Opperman se vuurdoop

  • 2

Susanna sleep die stoofplaat driftig eenkant toe, stamp die vuuryster tussen die kole in sodat vonke en as oor alles neersif.

Let se voetstappe kom net binne die kombuisdeur tot stilstand. Uit die hoek van haar oog sien Susanna die blik wat Opperman hier van langs die stoof oor Let se lyf gooi; sien die rooi gloed oor Let se wange sprei, en haar moederhart verloor sy ritme ’n oomblik lank.

"Naand, Oppie ..."

Opperman kug net. "Let ..."

Die stoofplaat kletter terug op sy plek.

"Ag, sies Ma, kyk hoe lyk alles nou van die as! Tot Oppie se blazer is spierwit ... en sy flannel!" Let trek ’n stoel onder die kombuistafel uit.

"Kom sit liewer hier langs die tafel; vir wat sit jy ook daar waar my ma werk?"

"Dis seker maar te koud hier in ons wêreld vir die Joh'burger; dié dat hy soos ’n boetsonhoender in ’n boks langs die stoof wil sit," gooi Soois van die anderkant van die tafel af sy stuiwer in die armbeurs.

"Skei uit, Soois; gaan kyk liewer waar bly Pa en Nols; hoe gouer ons klaar geëet kry, hoe meer potte Monopoly kan ons speel," keer Let.

Vrydagaande was Monopoly-aande. Soois het dit hier aangebring daar van die Jood se winkel af waar hy werk. Dra gedurig goed aan vir Let, sy sus met die mooi stel tande wat niemand raaksien nie. Almal sien net die verskrompelde haal raak wat neus en mondhoek na mekaar trek. Instrumentbaba gewees; sy, en die dokter was dronk. Ja'k ...

"Vrou, waar's die melkdoek?" Die melkemmer skuif oor die metaaloppervlak van die melktafel. "Soois, kom gee hand hier met die deurgooi."

Martiens wag nie vir hulp nie, neem self die melkdoek en gooi dit oor die kan se bek. Druk dit effens in om ’n kommetjie te vorm. Met die inkom het hy Opperman langs die stoof sien sit en Susanna se woede het skielik ook in sy bors gevonk; sommer so dwars teen Nols gemik. Watse vrottigheid is dit met hom? Hy en Let moet nou tot trou kom; almal weet van skooltyd af dat Nols en Let vir mekaar bedoel is, maar die mannetjie vat sy tyd. En hy, Martiens, wat Let se pa is, is nie blind nie: die gekuier van die busdrywertjie lol. Martiens se voorvinger voel-voel na die blikkie Singleton's; los toe maar liewer weer oor die geweld waarmee Susanna die stoofplate rondhark.

Met die inkomslag oordonder Nols die gekletter van metaal op metaal met dié dat hy die roomemmer op die tafel neerstamp. Susanna skud haar kop: môre sukkel sy weer om die skraapmerke met riviersand en Sunlight uit te skuur.

Nols kyk nie eens na die vreemdeling se kant toe nie, vee net onvergenoegd die druppels van sy arms af. Let is syne; almal weet dit. Saam het hulle die seer van kniekoppe-en-vlegsels en ’n stem wat jou op die kritieke tydstip in die steek laat, deurworstel. Hul skapies is klaar in dieselfde kampie geja en nou kom sit hierdie jafel hier met sy blazer en flannels aan. Maak of hy hóórt.

Martiens skud sy kop, staan tafel se kant toe as die room wild oor alles spat. Hy roer sy regterskouer soos een wat seer het. Is dit nou die room se skuld, of sou Nols reken dis die emmer se skuld dat Let slap-ogies maak vir Opperman? Hy gaan sit aan die kop van die tafel; meteens sommer dik vir Nols se slapgatgeid.

Die melkemmer kry sy doekie oor en Susanna hang die skoon melkdoek op sy plek. Die lewe gaan aan. Alles kom nie tot stilstand omdat daar onderstrominge in jou huis is nie. Almal sit al om die tafel; wag vir die dik bonesop om die koue te besweer.

