Ope brief aan Piet Croucamp

  • 24

Geagte dr Croucamp

U het as politokoloog duidelik nie ’n snars begrip van Breyten Breytenbach se meesterlike bydrae tot die Afrikaanse poësie oor meer as 50 jaar nie (1964-2016). Hoe anders is u ingesteldheid as dié van Nelson Mandela. Hy het liefde tussen sy landsmense gekweek uit besinning oor versoenende gedrag – u lyk asof u haat wil kweek, nog intenser haat teen u eie moedertaal, met u “bloed aan die mure”-opmerking. Duidelik het u geen besondere band met u moedertaal nie. En voel vere vir sy letterkunde.

Daar is baie van ons wat wél intens lief is vir ons moedertaal, Afrikaans, en in hierdie dae hulpeloos toekyk hoe die taal opnuut die objek van minagting en politiekery word. Die bruin intellektueel en skrywer Vernon February het al in 1989 opgemerk dat geen taal skuldig kan wees aan wat die sprekers daarvan gepleeg het nie – dit is ’n wanopvatting. Sy voorbeeld? Duits. Die taal van Goethe, Schiller, Beethoven en Mozart. Die taal van Paul Celan, die grootste digter van die 20ste eeu, wie se moedertaal Duits was en wat in Duits bly skryf het, al is albei sy ouers in konsentrasiekampe deur die Nazi’s vermoor, en het hy self twee jaar lank as sewentienjarige onder hul toesig moes klippe kap. Al is baie van sy vriende dood in die konsentrasiekampe. In dieselfde Duits het hy bly skryf … omdat dit sy moedertaal was. Hy kon nie anders nie (vir u miskien ’n onbekende situasie). Aangrypende gedigte wat die essensie van die mens se geveg teen geweld en vernietiging deur politieke regimes uitbeeld. Hier is vir u die slot van sy elegie oor dooie geliefdes in “Todesfuge”, vertaal deur Gunther Pakendorf:

Swart melk van die oggend ons drink jou snags
ons drink jou smiddags die dood is ’n meester uit Duitsland
ons drink jou saans en soggens ons drink en drink
die dood is ’n meester uit Duitsland sy oë is blou
hy tref jou met ’n loodkoeël hy tref jou nou
’n man woon in die huis jou goue hare Margarete
hy jaag sy honde op ons hy gee ons ’n graf in die lug
hy speel met die slange en droom die dood is ’n meester uit Duitsland

jou goue hare Margarete
jou asvaal hare Sulammiet.

(http://versindaba.co.za/tag/paul-celan-vertalings)

Breyten Breytenbach se verse doen dieselfde. In helder, toeganklike taal, hier op sy 76ste jaar. Dit omlyn die mens se oorgelewerdheid aan politiekery en geweld soos geen ander Afrikaanse of Suid-Afrikaanse digter nie – daarnaas ook die mens se broosheid en uitgelewerdheid aan die dood:

jy sê my verse stink na die dood
se woordverrotting dat al hierdie handpraat
net ’n gedagtenis aan die graat van ’n gevilde vis is?

dis nie waar nie. 
was dit dan nie my lewenstaak om nice-nice te maak
asof ek uit ’n langwerpige kop gedigte kon fabriseer
as aas vir die engel
van dit wat gedoem is tot verdwyning
tot die toeblaai van die gat in die geheue
aan tekste reiner as die waarheid nie?

Miskien moet u ’n bietjie gaan lees, voor u weer sulke wilde uitsprake maak?

Die uwe

Helize van Vuuren

NMMU
Port Elizabeth
15 April 2016

'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid

Breyten Breytenbach
Universiteitseminaar

"Wil u werklik dat u en u bestuur deur die geskiedenis gebrandmerk word as bevorderaars van ’n kulturele uitwissing tot voordeel van ’n totalitêre dogma wat op koloniale taal berus?"

