Op my duimnael
Van die redakteur: 27.03.08

  • 0

Ek beveel aan

André P Brink se Ander lewens (Human & Rousseau)

Want: Brink is een van die groot figure van ons kritiek, ons prosa en ons kultuur. Hy wil maar net nie gaan lê nie. En die generasie skrywers ná hom – mense soos Koos Prinsloo, byvoorbeeld – het baie aan hom te danke. Ook veral aan die manier waarop hy teoretiese dinkwerk na ons literêre lewe gebring het.

 

’n Gedagte

“Smart career move,” is al gesê oor ’n jong kunstenaar wat vroeg oorlede is en, soos dikwels in sulke gevalle gebeur, daarna kultusstatus verwerf.

Met sy onheilige humorsin sou Koos Prinsloo hierdie opmerking sekerlik waardeer het. Ek hoor sy skeptiese hoonlaggie langs my terwyl ek hier sit en skryf.

Ter viering van die heruitgawe van sy kortverhale deur Human & Rousseau bied LitNet in die volgende weke ’n klein miniseminaar aan oor hierdie vroeggestorwe skrywer.

Prinsloo se oeuvre sal altyd gekoppel wees aan die jare tagtig van die vorige eeu, daardie tyd van traangas en verset, militarisasie en PW Botha se wysvinger. Dis ’n dekade wat deur sterk hale afgeskilder word in die kortverhaaloplewing wat Afrikaans in daardie jare beleef het, onder meer in die werk van die beoefenaars van ’n soort Suid-Afrikaanse new journalism, die skrywers van wat Elsa Joubert destyds grensliteratuur genoem het.

Prinsloo se skryfwerk het vertelstrategieë wat ouer skrywers soos André P Brink, Hennie Aucamp en Abraham H de Vries reeds vroeër in hul boeke verken het, verder geneem en geradikaliseer. Miskien kyk ons eendag terug en beskryf die manier van kyk wat ons nou postmodernisme noem, eerder as laat-modernisme. Maar dat Prinsloo postmodernisties geradikaliseer het aan die skeptisisme en modernistiese relatiwiteitsbewussyn van byvoorbeeld die Viëtnam-oorlog se new journalists is seker. Hy’t daardie sin vir die relatiewe, vir die waarde van die eie, subjektiewe siening (eye-fiction) gevoer tot by ’n uiterste van relativering en desperaatheid, tot verby die linguistic turn, daar waar alle vertroue in taal verloor word en die skrywer hom desnieteenstaande tóg aanhoudend tot taal moet wend.

Sy skryfwerk, intens en kompleks, het nie juis gereis nie; sy kortverhaalbundel in Nederland het – om literêre-agent-taal te gebruik - nie gevlieg nie, want in baie opsigte was hy ’n Suid-Afrikaanse skrywer wat op desperate wyse die spesifieke probleme van sy generasie in hierdie land in tekste uitgedruk het.

Hy’t klaarblyklik baie teoreties oor sy genre gedink, en het op ’n stadium in ’n koertantonderhoud aanbeveel dat die joernalis ’n akademiese studie oor die prosa van die postmodernisme moet lees voordat hy sy kortverhale probeer verstaan.

Ligvoets kon ’n skrywer in daardie jare nie by Suid-Afrika uitstap nie.

As jy dus die jare tagtig wil begryp, daardie drukkoker-tyd net voor die onderhandelinge van die jare negentig wat uiteindelik tot die nuwe bestel in Suid-Afrika gelei het, moet jy Koos Prinsloo lees. Veral as jy Afrikaans is. Dis alles daar: die por aan en oorskryding van die grens tussen wat mense graag waarheid en versinsel noem, die werklike skrywer wat in allerlei gedaantes in sy eie stories opduik en jou vrae laat vra oor die aard van historie en storie, die spanninge tussen woord en wêreld, die opstand teen en terselfdertyd oedipale verbondenheid aan die vader en die oupa, die skrywer as kontrahistoriograaf, die gay-diskoers wat uitdagend inskryf teen stiksienighede … dis als gestol in die gemoed van die jongman-karakter in Prinsloo se verhale.

’n Onhebbelike, meedoënlose oeuvre, en Human & Rousseau se versameling met die eenvoudige titel Verhale is ’n boek wat ’n stuk geesteslewe boekstaaf wat nie altyd aangenaam is om te aanskou nie. By Prinsloo is alles onstabiel, alles wankel: die lyf, die woord, die wêreld, die “geskiedenis”.

Maar dat hy sy tye meesterlik vasgevat het, staan vas.

En daarom verdien hy sy kultusstatus en sal sy oeuvre nog vir lank deur dosente voorgehou kan word as ’n teksboek van die tye.

Dit maak sy “smart career move” des te hartseerder, want: wat sou hy nie nog kon skrywe as hy bly leef het nie?

Of was hy te eie aan sy tyd, te vasgevang in sy stryd teen die patriargie en stabiele opvattinge oor die verhouding tussen taal en wêreld om uit te groei na dít wat deesdae al meer sentraal staan in die boekewêreld: storie?

LitNet-nuus

Gedagtig aan die Prinsloo-oeuvre se gesprek met sy literêre voorgangers waarna hier bo verwys is, kan julle gerus gaan kyk na IL de Villiers en Joan Hambidge se gesprek rondom, onder meer, De Villiers nuwe digbundel, Vervreemdeling. As Brink ’n romansier is wat weier om te gaan lê en sy kritici oorleef het, is Izak de Villiers ’n dominee wat hardnekkig teen die noordewind instap. Gaan lees maar daardie gedig “Droom van Chicago” van hom; dit word volledig in die onderhoud met Hambidge afgedruk. Sterk!

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top