Op my duimnael
Van die redakteur: 30.01.08

  • 0

Ek beveel aan

Click and buy!

Die onpretensieuse lekkerleesroman The Kite Runner deur Khaled Hosseini (Bloomsbury).

Hoekom? Afghanistan van binne, en die boek lees soos die wind. As jy hom nog nie gelees het nie, kry hom nou.

 

’n Gedagte

Anderdag pols ’n onderhoudvoerder van kykNet Pieter-Dirk Uys ligweg oor Uys se voetwerk tydens die Apartheidsera. Uys vertel hoe hy soms onder skuilname protes aangeteken het teen sy eie produksies by die Sensuurraad, waarin sy eie pa ook gedien het. Op verskillende soorte briefpapier. Wanneer hulle meer as twee klagtes ontvang, móét hulle ondersoek instel, vertel Uys. So woon hulle sy produksies by. En kry hy as dissident ’n brander publisiteit. Hy vertel ook van ’n ete-uitnodiging na Piet Koornhof se huis. Koornhof is in dié tyd minister in die kabinet en dikwels die slagoffer van Uys se satire.

Die komplekse verhouding tussen die kunstenaar en die destydse regering en establishment blyk duidelik uit die gesprek.

Onlangs stry koerantmanne en -lesers oor die aandeel van Naspers se koerantredakteurs aan die val van Apartheid. Sommiges meen hulle’t van binne protes aangeteken en die weg vir verandering só berei, maar ander voel dat hierdie redakteurs se arbeid nooit die slaankrag van ’n Max du Preez se Vrye Weekblad gehad het nie - hulle was maar die regime se skoothondjies.

Ons hoor ook anderdag nog ’n klagte dat die Voëlvrybeweging nie genoeg erkenning by geskiedskrywers kry nie. Die beweging het immers ’n groot bydrae gelewer om Apartheid tot ’n val te bring, word gesê.

Voorspelling: vir geruime dekades gaan mense nog stry oor die kwaliteit van verskillende rolspelers se verset teen Apartheid. Wie kry vyf sterre en wie net twee?

Min word egter gesê oor die rol van skrywers. Het Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena en André P Brink se Kennis van die Aand bygedra tot die val van Apartheid?

Of was dié boeke maar bloot melktert op die volksbasaar?

Moes Elsa Joubert eerder by die assegaai van die nasie aangesluit en André Brink “Bring my masjiengeweer” op ’n Skrywersgildevergadering gesing het?

Anders gestel: Wat verwag ’n gemeenskap van sy skrywers en kunstenaars? Hoe lyk protes, en het ’n land ooit genoeg daarvan? Hoeveel gedaantes het protes? Hoe lyk containment, oftewel die kompromieë wat kunstenaars aangaan met mag?

Dis klaarblyklik vrae wat al meer gaan opduik in onse land.

En dis goed om te onthou dat skrywers in die vorige era luidkeels en effektief protes aangeteken het. Die pen was in baie gevalle net so magtig soos die swaard. Dit sal weer gebeur. En dis goed so.

Lees vandeesweek se kortverhaal deur grootmeester Abraham H de Vries. Die naam van die verhaal is – reg geraai – “Woede”. Bedink sy slot mooi. En kyk sommer tegelykertyd na Andries Sela Moord-en-Roof Bezuidenhout se nuwe gedig, “Aankoms by Berghuis”. Rondom dieselfde tema lewer Koos Kombuis iets wat na ’n intreerede lyk.

 

LitNet-nuus

LitNet neem vandeesweek afskeid van Sharon Jenkings wat die afgelope vier jaar by LitNet was en nou die mediawêreld verlaat. Hierdie foto is by LitNet se Krismisete in Desember 2007 geneem. Saam met my, van links na regs, sit die nooitvolpreses wat LitNet se enjinkamer laat stoom: Naomi Bruwer, Melt Myburgh, Ronel Terblanche en Sharon Jenkings.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top