Op pad deur Dana Snyman: ’n lesersindruk

  • 3

Op pad
Dana Snyman
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624077176

Op die flapteks word dit beskryf as “Dana se eerlikste boek nog”. Eerlikheid. Dit is wat van Snyman so ’n treffer maak. Eerlikheid in ’n wêreld waar mense nie meer sommer maklik vertrou nie. En met goeie rede. ʼn Wêreld wat maar te dikwels na plastiek voel. ʼn Wêreld waar alles ’n kommoditeit is. Waar alles geoudit word. En waar alles ʼn prys het. En dit het aand geword, en dit het môre geword, en daar was Dana Snyman.

ʼn Mens kan beswaarlik Snyman se lof genoeg besing. Dit is al genoeg kere tevore gedoen. Sal ek dan nou weer probeer? Wat sal my poging beter wees as al die voriges?

Sy skryfwerk is maar net ’n resep – sê sy kritici. Hy het dit maar teen die “ou Suid-Afrika”. Hy bou sy skryfwerk op kritiek teen sy vader.

Maar of dit nou ’n resep is of nie, sy aanhangers kry daarvan nie genoeg nie. En daarby sluit ek myself in. Snyman se beskrywinge simboliseer toeganklikheid, nie net maar in die taal nie, maar ook in die karakters. Dit is dinge waarmee al die gewone mense kan assosieer, in ’n taal waarmee gewone mense kan assosieer.

Dit is die kombinasie van liefde vir en ontnugtering met Suid-Afrika wat my, en ek vermoed baie ander lesers, vasgenael hou. Snyman skryf wat baie van ons graag sal wil sê, maar nie self kan nie.

Op pad is die resultaat van ’n reisprogram wat Snyman vir die televisie gemaak het. Dis nie ’n program wat ek gesien het nie, en daarom kan ek nie vergelykings tref nie. Ek kan die boek slegs maar vergelyk met sy vorige boeke, waarvan ek die meeste gelees het.

Ís Op pad Dana Snyman se “eerlikste boek nog”? Ek self sou wegbly van beskrywings soos “die beste” dit en “die eerlikste” dat. Snyman reis in Op pad weer wyd deur Suid-Afrika. Hy lê weer besoek af by Nkandla, jare later. Hy besoek Orania, kuier by Frik du Preez en Vleis Visagie. Hy openbaar sy interessante belangstelling in gebed: iets wat hy, volgens sy eie bekentenis, probeer wegsteek van sommige vriende (miskien is dit die rede hoekom dit as sy ‘eerlikste’ boek beskryf word?). Daar is die agteruitgang en ontnugtering aan die een kant, en aan die ander kant die hoop vir Suid-Afrika. Dit is die stapelkos van Op pad. Snyman skryf soos gewoonlik weer empaties oor die armoede in die land, wat ons soos ’n wurggreep vashou, en waaruit ons maar net nie kan wegbreek nie. Die hele toon van die boek word reeds aan die begin vergestalt, deur Snyman se bemoeienis met ’n weerlose rondloperhond, wat verder ontbloot word in sy empatie met weerlose mense, soos die seun met die onpaar skoene.

Op pad se teks word aangevul met foto’s, en die boek bevestig opnuut hoekom so baie mense nie genoeg kan kry van Snyman se skryfwerk nie. ’n Mens kan maar net die hoop uitspreek dat daar nóg boeke uit sy pen sal volg.

  • 3

Kommentaar

  • Stem saam met die resensie. Dana is ongenadiglik eerlik in sy skryfwerk.
    Op pad met Dana gaan op plekke waar ons vermy en vlek dit oop tot die been. Hy sal nooit 'n suksesvolle politikus kan wees nie.

  • Gustaf Claassens

    Dana se sukses lê dalk (wie weet regtig) in sy eenvoud. Jy ervaar 'n soort 'kwesbaar' menslike opregtheid en eerlikheid; karaktertrekke wat weerkaatsing in sy skryfspore vind en dan 'vlerke' kry. Aansitterigheid, grootdoenerigheid en beterweterigheid is nie pyle in sy koker nie. Vandaar die magnetisme wat anderse (opponerende) "pole" om hom nader kan trek en empaties goed oor hulself laat voel.

    Daar's nie baie sulkes nie. Mense sien hom as lid van die familie (die soort wat jy wil hê!) wat nie drumpels deurtrap nie of selde ooit in hul huise kom. Solank mens net weet hy's daar en so af en toe van hom laat hoor, is goed genoeg.

    Hy's soort van 'n "Lady Diana" hier by ons ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top