Oortekening as vertaalstrategie in Breyten Breytenbach se oorblyfsel/voice over

  • 0

Opsomming 

Hierdie artikel sal sekere oënskynlik vreemde vertaalkeuses in Breyten Breytenbach se oorblyfsel/voice over (2009) deskriptief ontleed. Reeds met die eerste oogopslag is dit duidelik dat Breytenbach nie met vertaling in die konvensionele sin van die woord besig is nie – so word “donker” en “modder” in gedig 1 byvoorbeeld respektiewelik as “danker” en “madder” vertaal. Die oogmerk van hierdie artikel is om agter die spreekwoordelike kap van die byl van hierdie vertaalkeuses te kom. Jacques Derrida se werk oor vertaling sal as teoretiese raamwerk vir die ondersoek dien. Verder sal oortekening as ’n alternatiewe vertaalstrategie in oorblyfsel/voice over geïdentifiseer en deskriptief ontleed word om sodoende die tradisionele opvatting van vertaling as die oordrag van betekendes uit te brei.

Trefwoorde: vertaling, Breyten Breytenbach, oorblyfsel/voice over, oortekening

Summary

“Oortekening”(retracing) as translational strategy in Breyten Breytenbach’s oorblyfsel/voice over

Breyten Breytenbach’s collection of poems oorblyfsel/voice over includes what he calls “transformed [Afrikaans] variations” of twelve poems by the Palestinian poet Mahmoud Darwish. Breytenbach “transformed” English and French translations of these twelve poems into Afrikaans “variations”, and then proceeded to self-translate these variations into English. This article attempts to make sense of these seemingly odd self-translations.

Several factors limit the signifying freedom translators have under normal production circumstances: a translator is usually judged on her ability to keep the signifieds of a source text intact in the target text. This is also why meaning equivalence is often used to evaluate a translation’s success. This article challenges the sole use of meaning equivalence as a yardstick for the evaluation of translated texts by investigating the alternative translation strategy which Breytenbach employs in oorblyfsel/voice over, a strategy which I have termed oortekening (retracing). Not only do I argue that Breytenbach’s “odd” translation decisions make sense only when read in terms of this strategy of “oortekening”, but I also come to the conclusion that the traditional conception of translation (a conception of translation as the transporting of signifieds from one system of signs to another) should be extended to also accommodate translation strategies such as oortekening.

Jacques Derrida’s work on translation serves as a theoretical framework for my argument, not least because he deconstructs the traditional privileging of signifieds over signifiers when translating texts – a privileging that depends on the separability of signifier and signified. By showing that signifieds and signifiers cannot exist independently of one another, Derrida problematises the traditional conception of translation as the transporting of signifieds from one language to another, thereby implying that translation is strictly speaking impossible if understood in this way.

Derrida replaces this traditional idea of translation by arguing that translation is the substitution of one set of signs with another. This substitution attempts to create the same meaning effects in the target language that the original set of signs creates on the source language. However, because these meaning effects can never be identical, Derrida suggests that translation should be reconceptualised as an act that is both transformative and corrupting. The target text not only transforms the source text by modifying and augmenting it, but can also be used to corrupt and comment on the source text, thereby establishing a signifying tension between the source and target texts. Thus the target text defamiliarises the source text from itself by exposing alternative readings of the source text.

Drawing on Derrida’s ideas I turn to Breytenbach’s self-translations and identify all the instances where the semantic content of a target text element differs significantly from the semantic content of the corresponding source text element. Three reasons are given why these differences can be regarded as conscious decisions on the part of the translator and not as mere translation “errors”: the vast number of semantic discrepancies; Breytenbach’s history of self-translation into and his original writing in English; and Breytenbach’s explicit acknowledgement of these discrepancies in his note at the end of oorblyfsel/voice over. On these grounds I hypothesise that Breytenbach isn’t busy with a conventional logocentric translation, but that he consciously transforms or corrupts the source text through the use of semantic discrepancies. More specifically, I conjecture that certain translation decisions in oorblyfsel/voice over are the consequence of physical resemblances between Afrikaans and English signifiers rather than the consequence of meaning resemblances between the two languages. Phonological or graphic equivalence is thus favoured over meaning equivalence in these cases. I introduce the term oortekening (retracing) to refer to the aforementioned translation strategy. Being a translated term, the word retracing cannot accurately capture the polysemic qualities of oortekening, which can mean both to re-sign and to re-draw. Breytenbach deliberately deconstructs the conventional hegemony of signifieds over signifiers during the translation process by choosing to transport signifiers (sounds and graphics) rather than signifieds from the source to the target text. This strategy of oortekeningcan also be understood as the creation of interlingual puns.