"Ek het ’n nuwe plaat gekoop." Opperman trek die skyf uit sy koevert. "Kyk, dis die ‘Blue Skirt Waltz’."

Vandat Opperman hier aangekom het, is Vrydagaande nou grammofoonaande. Nou sit almal in die voorhuis en koud kry en die grammofoon speel “Moonlight and roses” en “Tennessee waltz”, maar niemand dans nie. Soms snik-sing Jan en Sannie Briel, dan gaan maak Susanna maar koffie en almal sug en gaan slaap vroeg.

Want Opperman speel nie Monopoly nie.

Susanna skep die dik boontjiesop in die diepborde en skuif die brood en botter nader. Die geur van dikgeswelde suikerbone en spek verdryf tydelik die kilte om die tafel.

So na die derde sny brood snuif Nols ’n slag, mik na nog ’n sny brood, los weer. Hy wag al dae lank om sy en Soois se plan in werking te stel. Hulle het gepraat en besluit dis die enigste manier om vir Let te wys dié vreemdeling is maar nes hulle almal – veral as hy blikners gestamp is op ’n donkie se rug! Soois het gesê hy wil net die een wees wat later die bokvet tussen Opperman se rou boude in smeer; oom Martiens en hy kan maar net kyk hoe dans die man die riel van pyn. Daarna sal hy óf wegbly, óf sonder sy ghrêndgeid wees! Nols knik vir Soois. Dié begryp onmiddellik; snorklag.

"'Skuus, Ma; dit was in my verkeerde keel."

Nols vat toe tog maar nog ’n sny brood en krummel dit in sy sop.

"Pa, kan ons môre met die donkies rivier toe gaan?" Soois probeer ongeërg klink.

"Wie is 'ons'?" Martiens hou hom dom.

"Ons almal, Pa; meneer Opperman ook. Laat ons sien of hy kan donkiery soos hy daardie rooi bus van hom ry!"

"Ja-nee; hy's ’n man wat ken van ry!" lê Nols sy eier in die nes. Susanna kyk vinnig van Opperman na Let, die blik van vroeër tussen die twee nog vars in haar geheue; die man moenie met haar meisiekind neuk nie! Let kyk op die tafel voor haar. Opperman blaas sy neus in sy sakdoek. Sies, so aan die tafel!

"Oe! Ek vrek al vir ’n piekniek!" Let spring op, begin brood en smeergoed bymekaarsit.

"Los daai brood, Let," vertolk Susanna haar optrede verkeerd. "Kyk hoe span daardie nuwe rok klaar oor jou lyf."

Dis eers laatnag, toe die balke in die koue begin kraak, dat Nols weer die blinkigheid in Let se oë daar by die broodblik onthou. ’n Glimlag plooi sy mond; ai, Let word gou skaam. En sy is pragtig soos sy is.

Ligdag is Susanna wakker en toe die groot rooi haan die dag aankondig, kook die koffiewater al. Let se koffie bly weer net so staan. Sy knibbel ook net aan die beskuit, maar Susanna maak nie soos gewoonlik ’n aanmerking daaroor nie. Siestog, die kind probeer so hard om minder te eet – dis net die brood wat sy nie kan uitlos nie. Miskien moet hulle vir ou Dok van daardie maermaakgoed gaan vra – dié wat hy vir Dorie van Gert Boggel gegee het. So groot en log gewees en kyk vandag: voorvrou by al wat vergadering is en skielik baie bekkig ook. Sy't reeds laasweek by die biduur ’n woord of twee te sê gehad oor Let so uitdye …

Met die wegtrek van die werf af is dit duidelik: hier kom ’n ding! Martiens steun-snork en Susanna stoot haar elmboog in sy ribbes.

“Kry end, Martiens.” Maar kan self nie die lag uit haar stem hou nie.