 
Piet Croucamp reageer op Breyten Breytenbach se ope brief aan Wim de Villiers

Piet Croucamp
Universiteitseminaar

"Taal en kultuur het, soos verskeie ander ismes, ’n morsige verlede en hoe ook al jy die geskiedenis van Afrikaans wil oorskryf, jy sal nie die bloed van die mure af kry nie."

  • 24

Kommentaar

    • Kobus de Klerk

      Hy is 'n uitgesproke (vloekende, verneem ek ook) ateis wat homself bekwaam het as politieke dier en by die universiteit doseer. Wat hom kenmerk is die baie sterk indruk wat hy skep dat hy dit nodig ag om deur kontroversie op alle vlakke waar hy betrokke raak - van sy kleredrag met gestileerde seerower kopdoek (sal ook nie verbaas wees as hy oral ook kaalvoet of met sandale loop nie en net die Long John Silver papegaai op die skouer ontbreek nog) tot die dikwels nydige, aggressiewe, kontroversiële manier hoe hy homself omtrent bykans alles uitdruk - sy eie nis probeer uitkap om tog net nie tussen die massas te verdwyn nie. Hy skep die indruk dat hy so optree omdat hy doodbang is hy word nie raakgesien of -gehoor nie...

      Miskien moet hy maar Long Piet Silver herdoop word.

  • Johannes Comestor

    Ek het groeiende bewondering vir die moeite wat Van Vuuren doen om vir Afrikaans te veg en vir die bekwame manier waarop sy dit doen. Ek vra my af waarom haar optrede eerder die uitsondering as die reël by Afrikaansdosente is. Ek kan my egter nie vereenselwig met haar opmerkings oor Nelson Mandela en skuldgevoelens nie.

  • Dr Gerrit Jooste

    Dankie Helize! Ek wens Piet wil hom bepaal tot sy vakgebied,of liewers sy mond hou-hy het lankal sy ware kleure getoon!

  • Marianne de Jong

    Helize van Vuuren se korreksie van Piet Croucamp is broodnodig. Dit lyk asof dr. Croucamp nie die denksprong kan maak omtrent Afrikaanssprekendes wat vurig teen apartheid en die Afrikanerdom was, maar nou vurig vir Afrikaans as taal is nie. Dit lyk of dr. Croucamp ongenuanseerd dink. Breyten praat ook as digter in Afrikaans en as kunstenaar.

  • Sela en jubelend ja en dankie en halleluja, Helize.! Mens kan byna nie glo - en ek verstaan dit hoegenaamd nie - dat Croucamp so 'n tuitvisie oor Afrikaans kan hê nie. En om dan die ongevoeligheid so brutaal op ander te wil afdwing nie.

  • helize van Vuuren

    Miskien sou dit nuttig wees vir Dr Croucamp om hier te gaan lees wat geskryf is oor die Afrikaanse letterkunde - as spieël van die beste wat in Afrikaans geskryf is sedert 1994, en ook 'n politokologiese oog ook daaroor te gooi, vir die ideologiese strekking van die werke waaroor dit handel:

    https://www.academia.edu/6839756/Translation_and_transformation_Antjie_Krog_

    https://www.academia.edu/3733108/Literatuur_as_moederland_Van_Afrikaanse_stadstaat_na_minderheid_in_n_multitalige_vrystaat_

  • Francis Galloway

    Baie dankie Helize dat jy hierdie diskoers op 'n ander vlak geplaas het. Nou sal meer kundiges dalk hulle kant bring.

  • Etienne Viviers

    Die Afrikaanse vertaling van Celan is ironies in 'n konteks waar die moedertaal se integriteit as skeppingstaal so verromantiseer word. Die uitbeelding van Duits as Mozart se taal is net so vreemd: Die oorgrote meerderheid van Mozart se operas en vokale musiek, en veral die bestes onder hierdie werke, was in Italiaans gekomponeer; nie in sy Duitse moedertaal nie.

    • Tiens Pretorius

      Italiaans was destyds gesien as die ideale taal vir operas, ook weens die voorafgaande historiese dominansie van Italiaans op daardie gebied.