After elaborating on oortekening as a translation strategy, I identify and discuss three types of oortekening in oorblyfsel/voice over. The first type occurs when a source text element is translated with a target text element that is both graphically/phonetically and semantically similar to the particular source text element, thus duplicating both the connotations and the sounds of the source text element in the target text. Some examples include the translation of “bleek” as “bleached” in poem 6. Rather than translating “bleek” with the usual “pale”, Breytenbach has chosen to use “bleached”, since “bleached” more closely resembles “bleek” on a graphic level.

The second type of oortekening is the consequence of a process where a single source text element is substituted by two target text elements, one of which is an oortekening and the other a semantic translation of the source text element. An example is “die maat” in poem 2, which is translated as “the meat and measure”: “meat” here functions as an oortekening, while “measure” is a semantic translation of “maat”.

Furthermore, this type of oortekening is also used in the article to criticise Derrida’s insistence on the use of quantitative equivalence as a translative norm.

The semantic content of the third type of oortekening significantly differs from its source text counterparts, so that the source and target text elements share few or no connotations.

These types of oortekening are the most obvious examples of corrupting translations in oorblyfsel/voice over since they do away with the traditional norm of meaning equivalence and because they represent a kind of feedback loop that reverts the reader’s attention back to the source text. These oortekenings cast the source text elements in a new light and consequently alienate the source text from itself. Breytenbach uses the terms conversation and dialogue to describe these feedback loops that exist between the source and target text thanks to his corrupting translations.

I then discuss various examples to support this crucial point, one of which is the translation of “ontbinding in die donker” as “to unbind darkness” in poem 1. The word “unbind” creates a new, literal reading of “ontbinding” (decay), as a process of unbinding. The translation strategy of oortekening makes this rereading or corruption of the Afrikaans “ontbinding” possible.

In summary, the article shows how Breytenbach points the way to a broader conception of translation through his use of the translation strategy of oortekening.

Key words: translation, Breyten Breytenbach, oorblyfsel/voice over, “oortekening” (retracing)

1. Inleiding

Vertaling word tradisioneel as die oordrag van betekendes van een taal na ’n ander beskou en hierom word betekenisekwivalensie dikwels as evaluerende maatstaf vir vertalings gebruik. Hierdie artikel voer egter aan dat betekenisekwivalensie nie gebruik kan word om sekere vreemde vertaalkeuses in Breyten Breytenbach se oorblyfsel/voice over te evalueer nie, juis omdat Breytenbach die tradisionele opvatting van vertaling as die oordrag van betekendes uitbrei deur “oortekening” as vertaalstrategie in te span. Die doel van die artikel is daarom om sin te maak van sekere oënskynlik vreemde vertaalkeuses in die bundel via ’n deskriptiewe ontleding en om daardeur terselfdertyd ook die tradisionele opvatting van vertaling uit te brei. In die eerste plek sal die netjiese onderskeid tussen bron- en doelteks, beide in Breytenbach se bundel en oor die algemeen, geproblematiseer word, waarna die idee van vertaling as die oordrag van Saussureaanse betekendes en Derrida se kritiek hierop bespreek sal word. Vervolgens word ’n voorlopige verstaansraamwerk vir dekonstruktiewe vertaling daargestel. Laastens word oortekening as ’n alternatiewe vertaalstrategie in oorblyfsel/voice over geïdentifiseer en deskriptief ontleed deur drie soorte oortekeninge met toepaslike voorbeelde te bespreek. 

