Op soek na die vuurtoring

  • 2

 

Fotobron: commons.wikimedia.org

  • Dorette Bester is in graad 11 en deel hierdie kortverhaal met LitNet.

Dis ‘n stormagtige, donker nag waaroor die matrose en slawe van die vorige eeu so sing. Donker wolke drom saam soos ongenooide gaste om ‘n etenstafel, wat vanaand donkerblou gedek is. Die Kaapse Vlakte is die winde se sitplek, lastige reëndruppels hul wyn en ‘n onbekende môre, die gereg wat voorgesit word. Die einste wind suis om die pas se draai en ruk-ruk met tye aan die Volksie en die brose hart. Steeds draai ek vasbeslote nie af van hierdie moeilike pad nie. Ek het ‘n belofte gemaak om nie af te draai voordat ek die vuurtoring sien nie.

Gebroke drome het my vanaand uit die slaap gehou. Ek het die gastehuis verlaat, in ‘n registrasielose motortjie geklim en die GPS van herinneringe gevolg. Hierdie toestel het my in ‘n eentonige stem beveel om af te draai van die N1 en ‘n grondpaadjie aan te durf.

Dié pad was vol klippe, gate en ek moes gereeld uitswaai vir verskrikte oë wat myne weerspieël in die skemerlig. Die grondpad laat my verby wynplase, droë velde en afgeleë gebiede ry. Die pad se kinkels en draaie vertel van brawe mans uit Europa wat self hierdie paaie getrotseer het. In my verbeelding gewaar ek inheemse stamme besig om te jag om hul families om die vure aan die lewe te hou. Vandag het hierdie eensame paadjie net een doel om te dien, dit is ‘n uitkoms vir verlore siele. Ek skakel die radio, wat sukkel om sein te vind, stadig af en luister na onrustige sonbesies en motorbande wat ploeg deur die sand. Die laaste geluide van nog ‘n dag sukkel-sukkel om in harmonie saam te kom. Hier en daar is ‘n ou plaashuis se lig, wat my laat verbeel ek sien méér as net kerslig.

Die toekoms kom gryp my hand en trap die brandstofpedaal harder soos die son finaal sy laaste asem van lig uitblaas. Soos dit donkerder word, word die toneel voor my mooier met sterre as versierings om my. Die see, verlore skepe se ligte en sy gesig verskyn op die verhoog van die horison.

Ek onthou die dag toe ‘n skip op die horison beloftes kom maak het van groener weivelde. Daardie einste skip het my droomman afgerokkel en hom uitgevoer soos ‘n waardevole grondstof na Engeland. Ek het hom daardie dag verruil vir die eensame hoekies van die Kaap, omdat sy spook op elke blok van ons ou tuistedorpie gestaan en kitaar speel het. ‘n Skielike afdraende ruk my uit die verlede, ek trap anstig die remme, maar niks kan tyd stadiger laat verbygaan as verlange nie. Uit die hoek van my oog kan ek sien hoe my foon flikker van bekommerde boodskappe. Hulle vrees dat,  na drie maande van eensaamheid en verdriet, ek iets waansinnigs sal aanvang.

Ek het reeds my werk bedank, my weggeskeur van alle vriendekringe en my huis met verantwoordelikhede agtergelos. Want na drie maande is ek vermis, reis van een hotel na die volgende en kan uiteindelike gedefinieer word as ‘n vrygees. As hul maar net kon verstaan waarna ek op soek is …

Skaduwees van verbleikte naamborde, vreemdelinge met geskeurde klere en leë wegneemetehouers is orals om my in die parkeerarea. Maar vir eens in my lewe gee ek nie ‘n duit om oor voorkoms nie. Vir eens was dit nie oor hoe dit lyk nie, maar oor hoe dit my laat voel. Die reusagtige vuurtoring staan voor my, vas en stewig op die aarde. Ek kan my blydskap nie meer verder inhou nie, in een beweging verlaat ek die motor en volg die trappies wat kraak onder my voete na bo. ‘n Ou geroeste reëling help my lamlendige liggaam balanseer. Ek voel die lig naderkom, soos ek die donkerte agter my voel wegkwyn en uiteindelik is daar geen omdraaikans meer nie.

Bo-in die vuurtoring is daar ‘n waarskuwende deur, maar vanaand is hy sonder slot en wawyd oop. Hy nooi dié met ‘n gebroke hart in, op soek na ‘n stukkie hoop. Ek voel hoe die skerp, gerusstellende lig van ‘n antieke vuurtoring die lewe weer verlig. Soos ‘n benoude kaptein eeue terug op soek was na die konstante patroon van die vuurtoring se lig is ek op soek na my eie redding. Iets om my te verseker ek is nie te naby aan die lewensbedreigende rotse nie, maar terselfdertyd naby genoeg aan die bekende land. Soos ek langs die lig staan, kyk ek uit op die donker horison en hemelruim wat vanaand my minder alleen laat voel. Daar oor die vertes sien ek vir die laaste keer weer daardie skip terugkeer na die Kaap. Wanneer ek my oë vinnig toemaak sien ek hom op die dek staan, op soek na die vuurtoring …

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top