Oscar vs The Truth: Oscar Pistorius se moordsaak ondersoek

  • 2

Oscar-coverOmstrede en onopgeloste moorde bly nou maar eenmaal boeiende leesstof. Twee sulke gevalle is die moorde op Inge Lotz en Reeva Steenkamp. In beide gevalle is daar ná die moorde en hofsake steeds meer vrae as antwoorde.

Albei die moorde het die twee amateur forensiese kundiges, die broers Thomas en Calvin Mollett, aangespoor om dieper te delf en na antwoorde op die talle onbeantwoorde vrae te soek.

In hulle soeke na geregtigheid het dié twee broers nou ’n boek die lig laat sien waarin hulle hoop om antwoorde te gee op talle van die vrae en bespiegelings wat regtig gebeur het op Valentynsnag 14 Februarie 2013 toe Oscar Pistorius sy meisie Reeva Steenkamp in sy huis doodgeskiet het. Die boek se titel is Oscar vs The Truth.

Het Oscar geweet Reeva was agter die toilet se deur toe hy die skote gevuur het? Of het hy werklik geglo daar was ’n inbreker in sy badkamer? Dit is maar enkele van die tergende vrae wat in die boek bespreek word.

Die twee Mollett-broers is ook die skrywers van die boeke Bloody Lies en Bloody Lies Too wat oor die Lotz-moord handel.

Jean Oosthuizen wou by Thomas Mollett weet wat maak hulle bevoeg om met soveel gesag oor die moorde te skryf.

Waar kom jou en Calvin se belangstelling in die twee moorde vandaan en wat het julle daartoe gedryf om daaroor te skryf?

Ons is maar beide nuuskierige en weetgierige siele, maar ek dink ek moet dit net beklemtoon dat dit nie hier noodwendig oor ’n buitengewone belangstelling in moordsake as sodanig gaan nie. Ons probeer ons eie belangstellings, kwalifikasies en ondervinding (in welke velde ook al) toepaslik maak in areas waarin ons voel ons het ’n bydrae om te lewer. Dit bevredig ons op ’n dieper vlak om aan sulke sake te werk. Die feit dat dit moordsake is, is nie noodwendig ’n bepalende dryfveer nie. Ons voel wel gemotiveer deur die bydrae wat dit moontlik tot die samelewing en geregtigheid kan lewer.

Julle skryf op die oog af met groot kundigheid oor ingewikkelde forensiese prosedures, maar nie een van julle is opgeleide speurders of forensiese deskundiges nie. Wat maak julle bevoeg om met soveel gesag daaroor te skryf?

Van meet af het ons besluit om ’n streng wetenskaplike roete en aanslag te volg. Ek reken ons demonstreerbare respek vir wetenskaplike prosedure, die feit dat ons deeglike en wye navorsing doen, en betrokkenes en kenners raadpleeg, maak ons “bevoeg”.

Ons het nog nooit voorgegee om kenners op al die gebiede te wees nie. Maar, moet ek byvoeg, baie van die areas val binne die domein van algemene wetenskap, en daar is iemand soos Calvin, wat ’n hoogs gekwalifiseerde siviele ingenieur is, meer as in staat om bevoegde bydraes te lewer.

Ja, maar is dit nie bietjie buite julle veld om oor sulke ingewikkelde kwessies te skryf nie?

Ek kan baie voorbeelde noem waar kenners in beide sake ook maar buite hul veld bevindings en stellings gemaak het. Die probleem is ons (en veral howe) se ooropgeblase respek vir die konsep “kenner”. Moet ons nou elke “kenner” glo? ’n Kenner is net so goed in soverre sy bevinding geverifieer kan word en toetsing kan weerstaan. Dieselfde geld vir ons as “amateurs”. Diegene wat ons stellings of bevindings wil betwis, moet dit as verkeerd bewys. Dit is hoe wetenskaplike metodiek werk.

In my jare in die uitgewersbedryf was deel van my werk om sin te maak van inligting – byvoorbeeld weerspreek die skrywer homself, is daar herhaling, maak dit logies sin, ens? Dit slyp mens se oog vir besonderhede en konteks. In baie gevalle is die ontleding van sulke sake nie veel anders nie. Dit gaan oor sin maak van inligting, verslae van getuienis, ens. Vergelyk twee kenners wat vir dieselfde kant getuig het se verslae en kyk of daar byvoorbeeld weersprekings is. Watter kwalifikasies is daarvoor nodig?

Julle eerste boek, Bloody Lies, het gegaan oor die moord op Inge Lotz, wat in Stellenbosch in haar woonstel vermoor is. Die boek het wye reaksie uitgelok. Sommige het dit geprys en ander het dit afgemaak as prul. Is jy regtig oortuig dat julle werk oor die Lotz-moord gesaghebbend was? Daar was ook sprake dat mense soos Piet Byleveld hulle van julle gedistansieer het.

