PEN Afrikaans Nuusbrief: Augustus 2016

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans

In die afgelope maand was daar landswye ontsteltenis oor die manier waarop die nasionale uitsaaier sensuur toegepas en die #SAUK8 behandel het. PEN Afrikaans se beswaarskrif teen die afdanking van hierdie agt joernaliste is wyd op sosiale media gedeel en die bestuur bedank almal wat ons gehelp het om hieroor lawaai te maak. Ons het hierdie tweetalige stellingname ook aan die PEN International-sekretariaat in Londen gestuur wat dit verder met hulle internasionale netwerk gedeel het.

Dit is verblydend dat sewe van die agt joernaliste sedertdien in die hof geseëvier het, maar hierdie blatante pogings tot sensuur is gevaarligte wat geen samelewing ligtelik durf opneem nie.

Die aanslag op die redakteur van die Lesotho Times-koerant, Lloyd Mutungamiri, was verdere rede tot kommer oor die handhawing van persvryheid in Suider-Afrika. PEN Afrikaans het daarom saam met PEN South Africa, die Right 2 Know Campaign, Amnesty International en 15 ander organisasies die volgende gesamentlike verklaring onderteken: https://www.litnet.co.za/beswaarskrif-aanslae-op-joernaliste-en-persvryheid-lesotho/

Die agting vir menings- en uitdrukkingsvryheid is een van PEN International se kernwaardes en ons kan dus op hulle ondersteuning reken wat hierdie kwessies betref. Enige verdere voorstelle of terugvoer van ons lede in hierdie verband is egter baie welkom. 
 
AJV in Pretoria op 20 Augustus en die toeligting van enkele agendapunte

Hiermee word jy nogmaals hartlik uitgenooi na PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering (AJV) 2016.

Ons AJV word gehou op Saterdag, 20 Augustus, om 14:30, by die City Lodge Lynnwood in Pretoria tydens vanjaar se BoekeJol en FilmRolfees. (Klik op hierdie skakel vir die adres en aanwysings na die City Lodge Lynnwood.)

Die BoekeJol bied 'n vol en interessante program vir alle boekliefhebbers en ons is dus baie bly dat ons met vriendelike vergunning van die organiseerders in die hart van hierdie boekfees kan vergader. (Klik hier vir die BoekeJol se feesprogram.)

Toegang tot die jaarvergadering is uiteraard gratis, maar wees asseblief so vriendelik om te laat weet of jy beplan om die AJV by te woon indien jy dit nie reeds gedoen het nie. Ons sal graag wil seker maak dat daar genoeg sitplek vir almal is. RSVP na penafrikaans@gmail.com

Die agenda vir PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering, 20 Augustus 2016, City Lodge Lynnwood, Pretoria

1. Verwelkoming
2. Verskonings en vasstelling van ’n kworum
3. Afspraak oor lede wat volmag het om vir ander te stem
4. Voorsittersverslag
5. Tesourier se verslag
6. Bestuurder se verslag en vooruitskouing vir die volgende jaar
7. Verwikkelinge rondom kopiereghervorming: Watter gevolge kan die Copyright Amendment Bill vir skrywers en uitgewers inhou?
8. Taalregte en moedertaalonderrig: Watter veldtogte en organisasies wil PEN Afrikaans amptelik en aktief ondersteun?
9. Wysiging van PEN Afrikaans se grondwet ten einde ons belastingstatus as PBO (openbare weldaadsorganisasie) te behou 
10. Toekenning van ere- en lewenslange lidmaatskap 
11. Verkiesing van ’n nuwe ondervoorsitter
12. Algemeen

******
T.o.v. agendapunt 3: Indien jy nie die AJV op 20 Augustus kan bywoon nie, maar graag 'n ander lid volmag wil gee om namens jou te stem, kan jy dit doen deur hierdie volmagvorm af te laai. Onderteken asseblief die volmagvorm, skandeer dit en stuur dit dan as aanhegsel per e-pos na penafrikaans@gmail.com voor of op 18 Augustus 2016.
Let wel: Slegs opbetaalde lede het stemreg by die algemene jaarvergadering.

T.o.v. agendapunt 7: PEN Afrikaans het op 19 Julie saam met PEN South Africa hierdie verklaring oor nuwe verwikkelinge rondom die beplande wysiging van Suid-Afrikaanse kopiereg uitgereik. Die beplande wysiging kan verreikende gevolge vir skrywers en uitgewers hê. PEN Afrikaans sal dus in samewerking met PEN SA en ander belangegroepe skrywers en uitgewers op hoogte van sake hou en enige wetsontwerp wat vir skrywers en uitgewers nadelig is, beveg.

Ons hoop dat ons teen 20 Augustus meer nuwe inligting oor die gewysigde Copyright Amendment Bill sal hê. Marga Stoffer sal die jongste inligting by die AJV met lede deel en in 'n bespreking vrae beantwoord. Indien jy vrae of voorstelle oor hierdie onderwerp het en nie die AJV kan bywoon nie, stuur dit asseblief na penafrikaans@gmail.com

T.o.v. agendapunt 8: 

PEN Afrikaans se bestuurder, Danie Marais, was die afgelope jaar saam met verskeie ander lede van PEN Afrikaans, waaronder Dominique Botha, Breyten Breytenbach, Abraham de Vries, Ebbe Dommisse, Hermann Giliomee, Sonja Loots en John Miles betrokke by veldtogte soos Gelyke Kanse en 'n Kans in Afrikaans waarmee daar gepoog is om die Universiteit Stellenbosch op demokratiese wyse te oortuig om weer te besin oor sy taalbeleid. Conrad Steenkamp was as lid van PEN Afrikaans en as uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad ook aktief betrokke - veral by 'n Kans in Afrikaans.

