Papkop se brief van 10 Februarie 2010 aan Lizz Meiring oor Afrikaans

  • 20

Tragies, maar alles wat Papkop sê, ALLES, is waar.  Papkop beweer onder andere dat Afrikaans binnekort, indien nie alreeds nie, nie pap in jou maag gaan sit nie.  In die lig van die feit dat Afrikaanssprekendes se arbeid, en dus geld, ’n kardinale deel van die land se ekonomie uitmaak, hoe hartseer, en wat ’n verleentheid, is dit nie. 

En wie moet ons bedank hiervoor?  Papkop is reg, net onsself;  ‘oopkop’ Afrikaners wat hulle kinders in Engelse skole sit, ‘verligtes’ wat ‘in Afrikaans dink en droom’ (arme drolle weet nie eers mens dink nie in ‘n taal nie) maar om ‘ekonomiese redes’ voorstanders van Engels as enigste amptelike taal is, patetiese agterryers, gatkruipers en heulers wat gedurig derms uitryg oor die kamtige bagasie van Afrikaans.

Indien hierdie mense die meerderheid is, sal dit die Afrikaner se verdiende loon wees as hy uiteindelik uitgewis word; vir patete, handwringers en hoedfrommelaars is daar nie plek op aarde nie.  Ek hoop nie hulle is die meerderheid nie; gelukkig, darem, Is Ons Nie Almal So Nie.

Bravo Papkop, uitstekende brief.

Jan Rap

  • 20

Kommentaar

  • Beste Jan Rap,
    Dis juis die probleem met Afrikaans: dit sit pap, veral mieliepap, in jou maag, en pap het gluten, en gluten maak jou tam, jy voel opgeblase, jou gewrigte swel, en die liggaam reageer asof dit gif inkry.

    Dit sit ek nou en dink terwyl ek vir jou tik, en sou dit nie sonder taal kon doen nie. (In hierdie geval Engels wat ek dan in my denke weer vertaal in Afrikaans voordat ek tik.) Die grootste deel van taal vind in die mens se denke plaas. Jy gesels maar die meeste van die tyd met jouself. (Net oppas dat jy altyd weet wie praat en wie luister!)

    Lyk my die bestudering van Chomsky, soos jy belowe het, het absoluut geen vrugte afgewerp nie.

  • Hans,
    Waar jy aan sulke twak kom, sal net jy weet. Miskien moet jy maar jou onderwyser op die neus slaan, terwyl jy jou skoolgeld terug vra. (Net hakkelaars moet 'n komma na terwyl skryf.)

  • Angus, 'n ding of twee- drie miskien vier: Met 'pap' bedoel Papkop 'kos'. Nommer twee twee: Die gluten-ding is 'n klomp tjol, net soos aandagafleibaarheidsindroom. Nommer drie: Mens dink in geen taal nie. Ek so dink dat iemand wat ietwat van 'n taalfundi is soos jy dit al lankal sou agtergekom het en nommer vier, ek het nog nie Chomsky bestudeer nie; nog nie sy pennevrugte by 'n vlooimarkstalletjie raakgeloop nie (wie kan nou nuwe boeke beskostig met die tempo waarteen die rand teenoor die dollar val). Ook nog nie by 'n biblioteek uitgekom nie.
    Groetnis

  • Jan, die 'gluten-ding" is 'n werklikheid. Dit is die gom wat jou sny brood aanmekaar hou. Ek weet dat 'n mens in taal dink, want ek het Chomsky bestudeer. Ek weet dit ook, want ek kan nie sonder taal dink nie. Hoe kan jy bv beplan wat jy more gaan doen sonder dat jy met jouself gesels? Daarna kan jy dit selfs neerpen om te onthou. Ek weet jy gesels nou daar in jou kop met jouself, en jy sê vir jouself: "Ai, die Angus kan ook aanhou met 'n ding!"

  • Jan, miskien moet ek dit so aan jou stel: 'n mens kan abstrak dink, maar dit is taal wat hom die vermoë gee om te weet wat hy dink.

    Ek kan sommer "hoor" hoe jy nou dink wat jy hierop gaan antwoord.

  • Nee Angus, jou brein verwerk inligting, soortgeluk aan 'n rekenaar. Jy gebruik slegs taal (of tekeninge, of rookwolkies) om wat jy verwerk het te kommunikeer. Mens dink nie in 'n taal nie. As jy sê Chomsky beweer mens dink in 'n taal is hy die die yster wat jy beweer hy is nie want mens dink nie in taal nie.
    Ter afsluiting - mens dink nie in taal nie.

  • Beste Jan,
    Miskien lees jy nie behoorlik wat ek geskryf het nie. Sonder taal sou jy nie kon weet wat jy dink nie. In jou gedagte gebruik jy taal om te kan verstaan wat jy dink. As jy hier op SêNet tik, dink jy eers deur middel van taal wat jy gaan tik, en dan tik jy dit.

    Enige mens sal vir jou sê hy gesels met homself, redeneer met homself, want hy is mens. (Behalwe natuurlik jy, Jan Rap, wat blykbaar die besondere vermoë het om sommer nie met jouself te gesels nie, en om hier te skryf sonder dat jy vooraf in taal gedink het wat jy gaan skryf.)

    Ter afsluiting: as jy 'n mens is, dink jy deur middel van taal.

