Paulus deur Adrio König: ’n lesersindruk

  • 2

Paulus: Die indringer-apostel wat die evangelie gered het
Adrio König
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM)
ISBN: 9781431615285

In sy boek Op pad skryf Dana Snyman oor sy ongewone belangstelling in ’n boek van die teoloog Ferdinand Deist, en hoe hy sy belangstelling in die boek probeer wegsteek het vir sy intellektuele vriende. So het ook ek maar my eie Deist in die vorm van Adrio König. En deurgeloop het ek al deurgeloop. Die feit dat ek raak aan enige boek van König is te veel vir sommige mense, dit het ek al agtergekom.

My belangstelling in König se boeke het begin in my studentejare, toe ek twee van sy boeke op ’n uitverkoping gekoop het. Daar is niks aan König se teologiese idees wat my interesseer nie. Ek is ’n ongelowige mens. Maar met elkeen van sy boeke wat ek gelees het, het ek veel geput uit sy insigte in die uitleg van die Bybelse tekste, en dit het my ook beter laat verstaan hoe andere dink. Daarby vind ek ook ’n sekere behae daarin om die geskiedenis van die antieke Israeliete te bestudeer, omdat dit so vol drama en menslikheid is.

König sê die skryf van sy boek oor Paulus was “een van die opwindendste tye in my hele lewe” (13). Lank voordat ek hierdie boek gelees het, het ook ek verskeie boeke oor antieke Judea gelees wat ek ook besonders opwindend gevind het. Ons is nooit geleer dat die kerk so verdeeld was nie. Ons is nooit op Sondagskool geleer van die konflikte tussen die Israeliete nie. Die ou storie wat ons geleer is, was dat die Jodedom en die Christendom geskei het omdat die Jodedom nie vir Jesus as die Messias aanvaar het nie. Maar die breuk het eintlik weinig hiermee te doen. Dit het te doen met die wette van die Tora en die besnyding. Die verhaal van die ontwikkeling van die kerk is die verhaal van ’n klomp mense se stryd rondom hulle eie en hulle medemense se identiteit, asook hoe om met hulle erfenis te versoen.

Daar was Jesus en sy volgelinge. Ongeletterde plattelanders. Wetsonderhoudende Jode. Behoudend. En dan was daar Paulus. ’n Romein en ’n stadsjapie. En hoogs geskool in vergelyking met Jesus se volgelinge. Paulus had twee name. Dit is nie waar dat sy naam verander het nie. Sy Hebreeuse naam was Saulus, en sy Roomse naam was Paulus. En uiteindelik het sy briewe, en veral sy teologiese idees, die kerk oorheers, en dit is vandag nog so. Aanvanklik vervolg Paulus natuurlik hierdie volgelinge van Jesus, maar later word hy self ’n volgeling van Jesus nadat Jesus na bewering aan hom verskyn het. Maar dit was nie die einde van die drama nie. Inteendeel. So begin Paulus toe ’n ander weergawe van die Jesus-beweging-teologie verkondig, en sy pad kruis toe natuurlik ook met dié van die eerste volgelinge van Jesus in Jerusalem. Dit was nie lank nie of die vet was in die vuur, aangesien die “Jerusalem-gemeente” nie saamgestem het met Paulus se idees nie. König beskryf dit as “twee evangelies” wat verkondig is. Aan die een kant was daar Jesus se oorspronklike volgelinge met hulle weergawe van die evangelie, en aan die ander kant Paulus en sy weergawe: “Die verskil was so radikaal dat hulle gesamentlik besluit het daar sal twee evangelies verkondig word, vir die Jode Christus én die wet, vir die heidene Christus sonder die wet” (37). Maar daar het dit ook nie gebly nie, want Paulus was oortuig dat ook die Jodedom die wet uiteindelik moes laat vaar.

Mense gebruik ongetwyfeld te maklik die word “Jode”. Dit is duidelik dat die antieke Israeliete ’n doodgewone diverse klomp mense was. Hulle het verskillend gedink oor dinge, nes elke volk en nasie voor en na hulle. Dat daar ’n nasionalisme onder hulle bestaan het, is gewis, een wat geworstel het in die skadu van die erfenis van Dawidiese koninkryke, met die Tora en die wet as kompas. Daar was in die 1ste eeu egter verskeie groepe in antieke Israel (87), elk met sy eie interpretasie. Dit is in hierdie omgewing waar die stryd vir die behoud en die opgee van die Tora-wet gewoed het.

Paulus se briewe was egter nooit bedoel om heilige tekste te word nie (90). En daarby is die briewe ook nie chronologies georganiseer in die Bybel nie – dit is eenvoudig gerangskik van die langste na die kortste (131). Dit is belangrike inligting wat elke leser van die Bybel moet weet, want Paulus se idees het ook volgens König ontwikkel soos wat die tyd aangestap het (210) – en dis minder duidelik te bespeur uit die bestaande manier waarop die briewe gerangskik is.

