Op my duimnael
Van die redakteur: 15.05.08

  • 0

Ek beveel aan

Die Durbanse advokaat Chris Marnewick se Shepherds and butchers (Umuzi)

Hoekom? Dis eerstens ’n unputdownable storie oor halsmisdade en die effek van hierdie dade op slagoffers. Maar dit gaan veral oor wat gebeur wanneer die skuldiges gestraf word en die brutaliserende gevolge wat teregstellings op bewaarders het. Die slagter én die wagter se voete gee onder hulle mee in hierdie verhaal wat jou tot in die galgkamer en die “put” neem.

Maar die boek loop verder as die voor-die-hand-liggende doodstrafkwessie wat daardeur geopper word. Die boek het my om ander redes ook geboei. Ek het hom een mistige Sondagoggend opgeneem, vuur gemaak, my worshond Abel in ’n kombers op my skoot toegewoel, en die verhaal in een dag verslind. Dit het my teruggeneem na my dae toe ek in die kriminele howe moes optree, voordat ek die regsberoep vir die republiek van die lettere verruil het. Die boek het my weer eens “enamour” - is daar ’n toepaslike Afrikaanse ekwivalent? - tot die hoflewe, in hierdie boek spesifiek die advokatuur. Ek kon weer die hof ruik, die toga op my skouers voel, en het teruggedink aan die risiko van litigasie, maar daarmee saam die inburgering in die tradisieryke konvensies van die professie …

Ieder geval, hierdie boek het murg in sy pype. Lees hom, want hy reik wyd. Etiese kwessies oor die doodstraf kom ter sprake, maar ook die impak van onderdrukkende stelsels op die gewone manne en vroue wat die ratte van die masjien aan die loop hou. Spesifiek die Afrikanerman wat deel was van die hele spul.

Dus: die doodstrafdebat teen ’n sosiohistoriese agtergrond. Of skerper gestel: ’n boeiende verkenning van die psige van die onderdrukker-as-slagoffer. Die wagter wat sy eie slagter word.

’n Gedagte

LitNet sluit aan by die skuif van me-dia na we-dia en loods nou ’n blogs-platform.

Dit beteken dat SêNet, ons brieweruimte met vuurwarm debatte, nou ’n woelige sussa gaan kry, naamlik LitNet-blogs.

LitNet-blogs sal op 24.com se blogsplatform loop, maar sal ontwerpgewys die LitNet-handelsmerk dra en geïntegreer word by die inhoud op LitNet se verskillende ruimtes.

Ons het bekendes nadergehark om die platform te loods. Die gewilde TV-sjef Sonia Cabano gaan haar voorskoot vasbind en laat waai. Oudambassadeur Carl Niehaus sal as shock-jock ’n nuwe rol vind as ervare politieke kommentator. Oudredakteur van Sarie en Rapport, IL de Villiers, sal met sy insigte kom; so ook digter Diana Ferrus, romansier Eben Venter en kortverhaalskrywer Izak de Vries.

Bloggers kan in die kategorie van hul keuse blog, byvoorbeeld Politiek, Spiritueel, Boeke, Skrywers, Kos & Wyn, Sport, Stout, Boek, Film & Teater en Algemeen.

Ek hoop dat veral die Afrikaanse gesprek deur LitNet se blogs gestimuleer sal word. Dit sal interessant wees om die ontwikkelende verhouding tussen LitNet-blogs en LitNet se ander ruimtes dop te hou.

Melt Myburgh, SêNet se webmeester, sal as konvenor van LitNet-blogs optree. Hy sal in beheer wees van die vet pryse wat LitNet aan sy bloggers gaan gee: weekliks sal eerste (R1 000), tweede (R500) en derde pryse (R300) toegeken word vir die blogs wat die meeste verkeer trek. Dit kan beteken dat die voorste bloggers maandeliks ’n aardige bedraggie verdien.

Die loodsing van LitNet se blogs volg op ’n bespreking op LitNet se Facebook-ruimte waar mense soos Herman Wasserman, Al Lovejoy, Chris Brunette en Vicky Scholtz reeds hul menings gegee het oor die wenslikheid al dan nie van ’n LitNet-blogplatform. Hul menings volg nadat ek die volgende vraag gevra het: “As redakteur van LitNet wonder ek of die LitNet-gemeenskap blogs op LitNet verantwoordelik gaan hanteer, of gaan ons 'n klomp mal bloggers op ons hande kry sodra ons met 'n blogplatform begin?” Hul kundige reaksies kan hier gelees word.

LitNet-blogs sal deur streng gebruiksvoorwaardes beheer word en bloggers sal vooraf moet registreer. Vergewis jou eers van LitNet se gebruiksvoorwaardes, asook LitNet-blogs se gebruiksvoorwaardes.

Spring dan weg!

LitNet-nuus

Welkom, SonjaSy’t voete eerste by die moederskip ingeval. Sonja Badenhorst is LitNet se nuwe inhoudsbestuurder wat by inhoudsbestuurders Naomi Bruwer en Melt Myburgh aansluit in LitNet se kantoor op Stellenbosch.

Sonja beskryf haarself so:

Sonja kruip al sedert haar kinderjare gereeld in boekwinkels en biblioteke weg op klein plattelandse dorpies. Sedertdien het sy 'n honneurs in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, 'n jaar by die parlement as assistent en etlike jare in die IT-omgewing gewerk as onder andere web- en grafiese ontwerper. Na 'n paar wye draaie het sy weer haar wortels gevind by LitNet as inhoudsbestuurder. Sy kruip nog steeds soms in boekwinkels weg, maar waag dit darem af en toe buite om Stellenbosch se plaaslike musikante te ondersteun.

Ons hoop dat Sonja haar rit deur die kuberruim erg sal geniet – veral in hierdie dae dat LitNet soveel nuwe dinge aanpak.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top