Afgesien van uit die verwagte oorde sal ek graag wil hoor wie dit as “prul” beskou het. Maar dit gesê, ek sou baie bekommerd gewees het as daar nié kritiek was nie. Dit wys dat sommiges se senuwees raakgeboor word. Daar is ook maar professionele jaloesie daar buite. Dit is opmerklik dat aanvalle altyd persoonlik is. Die feite word nooit beargumenteer nie. Ons word as skelms en leke uitgemaak, terwyl daar geen feitelike argumente geopper word nie. Dit is eintlik meer gerusstellend as wat dit kommerwekkend is.

En wat van die kenners soos Piet Byleveld en ander wat van julle verskil het?

Byleveld se reaksie het taamlik negatief oorgekom en as sou hy hom van ons “distansieer”. Wat presies hy werklik gesê het, weet ek nie, maar hy het later aan ons vertel hy is verkeerd aangehaal, want hoe kon hy werklik negatief teenoor ons wees as hy nie eens geweet het wie ons is en wat ons sê nie. Ek het hom wel self later persoonlik ontmoet en kortliks ’n paar aspekte van die saak en ons werk bespreek. Hy het beïndruk voorgekom en was positief betreffende ons wetenskaplike aanslag en het gesê hy sal graag wil sien dat ons werk in die hof getoets word. Ek het ’n skrywe van hom in hierdie verband.

David Klatzow was ook besonder negatief oor julle bevindings en het lang kritiek in die Argus daaroor geskryf.

Ons het dit gevat as komende van iemand wat op ’n tyd amptelik in die Van der Vyver-kamp as raadgewer werksaam was. Ek het hom ook mettertyd persoonlik ontmoet en aspekte rakende die saak bespreek. Terwyl ek nie oor ons verhouding wil praat of goed in sy mond wil lê nie, glo ek sy posisie jeens ons is tans baie anders as destyds. Die Argus se houding het ook baie verander en het later neutraal en feitelik oor ons werk begin rapporteer.

Beide julle laaste twee boeke oor die Lotz- en Pistorius-sake is nogal in ’n vreemde formaat. Dit lyk soos ’n koffietafelboek, maar dit is nie regtig ’n koffietafelboek nie, is dit?

Die enigste ooreenkoms met ’n koffietafelboek is dalk die formaat – A4 landskap en kleur met baie foto’s – maar dis allermins ’n tipiese of tradisionele tipe koffietafelboek.

Hoewel ons geweet het dit is ’n vreemde formaat, wil terugvoer dit hê dat ons ’n nuwe konsep en genre geskep het. Ek dink die formaat, waar ons wetend potensieel verkope ingeboet het, herbevestig ons strewe om visueel te wys en te verduidelik wat ons sê.

Oscar-2

Dit is beslis nie ’n boek vir sensitiewe lesers nie en wemel van grusame foto’s wat drup van die bloed. Watter mark het julle in gedagte gehad met die skryf van die boek?

Moordsake is by implikasie grusaam en dit is onafwendbaar dat bloederige foto’s sal voorkom. Ons is wel altyd baie bedag op die slagoffer se privaatheid, maar weet ook dat families enige foto sal “toelaat” solank dit help om die waarheid te bevorder. Moord in Suid-Afrika het ’n generiese konsep geraak: “iemand is doodgemaak” – mense besef nie altyd die grusaamheid en algemene skending wat daarmee gepaard gaan nie. Die foto’s is ook belangrik om mense in te lig oor die omvang van die saak en die bewyse.

Maar om jou vraag te beantwoord: enige persoon wat verby die emosie en sensasie van die saak wil sny en na die bewyse wil kyk, sal die boek van waarde vind. Ja, daar is baie foto’s en soms tegniese dele, maar in 80 000 woorde is daar baie te lees.

Dit is ’n volkleurboek en bevat meer as 500 hoëgehalte-foto’s. Baie van die foto’s in die boek het ek vir die eerste maal gesien. Waar het julle al julle inligting en foto’s gekry?

As ek jou sê, sal ek jou moet skiet. Omdat dit in die hof gedien het, is dit openbare domein, maar dit beteken nie dit is maklik bekombaar nie. Deur die jare het ek bronne opgebou wat ek natuurlik respekteer, so ek sal nie name kan noem nie, maar baie foto’s en inligting is ook deur die internet verkrygbaar.

Oscar-1

In Inge se geval loop die moordenaar nog skotvry los en in Oscar se geval het julle ook ernstige bedenkinge oor die manier waarop die ondersoeke en hofsake verloop het. Waar lê die grootse tekortkoming in die ondersoeke? Is dit doodgewoon swak ondersoekwerk deur die polisie of lê die probleem by ons regstelsel?

Die regstelsel is goed op papier, maar dit is nie genoeg om al die foute in die stelsel te dra nie. Meestal is selfs die appèlhof te laat om ’n verkeerde strafhofuitspraak om te keer, en veral om byvoorbeeld ’n herverhoor in te stel. Die staat het basies net een kans, en daarom moet die prosesse reg loop. Daar is egter te veel probleme in hierdie prosesse en dit loop uit op hierdie sake waarvan die uitsprake te dikwels ernstig bevraagteken word.

En jou indruk van die polisie se ondersoekwerk by sake soos dié?