2. Brontekste en doeltekste

oorblyfsel/voice over bestaan uit twaalf gedigte wat langs mekaar in Afrikaans en in Engels verskyn. Die gedigte is verwerkings van oorspronklike Arabiese gedigte van die Palestynse digter Magmoed Darwiesj. Die brontekste waarvan Breytenbach gebruik gemaak het, is egter in Engels en Frans, aangesien Breytenbach nie Arabies magtig is nie. Die tekste wat in oorblyfsel/voice over verskyn, is egter nie blote vertalings van vertalings van Darwiesj-gedigte nie: in die nota aan die einde van die bundel verwys Breytenbach na sy gedigte as “getransformeerde variasies” of “collages” van Darwiesj-gedigte (Breytenbach 2009:62). Breytenbach het soms in ’n enkele gedig van afsonderlike gedigte gebruik gemaak en hy erken ook dat sy eie stem met die gedigte vervleg is. Verder maak hy dit duidelik dat die Engelse gedigte in oorblyfsel/voice over terugwerkend uit die Afrikaanse gedigte gespruit het (62). Hier is dus sprake van drie skakels in ’n vertaalketting: die vertaling van Darwiesj se gedigte uit Arabies in Engels/Frans, Breytenbach se transformasie van hierdie weergawes in Afrikaans, en sy vertaling van die Afrikaanse weergawes in Engels.

Oor die eerste twee skakels gaan ek my nie hier uitspreek nie. Hierdie artikel fokus slegs op die laaste skakel van die bogenoemde vertaalketting, sodat die terme bronteks en doelteks voortaan onderskeidelik na die Afrikaanse en die Engelse tekste in oorblyfsel/voice over verwys. Dit is egter belangrik om daarop te let dat Breytenbach die onderskeid tussen bronteks en doelteks problematiseer: hy wys daarop dat die bron- en doeltekste interafhanklik bestaan omdat sekere elemente uit die Engelse gedigte nuwe moontlikhede in die Afrikaanse gedigte opgeroep het (62). ’n Mens sou kon beweer dat die interafhanklikheid van bron- en doelteks uniek aan Breytenbach se vertalings is omdat hy toegang tot ’n speelruimte het wat nie gewoonlik aan vertalers gegun word nie. Hierdie speelruimte, naamlik om brontekselemente na gelang van sekere doeltekselemente te kan verander en om af te wyk van die bronteksbetekenis in die doelteks, is een waartoe vertalers van literêre werke selde toegang het, omdat die bronteks gewoonlik reeds vasgelê is wanneer die vertaler die bronteks na ’n ander taal moet transponeer.

Verder is daar onder “normale” produksie-omstandighede (markverwante kontekste waar vertalings as “oorspronklike” werke verkoop word) verskeie beperkende faktore wat die speelruimte van die vertaler inperk. Onder hierdie “normale” omstandighede word die bronteks omring deur die aura van die skrywer en verwag uitgewers en literêre agente dat hierdie aura behou moet word in die doelteks sodat die vertaler se vingerafdrukke as’t ware verdwyn. Om hierdie rede word sogenaamde vertaalfoute, waar die betekenis van die doelteks afwyk van die bronteks, onder “normale” produksie-omstandighede as ongewens beskou. Slegs in uitsonderlike gevalle, soos selfvertalings, of waar die vertaler eksplisiet ’n sekere vryheid deur die bronteksskrywer gegun is en daarom nie soseer ingeperk is deur die hegemonie van die bronteks nie, verkry die vertaler toegang tot die bogenoemde speelruimte. ’n Voorbeeld van die laasgenoemde vryheid wat aan ’n vertaler gegun is, is Leon de Kock se vertalings van Cas Vos se gedigte in Duskant die donker / Before it darkens (2011). In ’n gepubliseerde e-poswisseling tussen De Kock en Vos blyk dit duidelik dat Vos sekere aanpassings aan van sy brontekste gemaak het na aanleiding van De Kock se “omdigtings” (De Kock en Vos 2011). Die interafhanklikheid van bron- en doeltekste kom eksplisiet in die genoemde e-poswisseling na vore.

