Ope brief aan my wit broer en swart suster

  • 1

Tussen Thando Mgqolozana se uitsprake by die Franschhoek Literary Festival, die Rhodes Must Fall-groep by UCT en die Open Stellenbosch-groep by Maties het ons heelwat interessante tye belewe die afgelope ruk.

Op die oog af lyk dit dalk soos uiteenlopende geskille. Die een gaan oor immers oor literêre feeste, een oor koloniale monumente en een oor die taal van die onderdrukker. As mens egter net effens dieper grawe, is die basiese onderlinge klagskrif dieselfde: swart woede oor wit entitlement en wit privilege, en in elke geval word taal, geskrewe en gesproke, as die spreekwoordelike slagoffer op die altaar van beskuldigings gelê.

Ek worry oor die toenemende militantheid en woede wat ek opmerk op sosiale media, in die nuus en persoonlik, veral omdat die verdeeldheid duidelik langs rasselyne geskied. Aan die een kant is daar wit verontskuldiging, ’n hardnekkige weiering om met insig te luister en verstommend akrobatiese mental gymnastics om die gesprek om te swaai vanaf swart angst na wit guilt. Aan die ander kant is daar toenemende ongeduld met wit mense se onwilligheid of onvermoë om te begryp dat versoening nie net ’n once-off deal is nie, dat vergifnis elke dag oor en oor en oor moet gebeur, na al twee kante toe, dat nie alle wonde sigbaar en daarom behandelbaar is nie. Dis ’n resep vir ’n perfect storm.

Ons samelewing is gebroke, en as daar nie intentionality aan wit en swart kant is om hande te vat en saam te werk nie, kan al die veld wat oor die afgelope twintig jaar van demokrasie gewen is, verlore gaan.

Twee goed pla. Wel, ’n klomp goed pla, maar twee wil ek hier uitlig.

In die eerste plek: die persone betrokke by die twee universiteitsproteste is almal born-frees. Hulle is veronderstel om ons nuwe hoop te wees, die eerste generasie van ’n demokratiese bestel. Het ons generasie, en vroeëres, nie genoeg gestruggle sodat hulle nie nodig het om dieselfde goed, en erger, deur te maak nie? Waar het ons reënboognasie verkeerd gegaan dat ons nou dieselfde gesprekke voer wat voor 1994 gevoer was, hierdie keer sonder die benefit van nugtere, versoenende leierskap?

Die tweede ding wat pla, is die reaksie van die grootliks wit ontvanger van die boodskap. UCT, veronderstel om ’n bastion van liberale denke te wees, het Rhodes se standbeeld net verwyder nadat hulle onder geweldige druk gekom het. Stellenbosch, vir al die geluide wat hulle maak omtrent versoening en dies meer, het dit duidelik gemaak dat die grootste versoek van die Open-groep, rondom taaleise, glad nie vir bespreking op die tafel is nie. Mgqolozana se baie geldige pleidooi dat daar ernstig gekyk moet word na die samestelling van feeste en die boekbedryf in Suid-Afrika het verlore gegaan in die polemiek wat nou ontstaan het.

Open Stellenbosch het skaars hulle eise begin stel, of daar was geluide gemaak, uit wit Afrikaanse akademiese geledere, van die dekolonisasie van die universiteit. Of anders gestel, kom ons maak dit ’n hedendaagse re-enactment van die Anglo-Boereoorlog. Kom ons maak dit oor onsself as victim.

Uit die gehoor by Mgqolozana se bespreking, het ’n wit vrou opgestaan en oor haar wit skuldgevoelens begin praat. Die gehoor was so besig om die gesprek oor hulself te maak dat hulle nie geluister het na wat hy probeer sê nie. Natuurlik kan daar nie swart angst wees nie, kyk hoe vreeslik suffer ons whiteys onder demokrasie. En terwyl sy kommentaar gelewer was by ’n Engelse fees, oor Engelse feeste, kan dit met stereo van toepassing gemaak word op die Afrikaanse feeste. Ek dink by ’n Afrikaanse fees sal ’n paneel bestaande uit net swart paneellede selfs meer “anthropological entertainment” wees as wat dit by Franschhoek was.

Dit beteken nie vir een oomblik dat ek saamstem met alles wat Mgqolozana te sê gehad het nie. Ek stem nie saam met sy stelling dat wittes na 1994 hulle huise en plase aan random swart mense moes oorhandig het nie. Ek dink dis ’n oorvereenvoudigde voorgestelde oplossing vir ’n komplekse probleem. Ek stem nie saam met sy stelling dat Madiba sy mense in die steek gelaat het nie. Madiba het juis the greatest good for the greatest number probeer bereik – behalwe natuurlik as Mgqolozana se argument is dat net swart mense Madiba se mense is.

