Ope brief aan Jonathan Jansen: Bedanking as navorsingsgenoot

  • 43

Amsterdam, 13 Maart 2016

Geagte prof Jansen

Bedanking as navorsingsgenoot

Ek werk en woon in Nederland as politieke ontleder vir bedrywe en as akademikus. Tans is ek onder meer ‘n navorsingsgenoot by die Universiteit van Amsterdam en by die Universiteit van die Vrystaat.

Die meeste van my werk in die buiteland is in Nederlands of Engels. Die Universiteit van die Vrystaat se vorige taalbeleid het beteken dat ek graag die klein deel van my akademiese navorsing wat in Afrikaans is, daaraan wou koppel.

Ek was dus besig om stukke wat ek verlede jaar kon plaas, by die Al-Jazeera Centre for Studies of by die Nederlandse Gasunie by te werk vir moontlike publikasie in Afrikaans. Ek het intussen ook in beleidspublikasies in Engels my band met die Universiteit van die Vrystaat gemeld, die laaste keer in die South African Monitor se “Zuma’s hybrid regime, the economy and sustainable communities” (2015).

Die nuwe taalbeleid wat op 11 Maart 2016 goedgekeur is, maak nou Engels die hooftaal van opvoeding en administrasie, en skaal Afrikaans se posisie af. Ek kan my nie vereenselwig met hierdie voorbeeld van politieke onderdanigheid deur ’n universiteit wat akademiese outonomie behoort te handhaaf nie. Ek kan my ook nie vereenselwig met die benadeling en verontregting van ’n gevestigde Afrikataal soos Afrikaans en sy sprekers nie.

Ek bedank hiermee as navorsingsgenoot by die Universiteit van die Vrystaat. Ek stop hiermee ook met enige navorsingsuitsette of bemarking ten bate van Universiteit van die Vrystaat. Dit is ongelukkig die sterkste manier om my afkeuring van hierdie beleid te toon.

Politieke agterryers

Die nuwe taalbeleid is ’n duidelike voetval voor die eenpartydominante politiek van die dag. Akademiese outonomie en ’n klem op goeie opvoeding en navorsing moes hier almal tweede viool speel. Enigeen wat in akademiese instellings werk, weet dat die effek van groepsdruk, kantoorpolitiek, selfsensuur en hernude politieke inmenging dan akademiese vryheid verder sal uithol. Van akademiese outonomie op tweede viool is dit ’n kortpad na akademiese gehalte op die tweede rang.

Die uitbou van akademiese outonomie by universiteite en die opbou van ’n Afrikataal tot akademiese taal is in die meeste Afrikalande seldsaam, indien nie afwesig nie. Beide hierdie seldsame prestasies in Suid-Afrika word deur die nuwe taalbeleid eenvoudig weggedruk. Wat sal in die plek daarvan kom?

Kulturele en taaldiskriminasie

Benewens my hoofbeswaar is daar uiteraard ook andere: die taalbeleid sal jong Afrikaanssprekende studente en akademici benadeel. Hulle grondwetlike reg op opvoeding in hul moedertaal, gelees binne die konteks van artikels 29 tot 31 van die Grondwet, word aangetas.

Die kultuurdomein waaruit die Universiteit van die Vrystaat oor jare van sy beste akademici en bydraes ontvang het, word na die hoek geskuif. Mens kom by kongresse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, of LitNet Akademies uitstekende navorsing teë. Die universiteit moes dit gekoester het, maar het verkies om die water na daardie voedingsbodem geleidelik af te sny.

Die medepligtigheid van sommige Afrikaanssprekende akademici aan hierdie aantasting is iets wat hulle voor ernstige gewetenskwessies stel. In die naam van veeltaligheid word een taal, Engels, tot hooftaal verhef, ook al beteken dit dat die meerderheid studente die voordele van moedertaalopvoeding moet ontbeer.

Die hele gees van die taalbeleid weerspreek goedgedokumenteerde internasionale beste praktyke en regte rondom diversiteit en moedertaalopvoeding by universiteite. Onder die vaandel van brugbou verswak dit die een bewese akademiese brug tussen Afrika en Wes-Europa, naamlik die brug van Afrikaans.

