALA-toekenningsaand die Nadine Gordimer-kortverhaalprys ontvang vir haar bundel Kamee. Hattingh is geloof vir die verhale se oorspronklikheid, spel met taal, unieke stem en outentieke uitbeelding van lewe in Suid-Afrika.

Etienne van Heerden het by dieselfde geleentheid ’n SALA-toekenning ontvang vir sy lewenslange bydrae tot die (Suid)-Afrikaanse letterkunde.

Van harte geluk aan albei skrywers met dié welverdiende prestasies.

Die volledige lys SALA-wenners is hier beskikbaar.
 

Jan Rabie en Marjorie Wallace Skrywersbeurs 2018 toegeken

Die Universiteit van Wes-Kaapland het onlangs aangekondig dat die Jan Rabie en Marjorie Wallace Skrywersbeurs vir 2018 aan Nathan Trantraal toegeken is.

Die skryfprojek waarvoor Trantraal die beurs ontvang, is ’n grafiese misdaadroman wat afspeel op die Kaapse Vlakte en spreek tot kwessies wat relevant is in die breë Suid-Afrikaanse samelewing. Volgens die beoordelaars is “die inhoud en genre […] uitdagend, opwindend en vernuwend en het uitgestaan bo ’n aantal werklik uitstekende aansoeke."

Dit klink soos iets om reikhalsend na uit te sien. Baie geluk aan Nathan Trantraal.

'n Oorsig van Afrikaanse resensies en boekbesprekings in November

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in November 2017 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dié oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. 

Ons sluit vandeesmaand vir die eerste keer 'n insetsel in van Prontuit, 'n weeklikse aktualiteitsprogram wat veral op sosiale en kultuurkwessies fokus. Kyk gerus na die bespreking van Sitting Pretty deur Christi van der Westhuizen, die #MeToo-veldtog en die rol van vroue in die samelewing.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in Desember

Hartlik geluk aan al ons lede wat betyds vir die kerskous nuwe boeke op die rak het. Die publikasielyste vir Desember kan hier in Excel-formaat afgelaai word. 

Met mooi wense vir die feesseisoen

Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top