Op hierdie mense en dinge, dan

Op die vrou wat ’n week aan ’n gedig werk en nie in die little magazine tuiskom nie.
Op die man wat laat in die nag sy jenewer-eed aflê om die kitaar nie te versaak nie.
Op die dagdromer in die biblioteek, die skrikkerige toeris in die reisagentskap, die bysiende kantoorwerker in die filmteater.
Op die beloftes, ook die valses.
Op die deurnaggeselser, die slow dancer met die jean wat afsak, die gapende kroegmeisie.
Op die "takhaar en die stedelike boheem" wat tussen ons en die skreefoog burokraat staan.
Op die kunstenaar wat by aanskoue van ’n mededinger se sukses ’n dag in die bed moet deurbring.
Op die dosent wat die evangelie van die boek bring, al die dae van haar lewe.
Op die skrywer wat by gebrek aan inkomste sy bydrae lewenslank miskyk.
Op die skilder wat die krediet van eendag, eendag se sukses reeds uitgeleef het.
Op die gehoorlid wat die keiser se naaktheid as verfrissend beskou.
Op die grensverskuiwende ongeërgdheid, die dood van die lasteraar, op die wederopstanding van die vloeker.
Op die einde van die dae, en die einde van ons welbehae.
Op die oomblik wanneer die koors breek en die goddelikheid praat.
Op die verwagtinge.

Kommentaar

  • Adinda Vermaak

    Dankie, dankie, dankie, Jaco! Hoeveel gedigte het jy in jou laai? Oeps, ek bedoel op jou rekenaar. Kan nie wag vir nog nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top