Ek sou kon byvoeg oor Afrikaanse filosowe wat in Nederland in hul moedertaal gewoon die gesprek met Nederlandse filosowe in ‘n vereniging kon voortsit. Ek sou kon verwys na seminare by die Universiteit van Leuven in Vlaandere oor politiek en die sakelewe, waar al die verrigtinge in Nederlands en Afrikaans kon plaasvind. Of na die bande van kuns en kultuur.

Na akademiese agterryers?

Maar dan: die hoofoorwegings by hierdie beleid was nie gekoppel aan akademiese vryheid en gehalte, pedagogiese wysheid of kulturele waardering nie; hulle was polities gedrewe. Met ’n blik op die toekoms kan mens eintlik die Free laat verval en maar bly by State University.

Suid-Afrika se eenparty-oorheerste staat word egter nie gekenmerk deur ’n respek vir pluralisme nie, hetsy polities of akademies. Sien my bogenoemde Zuma-studie, en onlangse artikels hieroor deur Theuns Eloff en André Duvenhage op LitNet. Die regering se rekord oor skoon administrasie of dienslewering raak verbysterend sleg.

By so ’n State University wat oop is vir politieke inmenging stry dan later enkele eilande van uitnemendheid voort; telkens ontstaan egter weer spreidende moerasse van laer gehalte en ‘n broeierige kampuskultuur. Daaruit word weer allerlei nie-akademiese verskynsels gebore.

Buitelandse akademici ken ongelukkig talle soortgelyke voorbeelde in Afrika. Dalk ontwikkel die toekoms anders, maar dit lyk tans na die waarskynlikste toekomsscenario vir die Universiteit van die Vrystaat. Tot onnodige nadeel van Afrikane, ook die Afrikaanstaliges en Afrikaners onder hulle. En tot verdriet van almal, ook myself, wat die mense van Suid-Afrika veel beter gun.

Nuwe ligpunte

My advies aan alle Afrikaanstaliges is nou om sover moontlik te help bou aan ander opvoedingsinstellings waar akademiese vryheid weer eendag in Afrikaans kan blom, soos Akademia.

Vir van hulle sal dit nie moontlik wees nie. Maar in een van daardie ironieë van die geskiedenis sal juis die “Vrystaat” in die naam Universiteit van die Vrystaat mense bly herinner aan vryheidsidees wat bestaan.

Ook dít is deel van die geskiedenis van Afrika, en veral van die geskiedenis van die Vrystaat: mense wie se individuele, akademiese, kulturele of ander vorme van vryheid afgeskaal of misken word, sal dit elders weer gestalte gee. Soms selfs beter.

Groete

Heinrich Matthee

  • 43

Kommentaar

  • Baie dankie Heinrich, dat beginsels en waardering van Suid-Afrika se inheemse tale, in hierdie spesifieke geval, Afrikaans, vir jou belangrik genoeg is om nie voor onredelike politiek en die Koloniale taal, Engels, te swig nie.
    Toe sekere Indiese tale na die verloop van die tussentydse grondwet, gevra het hulle tale, Tamil? en Gudjarati moet ook beskerm word in Suid-Afrika, het Regter Johann Kriegler van die Konstitusionele hof gesê: "nee!" Want hulle tale kan nie bedreig word as dit nie beskerming in Suid-Afrika geniet nie, omdat dit sterk staan in hulle land van herkoms.
    In die uitspraak kon selfs ingelees word dat daar teen uitheemse tale "gediskrimineer" kon word in Suid-Afrika, indien sodanige uitheemse tale 'n bedreiging vir enige inheemse taal sou word.
    Ek voel sterk dat daar reeds oor en oor bewys is dat die uitheemse taal Engels, reeds tot geweldige nadeel vir die tien amptelike inheemse tale was en dat dit lank reeds tyd geword het dat beperkende maatreëls op Engels ingestel moet word, Engels tot 'n mate aan bande gelê moet word, ter wille van die oorlewing van die waardevolle inheemse tale.
    Soos dinge nou voortsnel, sal die reënboognasie se kleurvolheid binnekort slegs 'n wit boog wees wat taal betref.
    Afrikaans kon in 40 jaar tot 'n volwaardige taal vorder ten spyte van die oorheersing van Engels, deurdat moedertaalonderrig vir Afrikaners so belangrik was. Zoeloe, Xhosa, Tswana, Pedi, Sotho, Ndebele, Venda, Tsonga en Swazi moet gehelp word om vinniger as Afrikaans, óók so gou as moontlik volwaardige landstale te word.
    Bogenoemde sal makliker bereikbaar word indien elke provinsie se hooftaal van onderrig, een of twee van die inheemse tale van die betrokke provinsie wat die meeste gepraat word, tot tersiêre vlak verhoog kan word. Voorlopig kan Engels beperk word tot slegs nagraadse studies.
    Die beperking van Engels tot slegs nagraadse gebruik, kan duplisering uitskakel en geweldige kostebesparings meebring.

