Oupa rock! Wenners aangekondig!

  • 0

Paul Vermaak het in September 2011 sy debuutalbum Oupa Rock onder die kunstenaarsnaam, CP Vermaak, uitgereik. Paul het sy oorlede oupa, CJ Vermaak, se gedigte getoonset en hiervandaan die album se naam.

Die lirieke is 'n uitreksel uit "Ter Nagedagtenis aan Coenraad Johannes Vermaak, (1923 -1997)", 'n digbundel wat na sy dood saamgestel is.

Coenraad Johannes Vermaak, gebore 1 Januarie 1923 as die oudste seun van Jan Hendrik Vermaak & Getruida Johanna Vermaak. Op die platorand in die omgewing van De Lagersdrift het die wonder gebeur. Sy broer Jan Vermaak leef vandag nog, maar sy suster, Maggie, ongelukkig nie meer nie. Sy laaste dag op hierdie aarde was op 24 Mei 1997.

Met die huis-opruiming na sy dood het die familie afgekom op gedigte wat hy geskryf het deur die loop van sy lewe. Die gedigte is gevind in skoolboeke, agter op ou boeke, op dele van ou kartonne en medisyne boksies en op enige iets skryfbaar. Hier was al die gedigte in sy eie handskrif geskryf en was daar ‘n besef dat daar 'n groot deel van hom was wat niemand geken het nie.

"Pappie, soos ons almal hom ken, en sommige as oom Coen, het sy laaste jare op sy hoewe te Spaarwater in die Ou Transvaal naby Heidelberg deurgebring. Hier het hy gebly tussen sy diere: Sy vark, Porkie, sy hond, Blikkies en nog vele meer. Elke dag was vir hom nuut en op sy manier was sy lewe vol. Hy het baie oor die lewe gedink en wat dit aan die gang hou, die geswoeg en gesweet, die lief en leed en die pyn en blydskap.

Ek het al die gedigte daar in sy huis deurgelees. Ek het baie gehuil en geglimlag en op daardie stadium gewens dat hy daar was, maar toe lê hy alreeds koud. Ek hoop julle kry ook deur hierdie bundel insig in ons Pa, aangesien hy in sommige van sy gedigte sy diepste gevoelens weergee, en onthou hom soos ek: 'n Man van integriteit, met 'n wil van sy eie en tog dierbaar."  - Paul Vermaak, seun.

Paul Vermaak Jr. is gebore 3 Oktober 1984 en het grootgeword in die Vaal Driehoek. Hy het as deel van sy opvoeding leer musiek speel. Paul het as jongman deelgeneem aan beide kultuur-en sportaktiwiteite. In 2007, 'n dekade na die dood van sy oupa, het hy tot die besef gekom dat die ritme en rym van sy Oupa se gedigte gepas is vir toonsetting.

"Oupa Coen, om jou te leer ken deur jou woorde, iets wat verewig is, roer my hart. Al blyk dit dat jy nie veel gehad het nie, dink ek oupa was verryk soos min ander. Hierdie erfenis beteken so baie vir soveel mense. Deur jou woorde staan jy verewig as ‘n man van wysheid. Dankie vir die jare wat ons met jou kon deel en nog sal deel, al is dit nie in die vlees nie."  - Paul Vermaak Jr.

"So, as ek nou reg verstaan? Jy het in jou verlede gaan kyk, en jou toekoms gesien?" Jaco van Huyssteen, 1987 -2008. 'n Man wat te vroeg in sy lewe al die bitter-soet smaak van die dood moes proe.

Nou vier jaar later, is hierdie grepe van vergange jare, meer lewendig as ooit.

Dit is 'n baie oorspronklike album wat voorwaar sy eie stempel op die musiek-industrie sal afstempel.

ORKES

Die orkes bestaan hoofsaaklik uit 4 lede. Die tromme (Conley van der Westhuizen) en bas (Tienie Venter) vorm n soliede ritmiese basis waarop die klavier en orrel (Paul Vermaak) en kitaar (Jarred Beaton) lekker voortbou. Dit word dan afgerond met Paul Vermaak wat sy gedigte op 'n unieke manier voordra.

Die album het ? lekker voetstamp ritme en is ‘n vermenging van volks-, rock-en popmusiek. Die musiek ondersteun.

Ons vir jou, Vermaak.

Oupa Rock is beskikbaar by Look & Listen en www.vermaakent.co.za.

 ‘n Paar bekendes beskryf die album so:

Koos Kombuis: “Dis baie anders en oorspronklik. My gunsteling liedjie is die een oor die hondjie.”

André Schwartz: “Ek het dit baie geniet  – daar is ‘n lekker fresh take op dinge.”

Johrné van Huyssteen: “Ek dink die album is vars, slim, met diep en ligte temas en ‘n baie goeie storie agter die onstaan van die album.”

 

LitNet en Oupa Rock gee twee CD's weg - stuur vir ons jou naam en kontakbesonderhede na wen@litnet.co.za om in aanmerking te kom om hierdie CD gratis in die hande te kry. Jy het geleentheid tot 6 Augustus om 'n kans te staan. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

Geluk aan Diani Postma en Otto Bester wat elk 'n CD wen!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top