Op grond waarvan kies die DA sy leiers?

  • 5

As die DA wel sy leiers op meriete kies ongeag velkleur, soos wat sy nuwe Wes-Kaapse leier, Bonginkosi Madikizela, beweer, sou hy en dié party se nasionale leier, Mmusi Maimane, waarskynlik nooit in hul huidige leierskapposisies binne die DA gedien het nie.

So ook sou Lindiwe Mazibuko nooit in 2011 tot parlementêre leier van die DA verkies gewees het nie.

Dié gevolgtrekking is heeltemal billik indien die DA werklik ’n beleid het wat sou sorg dat sy leiers op meriete gekies word.

Dié kleitrap-verduideliking van Madikizela volg nadat die kwessie van ras binne die DA op sy onlangse Wes-Kaapse kongres weer eens ter sprake gekom het.

Op dié kongres het Madikizela vir Lennit Max, DA-lid van die provinsiale parlement, met net 16 stemme vir die pos van Wes-Kaapse DA-leier geklop. Die tafel is nou gedek dat Madikizela die huidige premier, Helen Zille, in 2019 sal opvolg. Hy sal dan die eerste etnies swart premier van die Wes-Kaap sedert 1994 word.

Ironies genoeg is die kwessie van ras deur Maimane by die kongres ingesleep deur sy indirekte aanval op Max. In sy tirade het Maimane gesuggereer dat ’n sekere groep DA-lede (oftewel Max en sy ondersteuners) hul veldtog vir die provinsiale leierskap op die basis van ras gevoer het.

Dit was ongetwyfeld ’n doelbewuste poging van Maimane om Max se geloofwaardigheid en sy verbintenis tot nierassigheid in twyfel te trek. Maimane se aanval op Max sou daarop neerkom dat Max as ’n bruin man outomaties sou verwag dat die DA se Wes-Kaapse leier bruin moet wees omdat bruin mense in dié provinsie die meerderheid vorm.

Dit wil voorkom asof beide Madikizela en Maimane aan selektiewe geheueverlies ly.

Die verkiesing van Madikizela is reeds in ooreenstemming met ’n besluit op ’n vergadering van die DA se federale uitvoerende raad in Oktober verlede jaar dat alle partystrukture ingevolge ’n “diversiteitsplan” van tak- tot nasionale vlak teikens moet stel vir die “werwing en ontwikkeling van uitmuntende etnies swart kandidate vir openbare ampte”.

Die “verswarting” van die DA is ook in ooreenstemming met die uitslag van die 2014-verkiesing. Voor dié verkiesing was die Wes-Kaap as die DA se bakermat beskou omdat die party altyd meer stemme daar getrek het. Dié provinsie – met sy wit en bruin konserwatiewes – was dus ’n veilige hawe vir die DA.

Nie meer nie.

Die magsbalans in die party het na die noorde verskuif en het dus ’n plafon met sy wit en bruin steun bereik.

Vir die DA om polities te oorleef moet hy homself meer aanvaarbaar maak vir etnies swart mense. Maimane besef dit en daarom is die bruin en wit DA-ondersteuners nie opsigtelik deel van ’n toekomstige swartbeheerde DA en swart magspolitiek in die land nie.

Max is in alle opsigte Madikizela se senior. Hy moes skool op ’n jong ouderdom weens armoede verlaat. Hy het as plaaswerker en spoorwegwerker gewerk en moes matriek deur die pos behaal. Hy het 27 jaar diens in die polisie en het tot Wes-Kaapse polisiekommissaris gevorder en het ook as Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid gedien. Hy is ’n regsgeleerde met drie grade en ’n nasionale diploma. Max is in sy 14de jaar as parlementslid en het voorheen as Wes-Kaapse leier van die Onafhanklike Demokrate (OD) gedien.

Waarom die DA die onervare en jonge Maimane (36) in 2015 as leier verkies het, weet net Helen Zille. Die enigste rede is blykbaar om meer swart stemme te trek. Dit is nie net kortsigtig nie, maar ook onintellektueel en rassisties.

Verder onderskat die DA die intellektuele vermoëns van swart mense deur te dink hulle gaan bloot vir ’n swart gesig stem.

Op meriete moes Wilmot James vir Maimane gewen het, omdat hy ’n strategiese visie vir die DA en Suid-Afrika het. James het ook baie ervaring op verskeie vlakke van die samelewing en het ’n uitsonderlike intellek.

Madikizela se aanspraak dat die DA sy leiers op meriete ongeag velkleur verkies, is dus nie waar nie, want beide hy en Maimane is regstellende-aksie-“verkose” leiers.