  • Distem! So n bek moet jam kry! Moet egter nie na bedanking, hande in onskuld was as verswakking verder toeneem nie. Maar woeker met die pen en woord wat skanse laat val.

  • Mnr Matthee. Jy stel 'n goeie voorbeeld van hoe daar teen die "aanslag" teen Afrikaans opgetree moet word. Soos jy besef is daar 'n duidelike slap houding van akademici en andere teen die besluite.

  • Ek wil u graag gelukwens vir u moed om volgens u oortuiging te handel. Afrikaans sal slegs kan bly voortbestaan indien meer mense u moed aan die dag sal lê.

  • Herkie Stadler

    Heinrich, na aanleiding van jou opmerking oor die "State University", moet ek net my opinie wat miskien maar net twee Zimbabwiese sent werd is, hier neertik.
    Verander die naam van die instelling na "The Imperial Royal University of the Orange River Colony", of IRU-ORC. Dan sal al die anglofiele heeltemal gelukkig wees. Volledig gekoloniseer weereens, want "vry" is hulle wragtig nie meer nie! Die ironie gaan moontlik heeltemal by die hogere besluitnemers verbygaan.

  • Marianne de Swardt

    "Dalk ontwikkel die toekoms anders." U eie woorde. Ek is 'n leek en lees toevallig u berig. A g v u eie woorde wil u nie nog maar 'n ruk aanbly en help om hierdie stryd vir Afrikaans te probeer red nie? Ons kan nie bekostig om bekwame mense soos u te verloor nie.

  • Geagte Heinrich, daar is in Afrika geen akademiese taal nie. Jy doen reg om aan te sluit by Akademia want jy wil in Afrikaans studeer. Groete. Annatjie Wij beek-Krüger.

  • Leonie Gerber Burmeister

    Ongelooflik dat daar passie in die buiteland groei vir sake van sulke belang. Onmiddellik voel 'n mens minder alleen die kant. En glo my ons probeer met alles wat ons het om dinge die kant te laat werk. Ons gee toe waar nodig. Alles in belang van die land wat ons graag deel met verantwoordelike mense van enige kultuur. Dankie.

  • Ook deur UP ontnugter

    Beste Heinrich

    Jy slaan die spyker op die kop! As gepubliseerde in onder andere die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, het ek ook met hartseer toegekyk hoe die akademiese mat onder ons voete uitgepluk word. Hoe bydraes aan outeurs verminder word, hoe jy eintlik half verneder word as jy nog durf publiseer in sulke uitstekende joernale. Hoe daar gefrons word as jy dit aanmeld in jou jaarlikse vorderingsonderhoud. Artikels wat ek al met trots by die Universiteit van Leiden kon gaan voorlê. En ek is verbitterd. Mag Akademia ook vir my 'n plekkie hê, want my tersiêre instelling is selfs nog meer heftig hieroor.

  • Ronel vd Nest

    Dit is so waar wat u sê. Baie dankie vir die standpunt wat u inneem. God's rykste seën op u pad.

  • Julian Muller
    Julian Muller

    Ek is ook 'n navorsingsgenoot by UFS, maar ek doen die teenoorgestelde as Heinrich Matthee. Ek bly aan en werk hartlik saam met die navorsingsprogramme omdat ek my heelhartig vereenselwig met die besluit. Die ope brief van Matthee is nogeens 'n voorbeeld van 'n eng Westerse verstaan van wat 'n universiteit is en 'n verontagsaming van die kompleksiteite van die Suid-Afrikaanse konteks. Enigiemand wat bietjie insig in die uitdagings van ons situasie het, sal besef dat die beste manier om Afrikaans skade aan te doen en dalk te vernietig, is om nou aan te dring op 'n bevoordeelde plek vir Afrikaans. Ons kan Afrikaans beter dien deur die groter prentjie te sien en saam te werk ter wille van inklusiwiteit op alle vlakke. Ons het nie moedertaalonderrig op tersiêre vlak nodig nie. Eerder gelykheid en inklusiwiteit en sodoende 'n voorbereiding vir die diverse Suid-Afrikaanse samelewing en vir die internasionale wêreld.

