PEN Afrikaans AJV 2017: Bestuurdersverslag

  • 0

Ek het op 1 November 2014 as PEN Afrikaans se bestuurder ingespring met ’n goeie begrip van die behoeftes van Afrikaanse skrywers, joernaliste en uitgewers, maar slegs ’n vae idee van al PEN International, ons moederorganisasie, se aktiwiteite.

Drie jaar later is ek nie net diep onder die indruk van die waarde van ’n wêreldwye skrywersnetwerk soos PEN nie, maar is ek baie meer bekommerd as drie jaar gelede oor die voortbestaan van alles waarvoor PEN hom sedert sy stigting in 1921 beywer het. Wanneer jy al ’n paar PEN-kongresse bygewoon het en gereeld korrespondensie ontvang, besef jy uitdrukkingsvryheid en taalregte en daarmee ook die letterkundes en joernalistiek van minderheidstale is nie net in ons land onder beleg nie. PEN International se sogenaamde Case List wat boekhou van aangemelde aanslae op uitdrukkingsvryheid, toon wêreldwyd ’n toename in onverdraagsaamheid, sensuur en die intimidasie van skrywers en joernaliste. In Suid-Afrika moes ons die skrikbewind van Hladui Motsoeneng by die nasionale uitsaaier verduur en het ons gesien hoe die regering blatant en amptelik probeer om ’n vrye pers en uitdrukkingsvryheid aan bande te lê met die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting, en die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak.

By die US Woordfees vroeër vanjaar het ek gaan luister na ’n kommerwekkende gesprek met die tema: “The Right to Offend”. Max du Preez het gesels met Anton Kannemeyer van die satiriese Bitterkomix en met die spotprenttekenaars Brandan Reynolds en Zapiro.

Kannemeyer het vertel hoe sy galery nie meer sy polities satiriese werk wou uitstal nie en teenoor hom verklaar het dat dit tyd is vir die wit man om te swyg – dít terwyl hy besig was om voor te berei op verskeie internasionale uitstallings. Zapiro het verduidelik dat hy weg is by die Mail & Guardian omdat hy gedurig gewaarsku is om versigtiger te spot. “I felt hounded by political correctness,” het hy gesê.

Max du Preez het later in die gesprek gesê: “Ons ouens hier in die middel moet nou eenvoudig aandôner na die beste van ons gewete.” Waarop Zapiro hom onderbreek het: “Wait a second, Max, since when did we become middle of the road? I still see myself as a lefty – the new left is neo-fascist.”

Dit is in hierdie klimaat waar die titel van Seamus Heaney se gedig oor die destydse situasie in Noord-Ierland weer gevaarlik na aan die waarheid begin klink: “Whatever You Say, Say Nothing”. En soos Heaney dit later in dié vers stel: “The ‘voice of sanity’ is getting hoarse.” 

In so ’n klimaat verteenwoordig hierdie woorde uit die PEN Handves wat elke lid onderskryf, die strewe van outydse linkses: “Lede van PEN behoort te alle tye die invloed tot hul beskikking te gebruik om goeie begrip en onderlinge respek tussen volkere te bevorder; hulle onderneem om hul uiterste bes te doen om rasse-, klasse- en nasionale haat te besweer, en om die ideaal van een mensdom wat in vrede in een wêreld woon, na te streef.”

As hierdie ou linkse ideaal nou as gematig geklassifiseer word, is dit dalk tyd om ’n vurige gematigde te word. Afrikaanse skrywers en denkers behoort juis daarom ook nie weg te skram van gesprekke wat dreig om deur radikale stemme gekaap te word nie. Ware meertaligheid is deel van dekolonisasie en by hierdie debat en stryd het Afrikaans groot belang. Dit is belangrik om in gedagte te hou wat die gerekende Ugandese skrywer en sosiaalwetenskaplike Mahmood Mamdani in Augustus vanjaar in sy TB Davey-gedenklesing oor akademiese vryheid by die Universiteit van Kaapstad gesê het.  Mamdani, wat Ikeys 16 jaar gelede verlaat het omdat hy met die universiteitsowerhede gebots het oor sy pogings om die kurrikulum te dekoloniseer, sê hy was bereid om terug te keer na dié universiteit omdat Rhodes geval het. In sy lesing het hy hard en duidelik gepraat oor die sentrale rol wat die ontwikkeling van Afrika-tale in die dekolonisasieprojek moet speel.