    • helize van Vuuren

      Niks word hier "verromantiseer" nie - die verlies van 'n moedertaal is 'n realistiese moontlikheid (en vir digters so goed as "monddood"-maak onder Stalin - want wie kan poësie skryf in 'n tweede of derde taal, buiten skaars enkelinge soos Peter Blum)?.
      Kyk na hierdie statistieke (aangehaal uit my ter perse boek, A NECKLACE OF SPRINGBOK EARS: /XAM ORALITY AND SOUTH AFRICAN LITERATURE, Sun media, Stellenbosch):

      "In 2013, forty six percent of all living languages (3,176 in total), were on the red list of endangered languages:

      [By] 2115, it’s possible that only about 600 languages will be left on the planet as opposed to today’s 6,000 […] Too often, colonalization has led to the disappearance of languages […] This has rendered extinct or moribund, for example, most of the languages of Native Americans in North America and Aboriginal peoples of Australia.
      (McWhorter 2015).

    • Peet van Heerden

      Ek verstaan nou nie, hoekom nou die Mozart-diskussie. Ek neem aan die as eerste diskussies het gegaan oor Moedertaal verskille of geskille. Mozart was by uitstek Duitssprekend van huis uit in Salzburg. Sy grootste operas ooit Die Zauberflöte en Die Entfürung aus dem Serail gedy in duitse Librettos. Kom ons praat nou maar oor ons, of ten minste my, pragtige Moedertaal.

  • Dr Craucamp het duidelik 'n identiteitskrises. Hy glo nie in God nie, glo nie in Afrikaans nie, maar verdien elke dag sy brood juis hier tussen diep gelowige Afrikaners wat die taal besig. Wat glo u dan? Om nie te glo in iets nie is ook n geloof. Sterkte en mag u wysheid en insig verkry.

  • helize van Vuuren

    Taalsterfte gebeur volgens die Khoisan-soiolinguïs en taalkenner, Anthony Traill (1939-2007), onder die volgende omstandighede:
    "well known are the linguistic responses of a stigmatised class: loss of language loyalty, language shift, language contraction, and ultimately language death" (Traill in Skotnes, red. CLAIM TO THE COUNTRY:139).

    En van dié gebrek aan Afrikaanse taallojaliteit, van taalverskuiwing, en van Afrikaanse taal-inkrimping (en steeds kleiner-wordende Afrikaanse woordeskat en onvermoë om te spel) is daar oorvloedige voorbeelde in die media, die universiteite, die skole en in die omgang reeds geruime tyd merkbaar. Saam met taalvermenging (van Engels met Afrikaans) en die gemaklike tweetaligheid in Engels as tweede taal, van opgevoede sprekers - maar waar laat dit die talryke ongeskoolde sprekers van die Baviaanskloof, Karoo en die Namakwalandse platteland? Soos visse op droë grond...

    • Dirk Bindemann

      Baie dankie julle almal. Ek voel nie meer so alleen nie. As ek hier in Walvisbaai die oggend na Groot Ontbyt kyk met sy "O wat is die woord nou weer in Afrikaans?" en laat die aand na die dienende Bettie, dan sak ek my kop in wanhoop.

      Met mense soos julle sal ons taal nie sommer 'n kombuistaal word nie, want luister hoe sing dit as Helize besig.

  • Pieter van Rooyen

    Wanneer die kleine muis nou vir Oom Olifant wil sê: "kyk hoe skud ons die brug né."

  • Pienkes du Plessis

    Dr Craucamp se brief is sekerlik een van die venynigste en giftigste aanvalle op 'n persoon, in hierdie geval op Breyten Breytenbach, wat ek in 'n baie lang tyd gelees het. Soveel haat, soveel venyn – of verwar ek dit met jaloesie? – in een brief, komende van 'n akademikus? Ek is verstom. Ag, nee wat, ek sal in die toekoms maar wye draaie verbykyk op enige skryfsel of uitspraak van hierdie man.

