Op die stel van Op die Spel

  • 3

opdiestel650

Marike van der Watt was die wenner van die tweede episode van kykNET se nuwe speletjiesprogram Op die Spel. Sy vertel vir die LitNet-lesers van haar ondervindinge agter die skerms.

Nadat twee vriendinne my van kykNET se spelkompetisie laat weet het, voltooi ek ’n dag voor die sluitingsdatum my inskrywing en beantwoord die tien vrae aanlyn wat as eerste uitdunronde dien. Drie dae later, my kop nog besig met die oggend se lesings, kry ek ’n oproep van Charl Marais van Homebrew Films: ek het deurgedring na die volgende ronde, wat sommer dadelik oor die telefoon geskied. Ons drafstap deur die vrae en met die aflui besef ek “Oranjerivierafrikaans” is een woord en nie soos ek dit gespel het, “Oranjerivier-Afrikaans” nie, en het ek “Gaborone” nie dalk “Gabarone” gespel nie? Ek moet myself net keer of ek bel Charl terug om te vra of ek myself kan korrigeer. Toe hy die volgende week weer bel om te laat weet ek moet op 17 Junie in Johannesburg aanmeld, kon ek dit amper nie glo nie. Vir die volgende twee weke is my AWS, Skryf Afrikaans van A-Z en HAT Taal- en Feitegids permanent in my geselskap.

Uit die e-pos met finale reëlings spring Daantjie se naam eerste op my af, en dadelik wéét ek watter Daantjie dit is. Met my geluk is hy seker in my episode, dink ek terwyl ek die aanhangsel met die call sheet oopmaak. En so was dit toe ook. Ek maak vrede met my lot en besluit om my uitstappie na die binneland en my TV-debuut ten beste te benut. Solank ek my vliegkaartjie se geld terugwen en in die proses nie my naam krater maak nie, is ek tevrede, want teen Daantjie se dinamiet is niemand bestand nie ...

By Stark Studios sit en wag ons vir grimering en onderhoude, hou tussendeur op ’n skerm dop hoe die volgende toneel van Binnelanders oor en oor geskiet word, en maak praatjies. Daantjie is duidelik gewoond aan die lewe op stel – hy het selfs vir ’n ekstra stel klere gesorg, wys vir almal waar die koffie is, gesels land en sand (veral oor Afrikaanse musiek, waarvan ek feitlik niks weet vandat almal vir hulle “babies” sing nie). Ek probeer vergeefs nog die AWS deurgaan met die hoop dat ek iets sal raaklees wat ek tydens die spellery kan benut. Rian is vir my ’n groter bekommernis as die vrees dat ek eerste sal moet groet: Gaan hy sy tong in gif doop soos die aanbieder van The Weakest Link? Hy is beslis nie ’n Johan Stemmet nie, so geen gemoedelike gegroetery aan die gesin, vriende en kollegas nie.

Dit voel soos ’n ewigheid voor dit ons beurt is om na die ateljee te beweeg. Mariëtta Kruger kom groet en stel ons gerus (as ek nie so beskimmeld was nie, het ek gevra dat iemand ’n foto van ons neem; wat ’n voorreg om hierdie formidabele vrou te kon ontmoet!), ons word ge-mic en daarna soos lammers ter slagting na ons plekke op die blinknuwe Op die Spel-stel gelei.

Ons doen eers ’n oefenlopie waartydens elke speletjie verduidelik en die reëls gegee word. Ek spel woorde verkeerd waaroor ek nooit onder normale omstandighede sou twyfel nie, luister na ander deelnemers se woorde en weet skielik nie of hulle reg of verkeerd gespel het nie, probeer die knoppie gedruk kry wanneer ek darem die antwoord ken, maar Daantjie langs my is in sy element en spring almal telkens voor. My rug is lam en my voete dood. Annamarie kom swaai haar grimeerkwassie en Johan poets die trappe, ons kry instruksies oor wanneer ons moet stilbly en waar ’n mens moet afloop as jy die onderspit delf. Rian verklap niks van die arsenaal kwinkslae wat hy uit die onderhoudmateriaal versamel het nie ...

En dan is dit tyd vir: Ligte! Kamera! Aksie! Die rook warrel om ons voete en die kenwysie speel. Rian en Gerhard is slaggereed en die vier deelnemers van die tweede episode (Ansie Potgieter, Daantjie Badenhorst, ek en Anélia Marais) staan op ’n ry en hoop dat die speletjie ons genadig gaan wees. Die opname self neem ongeveer ’n uur – na elke speletjie word alles gestop sodat die beoordelaars kan seker maak dat hulle reg gehoor het, of om enige probleme uit te stryk. My verligting dat ek nie eerste die stel moes verlaat nie, maak plek vir benoudheid toe ek in “Foutspel” foute wou korrigeer waar daar nie foute was nie, en toe verbasing toe ek uiteindelik alleen oorbly. Nadat Rian my vroeër bietjie uitgehaal het oor my boek wat ek probeer skryf (ek het die lat vir myself gepluk – waarom het ek dit uitgelap, en nou wil almal weet wanneer is dit klaar!), en selfs erken het dat ons twee dinge gemeen het (hekel en draf – my belangstellings, maar in sy geval is dit ’n hekel áán draf), verwelkom hy my as die “mooi, jong meisie” voor ons “Geldspel” aandurf. (Rian, ek is ’n fan!) Die eerste woord, “motorneuronsiekte”, was moeiliker as “Engelse Kanaal” wat my pootjie toe ek dit met ’n kleinletter-“k” gespel het. En ek dink nou weer aan Ansie se woorde toe sy moes groet: soms is dit eerder die klein dingetjies wat ’n mens laat struikel as die groot goed wat jy sien aankom.

Baie dankie aan kykNET en almal wat deel van die program is – nie net vir die geleentheid wat ek gehad het nie, maar ook vir die belegging in Afrikaans. Ek hoop dat iemand darem op die ou end by R50 000 kan uitkom!

Kyk Op die Spel (kanaal 144) op Dinsdae om 20:00, of die herhalings op Woensdae 15:30, Donderdae 14:00, Vrydae 11:00 en Saterdae 14:00. Gesels saam op Twitter #OpDieSpel.

Lees ook 'n onderhoud met Gerhard van Huyssteen.

  • 3

Kommentaar

  • Ek was baie trots op Marike!! Sy het reggekry wat die meeste van ons te bang is om aan te durf!! Dis vir my 'n voorreg om haar te ken! Ek salueer jou!

  • Ja, dit neem seker leeuemoed om op daardie podium te klim en jou vinger op die knoppie te rus. En om dan nog helder te kan dink en reageer en die intimidasie af te weer is sekerlik nie te humoristies nie! Knap gedaan Marike!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top