    • Alwena Fourie

      U kan vir seker weet dat hierdie aanslag op Afrikaans nie by tersiêre inrigtings gaan bly nie, die volgende teiken sal Afrikaanse skole wees. Dit het reeds begin en moedertaalonderwys gaan sneuwel so seker as wat ek hier skryf.

    • Willie Oosthuizen

      Mnr Muller, ons almal is nie hoogs geleerd nie. Maar u opmerking oor die "eng Westerse verstaan van universiteite" het betrekking. Al wat Afrikaners vra is dat die taal wat gebore en groot geword het in SA so erken word. En dat die 3de grootste gesproke taal die nodige erkenning geniet teenoor Engels wat ’n histories koloniale taal is. Waarom alle Afrikaanse onderrig vernietig? Wat is volgende, Afrikaanse skole? As ons die politiek reg luister is dit volgende op die agenda. Gee ons 1 of 2 van die tradisionele Afrikaanse universiteite sodat ons binne die grondwet ons keuse kan uitoefen om in ons moedertaal onderrig te word. Spandeer jul grootse pogings om Afrikaans te vernietig om die ander landstale te ontwikkel in navorsing en studietale. Los Afrikaans uit. Dit is deel van Afrika en sal deel bly.

    • Johannes Comestor

      Julian Muller is blykbaar die oud-UP teoloog wat soos handomkeer verander het, maar eers wanneer dit vir hom gerieflik was. Hy het van Broederbondlid tot ANC-entoesias (na 1994) en van christelike gelowige tot ongelowige (net voor sy aftrede) gevorder. Noudat die gety teen Afrikaans draai, stem hy heelhartig saam dat die UV eentalig Engels moet wees. Klasse in Afrikaans word nou deur hom bevoorregting genoem. Muller is uit eie keuse op die maklike, breë weg. As 'n mens werklik beginselvas is, dryf jy nie saam met die stroom nie, maar is bereid om op te offer; om nie jou diepste wese, jou siel, skade te berokken nie. 'n Weerhaan het nie 'n siel nie.

    • Hi Julian, ek neem aan jy is vroulik? Alles wat jy noem kan sin maak as jy uitnemendheid uitsluit! Sterkte.

    • Ongelukkig val jy vir die ANC-narratief dat Afrikaans ten koste van ander tale bevoordeel word. Afrikaans het reeds instellings wat dit as taalmedium gebruik. Hoekom moet Afrikaans afgeskaf word omdat die regering gefaal het in sy plig teenoor ander moedertale in SA? Deur net toe te gee en saam te stem is jy juis besig om nie net Afrikaans te ondermyn nie, maar ook ander etniese groepe se regop die ontwikkeling en handhawing van hul taal. Dit verbaas my dat ons akademiese room so kortsigtig is; seker maar die geld wat praat ...

    • Sjoe, hierdie eksklusiewe aanspraak op "insig" betaam nie `n wetenskaplike en navorser nie. As jy nie met my saamstem nie, het jy nie insig nie ... Regtig?

  • Chris de Lange

    Presies hoe ek voel. Ek het 'n sterk-bewoorde brief aan die rektor geskryf en steeds geen erkenning van ontvangs gekry nie! Dit skrei ten hemele! Laat ek my liewer nie uitlaat oor die uitlatings van hierdie man ten opsigte van onderwys nie! Die verstand swymel. Ongekend, ongehoord! Nou Afrikaans! Ek het dit ook baie duidelik gemaak dat ek alle bande met die 'UOVS' verbreek en sal nie weer 'n sent bydra nie, en BASTA!

  • danie myburgh

    Ek het hierdie brief met dankbaarheid gelees. Ek sou hoop dit gaan 'n uitwerking hê, maar twyfel of dit sal gebeur.

