PEN Afrikaans: Bestuurder se verslag en vooruitskouing 2016

  • 2

PEN Afrikaans is volgens sy grondwet primêr daartoe verbind “om die belange van Afrikaanse skrywers, in die wydste sin van die woord,  te beskerm en te bevorder, in ooreenstemming met die beginsels vervat in die PEN International-handves, wat ’n onlosmaaklike deel van hierdie grondwet uitmaak”.

PEN Afrikaans sal daarom:

  1. die letterkunde oor die algemeen bevorder,
  2. taalregte beskerm en uitbou,
  3. en kampvegter bly vir die vryheid van spraak en die reg op selfstandige denke.

Wat die laasgenoemde punt 3 betref, is dit duidelik dat daar geen louere is om op te rus nie. PEN International se sg Case List vir 2015 dokumenteer wêreldwye agteruitgang ten opsigte van uitdrukkingsvryheid - http://www.pen-international.org/newsitems/pen-international-2015-case-list-documents-decline-in-freedom-of-expression-around-the-world/. Die aanslae op joernaliste en skrywers het internasionaal toegeneem en hier by ons was die onbeskaamde uitdaging van ons grondwet deur Hlaudi Motsoeneng rede tot groot kommer.

Rakende punt 2 is daar ook geen rede tot vreugde of verligting nie. Gedurende 2016 is Afrikaans effektief afgeskaf aan UNISA en die universiteite van Pretoria en Vrystaat, terwyl die Universiteit Stellenbosch ’n taalbeleid aanvaar het wat bitter vinnig tot algehele verengelsing sal lei.

Ja, daar was ook ligpunte en tekens van hoop wat uitdrukkingsvryheid en taalregte betref, maar in die lig van huidige tendense is dit sekerlik nie gepas om te spog of selfvoldaan te wees nie. Ek sal daarom net vinnig en puntsgewys verwys na prestasies en verwikkeling in die afgelope jaar waarop PEN Afrikaans wel trots kan wees:

- Frederick J. Botha wat pas met sy kortverhaal “Please Help, God Bless” die langlys van ses gehaal het vir PEN International New Voices Award 2016
- Die aanbieding van ’n aanlynslypskool vir jong skrywers met potensiaal wat vir New Voices 2016 ingeskryf het en eersdaags begin
- Die suksesvolle voltooiing van die eerste fase van die Noord-Kaapse Trippel-7-projek
- Die digitale beskikbaarstelling van die kwartaallikse Taalgenoot-tydskrif se inhoud op ons webportaal (ons voeg eersdaags die boekinhoud van Herfs 2016 en Winter 2016-uitgawes by)
- Gereelde maandelikse nuusbriewe wat onder meer maandeliks alle nuwe Afrikaanse publikasies bekend maak
- Suksesvolle SARS-registrasie en die implementering van die SageOne-aanlynstelsel vir boekhouding en fakturering
- Die sluit van ’n samewerkingsooreenkoms met PEN South Africa ten einde saam enige wysigings aan Suid-Afrikaanse kopiereg te beveg wat nadelig vir skrywers en uitgewers kan wees.
- Die opbou van vriendskappe en verstandhoudings binne die internasionale PEN-gemeenskap. 
- ’n Apologie en skenking van Nitesh Patel van Standard Bank nadat hy in die media verbruikers aangeraai het om te spaar deur minder nuwe boeke aan te skaf. (https://www.litnet.co.za/pen-afrikaans-reageer-op-nitesh-patel-se-apologie/)

Wat die toekoms betref, is dit vir my duidelik dat ons in terme van uitdrukkingsvryheid baie paraat sal moet wees. Alle lede van PEN Afrikaans sal in samewerking met organisasies soos The Right 2 Know en ander PEN-sentrums gereeld en deeglik moet stem dik maak oor enige poging tot sensuur en die inperkings van menings- en/of persvryheid. Dit was dus verblydend om te sien hoeveel mense ons beswaarskrif oor die afdanking van die #SAUK8 blitsig op sosiale media gedeel het. (https://www.litnet.co.za/pen-afrikaans-teken-protes-aan-teen-die-afdanking-van-agt-sauk-joernaliste/)

Die kwessie rondom die handhawing en uitbou van taalregte is meer ingewikkeld, maar verg myns insiens eweneens daardwerklike aksie en aktivisme. Dit is juis daarom dat die bestuur van PEN Afrikaans dit goed gedink het om hierdie aangeleentheid vandag op die agenda vir bespreking te plaas.