Volgens Derrida (1985:131) is die interafhanklikheid van bron- en doeltekste egter ’n fundamentele kenmerk van enige vertaling en is dit daarom nie net beperk tot selfvertalings of vertalings onder uitsonderlike produksie-omstandighede nie. Volgens tradisionele opvattings van vertaling bestaan die bronteks en die doelteks onafhanklik van mekaar en skiet vertalings daarom altyd tekort, omdat hulle nooit daarin kan slaag om die volheid en die eenheid van vorm en inhoud wat in die “oorspronklike” teks voorkom, na die doeltaal oor te dra nie, sodat die doelteks altyd en noodwendig deur ’n gebrek gekenmerk word (Kruger 2004:64). Derrida problematiseer egter bostaande geïnstitusionaliseerde magsverhouding tussen bron- en doelteks deur te beweer dat daar in enige vertaling ’n wedersydse afhanklikheid tussen bronteks en doelteks bestaan, aangesien die bronteks volgens hom afhanklik is van die doelteks vir sy eie voortlewing. Dit beteken egter nie dat Derrida beweer dat betekenis sonder enige verlies van die bronteks na die doelteks oorgedra of vervoer kan word nie. In The Ear of the Other dekonstrueer Derrida (1985:152) die tradisionele hiërargie van bronteks (oftewel die “oorspronklike” teks) versus doelteks (die vertaling) soos volg:

[T]he so-called original is in a position of demand with regard to the translation. The original is not a plenitude which would come to be translated by accident. The original is in the situation of demand, that is, of a lack or exile. The original is indebted a priori to the translation. Its survival is a demand and a desire for translation.

Derrida stel dus voor dat die verhouding tussen bron- en doelteks as ’n meer simmetriese een gekonseptualiseer word: die doelteks ontvang die impuls vir sy bestaan van die bronteks en is daarom afhanklik van die bronteks; terselfdertyd is die bronteks ook afhanklik van die doelteks vir sy eie voortbestaan.

Om hierdie rede beweer Graham (1985:27): “[T]here is no provision to mark any essential difference between an original and a translation. The two need each other in the same way, and they complement each other in the same way.”

Sodoende vervaag die grense tussen bron- en doelteks, omdat die oorlewing van die bronteks verweef is met die oorlewing van die doelteks (Kruger 2004:60).

Breytenbach erken die interafhanklikheid van die bron- en doelteks in sy bundel oorblyfsel/voice over, soos reeds aangedui, en in die lig van Derrida se bespreking van die verhouding tussen enige bron- en doelteks is dit duidelik dat Breytenbach se vertalings nie ’n unieke verhouding tussen bron- en doelteks verteenwoordig nie – hy maak bloot die implisiete interafhanklikheid tussen enige “oorspronklike” en vertaalde teks eksplisiet deur sy ongewone vertaalkeuses. Hierdie interafhanklikheid sal duidelik word wanneer die ongewone vertaalkeuses in oorblyfsel/voice over in afdeling 5 bespreek word.

3. Dekonstruksie se uitdaging aan die idee van vertaling as die oordrag van Saussureaanse betekendes

Alvorens Derrida se uitdaging aan die idee van vertaling as die oordrag van betekendes bespreek kan word, is dit belangrik om die vertaalmodel waarteen Derrida hom uitspreek, te ondersoek.

In Saussureaanse terme word vertaling tradisioneel gesien as die oordrag van betekendes (signifieds) van een taal na ’n ander ongeag die betekendes se betekenaars (signifiers). Volgens die tradisionele hiërargie van betekende versus betekenaar beklee die betekende dan ook die bevoorregte posisie tydens die vertaalproses. Hierdie tekenmodel vir vertaling, waar betekenis onveranderd van een taal na ’n ander oorgedra kan word, noem Kruger (2004:68) die “conventional logocentric approach to translation”. Die moontlikheid van vertaling berus hiervolgens op die “separability of signifier and signified” (Baker en Saldanha 2009:301), aangesien die vertaler dié twee tekenkomponente van mekaar probeer skei, waarna die betekenaar weggegooi word en die betekende na die doeltaal oorgedra word. Polley (2009:55) beaam dat die opvatting van vertaling as die “restitution of meaning”, dit wil sê die opvatting dat ’n vertaalde teks die betekenis van die oorspronklike teks kan redupliseer of herwin, geskoei is op ’n strukturalistiese, oftewel Saussureaanse, siening van taal.

