Op my duimnael
Van die redakteur: 10.04.08

  • 0

Ek beveel aan

Koos Kombuis se nuwe CD, Bloedrivier. Hoe anders? Vanoggend kom lewer Koos Bloedrivier by my huis op Stellenbosch af. Onse Koos is kwaad! Wat pla hom? Luister maar na die CD. Misdaad, gebrek aan dienslewering, en Zuma!

 

Ons laat gou ’n kiekie neem.

Sy besoek neem my ver terug. In 1970 daag hy hier in dieselfde huis op en wys my sy eerste song se lirieke. As ek reg onthou:

My mother was Q9 A One
My father was Q9 A Two
They made me in a tube one day
And labelled me Q9 A Three.

Of so iets. Drie kitaardrukke het die lirieke vergesel. Ons was maar in standerd agt en proefbuisbabas was die groot nuus van die dag.

Dit was die dae van ons duimgooi- en fietstoere, waaroor ek hier drie foto’s plaas. Op die eerste ene vertrek ons van my stieftante, Susan Winshaw, se huis in Stellenbosch se Dorpstraat, La Gratitude. Op die tweede foto sit Koos agterop ’n lorrie wat ons triomfantlik verby Ashton neem. Op die derde foto gooi ek, tydens dieselfde ekspedisie, iewers in Hermanus se geweste duim.

En vanoggend, veertig jaar later, kom Koos hier aan en in dieselfde kamer van dieselfde huis as die een waarin ons destyds na Q9 A Three se lied gekyk het, gee hy sy nuwe CD aan my.

Byna vier dekades het verloop sedert daardie eerste song. Koos is vanoggend effe grieperig en gejaagd, en die nuus van die dag is nie Q 9A-proefbuisbabas nie, maar vanoggend se Die Burger-berig wat lui dat die Kombuise se huis onder diewe deurgeloop het terwyl hy in die Suid-Kaap op sy Bloedrivier-toer was.

En op sy CD is Koos kwaad. Vir misdaad. Dis asof die inbraak in sy huis ’n makabere reklamefoefie vir sy nuwe CD is. Op die CD-omslag is die voltooide Groenpuntstadion, omring deur plakkershutte. Agter doem Tafelberg, wat donker en dreigend lyk. Die aandlug is bloedrooi.

Theunis Engelbrecht skryf gloeiend oor Koos se CD en die gehalte daarvan. Ek het ook geluister en stem met LitNet se musiekghoeroe saam!

’n Gedagte

Wat my boei, is die kwessie van protes-in-musiek.

Dit laat my dink aan ’n artikel deur Ian Buruma wat ek jare gelede gelees het. Ek meen dit was in Vrij Nederland. Ek onthou die trant van die artikel redelik goed. Dalk kan een van julle dit nagaan en my reghelp as ek van die sypaadjie afval.

Buruma se argument het ongeveer só geloop: Hy wys op resente protesoptogte teen Amerikaanse betrokkenheid in Irak en sê dat hy opmerk dat die musiek wat tydens hierdie geleenthede gespeel word, die musiek van dertig jaar gelede is. Hy hoor nie hedendaagse rap nie, maar John Lennon en Bob Dylan.

Dus lyk dit op die oog af, skrywe hy, asof protesmusiek in die dae van die Viëtnamoorlog vasgesteek het. Die kultusfiguur Bob Dylan word ingespan as protessanger juis omdat daar sedert Dylan se dae geen ware proteskultuur ontstaan het nie.

Maar so eenvoudig is dit nie, gee hy toe. Die ironie is dat Dylan, die protessanger wat tot stem van sy generasie benoem is, eintlik net ’n kunstenaar wou wees. Die term protest song is ook nie een wat Dylan met geesdrif uitspreek nie. Hy wou geen spreekbuis of politikus wees nie. Dylan was eerstens musikant.

En as ek reg onthou, redeneer Buruma verder dat Dylan besef het dat jy nie noodwendig politiek hoef te praat om protes aan te teken nie. Jazz, rock of die musiek van jou era kan as musiek bevry en ontsetel en die status quo ondermyn. Vir tienduisende mense was Glen Miller se "In the mood" ’n lied van bevryding. Die Swingjugend (die Duitse jeug in die Hitler-tyd) het in die geheim na jazzmusiek geluister - dís hoe hulle hulself bemagtig het tydens die Derde Ryk. Só definieer Wikipedia hulle:

The Swing Kids (German: Swingjugend) were a group of jazz and Swing lovers in Germany of the 1930s, mainly in Hamburg (St. Pauli) and Berlin. They were composed of 14- to 18-year old boys and girls in high school, most of them middle- or upper-class students, but some apprentice workers as well. They sought the British and American way of life, defining themselves in Swing music, and opposing the National-Socialist ideology, especially the Hitlerjugend.

Ek onthou self hoe bevrydend Amerikaanse musiek in my en Koos se skooldae op Stellenbosch was: glo dit as jy wil - Percy Sledge! John Lennon, selfs Elvis Presley. En later: jazzmusiek in die Oos-Kaap tydens die struggle-jare.

En natuurlik kwaito as musiekvorm. Weer eens Wikipedia:

Kwaito was born in Soweto, one of the townships where blacks were forced to live during the time of apartheid. Similarly, kwaito has been referred to as the "sound of the ghetto", and emerged from the most economically depressed areas of South Africa. Therefore, kwaito "opened up an economic avenue for a lot of young people as well as a creative avenue".

Die Swingjugend het hulself losgedans van stiksienighede. Jazz het vóór die val van Apartheid baie mense se lywe en geeste bevry. En wat het kwaito nie vir ’n hele generasie beteken nie?

Mens sou ook kon kyk na hand-op-die-hart-De la Rey-brigades en mense wat pleit dat dit net ’n doodgewone song is. Dan moet jy vra, eerstens: Is die musikale vorm waarin die woorde gegiet is, nuut en dus ondermynend in ’n artistieke sin? Maar tweedens: Watter ritmes en tekstuur het die lied? Is die lied iets wat die status quo koggel omdat dit kreatief anders is, of omdat dit ’n opswepende, narkotiese ritme het? Waarom boei dit mense so? Juis omdat dit as erg konvensionele lied tot die massas spreek?

Onthou julle vir Vaslac Havel? Wel, daar word gesê, skryf Buruma, dat Frank Zappa en die Rolling Stones ’n groter politieke invloed op Havel gehad het as die Westerse politiek.

Maar dan maak Buruma ’n interessante punt – dis vir my die interessantste aspek van sy artikel: Lou Reed of Frank Zappa was net hip (cool in vandag se terme), sê Buruma, omdat hulle hulself nie soos politici gedra het nie. Hulle was die skeppers van ondermynende, vreeslose kuns – en dis soos hulle hulself gesien het.

En dís die soort politiek wat duur. Daar kry jy die rede vir die resente kultusstatus van Bob Dylan en die naderhark van sy stem op hedendaagse protesbyeenkomste.

 

LitNet-nuus

En juis vanoggend kla Koos by my: “Hel, maar daai Facebook-ding hou my besig!” LitNet het natuurlik pas die sprong na Facebook gegee en binne dae het ons Facebook-groep uitgegroei na meer as 200 lede. By LitNet is almal vrek besig, maar ons hoop dat daar genoeg tyd sal wees om, tussen die hier-vat-en-daar-los, lekker LitNet-nuus aan te kondig op die Facebook-platform. Sluit dus gerus aan en nooi jou vriende. Kom ons kyk waarheen hierdie nuwe fase ons lei!

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top