Aangesien die reg op meningsvryheid vir ons sentraal is, staan dit enige lid van PEN Afrikaans vry om hieroor te verskil. Ek wil egter graag kortliks verduidelik hoekom ek as bestuurder van PEN Afrikaans vanjaar saam met ander lede van PEN Afrikaans aktief betrokke was by veldtogte soos Gelyke Kanse en ’n Kans in Afrikaans wat beide gepoog het om die Universiteit Stellenbosch tot ander insigte oor die waarde van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal te bring.

My redenasie is eenvoudig: Die afskaffing van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal plaas druk op reeds beleërde Afrikaanse skole om ook te verengels. Hoe meer Afrikaanse skole verengels hoe minder lede van ’n toekomstige generasie sal Afrikaans skryf of lees.

’n Vereniging wat hom volgens sy grondwet in die eerste plek daartoe daartoe verbind “om die belange van Afrikaanse skrywers, in die wydste sin van die woord, te beskerm en te bevorder”, kan dus nie onverskillig staan teenoor die afskaling van Afrikaans as onderrigtaal nie. Die hond wat PEN Afrikaans in hierdie fight het, sê ek met doelbewuste verwysing na Breyten se “Die koei in die bos”-toespraak voor die US-konvokasie vanjaar (https://www.litnet.co.za/die-koei-in-die-bos/),  is die Afrikaanse joernalistiek en die uitgewers-, fliek- en musiekbedryf.

Dit is legitieme ekonomiese belange wat uiteraard belangrik is vir die brood en botter van ons lede. Ons mag en kan en moet sê as die regering en bestuursliggame aanhou om Afrikaans as onderrigtaal te wurg, wurg hulle Afrikaanse skrywers, koerante, tydskrifte, fliekmakers en liedjieskrywers daarmee saam.

As burger van ’n post-apartheid Suid-Afrika en ook as skrywer-denker moet ’n mens jou egter sekerlik ook afvra of die stryd om die behoud van Afrikaans in die breër belang van Suid-Afrika en die kontinent is. Of is ons Afrikaanse skrywers en joernaliste wat wil aandring op ons taalregte en moedertaalonderrig, dalk nes die lobbyiste vir die alkohol- of tabakbedryf wat so skitterend satiries uitgebeeld word in die fliek Thank You for Smoking?

Hierdie vraag het my die afgelope paar jaar ernstig besig gehou en ek het tot die slotsom gekom dat ’n stryd om die uitbou van moedertaalonderrig en bewusmaking oor die waarde van moedertaalonderrig geen luukse is nie. Inteendeel, die feit dat die Afrikaanse joernalistiek saam met die uitgewers-, fliek- en musiekbedryf ekonomies gaan ly onder die afskaling van Afrikaans as onderrigtaal is binne die groter prentjie eintlik van sekondêre belang. ’n Stryd om die handhawing van taalregte gaan uiteindelik oor veel meer as boekverkope of eng identiteitspolitiek.

Om vir Afrikaans te baklei omdat jy in die eerste plek geïnteresseerd is in die belange van ’n spesifieke groep is sekerlik ook binne ’n demokrasie veroorloof, maar dit is belangrik om deeglik bewus te bly van die feit dat heel verskillende identiteite op heel verskillende maniere met Afrikaans en sy variante identifiseer.

Wanneer Breyten saam met Jan Rabie sê “Sonder Afrikaans is ek niks” beteken daardie stelling nie noodwendig dieselfde as wanneer ’n bruin skrywer van die Kaapse Vlaktes dit sê nie. En daardie stelling verander weer van betekenis wanneer dit gesê word deur iemand wat hom in die eerste plek etnies as wit Afrikaner definieer.

