Ortografiese bry-r

  • 1

Lank, lank gelede, toe daar nog tikmasjiene in die land was, het ek ’n kort artikeltjie oor hierdie onderwerp geskryf wat in Mei 1986 in die Linguistevereniging van Suider-Afrika se Byblad (Jg 5 nr 1) onder die titel “Die bry-r in die Afrikaanse ortografie: ’n beskeie voorstel” verskyn het.

Die kern van my betoog was dat ons gerus kan soek na ’n standaardmanier om die bry-r ortografies voor te stel sodat ons nie voortdurend hoef te sukkel met lomp pogings soos gooi vir rooi nie. (En wat maak mens met ’n woord soos groot as jy wil aandui dat die spreker die r daarin bry?)

My voorstel was eenvoudig: kom ons gebruik een of ander diakritiese teken wat ondubbelsinnig op ’n bry-uitspraak van ’n r sou dui. Ek het verduidelik waarom die kappie ’n goeie keuse vir hierdie doel sou kon wees; en in die dae voordat daar ’n rekenaar op elke dosent of tikster se lessenaar gestaan het, het ons almal geweet hoe om met enige tikmasjien ’n kappie op énige letter te sit.

Sover ek weet, het niemand my voorstel ernstig opgeneem nie.

Toe ek vandag weer ’n artikel sit en proeflees waarin daar gepoog word om ’n bry-r ortografies weer te gee, en die betrokke skryfwyse my wéér as so onbevredigend en lomp tref, dink ek weer aan my voorstel van destyds.

Wat sou makliker wees as om sommer nóú te besluit om van hierdie oomblik af ’n spesiale karakter vir die bry-r te gebruik?

My hersiene voorstel is ř. Om dit in ’n Word-dokument te tik, gebruik ALT+345; met ALT+344 kry jy die hoofletter, Ř. Ek is nie ’n Linux-gebruiker nie, maar op die webwerf verduidelik hulle hoe jy hierdie karakters in Linux-dokumente kan vorm.

Probleem opgelos (hoop ek).

Voořtaan: as jy ’n břyeř is, geen gesukkel meeř met skřyfwyses soos “Dgie gooigibbokgamme vgeet ggoen ggas” nie! Nee ... in jou střeektaal of idiolek se eie ořtogřafie kan jy nou met třots, met ’n lekkeř hařde  ř en met die gřootste gemak skřyf: “Dřie řooiřibbokřamme vřeet gřoen gřas” om mense te wys hoe jy dié sinnetjie sou sê, en almal wat van hieřdie eenvoudige nuwe konvensie te hoře kom, gaan jou sondeř moeite veřstaan! Dis elegant, dis ondubbelsinnig, dis glasheldeřduidelik.

Nicky Grieshaber

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top