Derrida (1981:11) voer egter De Saussure se tekenmodel tot sy logiese eindpunt en beweer daarom dat betekendes nooit “teenwoordig” is nie en dat betekendes nie onafhanklik van hul betekenaars kan bestaan nie: “[E]very concept is inscribed within a chain or in a system within which it refers to the other, to other concepts, by means of the systematic play of differences.”

Graham (1985:19) belig die onrusbarende implikasies van die Derrideaanse taalmodel vir vertaling as volg:

As a result of [deconstruction], it has become as difficult to define as to defend the difference between words and concepts, sounds and meanings, or any other version of the difference between a transcendental signified and a material signifier, including between real thought and mere talk. Yet those are the very rhyme and reason that translation is supposed to distinguish by discarding the one and preserving the other in transit from language to language. Hence the effect of deconstruction has already been to question the very notions that have long defined translation.

Op grond van sy problematisering van die verhouding tussen die betekende en betekenaar maak Derrida (1981:20) die volgende radikale stelling: “[W]e [have] never had to do with some ‘transport’ of pure signifieds from one language to another, or within one and the same language, that the signifying instrument would leave virgin and untouched.” Omdat die betekende en die betekenaar nie van mekaar geskei kan word nie, blyk vertaling, in die sin van die oordrag van betekendes van een tekensisteem na ’n ander, streng gesproke onmoontlik te wees. Dit is dan ook die uitdaging wat dekonstruksie aan vertaling stel: Hoe vertaal ’n mens as vertaling onmoontlik is?

Derrida se taalfilosofie impliseer dat alle tekste onvertaalbaar is, “because there is no fixed meaning to begin with and because it is also impossible to transform the différance from one system into another in fixed form” (Kruger 2004:63). Hierdie onmoontlikheid beteken egter nie dat Derrida die fenomeen vertaling wil uitroei nie. Hy beweer bloot dat dit onmoontlik is om die veelduidigheid van die bronteks in die doelteks te reproduseer. As vertalers steeds tekste binne ’n semiotiese raamwerk wil vertaal, sal hulle anders oor die vertaalproses moet begin dink deur die verhouding tussen vertaling en betekenis te heroorweeg.

4. Voorlopige raamwerk vir ’n dekonstruktiewe vertaling

Aangesien betekenis niks anders as die gevolg van sekere geïnstitusionaliseerde betekenaareffekte is nie (Davis 2001:20) en inherent onstabiel, hoogs subjektief en konteksgebonde is, is dit noodsaaklik om die verhouding tussen betekenis en vertaling anders te konseptualiseer: vertaling kan nie meer as die oordrag van betekendes tussen bron- en doelteks beskou word nie, omdat die betekeniseffekte wat as gevolg van die “systematic play of differences” tussen betekenaars in die bronteks ontstaan, nie in die doelteks herhaalbaar is nie (Baker en Saldanha 2009:96). Vertaling is veel eerder die vervanging van een betekenaarketting (die bronteks) met ’n ander een (die doelteks), “trying to fix a signified that can be no more than an interpretation according to the intelligibilities and interests of the receiving language and culture” (Venuti 2001:171).

Die vertaler poog dus om betekenaarkettings in die doeltaal te skep wat soortgelyke betekeniseffekte as die betekenaarkettings in die brontaal sal veroorsaak. Die betekeniseffekte van die bronteks kan egter nooit dieselfde wees as die betekeniseffekte van die doelteks nie. Om hierdie rede stel Derrida voor dat vertaling as ’n begrip geradikaliseer moet word deur vertaling as beide transformasie én korruptering te verstaan. Die volgende bespreking van Derrida se alternatiewe opvattings van vertaling kan ons help om ’n tentatiewe raamwerk vir ’n dekonstruktiewe vertaling daar te stel wat gebruik kan word om te verstaan wat dit is wat dekonstruktiewe vertalings poog om te doen. Hierteenoor sal afdeling 5 spesifiek fokus op die “hoe” van Breytenbach se dekonstruktiewe vertalings, die vertaalstrategie wat hy inspan om transformerende/korrupterende vertalings te skep.

