Op ’n skemeraand so koel soos trane

Op ’n skemeraand so koel soos trane

Op ’n skemeraand so koel soos trane
Het ek ’n sjef in Langstraat, Sandbaai raakgeloop.
Die lug was skilferkorsdeeg,
Die son ’n bleek pastei oor die melkerige see.

Haar gesig was goedhartig, ’n stoel by ’n vuur,
Haar lyf nou slank: chef de partie op dieet.
“Hoe gaan dit?” het sy in die loop gevra. “Ek onthou jou van toe jy só oud was.”
Toe sy sonwaarts kyk, het ander aande in haar oë geflits.
Haar tande het aandag gekort.
Ek was bewus van jare.

Sy het vertel van hierdie kombuis en daardie restaurant,
Nie van die mans wat daar sekerlik moet gewees het nie.
Ek het gewonder of ek iets kon aflei uit haar haas,
Uit die bakkie lasagne in haar hande.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top