Juis daarom meen ek moet ons Afrikaans ontkoppel van sy identiteite wanneer ons vir Afrikaans in skole en universiteite beding.

Maar hoekom is dit dan so belangrik vir burgers om hulle, binne die breër prentjie, vir Afrikaans in skole en universiteite te beywer?

Omdat moedertaalonderrig bewysbaar superieur is. Dit stel leerders in staat om die wêreld beter konseptueel te begryp en hulself daarom ook beter te bekwaam. Moedertaalonderrig bemagtig intellektueel en ekonomies. Die opheffing van baie wit Afrikaanssprekendes uit armoede in die 20ste eeu is ’n sprekende voorbeeld.

Sou ’n mens dus kruipende armoede en ’n hopeloos ontoereikende skoolstelsel as die grootste vyande van ’n meer stabiele, demokratiese Suid-Afrika beskou, kan ’n mens niks verkeerds doen deur aan te dring op meer en beter moedertaalonderrig vir almal in die land nie.

Dat hierdie strewe die moeite werd is, word vir my klinkend bevestig deur die feit dat ek nog nie met enige verteenwoordiger van ander PEN-sentrums in Afrika gepraat het wat nie ten gunste van meer moedertaalonderrig in Afrika is nie. PEN-sentrums in Ghana, Kenia, Malawi, Nigerië, Uganda, Zambië en Zimbabwe is trouens nie eers geïnteresseerd in ’n debat oor die waarde van moedertaalonderrig nie. Al wat hulle wil weet, is hoe om die politieke wil en finansiering te beding wat handboeke en onderwysersopleiding moontlik sal maak om hierdie droom te verwesenlik.

Uit gesprekke met ander PEN-lede uit Afrika kom ’n mens tot die slotsom dat die ou koloniale tale in der waarheid steeds die koloniale heersers van weleer voortreflik dien. Vir ’n klein nepotistiese elite funksioneer Engels en Frans uitstekend as handelstaal waardeur menslike en natuurlike hulpbronne verkwansel kan word aan die hoogste aanbieder uit die Weste of Ooste, terwyl die grootste deel van die bevolking verder krepeer aan die hand van ’n klaaglik falende skoolstelsel. Of is dit blote toeval dat geen ekonomies toonaangewende land in die wêreld die meerderheid van sy bevolking dwing om in ’n tweede of derde taal te leer nie?

Ek twyfel dus nie daaraan dat Afrikaanse skrywers gerus meer betrokke kan wees by inisiatiewe of veldtogte wat die bevordering van moedertaalonderrig ten doel het nie. 

Die vraag is egter watter inisiatiewe of veldtogte?

Ek het vanjaar, soos ek voorheen genoem het, in my persoonlike hoedanigheid my steun toegesê aan Gelyke Kanse en ’n Kans in Afrikaans, hoewel ek aanvaar dat ek nie my identiteit en wêreldbeskouing noodwendig dieselfde verstaan as van die ander ondersteuners van hierdie veldtogte nie. Ander PEN Afrikaans-lede wat hierby betrokke was, is Dominique Botha, Breyten Breytenbach, Abraham de Vries, Ebbe Dommisse, Hermann Giliomee, Sonja Loots en John Miles.

My deelname aan hierdie veldtogte het vir my drie dinge duidelik gemaak:

  1. Binne politieke veldtogte rondom taal is daar interessante moontlikhede vir gesprek en versoening tussen wit en bruin of swart Afrikaanssprekendes.
  2. Die wantroue tussen wit en bruin lê nog diep.
  3. Hierdie soort werk kos baie tyd en energie.