  • Anargie, wetteloosheid en onreg teenoor alle Suid-Afrikaners word so gepleeg, want die poste van die hooggeplaastes is in gedrang as hulle nie gehoor gee aan die politieke partye nie. Wat het geword van die stemming op die kampus oor Afrikaans?
    Volgens my bronne was daar maar net 37% van die mense wat teen Afrikaans gestem het. Die stert swaai nou die hond. EK IS ’N AFRIKANER, NIE ’N BLANKE OF SWART OF GEKLEURD NIE. Ek is in die land gebore en sal hier doodgaan . Ek verneem dat Afrikaans die taal van die onderdrukker is. Wys net hoe oningelig is die die spul. Afrikaans is in die land gebore en groot gemaak. Gaan kyk bietjie deur die geskiedenis, julle wat so teen Afrikaans is. Die onderdrukker het op 'n keer gesê die son sal nooit ondergaan oor die mense wat Engels praat nie. Half geskool en baie gevaarlik!

  • Pierre de Villiers

    Dit is baie braaf, maar ongelukkig staan `n inkomste in die pad van die oorgrote meerderheid.

  • Casper Lötter

    Ek is ook ’n leek soos Marianne de Swardt en toe ek die brief lees was ek hartseer dat ons nog kundigheid verloor. Julian slaan ook die spyker op die kop! Ons "gewone" Afrikaanssprekendes het mense nodig om namens ons te praat en as almal nou tou opgooi, wie verteenwoordig ons wonderlike taal wat vinniger ontwikkel as enige ander taal in die wêreld? Dankie aan almal wat vir dit staan en ek vra ook dat Heinrich Matthee sy besluit heroorweeg! Die omstandighede en alles daarmee word skitterend uiteengesit en ek is seker almal is daaroor eens.

  • Hensie Engelbrecht

    Ek is keelvol vir hierdie gemors! Daar word al in die rondte gehoeha deur akademici en politici rondom die gebruik van Afrikaans in tradisioneel Afrikaanse universiteite. Hoekom? Hoekom moet Afrikaans knaend in ‘n stryd gewikkel wees? Vra bietjie die slim manne, hoekom enige taal in die wêreld, enige plek in die wêreld gebesig mag word, maar Afrikaans slegs met voorbehoud? Hoekom is dit dieselfde mense, (in baie gevalle) wat die ontstaan van Afrikaans vir hulself as slawetaal en arbeidertaal wil toe-eien, wat dieselfde Afrikaans as moderne onderrigtaal wil stop! Hoekom word Afrikaanssprekendes nou vir al wat sleg is uitgekryt? Dan moet ons nog help om ander ampstale te ontwikkel! Ons het ons eie taal ontwikkel en bevorder deur manne soos SJ du Toit, CP Hoogenhout, CJ Langenhoven en honderdtalle digters en skrywers en taalgeleerdes! Hulle het ook niks gehad nie, maar hulle het deurgedruk! Laat mnr Zoeloe, Pedi, Sotho en alle ander inheemse taalsprekers nou self hul tale ontwikkel, stories skryf, gedigte skryf of die taal laat sterf! Verdermeer is Afrikaanse Universiteite deur Afrikaanssprekendes ontwikkel, maar nou moet ons dit prysgee! Dis nou om vir Oxford of Cambridge te sê ons gaan voortaan onderrig in Spaans gee, bid jou aan! Hoekom is dit dan ’n sonde as ons Afrikaans wil praat in Bloemfontein of Stellenbosch? Ek nooi jou in my huis in, wees gasvry en dan brand jy my bakkie en jaag my uit my eie huis uit? En dan is daar nog diegene wat die absurditeit wil regverdig! Komaan ...

  • Martin Bannister

    Baie dankie dat u bereid is op te staan vir Afrikaans en in besonder vir ons Afrikaanse Afrikaner. Ons is trots op u. Moenie 'n antwoord verwag nie!