“Afrikaans,” het Mamdani gesê, “verteenwoordig die mees suksesvolle dekoloniseringsinisiatief op die Afrika-kontinent.” Hy het daarop gewys dat dit slegs 50 jaar se omvattende regstellende aksie-program geverg het om Afrikaans te verhef van net nog ’n Afrika-taal tot die draer van ’n intellektuele tradisie. Die groot ironie, meen hy, is dat hierdie suksesresep nie deur die demokratiese regering in Suid-Afrika aangewend is om ons ander inheemse tale op te hef nie.

Mamdami het beklemtoon dat die dekolonisasie van Afrika-universiteite nie los te maak is van die noodsaaklikheid om Afrika-tale te ontwikkel nie. “Die dekolonisasie-projek moet per definisie meertalig wees,” het hy gesê.

Ek deel Mamdani se oortuiging en dis grotendeels hoekom ek vanjaar saam met verskeie ander lede van PEN Afrikaans die Gelyke Kanse-veldtog ondersteun het in ’n poging om die Universiteit Stellenbosch daartoe te beweeg om sy instelling teenoor meertaligheid en die daarmee gepaardgaande uitfasering van Afrikaans te heroorweeg. Die Hooggeregshof het nog nie uitspraak gelewer nie en dié saak sal heel moontlik in die Grondwetlike Hof draai, maar wat ook al die uitslag: Ek is oortuig Engels alleen is nie die antwoord vir Suid-Afrika is nie. As die ou koloniale tale soos Engels, Frans en Portugees regtig die enigste sleutels tot ekonomiese bemagtiging en kulturele selfrespek was, sou Afrika vandag anders gelyk het.

Die uitdaging vir PEN Afrikaans is dus steeds om in vennootskap met ander inheemse tale en organisasies en almal wat teen wil en dank in die gematigde middel van radikale nuwe nasionalismes en ’n siniese kleptokrasie beland het, te werk vir ’n meer verdraagsame taalpolitiek. Ons sal inderdaad verbete moet aandôner na die beste van ons gewete in die hoop om nuwe bondgenote te vind.

By PEN gaan dit egter nie net oor taalregte nie, maar ook sentraal om die bevordering van die letterkunde en uitdrukkingsvryheid.  

En daarom is ek verheug dat 2017 die jaar is waarin die PEN Afrikaans Vertaalfonds met die ruim finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderrig (TAO) opgerig is. Baie dankie aan Theuns Eloff en Astrid de Vos van TAO vir julle hartlike welwillendheid. ’n Tamaai dankie ook aan Marga Stoffer wat hierdie inisiatief gedryf het en in oorleg met PEN Afrikaans se bestuur die fonds gekonseptualiseer het. Ons hoop en glo hierdie fonds sal verdienstelike Afrikaanse skrywers en digters wat nog nie buite ons landsgrense bekend is nie, help om ’n internasionale deurbraak te maak. Marga sal later meer oor die fonds sê en verduidelik hoe dit werk.  

Ander aktiwiteite en projekte waaroor ek graag vanjaar kortliks verslag doen, is die volgende:

- Die suksesvolle voltooiing van die tweede fase van die Noord-Kaapse Trippel-7-projek onder leiding van Anzil Kulsen, wat verlede jaar die leisels by Bettina Wyngaard oorgeneem het. In fase twee het Anzil ’n naweek lange opvolgskryfskool in Upington gedurende Februarie vanjaar aangebied saam met die digter Diana Ferrus en Haidee Muller, die bekende RSG-omroeper. Van Haidee se gesprekke met die deelnemers is ná die skryfskool op RSG uitgesaai; al die deelnemers het Riana Scheepers en Leti Kleyn se Afrikaanse Skryfgids ontvang en drie van die belowendste Trippel-7-skrywers het vanjaar die ATKV Winterkryfskool in Potchefstroom bygewoon. ’n Groot dankie ook aan Bernard Odendaal van die PEN-bestuur, wat gehelp het om die Trippel-7-kandidate se deelname aan die ATKV Winterskryfskool 2017 moontlik te maak. Een van die Trippel-7-kandidate, Moryn Hanzen, se eersteling, Pad na Geluk, het in Julie vanjaar by NB verskyn. ( http://www.litnet.co.za/pen-afrikaans-die-tweede-fase-van-die-trippel-7-projek/)