In die lig van hierdie ervarings wil ek dus vandag die vergadering vra:
1) Watter inisiatiewe/veldtogte, indien enige, moet of behoort PEN Afrikaans te ondersteun en waar wil ons beslis wegbly?
2) Wil ons lid van die Afrikaanse Taalraad (ATR) word, ’n sambreelorganisasie deur wie se inisiatief die ’n Kans in Afrikaans-veldtog tot stand gekom het? (Twee lede van PEN Afrikaans, prof. Wannie Carstens en dr. Conrad Steenkamp, speel onderskeidelik as uitvoerende hoof en direksielid prominente rolle by die Taalraad.)
3) Kan/behoort die bestuurder as amptelike verteenwoordiger van PEN Afrikaans aan sulke veldtogte deel te neem of sou lede verkies dat hy/sy meer energie in ander aangeleenthede belê en sulke veldtogte slegs, indien hy/sy wou in persoonlike hoedanigheid ondersteun?
4) Wil PEN Afrikaans help om ’n groter versoeningsgesprek tussen wit en bruin/swart skrywers te fasiliteer?

Die antwoorde wat ek van lede op hierdie vrae ontvang sal deels bepaal hoe ek die nabye toekoms sien, maar tans stel ek graag die volgende in die vooruitsig:

- Aktiewe ondersteuning van ’n veeltalige en uiteraard veelkleurige moedertaalinisiatief gefokus op die uitbreiding van moedertaalonderrig in alle inheemse tale
- Fasilitering en deelname aan ’n versoeningsgesprek binne die Afrikaanse taalgemeenskap waaraan wit en bruin skrywers deelneem
- Die skep van aanlynprofiele en wiki-bladsye vir alle lede van PEN Afrikaans
- Doeltreffende weerstand teen alle vorme van sensuur en enige kopiereghervorming tot nadeel van skrywers en uitgewers
- Die tweede fase van Trippel-7 ter ondersteuning van marginale Afrikaanse stemme
- Die ondersteuning en mentorskap van jong Afrikaanse skrywers
- Die stimulasie van meer gesprek rondom Afrikaanse boeke via ons LitNet-webportaal
- Deelname aan die oprig van ’n vertaalfonds wat die vertaling en daarmee wyer blootstelling en publikasie van beduidende én gewilde Afrikaanse tekste moontlik maak

En op daardie noot wil ek afsluit met die woorde van my ou universiteitsvriend Robert Denton. “Sakkie,” het hy dikwels met ’n dramatiese pouse gesê, “daar’s nie reëls nie. Jy kan doen net wat jy wil. Jy moet net ’n sponsor kry.”

Baie dankie dus aan die Dagbreek Trust, Naspers, Het Jan Marais Fonds en alle ander skenkers wat ons sedert 2012 finansieel ondersteun het. Enige iemand anders wat graag in terme van geld of tyd en energie wil bydra tot die verwesenliking van die bogenoemde oogmerke word hiermee ook hartlik uitgenooi om my te kontak.

  • 2

Kommentaar

  • `n Raakvat oorsig Danie. Jy het die kernspitsvrae rondom taal goed verwoord. Maar die hef-aan is voor in die pad!

  • francois verster

    Die kwessie rondom identiteit en Afrikaans is werklik 'n spilpunt ja. Deel in gemeenskaplike sake is noodsaaklik, anders is een nasionaliteit in die breër sin in elk geval ook 'n hersenskim. Ek stem ook saam dat nie net sal akademiese aftakeling, want dis wat nou gebeur by opvoedkundige instellings, Afrikaans in talle ander opsigte ernstig ondermyn nie, maar is Afrikaans juis 'n templaat vir ander inheemse tale oor hoe om veerkragtig en relevant te bly dmv 'n wetenskaplike onderbou. Begrawe jy hierdie voorbeeld en gepaardgaande ervaring, en neem jy hierdie struktuur wat kan - en wil - help dat ander inheemse tale floreer (nie tot kombuistale verdoem word nie), skiet jy AL die inheemse tale in SA in die voet en verslaaf jy jou juis aan 'n koloniale heersertaal. Meertaligheid bevorder interkulturele kennis en die begrip vir mekaar wat essensieel in 'n nasiestaat soos ons s'n is. Dis selfs nodig vir oorlewing.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top