  • Pieter Barendse Botha

    Die probleem is maklik oplosbaar! Die probleem moes al 200 jaar gelede opgelos gewees het! Engels as enigste amptelike taal vir Suid Afrika! Na Matriek ... Engels by alle naskoolse opleiding ... Hierdie land beskik nie oor die middele om so baie tale amptelik te akkommodeer nie! Ander tale moet maar beskou word as kulturele tale. Die Afrikaans wat hedendaags op straat en oor die radio gehoor word is in alle geval 'n vorm van "AFRIGALO ". Kom ons fokus eerder op produktiwiteit, ekonomiese ontwikkeling en integriteit ... Dit sal tyd beter gespandeer wees. Soos dit is, soek ek al 60 jaar om uit te vind waar die "AFRIKANER" is waarmee ek behoort te assosieer! Ek voel meer tuis en funksioneer in alle geval beter in gemengde gemeenskappe!

  • Die bestuur van voormalige Afrikaanse universiteite is oorgeneem deur bestuurders/masjiniste met 'n eenrigtingkaartjie en padkaart na 'n uitsluitlik Engelse bestemming, sonder dat die meeste passasiers dit weet of moet agterkom.
    Eers word die personeel gesuiwer van andersdenkendes met 'n liefde vir “die taal van die onderdrukker." Nuwe personeel moet verkieslik eentalig Engels wees en bestaande personeel moet ten minste saamstem dat Afrikaans op tersiêre vlak geen bestaansreg meer het nie. Wys my net een jong dosent wat dit sal waag om hom/haar in die openbaar ten gunste van Afrikaans uit te spreek by US of UOVS? Nee, want dit sal loopbaanvernietigend wees. Mense soos Sonja Loots en Joan Hambidge kan gelukkig namens Afrikaanse dosente vanuit Engelse universiteite hul vryheid van spraak beoefen as kampvegters vir die behoud van Afrikaans as akademiese taal.
    Die meeste lede op die raad kom uit hierdie kliek van handgekeurde karperde op die personeel en in die administrasie van die universiteit. Dit is soos 'n skoolbeheerliggaam waarvan die meerderheid kom uit die personeel en werknemers. Die paar ouers wat verkies is word gereduseer tot toeskouers want almal in diens van die skool vorm 'n blokstem soos 'n politieke party. Hierdie ongesonde situasie vir Afrikaans op bestuursvlak is bykans onomkeerbaar. Die bestuur weet dit en daarom steur hul hul nie aan hofinterdikte nie, want hul gaan eenvoudig hul invloed op die raad gebruik om die beleid algaande "buigsamer en buigsamer" te maak. Die doelpale word stelselmatig verskuif en hul stoomroller besluite deur wat hul voor hul siele weet verkeerd is en waarvoor hul te skaam is om in die hof oor te getuig. Hul het nie eens 'n swak argument om hul besluit te probeer regverdig nie - swak Piketberg! Ek wonder hoe slaap party van hierdie mense saans nadat hul die oggend se koerant gelees het?
    Terselfdertyd word daar by voormalige Afrikaanse universiteite met aansoeke en beurse voorkeur aan Engelse studente en buitelandse studente gegee. Meriete en agtergeblewe Afrikaanse studente suig aan die agterspeen en hul getalle daal gevolglik stelselmatig tot verdere voordeel van groot getalle voorheen bevoorregte Engelse studente uit ander provinsies en die suidelike voorstede. Nou begin studente, wat gekeur is by of met beurse gelok is na 'n universiteit waar die handboek sê die kursus word in Afrikaans aangebied, terwyl hul nie 'n woord Afrikaans kan praat nie, aandring op Engelse lesings, want hul voel kwansuis "uitgesluit". Lesingmateriaal en voorgeskrewe boeke is doelbewus oorwegend Engels. Daar word geen daadwerklike pogings aangewend om Afrikaans en Engels op gelyke voet te laat voortbestaan nie. As iemand nie weet wat aan die agterspeen suig beteken nie, kom kyk wat hooggeleerdes maak met die berekende ondervoeding van Afrikaans op Stellenbosch – ’n oulike klein bonsai-taaltjie.
    So hol die bestuur soos rooirysmiere ongesiens die universiteit van binne af uit, totdat dit, wanneer dit reeds te laat is, uiteindelik sommer vanself omval/omskakel na 'n eentalige Engelse universiteit soos die UOVS so pas met 'n groot meerderheid in die raad besluit het. Dubbelpratery, beloftes en paaiery is aan die orde van die dag. Hul sê een ding voor die Konvokasie maar "meanwhile back at the ranch it is business as usual." Die massas moet net lank genoeg 'n rat voor die oë gedraai word, sodat die uitholwerk afgehandel kan word en siedaar die kulkunstoertjie is 'n reuse sukses - "mission accomplished" - die laaste Afrikaanse akkerboom val in Merrimanlaan!
    Voordat die balans in die raad nie herstel gaan word nie, sodat die mense wat glo dat Afrikaans 'n bestaansreg op universiteit het daarop verteenwoordig word in ooreenstemming met die wesentlike behoefte daarvoor, sal die Colonial Express met rooineus-lokomotief voortstoom en sy imperiale bestemming genaamd "Stellies" fluit-fluit bereik.
    Die voorbok met die groot rooi klok, bepaal mos gewoonlik die rigting waarin die trop al blêrende volg. Ek wonder tot vandag toe wat die boerbokboer besiel het om juis hierdie Amerikaanse bokrammetjie op die veiling te loop koop, want selfs vir 'n dom boer soos ek is dit duidelik dat hierdie boer nie eens meer gedeeltelik met boerbokke wil boer nie.
    As prof Wim de Villiers of prof Jonathan Jansen eendag sou beweer verengelsing van Stellenbosch en UOVS was nooit hul bedoeling nie, gaan ek hul ironies genoeg, vriendelik verwys na die Amerikaner Martin Luther King Jr wat gesê het: "Nothing in all the world is more dangerous than sincere ignorance and conscientious stupidity."