Op Wêreldgeletterdheidsdag, 8 September, vanjaar het PEN International die kollig gewerp op die sogenaamde Civil Society-programme wat PEN in vennootskap met Sida (Swedish International Development Cooperation Agency) wêreldwyd finansieel ondersteun. Ons is baie trots op die positiewe internasionale blootstelling wat ons Trippel-7-projek in hierdie geselskap ontvang het. (http://www.pen-international.org/wp-content/uploads/2017/09/PEN-Int-Exhibition-A0-v10.pdf)

- PEN Afrikaans deel sedert 2015, met die vriendelike vergunning van Taalgenoot se redaksie, dié kwartaallikse tydskrif se boekverwante inhoud op ons webportaal. Hierdie boekstories en resensies is nie elders digitaal beskikbaar nie.

Met die Herfs 2017-uitgawe van Taalgenoot is ons samewerking uitgebrei met die eerste in ’n nuwe rubriekreeks wat PEN Afrikaans aanbied en borg: Boeke wat skrywers laat skryf. Die eerste van hierdie rubrieke is deur ons voorsitter, Kerneels Breytenbach, waargeneem en in die daaropvolgende uitgawes het Ryk Hattingh en Marita van der Vyver geskryf oor die Afrikaanse boeke wat hulle aan die skryf gesit het en aan die skryf hou. Taalgenoot se volgende uitgawe (Somer 2017/2018) se tema is jeug en vir hierdie uitgawe het Jolyn Philips ingewillig om die rubriek te skryf. (http://www.litnet.co.za/pen-afrikaans-nuusbrief-aug-2017/)

- Sedert die begin van die jaar versamel ek ’n maandelikse oorsig van Afrikaanse boekresensies wat in die vorige maand verskyn het en digitaal beskikbaar is. By hierdie lys sluit ek ook skakels in na boekbesprekings of -gesprekke en voorlesings wat op die radio of TV uitgesaai is. PEN Afrikaans wil hiermee ’n bydrae tot die leeskultuur maak en stadig maar seker bou aan ’n aanlyn argief, wat vir alle lesers, leeskringe, skrywers, navorsers en uitgewers nuttig en interessant is. Die oorweldigend positiewe reaksie uit die boeke- en skrywerswêreld was ’n helder aanduiding dat hierdie PEN-inisiatief een is waarmee ons moet volhou. Ek bedank graag al die boekeredakteurs en die staatmaker Naomi Bruwer vir die hulp met hierdie samestelling elke maand. (http://www.litnet.co.za/afrikaanse-resensies-en-boekgesprekke-januarie-2017/

- Die Universal Periodic Review-verslag is in samewerking met PEN International en PEN South Africa oor die stand van uitdrukkingsvryheid en die menseregteklimaat in Suid-Afrika in September 2016 aan die Menseregte Raad (Human Rights Council) in Genève voorgelê. Hierdie verslag is vanjaar bygewerk en ’n opsomming van die strekking en kernpunte daarin vervat, is in April vanjaar op PEN International se webwerf gepubliseer. (http://www.pen-international.org/newsitems/south-africa-pen-joint-submission-to-the-un-universal-periodic-review/)

- Ons het reeds by ons vorige AJV en in verskeie nuusbriewe gewaarsku dat die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg uiters problematies is. Indien hierdie wet aanvaar word, kan dit verreikende negatiewe gevolge vir skrywers en uitgewers hê.

PEN Afrikaans het daarom saam met PEN South Africa kommentaar op dié wetsontwerp by die Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid ingedien. Hierdie kommentaar is opgestel met die hulp van die kopieregkonsultant Catrina Wessels en dit wys duidelik uit watter gevare hierdie onverantwoordelike wysiging van ons kopiereg vir skrywers en uitgewers inhou. (http://www.litnet.co.za/kommentaar-deur-pen-afrikaans-op-die-wysigingswetsontwerp-op-outeursreg-13/)

Ons kon uiteindelik ons kommentaar indien met die name van 'n 126 gevestigde skrywers, uitgewers, besorgdes en ander instansies wat ons voorlegging amptelik ondersteun. (Marga Stoffer sal julle meer hieroor vertel.)