Die oorgang na demokrasie het nie ekonomiese bevryding gebring vir die massas, soos wat belowe was nie. Voor die 1994-verkiesing was daar huise belowe vir almal, wasmasjiene en elektrisiteit. Ek onthou hoedat swart mense voor die groter huise in ons buurt kom foto’s vat het. Daar was planne gemaak om die twee plakkerskampe te ontruim en om by die groot huise in te trek. Mense het in haglike omstandighede gebly, en hulle kon nie wag om daar weg te trek nie.

In 2015 is beide plakkerskampe groter en meer oorbewoon as in 1994, en daar het nog ’n verdere vyf plakkerskampe bygekom. Mense wat al jare wag om ’n HOP-huis te kry, wag nog steeds, terwyl ander van buite die dorp huise kry.

Blameer ek mense dat hulle teleurgesteld is en iemand soek om te blameer? Glad nie. Ek verstaan die woede. Ek verwág selfs die woede. Dis ’n natuurlike reaksie wanneer mense se diepste drome op siniese manier teen hulle gebruik word.

Ek verstaan ook dat die Open Stellenbosch-groep se taaleise, en Mgqolozana se teleurstelling, simptome is van ’n probleem, en nie die probleem self nie, op dieselfde manier as wat ’n loopneus ’n simptoom van griep is. Om vir die pasiënt sneesdoekies aan te bied, gaan die simptoom verlig, maar niks doen om die probleem te pak nie. Net so gaan klagtes van wit skuld nie swart woede oplos nie. Taal word geteiken, nie omdat taal ’n probleem is nie, maar omdat dit simbolies is van als wat verkeerd is.

Miskien het dit tyd geword dat daar regtig met erns geluister word na wat swart mense sê, en nie net met een oor om die verontskuldigings agter mekaar te kry nie. Ons het lig daarvan afgekom in 1994. Daar was ’n Madiba wat verstaan het versoening is belangriker as wraak. Daar was ’n kollektiewe wil en integriteit om hande te vat en vorentoe te beweeg. Daar was ’n bereidwilligheid om te sê “Vat julle pangas, gooi dit in die see.” In 2015 bestaan daai tipe leierskap nie. Swart woede prut-prut, en daar is nie leierskap wat kan besef die druk moet verlig word nie. Daar’s niemand wat die voortou gaan vat en ons terugbring op die pad na die beloofde land nie. Daar is net ons gewone mense – wit, swart, bruin. Daar is ongelooflike goodwill onder gewone mense, en ’n bereidwilligheid om Suid-Afrika te laat werk.

Maar swart mense is moeg om te hoor van wit guilt. Net soos wat wit mense wil hê swart mense moet ophou praat van apartheid en get with the programme, net so wil swart mense hê wittes moet ophou hulleself jammer kry. En get with the programme.

Afrikaanssprekendes het, ten regte of ten onregte, die ekstra mantel van onderdrukker om te dra, en Afrikaans sal nog vir ’n lang ruk aangeval word as die taal van die onderdrukker. Daar is geen maklike antwoorde nie. Ek begin egter al meer oortuig word dat ’n aandrang op taalregte meer kwaad as goed kan doen. Regte, per definisie, word afgedwing. Hoe gaan ons enigeen oortuig dat Afrikaans nie die taal van “right is might” is wanneer ons dit wil afdwing, maak nie saak hoe goed die bedoeling is nie? Lojaliteit, en liefde en voorkeure vir ’n taal, kan nie gelegislate word nie. Dit kan net voortbestaan as dit vrywilliglik gekies word.

Afrikaans se redding kan net kom as ons dit toeganklik maak vir mense en hulle ’n besef gee van hoe mooi en kleurvol en divers die taal is. Die taal kan net gered word as ons woorde van versoening eerder as veroordeling begin gebruik. Afrikaans het bondgenote, vele van hulle. My pleidooi is eenvoudig: moenie die bondgenote wegjaag deur aan te dring op een manier van praat as die enigste regte manier nie. ’n Dinamiese taal, wat voortdurend aanpas en verander by ’n veranderende samelewing, het ’n beter kans op voortbestaan as een wat krampagtig vasklou aan die verlede – veral ’n verlede wat so deurspek is met euwel.

