Opwindende nuus oor 'n nuwe exoplaneet

  • 7

Die naaste ster aan die aarde is natuurlik die son en daar sal 4,2 lj verder gereis moet word vir die volgende een nl ’n rooi dwerg ster Proxima Centauri wat aansienlik kleiner en koeler as die son is en ’n lid is van die stelsel bekend as Alpha Centauri, wat ook bekend staan as Rigel Kentaurus. Proxima beteken naaste.

Die stelsel bestaan uit drie sterre en die ander twee is Alpha Centauri A wat effens groter, en Alpha Centauri B wat effens kleiner as die son is. Die A en B sterre is ongeveer so ver vanaf mekaar as Neptunis en die son en wentel in ongeveer 80 jaar een keer om mekaar. Proxima het ’n aansienliker groter wentelbaan en dit neem minstens twee miljoen jaar vir een omwenteling om sy groter metgeselle en hy sal daarom vir baie lank nog op die titel as naaste ster aanspraak kan maak.

Proxima is in 1915 deur Robert Innes wat op daardie stadium Direkteur van die destydse Unie Sterrewag in Suid-Afrika was, ontdek, deur die bestudering van foto’s toe hy opgemerk het dat ’n dowwe ster saam met die Alpha Centauri paar beweeg. ’n Prestasie waarop Suid-Afrika opreg trots kan wees.

Nou, 101 jaar later is Proxima weer groot nuus nadat dit die afgelope week bekend gemaak is dat ’n planeet, Proxima b, soortgelyk aan die aarde inderdaad daar gevind is. Die massa van die planeet is 1,3 keer die van die aarde en die periode van omwenteling om sy moederster is slegs 11,3 aardse dae. Dit blyk voorts dat die planeet in ’n omgewing geleë is waar water in vloeibare vorm kan voorkom wat natuurlik die moontlikhede skep dat dit lewe kan onderhou en tweerigting kommunikasie moontlik sou kon maak indien daar natuurlik gevorderde intelligente lewe sou wees. ’n Antwoord op ‘n boodskap sou na slegs ongeveer 8½ jaar verwag kon word.

Die moontlikheid van ’n reis daarheen is op hierdie stadium natuurlik ’n totaal ander saak. In ag genome dat die reistyd van die Juno-tuig wat onlangs by Jupiter gearriveer het, vyf jaar was, sou dit teen dieselfde spoed bykans 1,7 miljoen jaar neem om die afstand na Proxima b af te lê.

Op die skets hierby dui ek die posisie van Proxima soos om 08h00 op 29/08/2016 oor Suid-Afrika, met ’n kruisie links onder Alfa A & B aan.

Die helder ster onderkant Proxima is Beta Centauri/Hadar met 'n afstand van 625 lj vanaf die son teenoor die 4,2 lj van die Alfa Centauri groep.

proxima

 

 

 

 

 

 

 

 

Groete
Panda

  • 7

Kommentaar

  • Regstelling:
    Reistyd na Proxima b sal darem net meer as 80 000 jaar duur en nie 1,7 miljoen jaar nie. Dis nog maar altyd baie lank.
    Groete
    Panda

  • Louis de Villiers

    Hallo Panda
    Is jy seker dat 'n reis met huidige tegnologie so lank soos 1,7 miljoen jaar sal neem om Proxima te bereik?
    Ek dink ek het iewers gelees dat, teen die spoed wat die Voyager-tuie beweeg, dit sowat 24 000 jaar sal duur.
    Groete
    Louis

  • Hallo Louis,
    Jy’s heeltemal reg. Ek het gister (29/08) ‘n regstelling geplaas wat blyk nog steeds nie korrek is nie. Ek probeer weer. Met ‘n lj = 9.4607 x 10^12 km en Proxima se afstand 4,243 lj en Jupiter se afstand 4.838 x 10^8 km. en die ruimtetuig se spoed dieselfde as die Juno-tuig, dan sal die tydsduur van die vlug na Proxima gelyk wees aan die afstand van Proxima / afstand van Jupiter X 5. Volgens Excel kom dit neer op 414858.93 jr Alles hang dus af van die spoed van die ruimtetuig.
    Dankie vir die regstelling
    Groete

  • Beste Panda,
    Die ontdekking van die planeet, Proxima b, laat my sommer groot skrik.
    Ek besoek die Natalse binneland dikwels, en daar, in die omgewing van Mooirivier, het ek gehoor van ʼn ene Elizabeth Klarer (1910-1994). Sy is eintlik wêreldbekend as die vrou wat deur ʼn alien, Akon, besoek en weggevoer is na ʼn planeet, Meton, wat om Alpha Centauri wentel. Hier is sy getroud met Akon, en ʼn seun, Ayling, is daarna gebore. Sy is toegelaat om weer terug te keer aarde toe, maar Ayling moes agterbly om daar opgevoed te word. Sy het heelwat boeke geskrywe oor buiteruimtelike wesens en haar besoek aan Meton. Ek dink amper haar laaste boek is onvoltooid gelaat met haar afsterwe, waarin sy elektromagnetiese aandrywing sou beskryf – die rede waarom die reis na Meton nie duisende jare geduur het nie.

    Groete,
    Angus

  • Beste Angus,
    Ja — ek het die storie ook gehoor. Sy kon egter nie ‘n enkele bewys lewer om haar aanspraak te bevestig nie. Ek reken die hele storie kom maar uit haar verbeelding en is uit die duim gesuig. Maar jy moet tog maar versigtig wees in daardie omgewing. As ‘n dametjie van Meton in jou sin kry en jou wegraap sal ons elke keer meer as 4 jaar moet wag vir jou kommentaar op Jan Rap se bydraes, tensy jy dit naturlik per hand laat aflewer met hulle vinnige ruimtetuie.
    Groete
    Panda

  • Beste Panda,
    Dit klink my of jy nog twyfel of sy die storie uit die duim gesuig het. Wat van hierdie een? Toe sy nog klein was, het hulle gesin aanskou hoe 'n tornado die plaashuis nader. Vanuit die niet het 'n vlieënde piering te voorskyn gekom en oor hulle huis gehang sodat die tornado skadeloos oorgewip het, en toe verder sy verwoestingswerk voortgesit het.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top