  • 5

Kommentaar

  • So as dit ANC beleid is om met regstellende aksie onervare swart persone in senior posisies bo wit, bruin en Indiër-persone aan te stel, is dit ook "onintellektueel en rassisties" ??

    Jy as ANC-kader moet maar stadig met die begrip van "meriete". Jy is besig om jouself heeltemal vas te draai.

    • Goeie insiggewende opinie Jason ... ek like die term "verswarting" meer as Afrikanisme. Die bruin component binne die DA gaan ‘n tragiese ontnugtering beleef indien hulle nie nou al hul prioriteite regkry nie.

  • Petru Terblanche

    Hierdie berig impliseer dat lede in posisies aangestel word. Dit is 'n klap in die gesig van elke verkose lid asook elke DA-lid wat volgens sy eie gewete gestem het.

  • Gustaf Claassens

    Politiek gaan oor mag. Om mag te kry moet 'n party die meerderheidstem kry ... As die DA wil regeer moet hy gevolglik 'n reuse-persentasie van die swart stem op hom verenig. Om dit te kan doen moet die DA veel meer verbruikersvriendelik wees en selfs "tegnieke" gebruik om so 'n indruk te by kiesers te skep. Vandaar al die pogings waarvan tereg melding gemaak word in hierdie artikel.
    Die logiese vraag dus: Funksioneer die DA (nog) op die meriete-beginsel of is dit “gekwalifiseerde meriete” wat die botoon voer; die soort “meriete” wat eintlik maar deur opportunistiese magsbeheptheid gedryf word. Dit sal die party dalk loon om weer te gaan dink want om die huidige magsbasis as vanselfsprekend te aanvaar kan die DA duur te staan kom - veral in die Wes Kaap wat vir die afgelope dekade die toon aangegee en die voorbeeld gestel het van wat eintlik met "effektiwiteit" bedoel word.
    So, versigtig trap DA. Daar is tans barsies te bespeur wat mettertyd vernietigende krake kan word. Uitsprake en optredes is dikwels nie meer in harmonie nie en "ligte uitbarstings" meld hulle meer geredelik in die media en die openbaar aan. Is dit nie juis as gevolg van die feit dat dit deesdae meer gaan oor "wat sal vir ons werk" eerder as "wat reg" is nie? Is die DA steeds 'n party wat op beginsels aanspraak maak en kiesers op daardie grondslag wil werf, of het die klem verskuif na "mag ten alle koste?"
    Terloops, indien die nuwe DA-leierskap suksesvol is met hierdie poging om opportunisties steun te probeer wen, gaan dit juis daardie “nuwe steun” wees wat hulle pond vleis na die tyd gaan opeis! Om vir die meerderheid te “kolf” beteken outomaties dat die belange van MINDERHEIDSGROEPE nie die aandag sal kry wat in 'n diverse samelewing soos die van SA vereis word nie. Die Wes-Kaap se DA het hoofsaaklik aan “bewind" gekom met die steun van Afrikaanssprekendes, bruin en wit. Tog hoor mens selde ooit dat die DA (veral op Nasionale vlak) 'n mening uitspreek oor die Universiteitsdebat wat oor taal handel. En wanneer EFF- en ANC-leiers sê dat die Afrikaanse gedeelte van die Volkslied verwyder moet word, is die DA eweneens stil. Dit sou polities nie korrek wees om dit te doen nie of hoe? Is moedertaal-onderrig nog 'n belangrike beleidstandpunt van die DA of is die sogenaamde reënboognasie besig om sy “kleure” te verloor? Is die begrip reënboognasie net iets wat gebruik word wanneer dit jou pas en jy iets daaruit kan kry maar andersins niks meer as lippetaal in die praktyk is nie?
    Deesdae wonder mens net ... Miskien kan die nuwe Wes-Kaapse leier van die DA antwoorde hierop gee, as Mnr Maimane natuurlik toestemming gee.

  • Anthony Wilson

    Jason - Dit vat 'n grootse gebeurlikheid vir enigiemand om van party te verander. Die DA MOET NIE die bruin stem, soos die geskiedenis al geleer het, onderskat nie. Ek dink dat die jongmense van vandag gaan die deurslaggewende faktor wees. Die DA moet met meriete kies en jonger geslag liewers bearbei as om nou oorhaastig en vir kort termyn gewin nou na swartes staan en vry. Ons weet ons is net die rosyntjies op die Suid-Afrikaanse vrugtekoek. As jy egter die bruin stem in die Wes-Kaap onderskat gaan jy jou gat sien sonder 'n spieël. In Eersterus het die ANC nog NOOIT 'n munisipale verkiesing gewen nie. En ... ons het nog elke keer 'n kunstenaar bo almal verkies!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top