Arrogansie, en ’n onvermoë of onwilligheid om die ander in die binnekring toe te laat, is spykers wat flink in die doodskis van ’n taal ingekap kan word.

Ek is seker daarvan dat die Open Stellenbosch-groep meer geredelik Afrikaans as onderrigmedium sou aanvaar as hulle as volle lede van hulle koshuise en klasse aanvaar was. Stellenbosch is nie altyd verwelkomend teenoor enigeen wat anders as wit en Afrikaans is nie. Dit was so in die tyd toe ek ’n student daar was. Dis nou nog so. ’n Bruin student vertel my dat die wit meisies in haar koshuis nie hulle bad uitwas na gebruik as hulle weet die volgende persoon wat die bad gaan gebruik, swart is nie. Koshuise is “oop”, maar bruin en swart studente word in sekere seksies bymekaar gesit, en wittes het die res van die koshuis.

Is ek verbaas dat swart woede iewers gaan oorkook? Glad nie. Ek is net verbaas dit het so lank gevat. En Afrikaans is die convenient scapegoat.

Dis tyd dat Afrikaners en Afrikaanssprekendes met groot eerlikheid en openhartigheid hulle rol in die vilification van Afrikaans erken. Dis al manier om ’n begin te maak om die taal te red.

Daar was onreg in die naam van
die taal gepleeg
ons kan dit nie onder die mat inveeg
maar om hierdie taal te weeg teen die
onregte gepleeg
maak nie sin
want net sommige het hierdie taal
gebruik vir eie gewin
ander het die taal met moedersmelk
ingekry
selfs hul vryheidstryd in hierdie taal
gestry ...

Kom ons vat ’n kans
Kom ons praat Afrikaans.

(Diana Ferrus, “Kom ons praat Afrikaans”)

Ons almal saam kan ons land laat werk, maar dit beteken ons almal moet saam ’n kans vat. Net ons kan.

  • 1

Kommentaar

  • Dankie vir die insiggewende artikel. Ek stem saam oor meeste van die punte wat hier gelig word. Ek sal graag net 'n punt wil uitlig wat ek dink belangrik is, en tog selde rêrig op die tafel geplaas word op 'n ope en nasionale vlak sonder om 'n onderonsie te veroorsaak. Ek kan dalk net vir blankes praat aangesien ek in daardie spesifieke kultuur deur geboorte geplaas was, en dus 'n direkte perspektief het op dit.
    'n Groot deel van blanke-frustrasie in hierdie land, bewustelik of onbewustelik, kom uit die gevoel dat die blanke-gemeenskap proporsioneel 'n groot finansiële en ekonomiese bydrae maak tot hierdie land se welsyn deur belasting en ander bydraes. En soos almal weet, raak groot hoeveelhede van hierdie geld verlore deur wanbesteding en korrupsie, wat sekerlik na 20+ jaar al 'n baie groter verskil kon gemaak het tot die probleme en die lewens van mense wat agv van apartheid agter gelaat was. Meeste blankes, myself ingesluit, kry die gevoel dat as ons meer beheer of sê kon gehad het oor hoe dié geld gehanteer word, ons baie vinniger resultate sal sien. Die gevoel is dat die ANC huidiglik net nie die morele volwassenheid en ekonomiese sofistikasie* het om die taak aan te pak met sukses nie. En ongelukkig hoef 'n mens net 'n koerant daagliks op te tel om te sien dat dit nie 'n emosionele uitlating is nie, maar 'n feitelike een. Natuurlik is die opsie vir blanke integrasie in die land se leierskap nie eens 'n moontlikheid in 'n politieke landskap wat mag behou word deur rasse te verdeel teen mekaar, en ook natuurlik die mite van 'n tweede apartheid te versprei onder hulle kiesers om vrees aan te kweek. Vir my is daar geen hoop om die blanke gemeenskap se frustrasie te tem totdat hierdie dieper probleme opgelos word. Met almal met wie ek praat is daar die onderlangse gevoel dat hulle nie meer wil doen of gee nie, want dit lei tot niks in elk geval nie ... 'n bietjie oordrewe maar ongelukkig kan ek nie help as om somtyds gedeeltelik saam te stem nie. As geld nie 'n finansiële kwessie kan oplos nie, gaan mooipraat nog minder help ...
    Laastens wil ek net sê dat die bogenoemde stellings op geen manier 'n verdediging of kwytskelding is van rassistiese gedrag of uitlatings is nie. En ek wil geen deel daarvan hê nie.
    *Jammer vir die lelike Anglisisme maar my Afrikaans is nie so sterk soos my Engels nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top