  • Beste Angus
    Hierdie sin van jou is klassiek: "Sonder taal sou jy nie kon weet wat jy dink nie." Dis ook teenstrydig met jou argument dat mens wel in 'n taal dink want wat jy sê is mens dink nie in 'n taal nie, jy moet eers 'n taal gebruik om vir jouself te vertel wat jy gedink het. Babas kan dus dink maar hulle weet nie wat hulle dink nie want hulle moet wag tot hulle 'n taal ken sodat hulle hulself kan vertel wat hulle gedink het. Dis mos absurd.
    So, ter afsluiting - mens dink nie in 'n taal nie.
    Groetnis

  • Kostelike foto's (memes?). Maar wat sy dinkwerk betref; hy dink nes ons maar kan dit net nie in taal omskakel nie.

    • Helmine le Roux

      Jan, julle twee se dink of nie dink nie, laat my dink aan die omie met sy groot en lang baard. Die baard was deel van hom soos sy hande en voete. Hy't dit netjies gehou, geknip waar nodig, gewas en gekam, maar nooit rêrig daaroor gedink nie. Tot 'n jong lat hom op 'n dag vra hoe slaap hy met die baard. Bo, of onder die kombers. Nee, sê die oom, hy weet nie. En dié aand begin sy stryd wat in 'n slapelose nag eindig. Nie bo of onder die kombers werk nie. Teen ligdag verwens hy die baard, die kombers, sy eie onmag en die lat wat dit opgerakel het.
      Dis nogals 'n tameletjie. Soos ek hier tik, kry my woorde gestalte. Ek weet wat ek wil sê, maar ek het nie vooraf dit in my gedagtes tot 'n sin verwerk nie.
      Miskien is daar mense wat in 'n taal dink. Soos 'n skilder met 'n verfkwas.

      • Ja Helmine, ek het al dikwels vertwyfelinge (is daar ooit so 'n woord?) gehad ten opsigte van gewoonlik iets wat mens outomaties doen - byvoorbeeld ratte verander. As jy inklim en jy wonder waar is trurat dan moet jy dit uitpluis teenoor wanneer jy net in jou motor klim en die ding in trurat sit, sonder om te dink. Dink aan 'n klavierspeler; as hy die note doelbewus moet speel gaan hy verlore raak. Hy speel dit outomaties. Ek vind dit ook partykeer met my handtekening - as ek hom doelbewus maak is dit partykeer 'n gesukkel terwyl mens gewoonlik die ding toe-oog kan maak.
        Dit is 'n eienaardige verskynsel. 'n Insek se vlerkklap byvoorbeeld word 'aan die gang gesit'; hy klap nie doelbewus nou op en dan af nie.

    • Johannes Comestor

      Jan, ek waardeer wat jy vir Afrikaans doen. Ek kritiseer jou nie. Ek vestig bloot jou aandag daarop dat dit meem (enkelvoud - soos geen) en meme (meervoud - soos gene) is (AWS, 2017, p 410).

  • Beste Jan,
    Ek het gesoek watter Griekse wysgeer dit gesê het, maar tevergeefs. Tensy jy verkeerdelik dink dat klassiek 'n teenstrydigheid aandui.

    Ek kan sien dat ek en jy nie dieselfde begrip het oor wat denke is nie. Babas dink nog nie in taal nie, diere dink ook nie in taal nie. Mense wat doof gbore is, dink ook nie in taal nie. Iemand wat alleen op 'n eiland grootgeword het, dink ook nie in taal nie. Selfs die mens wat 'n taal ken, dink ook nie altyd in taal nie. As ek in 'n stoel sit, en wil opstaan, dink ek nie "Ek wil nou opstaan" nie. As ek aangeval word, dink ek nie, "Ek moet nou hardloop" of "Ek moet my verdedig" nie. As ek bv egter 'n besluit moet neem, of twee of meer dinge teenoor mekaar moet opweeg, of dink wat ek moet sê om Jan Rap te beantwoord, dan dink ek in taal. Ek gesels met myself, soos enige mens dit sal doen, omdat ek 'n mens is en 'n taalvermoë het. Taal word dus hier gebruik, nie om te kommunikeer nie, maar om te redeneer. Fiksieskrywers maak dikwels hiervan gebruik. Gaan lees maar Bart Nel van Van Melle, en jy weet wat Bart dink.

    Miskien moet ons praat van primêre denke, maw denke sonder taal, en sekondêre denke, waar daar dmv taal geredeneer word.

    Groete,
    Angus

    • Beste Angus, jy begin dit nou snap. As jy sê babas dink nog nie in taal nie, en diere dink nie in taal nie is dit duidelik jy besef hulle dink wel alhoewel taal hulle ontbreek. Ek sê weer vir jou, mens dink nie in 'n taal nie. Dat mens hier en daar vir jouself iets prewel in taal is wel so - dit het ek al aan die begin van ons gesprek gesê - maar wat jy vir jouself prewel is dit maar net die verwoording van wat jy al lankal aan gedink het.
      Mens dink of droom nie in taal nie.

  • Beste Helmine,
    Ek wil nou nie sê jy lieg nie; liewer dat jy nie mooi gedink het wat jy skryf nie. Daar moes tog 'n bietjie semantiek plaasgevind het toe jy aan die oom en sy baard gedink het. Daar vind dan dialoog plaas tussen die oom en die jongeling. Jy het beslis in taal gedink toe jy aan die storie gedink het.

    Groete,
    Angus

  • Pragtig! Dit lyk mos of ons vorder. As mense die woord meme (enkelvoud is meem) so rondgooi asof dit 'n alledaagse woord is, sal dit gou nie meer net 'n neologisme wees nie. Dit wys ook belesenheid! Richard Dawkins sal verheug wees oor die populariteit van sy boek The Selfish Gene.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top