Ou stokke, diep wyn

  • 1

Ouwingerd is ’n term wat al hoe meer aftrek kry by wynmakers en -liefhebbers. Gerrit Rautenbach is onlangs genooi om ’n klompie wyn van uitgesoekte ou wingerde te proe. Dit was aangebied deur die Ouwingerdprojek en hulle het ’n storie te vertel.   Foto's: Naomi Bruwer

De Warenmarkt in Stellenbosch is ’n spesiale plek. Veral op ’n aand soos vanaand, dink ek terwyl ek by hul wynkroeg genaamd Simon instap. Dis die aand van die grotes. Ek is genooi om baie spesiale ou wingerde se wyne te kom proe. Daar is heelwat ou knoetse van ouer as ’n eeu in ons wynland.

Dis heilige bottels wat daar uitgestal staan. Mens wil hulle eintlik eerder kruike noem. Groot geeste is daarin vasgevang. Wat wyn, gemaak van ou wingerd, so spesiaal maak, is dat die stokke ’n lang storie het om te vertel. Knoetserig staan hulle daar na baie sonskroei en deurwintering. ’n Toonbeeld van gravitas. Hulle is ’n tydkaart van die aarde waarin hul staan. Mens dink aan ervaring, wysheid ... Daar is die verwronge, growwigheid van die ou wingerd wat al lankal moes dooi, maar wat vasklou om net weer nog ’n keer hul vreugde aan die mens te verskaf. Die beste manier is om hulle met ou mense, wyses wat weet, te vergelyk. Daar’s heelwat van hulle vanaand.

Om mee af te skop is daar ’n tafel met die goddelikste oesters en Chevallerie se Filia Kap Klassiek, gemaak van ou wingerd uit die Paardeberg. Terwyl ek naderstap is ek oortuig ek hoor vir Ernest Hemingway: “As I ate the oysters with their strong taste of the sea and their faint metallic taste that the cold white wine washed away, leaving only the sea taste and the succulent texture, and as I drank their cold liquid from each shell and washed it down with the crisp taste of the wine, I lost the empty feeling and began to be happy and to make plans.”

F Scott Fitzgerald laat nie op hom wag nie: “Too much of anything is bad, but too much good bubbly is just right.”

Groot geeste, sê ek jou. So staan hulle uitgestal: Langs Chevallerie se Filia is die 2016 DeMorgenzon Reserve Chenin blanc, 2016 Reyneke Chenin blanc, 2015 Cape of Good Hope Laing Semillon, 2015 Alheit Cartology, 2016 Sadie Family Wines Mev Kirsten, 2016 Kaapzicht Cinsaut, 2009 Kanonkop Pinotage, 2015 Daschbosch Hanepoot.

Die ding is, om ’n ou wingerd te kry om weer en weer nuwe wyn te lewer, beteken geduld. Dis soos om met ou mense te werk. Jy gee hulle nie guarana-energiedrankies nie, jy gee hulle tee. Jy kyk mooi na hulle. Vertroetel hulle en hulle sal gooi. En dit wat hulle lewer is nét anders as wat ’n jong stok lewer. Nie beter nie, net anders. ’n Ander diepte. Vergelyk Ernest Hemingway met enige goeie moderne skrywer. Ja, ’n ander diepte. Vergelyk Nelson Mandela met enige moderne leier ...

Maar die beskerming van ou wingerd is nie ’n nuwe ding nie. Rosa Kruger is ’n wingerdboukundige wat altyd nog ’n passie had vir ou wingerd. Met die draai van die eeu het sy oorsee gereis en vele ou wingerde in Frankryk, Italië, Spanje, Portugal en Argentinië opgesoek. Nadat sy die unieke karakter van elkeen se wyn geproe het, het sy begin wonder oor iets soortgelyks in Suid-Afrika. Waar sou daar nog ou wingerd wees?

In 2002 was sy ’n wingerdbestuurder op Johann Rupert se L’Ormarins en die plaasbestuurders van die Rupert-plase, Chris Loubser en Johan Nel was die eerste om ou vergete wingerdblokke in Skurfberg en Moutonshoek tafel toe te bring. Die proses het begin.

Rosa was nie verniet op L’Ormarins nie. Die Ruperts was nog altyd lief vir die erfenis van ons land. En vir wyn. G’n wonder dan dat Johann Rupert betrokke geraak het om die projek aan die gang te kry nie. Die Ouwingerdprojek het amptelik begin. Na 15 jaar by Wines of South Africa as kommunikasiebestuurder het André Morgenthal ’n nuwe passie gekry vir ou stokke. Saam met Jaco Engelbrecht, ’n jong, babbelende techno-skerp wingerdkundige, is hulle reg om ou wingerde nuwe lewe te gee.   

