Op die vingerpunte van die heelal deur René Bohnen: ’n resensie

  • 1

Op die vingerpunte van die heelal deur René Bohnen (2017)
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316957

Aan die begin van die nuwe millennium (in 2000 om presies te wees) kom die Nobelpryswenner in chemie, Paul J Crutzen, en sy medewerker, die mariene wetenskaplike Eugene F Stoermer, met die voorstel vorendag dat, gegewe die blywende en groeiende impak van menslike aktiwiteit op die aarde en in die atmosfeer – beide op ’n planetêre skaal – dit gepas is om die huidige geologiese tydperk te herdoop ten einde die sentrale rol van die mens op geologie en ekologie te beklemtoon. So ontstaan die term Antroposeen, wat vandag in die kritiese geesteswetenskappe – met reg – al hoe meer sy verskyning maak. Voorts hoor ons deesdae byna daagliks van die mens wat besig is om sy eie habitat stelselmatig te vernietig met atoombomme, fossielbrandstowwe, oliestortings en die uitkap van reënwoude. Ons verneem van aardverwarming, stygende seevlakke en uiterste weerverskynsels (die voortslepende droogte hier in die Wes-Kaap, byvoorbeeld) – alles deur menslike aktiwiteit in die hand gewerk. Klimatoloë vertel van ’n naderende breekpunt, wanneer dit te laat sal wees om enigiets te doen om ’n volskaalse ekologiese katastrofe te verhoed en die planeet vir die mens en die meeste diere en plante onbewoonbaar sal wees. Dít alles terwyl Trump reeds die eerste stap gedoen het om Amerika se aardverwarmingsbeleid op te hef. Dit lyk inderdaad asof die mensdom daarop uit is om ’n kollektiewe harakiri in nie-so-stadige aksie te pleeg.

In René Bohnen se derde digbundel werp die digter insgelyks die kollig op die geweldige invloed van die mens op sy verhouding met die natuur en die ekologie. Maar anders as in die huidige diskoers oor klimaatsverandering in die Antroposeen is die fokus van die bundel dialekties: Bohnen beklemtoon nie bloot die impak van die mens op die natuur nie, maar ook die impak van die natuur op die mens. Op hierdie manier skep sy ’n spanning wat enduit gehandhaaf word. Gevolglik vind mens aan die een kant verskeie gedigte waarin ’n soort pleidooi vir ons planeet gelewer word deur die menslike bestaan en belewenis konkreet binne die konteks van die natuur uit te beeld en terselfdertyd die gevoel van ’n naderende ramp te aktiveer. Die programgedig “Inkommers” byvoorbeeld is ’n soort voorbode waarin God vlinders oor die stad uitasem (byna soos in die Bybelse verhaal van die tien plae) en aan die einde van die gedig “lê ’n klomp vergruisdes/ waar ruitwassers en sonbrilsmouse/ motoriste groet in vreemde tale/ soos die vervulling van ’n profesie” (2).

Aan die ander kant besin Bohnen oor die Bybelse idee van die nietigheid van die mens teenoor die magtigheid van die skepping. In die slotgedig, “Kimskrif”, waaruit die titel van die bundel kom, skryf sy: “kleiner as vlindereiers/ sidder ons/ op die vingerpunte van die heelal” (63). Omdat Bohnen so akuut bewus is van die mens se impak op die planeet Aarde, brei sy haar beeld uit: ons is nie “op die vingerpunte van die planeet” nie, maar op die vingerpunte van die heelal. Die gedig het my laat dink aan ’n oomblik in Lars von Trier se film Melancholia (2011) waarin die ondergang van die aarde dreig en die een karakter aan die ander sê dat niemand die mens sal mis as hy sou uitsterf nie. Dit is natuurlik beide ’n logiese en ’n ideologiese punt en “Kimskrif” onderstreep die feit dat die heelal sonder ons, groter as ons, in sy kosmiese tyd sal voortstu.

Tussen program- en slotgedig span Bohnen dus ’n koord oor die dreigende afgrond en neem sy die leser op ’n kaleidoskopiese reis van “jozi op ’n riff” tot by die Yarra-vallei, van Kaapstad tot Caledon se windplaas, van Nieu-Bethesda in 2020 tot Kanada via Verneukpan. Soms is beide uiterstes van die spanning in dieselfde gedig en selfs in dieselfde strofe teenwoordig, soos in die slot van “Sondagaand in Sunninghill” (5): “Twee motjies voltrek/ ’n antieke fladdering/ teen buurman se tuinlamp,/ op die gras wapper/ ’n Shoprite-sakkie/ vol rysmiere”. In ander gedigte, soos in “Mensboom” (12), droom die digter van ’n radikale eenwording van mens en die natuur. Wat ook in hierdie verband opval, is die talle verwysings na visuele kuns: Rothko, Goya, Pollock en Toulouse-Lautrec, om enkeles te noem. Die suggestie hier is na die oorspronklik Heideggeriaanse idee dat ons redding van die tegnologiese epog in die kunswerk en nie in die instrumentele rede te vinde is nie.

Bohnen se digkuns herinner by tye sterk aan die mistieke en liriese kwaliteit van die poësie van Sheila Cussons, byvoorbeeld hier: “Daagliks beitel die halflig/ kettings/ om haar fluisterbede, om haar/ prewelbeelde flap vlerke van klei/ teen die nag se swart spieël” (“Ingekerker”, 25). Haar beelding is, soos Cussons s’n, dikwels geweldig en haar woordeskat ryk; en ook soos Cussons beskik sy oor die unheimliche vermoë om dinge wat glad nie met mekaar verband hou nie, te laat rym.

Vir my was daar in die hele bundel slegs een insinking, naamlik die verse wat onder die titel “spartikels” (27–30) versamel is. Die beelde (“elke doudruppel is ’n kristalbal”, 30) en rym (“en selfs morfien vir ’n eugène”, 27) in hierdie gedigte is net te geyk in die konteks van die res van die bundel en ook nie inhoudsgewys funksioneel nie. Selfs al verwys die derde gedig in die siklus na “verse wat vermot” en mens dus seker die gedigte as ’n soort selfspottery kan lees, word hierdie idee nie gehandhaaf nie – die weerlig vat inderdaad dooierus (30) op hierdie verse.

’n Bundel soos Op die vingerpunte van die heelal is, onvermydelik, ’n soort testament – ’n nalatenskap aan die toekoms, ’n optekening van hoe ons nou is en hoe ons nou leef: op die mespunt van die Antroposeen, voor “die Groot Afwesigheid” en heel waarskynlik weer “voor die begin se begin” (29).

 

Jaco Barnard-Naudé is die Britse Akademie se Newton gevorderde genoot in die Fakulteit Geestes- en Sosiale Wetenskappe aan Westminster Universiteit, Londen, en professor in regsfilosofie aan die Universiteit van Kaapstad.

  • 1

Kommentaar

  • Marie Bredenkamp

    Dankie vir 'n resensie wat ek weer kon lees met die bundel in die hand. En - vreemd genoeg - deur my kleinseuns blootgestel aan "Dr Who" - kan ek my geheel inleef in beide die resensent se sieninge én die digter se segginge. En ja: tref miskien veral diegene wat (soos ek) my in die verre en in die verte "besig hou met testament en nalatenskap". Gewis: "Op die mespunt van die Antroposeen" op sigself 'n frase en titel wat laat dink.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top