Vooruit streep die vier jonges, elkeen op ’n donkie se rug. Opperman op die grootste en mooiste een. Maar al is sy naam ook Champagne – ewe van nig Fienie se troue se heildronkbottels af gespel – het dit absoluut niks met sy draf- en dravermoëns te doen nie. Hy word nie baie gery nie…

Alle oë is op Opperman. Hoe vinniger die donkies draf, hoe laer sak Champagne se kop. Opperman doen sy bes, maar so elke vyftig treë of wat moet hy bes gee. Dan gly hy hulpeloos langs die donkie se nek af tot op die grond. Na die soveelste wydsbeenstaan lag Martiens en Susanna so dat die donkies voor die waentjie, op hul eie agter hul maats aandraf. Van leisels hou is daar nie sprake nie!

Martiens vee vir die soveelste maal die trane uit sy oë. Kyk, dit moet hy die vreemdeling te ere na gee: hy kan die “punch” vat. Hy vat die leisels bymekaar; daar voor begin die jongklomp teen die rivierwal uitklim. Nols is voor, dan Let, en agter haar Opperman. Soois dek die agterhoede. Die voetpad al op die wal langs is plek-plek baie smal soos die bosse dit al begin toegroei – die jonges gaan deesdae nie meer so baie rivier toe nie. Langs hom op die bankie begin Susanna se liggaam skud van die lag en selfs ’n "Gedra jou, Vrou" kry haar nie stil nie. Maar dan moet hy self keer om dit nie uit te skater nie.

Nou moet ek julle eers vertel: ’n bos is vir Champagne soos ’n steekvlieg – hy móét skuur. En soos te wagte, gooi die donkie lyf dwars toe die eerste takke oor hom vee. Die sweet slaan later in ’n donker kol tussen Opperman se blaaie uit soos hy aan die teuels beur, maar lyf in die bos druk is ta. Die ander drie het intussen van hulle donkies afgeklim. Nols sit plat op die grond – hulpeloos van die lag. Soois hang oor sy donkie se rug soos ’n ou wie se skuit omgeslaan het. Let lag later maar saam, al was sy dikmond toe die mans vir Oppie op daardie simpel dier laat ry het.

"Daar gaan hy!" Martiens kry die woorde skaars uit toe die takke Opperman van die donkie se rug afvee.

Soos ’n nat lap val Opperman plat op sy sitvlak; tuimel toe gat oor kop teen die skuinste af en bly onder in die lopie in ’n los bondel lê. Toe is daar nie meer keer nie. Die lug dreun soos almal lag en eggo in die gebalk van die donkie wat stokstert huis toe draf.

Let smeer eerste bietjie heuning om die mond.

"Ag, Oppie-man; ons lag nie vir jou nie." Sy beweeg stadig teen die steilte af. "Ons wou jou maar net ’n streep trek!" Let kyk om na die ander, wat op die wal bly sit.

 "Komaan, Nols; los julle stuitigheid en gaan help die man op; hy het nou klaar sy vuurdoop gehad."

Martiens skud die teuels en die waentjie beweeg vorentoe. "Lyk my die man is nou suur; kan nie ’n grap vat nie." Hulle kom gelyk met Let by Opperman aan; sien haar lag opdroog.

"Pa, hoekom lê hy so snaaks, hè Pa?"

Almal sien tegelyk die skewe nek; soos dié van ’n pop wat stukkend gespeel is.

Let gryp haar ma vas met bang in haar oë.

"En nou, Ma, wat nou?!"

Haar kreet ruk die sluiers van wil-nie-sien-nie tussen hulle weg. Teken duidelik Let se beeld waar sy in gisteraand se middeldeur staan; die té ronde ronding van haar bors en die nuwe blou rok se spanvoue oor haar heup, die vroe'môre koffie wat koud word op die kas ...

  • 2

Kommentaar

  • Willie van Aswegen

    Ek was meesleurend vasgevang in die goeie taalgebruik van 'n ooglopende bekende milieu en tydperk vir die skrywer.
    Welgedaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top