Pandemonium in die parlement se besoekersgalery: multis cum lacrimis (overgeset synde: “met die vloei van baie trane”)

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ’n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.         

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Regsalmanak: Die Kruger-monument
Regsalmanak: Oorlogspraatjies, terwyl vredeliewendes net wou stem
Regsalmanak: Die “Vuurrooi Draak” se swanesang – toe nié
Regskoste: die sleutel tot ’n einde aan speletjies in die howe
• Regsalmanak: Padwoede is nie die "nuwe normaal" nie 
 • Regsalmanak: Konstitusionele hof – die howe is nie die beste plek om kerklike geskille te besleg nie
• Regsalmanak: Caveat subscriptor
• Regsalmanak: Shangri-la – Onrus op ’n laaste rusplaas

Jacob Zuma se staatsrede in die parlement op 9 Februarie 2017 sal om verskillende redes nog lank onthou word. Die vernaamste is die ontwrigting van die rede deur die parlementslede van die Economic Freedom Fighters (EFF) wat die President vir langer as ’n uur op sy sitplek agter die kateder laat deurbring het terwyl die speaker vergeefs probeer het om orde in die Huis te handhaaf.

Eers nadat die EFF-lede hardhandig deur die parlementêre ordetroepe (bekend as die “withemde”) verwyder is, kon Zuma met sy rede voortgaan.

Kort nadat die EFF-lede uitgeboender is, het pandemonium op die openbare galery ontstaan nadat vermoedelik pepersproei (of was dit traangas?) daar gespuit is. Vir die eregaste – wat oudpresident Mbeki ingesluit het – moes die omstandighede daar vir ’n ruk lank uiters onaangenaam gewees het.

Een van die wette uit die vorige grondwetlike bedeling wat nog springlewendig is, is die Wet op Traangas, 16 van 1964, wat op 22 Februarie 1964 deur die destydse staatspresident goedgekeur is. Dit het op 1 Januarie 1965 in werking getree.

Dié kort wet reël die invoer, vervaardiging of besit van traangas, asook die gebruik van “artikels” om traangas “vry te stel”.

Reg geraai: dit alles word by wyse van die uitreik van permitte deur die minister van justisie en korrektiewe dienste gereël. Individuele permitte kan uitgereik word, of die minister kan per kennisgewing in die Staatskoerant ’n klas of kategorie van persone identifiseer aan wie hy toestemming verleen om traangas te besit en te gebruik. Klaarblyklik word ten minste die polisie, weermag en korrektiewe dienste hiermee bedoel. (Ek kon egter nie met die bronne tot my beskikking vasstel aan wie almal al sedert 1964 sodanige permitte uitgereik is nie.)

Traangas word in die wet omskryf as “enige stof, hetsy ’n vaste stof, vloeistof, damp of gas, of enige samestelling van sodanige stowwe wat as ’n traanverwekker gebruik word of daarvoor bestem is”.

Wat dit presies behels, blyk uit die volgende omskrywing wat ek op Wikipedia raakgeloop het:

Tear gas, formally known as a lachrymatory agent or lachrymator (from the Latin lacrima, meaning "tear"), is a chemical weapon that causes severe eye, respiratory, and skin irritation, pain, vomiting, and even blindness. In the eye, it stimulates the nerves of the lacrimal gland to produce tears. Common lachrymators include pepper spray (OC gas), CS gas, CR gas, CN gas (phenacyl chloride), nonivamide, bromoacetone, xylyl bromide, syn-propanethial-S-oxide (from onions), and Mace (a branded mixture).

Hiervolgens kan daar min twyfel wees dat wat ook al op die aand van die staatsrede die besoekers so laat nies en huil het, tuisgebring kan word onder die omskrywing van “traangas” in die wet. Wie so dapper was om die traangas/pepersproei los te laat, het dit beslis nie gedoen om orde dáár te handhaaf nie, want dit is immers nie waar die rofstoeivertoning was nie. Ten minste behoort die betrokke persoon – indien hy ooit opgespoor word – skuldig bevind te word aan aanranding van elkeen van die gaste wat op dié manier erg verontrief is.

Of die persoon wat daarvoor verantwoordelik was, wettig in besit daarvan was, is ’n ander vraag: ek weet nie of byvoorbeeld pepersproeihouertjies wat ’n mens vryelik te koop kry en aan jou lyf kan dra om jouself teen aanvalle te verweer, wettig is kragtens die Wet op Traangas nie. Dit is immers ’n “artikel” om traangas “vry te stel”.

Wapenhandelaars – wat tipies die verskaffers van pepersproei is – kon my nie uit die vuis gerusstel nie. Miskien kan ’n leser help.

Nie dat die strafbepaling in die Wet vir die onwettige besit van traangas/pepersproei nog enige afskrikwaarde het nie: by skuldigbevinding kan ’n oortreder ’n boete van hoogstens R800 opgelê word. Betaal hy nie, kan hy hoogstens twee jaar lank agter tralies gehou word – as mnr Zuma se spesiale gas.

Foto verkry van http://modernsurvivalblog.com/security/how-to-defeat-tear-gas-in-a-riot/.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top