  • Pierre de Villiers

    Ek het vanoggend `n lekker gesprek met `n Engels/Xhosa-sprekende vrou en haar ma gehad. Dit verwyder geweldig baie wanpersepsies van mekaar. Sy en haar ma het Zuma byvoorbeeld "insane" genoem. Sy maak toe `n baie belangrike en insiggewende stelling.
    Musi sou `n goeie president wees, sou hy `n ANC lid wees. Die ANC sou baie goed doen, met hom as president. Dit laat `n mens nogal dink.
    Wat die taalkwessie betref, vra ek myself die vraag, is swart mense dan skaam om te baklei vir hul taal? Julle moet by die Franse gaan leer!
    Ongelukkig is dit so dat Engels seker die grootste taal in die wêreld is; dus is ouers bang hul kinders bly agter indien hulle nie Engels magtig is nie.

  • Meinhard Peters

    Ek het Heinrich se ingrypende stap en sy openbare protes besonder waardeer; die klok lui vir Afrikaans by al die instellings wat vir ons Afrikaners se hoër-onderwys met groot opofferings gestig en gebou is. Lees gerus maar weer die geskiedenis van die PU vir CHO, die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van Pretoria - en van die taamlik vergete Randse Afrikaanse Universiteit. Ek het persoonlik gesien hoe die RAU na 1994 verengels het, en hoe vinnig het dit nie gebeur nie! Heinrich se oproep is vir eie instellings - maw nuwe opleidingsbronne. Dit gaan BAIE verg; maar dit is onvermydelik. Myns insiens beweeg ons gans te stadig in daardie rigting. Dit is asof die proses van kondisionering oor die afgelope dekades mense verlam het. Hulle dink steeds aan die een of ander onderhandelde ooreenkoms; maar as die demografie van jou kampus 'n sekere punt bereik het gaan onderhandeling dit nie regstel nie. Ons het weer nugter koppe en manne van die daad nodig. Hoeveel kundiges sit nie tuis en smag om weer wetenskaplike werk te verrig en om sinvolle lesings in jou eie taal aan te bied nie. As lektor was ek die afgelope jare in die pynlike posisie dat ek SLEGS in Engels moes doseer - geen keuse toegelaat nie. En die arme paar Afrikaanse studente in die klas moes maar meedoen. Gelukkig kan ons darem nou beter Engels praat as die meeste rugby-kapteins!

  • Ferina Visser

    Soos alreeds gesê, mens pyn en bid in jou moedertaal.Onaanvaarbaar dat Afrikaans negeer word na `n gestigmatiseerde taal, by implikasie die identiteit, kultuur asook die afkoms van die mense wat Afrikaans besig. Niks kom maklik wat werklik iets beteken nie – so ook Afrikaans en dit wat met Afrikaans verband hou. Die intensie dat Engels bo Afrikaans as onderrigmedium ingespan word het veel meer bose plannetjies as wat dit op die oog af lyk. Dankie Heinrich!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top