Orania, koeksisters en ek

  • 3

Ek is nie regtig baie lief vir soetgoed nie. Suur ja, sout beslis, maar aan soet het ek nie veel erg nie.

Behalwe koeksisters. Nie koesisters, daai speserygevulde kardamom-en-klapper-lekkerte wat op ’n Sondagoggend na kerk wag nie. Ek praat nou van daai gevlegte deeg wat drup van die taai stroop, wat kraak as mens dit byt en dan tref die sagtheid aan die binnekant jou.

Nie almal kan koeksisters maak nie. Party kry net nie die brosheid aan die buitekant reg nie. Ander s’n is te droog. Of die stroop is nie soet genoeg nie. Of dis té soet.

Ek onthou nie meer waar ek die eerste keer koeksisters geëet het nie, maar dit moes goed gewees het. Dit het die standaard gestel vir elke ander koeksister wat ek daarna te ete gekry het. Die soeke na die perfekte koeksister het soos ’n quest begin voel, die tipe waarvan mens in storieboeke lees, waar die held die hulp van vriende en vreemdelinge inwin op soek na een of ander mitiese simbool (en sorg vir wêreldvrede, maar dit was nie my doel nie.)

In 2006 was die Wetsgenootskap se algemene jaarvergadering in Kimberley. Ek was in Kaapstad vir ’n vergadering, en het gevlieg Kimberley toe. Van daar sou ek saam met twee vriende terugry Oos-Kaap toe, waar my kar by die lughawe op Port Elizabeth gewag het. Ek kan nie meer onthou nie, maar ek vermoed daar was nie vlugte tussen Kimberley en Port Elizabeth nie.

Op pad uit Kimberley merk ek ’n bordjie by ’n afdraaipad op: Orania, 160 km. Ek het al gehoor van Orania. Nie die welbekende bewerings oor rassiste wat hul eie, wit republiek wil hê waar swart mense nie welkom is nie. Ek het gehoor van Orania se koeksisters. In die stories is Orania se koeksisters groter en brosser en soeter as enige ander koeksisters wat mens enige ander plek kry.

Nou ja, miskien steek daar net soveel waarheid in soos die ander stories oor Orania, maar ek was bereid om die risiko te waag. Indien ek my twee Engelsman-vriende, Mike en Henry, kon oortuig dat hulle 320 km van hul pad wil afwyk vir koeksisters na ’n plek waar hulle verwelkoming net so onseker soos my eie is.

Henry het nie veel oorreding nodig gehad nie. Mike se besware was meer rasioneel. Ten minste deel van die pad is grondpad. Ons weet nie in watter toestand die pad is nie. Sy Mercedes is splinternuut. Die laaste een was sy éintlike beswaar, vermoed ek.

’n Week of so voor die Kimberley-rit het ek uitgevind ’n vriendin van my het in Orania grootgeword. Dis nie algemene kennis nie, en dit was laataand vertel in wat gevoel het soos ’n biegsessie. Sy het dit baie duidelik gemaak dat haar pa aanvanklik vir die Spoorweë daar gewerk het.

Ek was gefassineerd en wou meer weet. Sy’t vertel hoedat meisies houtwerk kon doen in die skool, hoedat almal geleer was om te skiet, hoedat sy in ’n garage geleer was om karre reg te maak. Die idee van ’n egalitariese gemeenskap was vir my interessant. En vir Mike ook.

So is ons toe die 160 km na Orania toe. Dis nie die tipe plek waar mens per ongeluk beland omdat jy verdwaal het nie. Nee. As jy by Orania uitkom, dan is dit omdat jy wou.

Die eerste geboutjies kon nie gou genoeg kom nie. My senuwees was gedaan, maar seker nie soveel soos Mike s’n oor sy nuwe kar nie.

Die plan was eenvoudig: ons stop by die eerste persoon wat ons raaksien, vra waar mens koeksisters kry en vat dit van daar.

In my agterkop, en ek is seker ook vir die ander twee, sou die eerste persoon ’n straatveër of tuinwerker wees. Nie een van ons het rekening gehou met die feit dat ek die enigste swart persoon in die hele dorpie sou wees nie.

Dalk is dit ander tye anders. Dalk is daar oor naweke swart mense wat kom inkopies doen. Die manier waarop mense stom bly staan en my aangestaar het, laat my dink dis wensdenkery.