Ek dink beslis nie almal in die polisie is onbekwaam nie, en ek weet van baie polisiemanne wat baie hard werk en toegewyd werk. Ek dink eerder dit is by die bestuur van prosesse en tot ’n mate opleiding waar daar probleme is. Die probleem is dat hulle soms (en ongelukkig te veel keer) basiese foute maak wat deur die verdediging uitgebuit word. Tonele word nie as heilig beskou nie en word besmet. Foto’s is in baie gevalle swak en ontbrekend. Bewaring van bewyse is ’n probleem. Besitskontinuïteit word nie gehandhaaf nie. So kan ek aangaan. Dit speel reg in die hande van die verdediging.

Te veel kenners vertel die hof net wat die kliënt of werkgewer wil hê die hof moet hoor. En dit word nie gemonitor nie en daar is geen remediërende aksie as ’n kenner oortree nie. Wat het van Roger Dixon geword wat so verniel is in die hof omdat hy so buite sy velde getuig het? Niks.

Regters word nie voldoende deur eerlike en onpartydige getuies bygestaan nie. Kenners se bydraes moet geëvalueer word en as daar bevind word hulle het die hof doelbewus mislei, of dat hulle partydig was, moet hulle gestraf word. Dit is ’n groot probleem. Ons is ten volle ten gunste van robuuste vervolging en verdediging, maar dit beteken nie oneerlike vervolging of verdediging of partydige kenners moet geduld word nie.

Oscar-3

Wat stel jy dan voor?

Ek sou dink in die ideale wêreld moet die regter deur ’n tegniese paneel bygestaan word. Tans blyk die assessorstelsel nie van veel waarde te wees nie. Hulle laat net die bank vol lyk en sit meestal net daar en knik kop. Kry ’n paneel wat die kennis het oor die integrale area van die saak, wat die regter bystaan, en na wie die regter actually móét luister.

Dus, dit is na my mening ’n kombinasie van ’n klomp aspekte.

Is daar nog sulke boeke uit julle pen op pad en het julle in dié stadium enige kommentaar op die gesloer om iemand aan te kla van die De Zalze-moorde buite Stellenbosch?

Ek het reeds na die Dewani-saak begin kyk en lees so tussendeur op daaroor om die basiese agtergrond te kry. Weer eens: sou ons verder kyk daarna, sal dit iets wees wat van ’n skoon blad gedoen word. Of dit op ’n boek sal uitloop, weet ek nie; dis nooit die motivering nie. Dit sal eers sy eie lewe en meriete moet kry voordat ons dit sal oorweeg.

Net vinnig op daardie punt: daar is natuurlik sommige mense wat dink ons doen al hierdie goed vir die geld. Dit is gewoonlik die eerste teken dat iemand nie ’n ordentlike en feitelike argument kan voer nie en goedkoop skote vat, maar dit daar gelaat. Om die ondersoek neer te pen loop gewoonlik op ’n boek uit en dis ’n manier om die saak verder te artikuleer en te verduidelik vir dié wat belangstel. Ek maak geen verskoning daarvoor dat ons ook hou van navorsing en skryf nie.

Baie mense vra dat ons na die Van Breda-saak moet kyk. Natuurlik sal ons graag wil, maar in hierdie geval was die saak nog nie in die hof nie (niemand is nog eens aangekla nie), so bruikbare inligting is haas onmoontlik beskikbaar.

Sonder dat ek myself deeglik van hierdie saak vergewis het, wil ek geen uitsprake daaroor maak nie, behalwe om te sê dat dit uiters vreemd en bykans onmoontlik is om te glo dat gegewe die aard van ’n toneel waar drie mense met ’n byl doodgekap is, daar nie goeie bewyse gevind kon word nie. Dit sal byvoorbeeld bykans onafwendbaar vinger-, hand, of voetafdrukke in bloed meebring. Ek vermoed ná ’n paar glipse die afgelope jare is die DOV oorversigtig, maar mens kry soms die idee dat die toneel en bewyse so swak hanteer is dat hulle dalk werklik niks verder kan doen nie en dit maar’n stille en koue dood laat sterf eerder as om daarvoor uitgewys te word in die hof.

En dit is waaroor ons baklei – om ’n einde te bring aan hierdie waansinnig swak ondersoekwerk en hantering van bewyse deur daaroor te skryf en dit uit te wys sodat dit in die toekoms dalk voorkom kan word en prosesse verbeter kan word. So, diegene wat ons wil probeer verneder en aanval, kan maar gerus so voortgaan. Môre het hulle dalk die geregtigheid nodig waarvoor ons elke dag baklei en ons lewens op die spel plaas.

  • 2

Kommentaar

  • Cilliers van Niekerk

    Sjoe. Wat 'n onderhoud, watter vertaling (ek neem aan dit moet wees). Voel skoon bevoorreg. Dankie Jean Oosthuizen!

    • Jean Oosthuizen

      Baie dankie Cilliers. Nee dit is nie 'n vertaling nie. Hoewel die boek in Engels geskryf is, is die skrywers Afrikaans en die onderhoud is in Afrikaans gevoer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top