König se boek oor Paulus is glad nie meesleurende prosa nie. Dit is geen chronologiese narratief oor Paulus en sy lewe nie, hoewel daar wel ’n hoofstuk gewy word aan “Paulus se lewe en werk” (hoofstuk 2). Die patroon van al König se vorige boeke word in hierdie een herhaal, en dis geskryf in beredenerende styl aan die hand van die Bybelse boeke. Die krag van sy boeke lê presies daar, by sy indrukwekkende kennis van die Bybel en al die vertalings daarvan. Aan die einde van die boek verskyn daar ook ’n uitgebreide bibliografie, en dit is duidelik dat König wyd oor die onderwerp gelees het, maar dis tog jammer dat daar eintlik weinig na al hierdie werke, waaronder ’n boek van Marcus Borg, verwys word. Mens mis ook ’n deeglike ondersoek na die historikus Flavius Josefus (37–100 nC) se boeke. König beroep hom in sy ondersoek uitsluitlik op die Bybel, waarvan sy uitleg altyd prikkelend is, maar die ondersoek sou veel ryker kon gewees het deur meer ondersoek na tekste buite die Bybel, hoewel dit die lengte van die boek dalk aansienlik sou verleng het.

En daar word ook feitlik niks eintlik geskryf oor die rol van kolonialisme nie, wat ’n ernstige leemte is. Dit is ’n feit dat die Israeliete se idees nie stagneer het nie. Hulle is beïnvloed deur ander kulture. Op bl 230 skryf König dat bose magte “nie so dikwels in die Ou Testament ter sprake (is) nie. Dit is eers tussen die Ou en die Nuwe Testament dat hulle sterk na vore kom.” Is dit dan toevallig? Ek dink glad nie so nie. Dit is in hierdie tyd dat die Israeliete geheleniseerd geword het. En later ook deur die Romeine gekoloniseer was. Die kerk is juis die produk van die verspreiding van ’n weergawe van die Israelse geloof na “heidene”, maar hierdie “heidene” het op hulle beurt weer ’n invloed gehad op hoe die teologie ontwikkel het. En die nasionalisme van die Israeliete was ook altyd daar, sluimerend onder hulle, maar ’n wesenlike faktor.

In hoofstuk 12 is daar ’n interessante bespreking oor vroue in antieke Israel, en dan spesifiek Paulus se idees oor vroue en die huwelik. König probeer sy bes om die seksisme van hierdie patriargale gemeenskappe te verbloem, maar slaag nie besonders daarin nie. Elders aanvaar hy dat sekere praktyke van die vroeë kerk vandag eenvoudig geïgnoreer word, soos byvoorbeeld die verbod op die eet van bloed. Miskien moet daar ook maar aanvaar word dat daardie gemeenskappe vroue nie werklik as mans se gelykes gesien het nie. Dat daar moontlik ’n vooruitgang in Paulus se denke oor die saak was, is seker moontlik, maar dit bly maar ten beste spekulasie vir my, en grens aan ’n apologetiese uitleg.

Die skramse verwysing na die Jakobusbrief het my ook opgeval. Jakobus is een van die mees omstrede Bybelse boeke in die kerk. Martin Luther (1483–1546) was glad nie lief vir die Jakobusbrief nie, omdat dit met sy idees gebots het. In haar boek The reluctant parting skryf Julie Galambush oor die Jakobusbrief dat “James [Jakobus] unambiguously substantiates the claim that not only Jesus himself but also his followers were and continued to be Jews.”1

Met hierdie boek oor Paulus het König ’n belangrike publikasie in Afrikaans die lig laat sien oor ’n onderwerp waarvan baie mense hopeloos te min weet, en hoewel ek nie met baie van sy idees saamstem nie, het ek dit weer eens verrykend gevind om te lees wat hy alles oor Paulus se twis met die vroeë kerk te sê het. Dit is interessant om gereeld sy kommentaar te sien op die vertalings van die Bybel, waaroor hy soms skerp kritiek lewer. Vir my woed daar egter steeds die diskrepansie tussen die historiese Jesus en sy volgelinge aan die een kant, en die beeld van hulle wat later deur die kerk ontwikkel is. Maar vir König is die saak veel meer eenvoudig. Volgens König verstaan Paulus “die evangelie beter as Jesus se eie dissipels” (374), en sou die kerk nooit ontwikkel het sonder Paulus nie. Die Jesus-beweging sou ’n klein Joodse beweging gebly het. Met laasgenoemde gaan ek akkoord, maar eersgenoemde laat my koud.

1 J Galambush, The reluctant parting: How the New Testament’s Jewish writers created a Christian book. Harper Collins, 2005, New York, bl 244.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top