Henry, ’n regte platjie, het nog nooit enige probleem gehad met wat die Engelse noem “playing to the audience” nie. Toe hy agterkom ons word dopgehou, vlieg hy uit, maak my deur met ’n diep, diep buiging oop, en neem my handsak.

Die eerste besigheid wat ons kon sien, was die eiendomsagent se kantoor, waar ons toe nou stop. Lang storie kort, ek was voorgestel as die ambassadeur van een of ander obskure plekkie, en ek stel belang om eiendom te koop in Orania. Die eiendomsagent het nie belang gestel in my besigheid nie, maak nie saak hoeveel ek bereid was om te betaal nie. ( “One million? Two million? Do you even accept rands as currency here?”)

Die arme eiendomsagent was baie, baie verlig toe ons vra waar ons koeksisters kan koop. Sy het seker vooruit gebel, want toe ons by die winkel aankom, het die kassier reeds vir ons gewag. Sy beduie na die yskas waar die koeksisters gehou word. Mike en Henry het koeldrank gaan kry. Terwyl hulle weg is, en ek die gevriesde koeksisters so kyk, verduidelik ek vir die kassiere (in Afrikaans – die hele gesprek tot nou toe was in Engels) hoeveel goeie goed ek al gehoor het oor Orania se koeksisters.

Sy staan ’n oomblik stil, toe maak sy die yskasdeur toe. “Hierdie is nie vars nie,” en sy vra my om te wag. Sy los ons drie vreemdelinge alleen in haar winkel, en sy’s op ’n drafstap daar uit. Tien minute later kom sy terug, met vars koeksisters, nog effens warm, in ’n kartonhouer. En een met komplimente van die bakster, om te proe voor ek koop.

Die koeksisters was als wat ek gehoor het dit sou wees, en meer. Natuurlik het ek als gekoop. Natuurlik het ons heerlik gesmul. Mike was nie eens bekommerd oor stroop op sy leerbekleedsel nie.

Nie een enkele Orania-koeksister het dit oor die grens Oos-Kaap toe gehaal nie.

Daai jong vrou het nie nodig gehad om vars koeksisters te gaan haal nie. Ek sou nooit die verskil geweet het nie.

Sedertdien meet ek alle koeksisters teen die Orania-koeksisters. Ek wag nog om beter te proe.

Wat my egter die meeste bybly van die besoek aan Orania is nie koeksisters nie. Baie van my vooropgestelde idees is op hulle kop gekeer. Die klantediens was uitstekend. Die paar mense wat ons raakgeloop het, was ons deur die bank behulpsaam en selfs vriendelik.

Daar is seker rassiste, maar ek het hulle nie gesien nie. Om die waarheid te sê, ek het al meer rassisme in Stellenbosch en Kaapstad ervaar, tussen sogenaamde “verligte” Afrikaners.  

Natuurlik kan mens nie een enkele ervaring gebruik en dit veralgemeen nie. ’n Ander kassiere sou my dalk die koue koeksisters laat koop het. ’n Uur later sou daar dalk ’n moeilike boer ingekom het wat ons met die loop van sy geweer verduidelik het hoe welkom ons is.

Punt is, dit het nie. Hulle kon hulle gang gaan, en ons kon, met nuwe ervarings in ons kop, ons gang gaan.

En dit laat my dink aan die verhaal van die predikant wat op huisbesoek moes gaan by ’n paartjie wat konstant haaks is en by die skeihof gaan beland as dinge nie verander nie. By die huis aangekom, sien die predikant die paartjie se kat en hond lê rustig voor die kaggel en slaap, styf teen mekaar.

“Kyk hoe rustig is hulle,” sê hy vir die paartjie. “Wil julle my sê daar is meer vrede tussen ’n kat en hond as tussen julle?” Die man kyk hom aan oor sy bril en sê: “Ja, dominee, maar bind bietjie hulle sterte aan mekaar vas, dan praat ons weer.”

  • 3

Kommentaar

  • Riëtte Heslinga

    Bettina, ek lees graag jou rubrieke. Jy skryf so skerp as wat jy waarneem. ‘n Heerlike soet stukkie!

  • Dit is fantasties om sulke wonderlike goed te hoor van ons geliefde gemeenskap. Bettina, jou woorde laat onse harte koeksisters klop.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top