Die US-Raad het desnieteenstaande op 22 Junie 'n nuwe taalbeleid aanvaar wat Afrikaans sy gelyke status aan die Universiteit Stellenbosch ontneem. Die bestuur van PEN Afrikaans meen hierdie verlies aan status benadeel enersyds die toekoms van die Afrikaanse letterkunde en joernalistiek en vrees andersyds dat besluite soos hierdie noodlottige gevolge vir Afrikaanse skole en die kans op moedertaalonderrig vir almal in Suid-Afrika kan hê. (Die bestuur se volledige stellingname kan hier gelees word.)

Aangesien konsensus oor hierdie brandende én ingewikkelde aangeleentheid nie veronderstel kan word nie, wil ons by die AJV spesifiek gesels oor verdere betrokkenheid en die pad vorentoe. 

Deur sy grondwet en affiliasie met PEN International is PEN Afrikaans sowel verbind tot die bevordering van menings- en uitdrukkingsvryheid as tot die handhawing en uitbou van taalregte. Ons wil dus nie enige spesifieke opvatting oor die rol van Afrikaans as onderrigtaal aan enige iemand voorskryf nie, maar as PEN-sentrum ondersteun ons PEN International se Girona-manifes oor Taalregte wat onder meer verklaar dat taaldiversiteit ’n wêrelderfenis is wat gekoester en beskerm moet word. (Die volledige manifes kan hier gelees word.)

Die vraag is dus nou in watter vorm en tot watter mate behoort PEN Afrikaans as organisasie gemoeid te wees met die handhawing en uitbou van Afrikaans as onderrigtaal? Uiteindelik staan PEN Afrikaans in diens van sy lede en kan daardie lede demokraties bepaal wat die prioriteite van sy verkose bestuur behoort te wees.

Ons wil dus ná 'n geleentheid tot bespreking lede kans gee om te stem oor die volgende:
Behoort PEN Afrikaans betrokke te raak by 'n kwessie soos die taalbeleid van universiteite indien die status of aanbod van Afrikaans daardeur geraak word?
Watter veldtogte en/of organisasies behoort PEN Afrikaans aktief te ondersteun wanneer dit oor taalbelange en taalregte gaan?

Indien jy nie die AJV kan bywoon nie, is jy baie welkom om elektronies jou mening oor hierdie aangeleentheid te lug. Skryf asseblief vir ons na penafrikaans@gmail.com

(Let wel: In die eerste weergawe van die agenda het ons ook gevra: "Wil ons ’n resolusie in 2017 aan PEN Internasionaal se kongres voorlê waarin ons protes aanteken teen die regering se onwilligheid om grondwetlike taalregte te beskerm en daarmee vra vir die ondersteuning van die internasionale PEN-gemeenskap?" Intussen het die Vrystaatse Hooggeregshof egter beslis dat die taalbedeling aan die Universiteit van die Vrystaat ongrondwetlik is en neerkom op 'n flagrante skending van die grondwetlike taalregte van Afrikaanse studente. Dit sou dus raadsaam wees om te wag op soortgelyke uitsprake en die reaksie van die betrokke instansies daarop voordat PEN Afrikaans hom aan PEN International se kongres wend.)

T.o.v. agendapunt 10:

Volgens die reglement in ons grondwet word lewenslange lidmaatskap "deur die Kongres [AJV] aan ʼn gewone lid of ʼn gewese gewone lid toegeken as erkenning van volgehoue toewyding aan die Vereniging en sy doelstellings". 

Die bestuur wil voorstel dat lewenslange lidmaatskap vanjaar aan Naas Steenkamp toegeken word vir die groot rol wat hy as bestuurslid en tesourier in PEN Afrikaans se stigting en fondswerwing gespeel het. Hierdie toekenning sal by die AJV kortliks gemotiveer en deur 'n stemming bekragtig word.

Ere-lidmaatskap word volgens ons grondwet "aan ʼn persoon toegeken wat nie ʼn gewone lid van die Vereniging is nie, as blyk van waardering en erkenning vir die persoon se bydrae in die belang van PEN Afrikaans".

Fanie Olivier, self 'n lewenslange lid van PEN Afrikaans, het voorgestel dat ons vanjaar ere-lidmaatskap aan Margot Luyt en Karen Meiring toeken vir die groot rol wat hulle in die bevordering van die Afrikaanse letterkunde speel. Ook hierdie nominasies sal by die AJV kortliks gemotiveer en deur 'n stemming bekragtig word.

T.o.v. agendapunt 11:

Ongelukkig het Bettina Wyngaard in Julie as ondervoorsitter van PEN Afrikaans bedank. Sy sien nie tans kans om verder op die bestuur te dien nie. Bettina het die afgelope paar jaar ’n baie belangrike rol binne PEN Afrikaans vervul en haar vertrek laat 'n groot leemte.

Bettina, ons sê hiermee amptelik baie dankie vir jou bydrae tot ons aktiwiteite. Jy het waardevolle raad en dryfkrag gegee. Om nie te praat van al die kere wat jou insig en ondervinding ons op ’n wettiese koers geplaas en gehou het nie. Mag jou skrywersloopbaan van krag tot krag gaan.

Ons nooi lede hiermee uit om voorstelle vir hierdie bestuursposisie te maak. Die bestuur het reeds vir Marga Stoffer gevra of sy haar verkiesbaar sal stel en ons is baie bly daaroor dat sy ingewillig het. Ons sal egter ook ander voorstelle vir kandidate verwelkom. Stuur asseblief e-pos na penafrikaans@gmail.com indien jy iemand anders vir die posisie van ondervoorsitter wil nomineer. 

Nuwe Afrikaanse boeke in Augustus

Laastens is dit altyd 'n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. Augustus se publikasielys kan hier afgelaai word.

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top