  • Dankie, Helize. Vernon February se insig word te min herhaal en bespreek.

    Van al die voorbeelde moet daar nie vas gebrand op Mozart nie, maar om konteks te skep noem ek die volgende.

    Dis waar dat ʼn derde van Mozart se operas in Duits geskryf is, maar wat gereeld uit gelaat word is dat Italiaanse operas eenvoudig meer populêr was in sy tyd. Vir my wys dit op Mozart se liefde vir sy moedertaal dat hy deur sy lewe teruggekeer het na Duitse operas al was hulle nie so gesog deur sy gehoor nie. Ook moet daar in ag geneem word dat Mozart gekollaboreer het. Byvoorbeeld met die Italianer Lorenzo Da Ponte en dus meer produktief in ʼn ander taal kon wees.

  • Ek het lanklaas gelees of gesien dat iemand so netjies en ordentelik op sy plek gesit is. Mooi so Helize van Vuuren. Jy is 'n vrou so na my hart. Moenie nonsens vat van kabouters nie. Ek kyk graag na groot Piet se Megaboere en Dana Snyman se reis program. Wat my opval is dat of die menere of voorgesê word of 'n moerse innerlike vrees het. Albie die menere het duidelik nie hoop vir die toekoms nie want hulle vra elke boer en persoon by wie hulle kuier of daar 'n toekoms in die land is. Wat is fout manne? Is julle bangatte vir die toekoms? Moenie wees nie. Benoude katte maak benoude spronge.

  • Luan Staphorst

    [xrↄnta:l]
    vir Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Helize van Vuuren

    Woorde is my kontinent,
    & poësie is my republiek.
    - Johann De Lange

    onder sondes van my
    voorgeslagte word jy besit
    had ek grond kon ek jou
    bewerk want jy is taal my taal

    maar ek is
    ek is bloot tuinbooi
    en die kontinent soek nie
    ‘n wit kaffer nie
    nog minder die republiek.
    en ek is
    ek is die versinde ekke:
    nooit bhuti, maar boetedoener.

    Tog
    maar tog skiet my werwels
    wortel en ver-werf

    want met aarsembenemende leefde
    wat my ontrand my ontbind
    my verplant
    en uitstorwe in
    hierdie verstrikte tong
    hierdie gekerfde land
    hierdie mondwond
    uit wie se kont
    ek kruipend
    bly
    swerf

    met die lug wat nog-nog natterig
    bly dobber
    in die voering van my nerf

    sal ek knielend sterf
    knielend swerf
    sterf-sterf

    so
    ja so word die handvattende grondvreters
    ter aarde gesluk

    nie met ‘n roggel
    maar ‘n keelkliewende koggel

    (soos oorgelewer aan W.H.I. Bleek en L.C. Loyd te Tafelbaai
    G.R. von Wielligh te klipspelonk in die Karoo
    maar vertolk deur Antjie Vlaktes op die 17de April 2016)

    Luan Staphorst (3de-Jaar BA Afrikaans student verbonde aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit)

  • Johann de Lange

    Nóg 'n manteldraaier wat (in swak Afrikaans) sy rug op Afrikaans draai, & sy middeljarekrisis slordig in die pers uitspeel.

  • Nerina Bosman

    Helize: bravissima! Jou pragtige gebruik van Afrikaans en die nugtere, maar ook liefdevolle manier waarop jy nie net oor Afrikaans nie, maar in beginsel oor die intrinsieke waarde van alle tale skryf, is 'n emosionele riem onder die hart. Net iets oor die "bloed teen die mure" - hoe maklik is die bloed wat die bloedige Britse Ryk met sy taal en al teen soveel mure gestort het, nie afgewas nie. Dalk omdat daardie magtige taal en sy magtige, wonderlike letterkunde - jy het reeds geskryf oor Duits - ook meer is en altyd soveel meer sal wees as die uitdrukking van die ideëwêreld van geweldenaars en verkragters. Rhodes het geval (as hy regtig het?) maar Engels staan onaantasbaar sterk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top