André Morgenthal

Jaco Engelbrecht

Die doel is om soveel moontlik wingerde ouer as 35 jaar op te spoor en te laat herleef. Daar is meer as 2 600 hektaar wingerd wat in tel is, maar net omtrent 7% is al geïdentifiseer en nuwe lewe gegee. Die res kan enige tyd uitgepluk word, want om ou wingerd te bewerk is nie maklik nie, maar tog kan die eindproduk prysloos wees. ’n Lang pad lê nog voor ...

Daarom is dit so ’n groot voorreg om saam met die groot geeste vanaand om ’n tafel te sit en proe. Elke wyn en sy ou wingerd word mooi geïllustreer deur André en Jaco. Die nege wyne wat ons proe is deel van die piepklein 7% wat al herleef het (sien proe-notas).

Een ding is seker (wel, van my kant af) en dit is dat hierdie wyne nie net vir mondspoel is nie. Aikôna, hulle’s te lekker. Dus is dit goed dat De Warenmarkt se spoggerige kombuis sorg vir goeie hapgoed so tussendeur.

So maak goeie wyn en kos die aand heel te kort. Te gou, te gou dink ek toe ons by die 2015 Daschbosch Hanepoot kom. Ek het al meer as ’n dekade die twakkies gelos, maar met dié warm sonskyn-soetigheid in my mond raak ek skielik lus vir ’n sigaar.

“I neither want it nor need it, but I should think it pretty hazardous to interfere with the indestructible habit of a lifetime,” kry nog ’n grote, Sir Winston die laaste woord in verby sy Monte Christo.

 Groot geeste, sê ek jou. Groot geeste en goeie wyne.  

Proe-notas:

Chevallerie Filia

’n Varsgebakte brioche, lemmetjies en kumkwat word losgelaat uit die fyn mousse met gedagtes van kraakgroen-appels, wit peer en die gissmaak van verlengde bottelveroudering.

2016 DeMorgenzon Reserve Chenin blanc

Daar is wit blomme, steenvrugte, heuning en roosterbrood wat ontplof in ’n oorvloed van peer, lemoenbloeisels, karamel en spesery. ’n Briljante balans tussen geil vrug en kraaklekker suurgehalte.

2016 Reyneke Chenin blanc

Strooigeel in die glas. Vars pallet met pienk appel, sitrus en kumkwat, stervrug, mineraalryke rotsagtigheid met interessante sitrusbloeisels wat lank luier.

 2015 Cape of Good Hope Laing Sémillon

Strooi op die neus, dan lemmetjie en suurlemoen, groen appel en vars kruie. Ryk, groot smaak met ’n pertinente wasagtige gehalte.

2015 Alheit Cartology

’n Wyn met intense geur; ryp peer, heuning en lemmetjies. Daar is ook kruie en blomme – groenment en lemmetjieblare.

2016 Sadie Family Wines Mev Kirsten

Hierdie oesjaar is uiters tropies, groot op steenvrug en sekondêre aromas kom na vore, maar met ’n relatiewe laer alkoholrypheid. Gekombineer met ’n baie vars en volhoubare suurgehalte sorg dit vir ’n soutige afronding en puik tannien.

2016 Kaapzicht Cinsaut

Ryk en helder met indrukwekkende Stellenbosch Cinsaut-ouwingerdkarakter vol soetbessies, olyf en fynbos. Tannien is goed afgerond maar goed vir veroudering.

2009 Kanonkop Pinotage

Vollyf en donkerpers van kleur. Intense vrugtegeure, veral pruim, kersies en piesang. Verouder uitstekend – tot 20 jaar.

2015 Daschbosch Hanepoot

’n Pure vrugstruktuur oorvol sonskyn, die sweet van ’n ou wingerdstok, die laaste somernektar van verrimpelde druiwe. Dit begin met Turkse sultanas voor koel appelkoos oorvat, opgevolg deur ’n sny kweper en laatseisoen kumkwat.

  • 1

Kommentaar

  • Sophia Coleske

    Het nog altyd geglo dat ou stokke baie goeie rooi wyn maak,veral Pinotage.
    Bly om te hoor dat daar nou aandag aan gegee word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top