- Teen die problematiese strekking van die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak het PEN South Africa vroeër vanjaar in ’n amptelike voorlegging met die volle ondersteuning van PEN Afrikaans beswaar aangeteken. (http://www.litnet.co.za/pen-afrikaans-nuusbrief-maart-2017/)

- Digitale e-boekboewery: Izak de Vries, ’n bestuurslid van PEN Afrikaans, het op 19 April vanjaar ’n wenk van die publiek gekry dat ’n geheime Facebook-groep e-boeke verniet weggee, en selfs teen ’n nominale prys verkoop, sonder om die gelde wat gemaak word na die skrywers te herlei. Izak het die bestuur in kennis gestel en hy het in samewerking met Marga Stoffer, PEN Afrikaans se ondervoorsitter, dié saak opgevolg. Die wederregtelike bedrywighede is met die hulp van SAFACT se E-Taskteam stopgesit. Izak en Marga het daarna in samewerking met SAFACT ’n tweede soortgelyke webwerf se bedrywighede beëindig. (http://www.litnet.co.za/pen-afrikaans-nuusbrief-mei-2017/)-

- Twee dag lange resensiekursusse is vanjaar in samewerking met NB-Uitgewers en Netwerk24 aan 30 voornemende resensente aangebied. Die kursus in Johannesburg op 3 Junie is deur Francois Smith behartig en die kursus in Kaapstad op 5 Augustus deur Kerneels Breytenbach. Van die kursusgangers het intussen met resensies op boekeblaaie gedebuteer en Jo Prins van Boeke24 het gesê: “Die reaksie was so entoesiasties dat ons waarskynlik volgende jaar in ál vier windrigtings resensiekursusse sal moet aanbied. En die bestaande noordelike en suidelike kursusse se lokale sal moet skuif sodat ’n mens minstens dubbel soveel mense kan akkommodeer.” (http://www.litnet.co.za/pen-afrikaans-nuusbrief-julie-2017/)

- Teen die skreiende sensuur wat onder Hlaudi Motsoeneng by die nasionale uitsaaier toegepas is, het PEN Afrikaans herhaaldelik in die openbaar saam met PEN South Africa en verskeie ander organisasies beswaar gemaak. Onder leiding van Izak de Vries, ons hoofaanstigter op die bestuur, het ons in besondere die tugsaak van Thulani Msimang vervolg. Msimang is deur die SAUK met skorsing gedreig omdat hy op sy persoonlike Facebook-blad kritiek uitgespreek het oor die NVG se gebrek aan aksie teen president Zuma. PEN Afrikaans het hierdie saak gemonitor en het direk met die SAUK se tugkomitee gekommunikeer oor dié aangeleentheid. Die saak teen Msimang is teruggetrek en Msimang het in ’n hartverwarmende e-pos aan Izak de Vries geskryf: “My family and I are eternally grateful to you and PEN Afrikaans.” (http://www.litnet.co.za/pen-afrikaans-nuusbrief-maart-2017/)

Hierdie verslag is uiteindelik ook ’n omslagtige manier van baie dankie sê aan al die bestuurslede van PEN Afrikaans met wie ek die afgelope drie jaar kon saamwerk. Ek waardeer julle onbaatsugtige bydraes en ondersteuning te midde van  baie ander werksdruk en verpligtinge geweldig. ’n Innige dank ook aan die Dagbreek Trust en ander weldoeners vir die finansiële ondersteuning wat dit vir my moontlik gemaak het om my saam met ander vrywillige entoesiaste aan PEN Afrikaans se bestuur en ontwikkeling te wy. Ons PEN-sentrum het baie waardevolle myle in ’n kort tydperk afgelê en ons is nou goed geposisioneer om die saak van die Afrikaanse letterkunde, joernalistiek en uitgewerswese sowel nasionaal as internasionaal te bevorder.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top