4.1 Vertaling as transformasie of reis

Omdat vertaling nie meer as die passiewe oordrag van betekenis gesien kan word nie, word dit nou ’n transformasie van potensiaal deurdat die bronteks deur die doelteks getransformeer word (Kruger 2004:55). Uit ’n onderhoud op RSG waarin Breytenbach oorblyfsel/voice over bespreek, blyk dit dat hy bewus is van hierdie transformerende potensiaal van vertaling: “[Vertaling] bly iets wat groei. [...] Die een woord laat jou dink aan ’n ander woord – dis ’n voortbeweging, ’n werk in wording” (Breytenbach 2010). Die woord voortbeweging is hier van kardinale belang. Die doelteks groei organies uit die bronteks sonder om deur die konvensionele idee van die hegemonie van die bronteks ingeperk te word; ’n transformerende vertaling volg nie die bronteks slaafs na nie, maar skep verdere “avenues of difference” (Kruger 2004:67).

In sy repliek op Walter Benjamin se opstel “The task of the translator” het Derrida (1985:122, sy kursivering) die volgende oor vertaling as transformasie te sê:

[T]he task of the translator is precisely to respond to [the] demand for survival which is the very structure of the original text. […].To do this […] the translator must neither reproduce, nor represent, nor copy the original, nor even, essentially, care about communicating the meaning of the original. Translation has nothing to do with reception or communication or information. [...]. [T]he translator must ensure the survival, which is to say the growth, of the original. Translation augments and modifies the original, which, insofar as it is living on, never ceases to be transformed and to grow. It modifies the original even as it also modifies the translating language. This process – transforming the original as well as the translation – is the translation contract between the original and the translated text. In this contract it is a question of neither representation nor reproduction nor communication; rather, the contract is destined to assure a survival, not only of a corpus or a text or an author but of languages.

Breytenbach (2009:61) bied ook ’n alternatiewe blik op wat vertaling behels:

Vertaling, om oor te gaan van die een taal in ’n ander, is ook ’n reis. Die landskap verander, winde met die reuke van onbekende groei waai soos nuus oor die hoogland na laerliggende valleie, jou skaduwee verskiet, die lied bly ’n wisseltong tussen bekend en onbekend.

Die opvatting van vertaling as transformasie of reis (en daarom ook as voortlewing) is van tematiese belang in oorblyfsel/voice over. Die Afrikaanse gedigte is, soos reeds genoem, “getransformeerde variasies” van Magmoed Darwiesj se werk. Hierdie transformasies laat die afgestorwe Darwiesj se stem toe om die landskap van Afrikaans te bewoon en sodoende voort te leef. Die Engelse vertalings transformeer weer beide die Afrikaanse weergawes en die Engelse taal. Die reis wat as gevolg van die vertaalproses ontstaan, word dan ook ’n poging om “tussen die woorde na [Darwiesj] te soek” (62).

4.2 Vertaling as korruptering

In die artikel “Le retrait de la métaphore” maak Derrida (1977:289) die volgende tersyde opmerking rakende vertaling: “une ‘bonne’ traduction doit toujours abuser” [’n goeie vertaling moet altyd mishandel/korrupteer]”.

Lewis (1985:43) gebruik hierdie opmerking as ’n vertrekpunt om die idee van ’n “abusive translation” te ontwikkel.

[An abusive translation] will have a dual function – on the one hand, that of forcing the linguistic and conceptual system of which it is dependent, and on the other hand, of directing a critical thrust back toward the text that it translates and in relation to which it becomes a kind of unsettling aftermath.

Verder bevorder ’n korrupterende vertaling volgens Lewis (1985:41, 43) semiotiese eksperimentering, peuter dit met woordgebruik en staan dit in ’n ambivalente verhouding teenoor die bronteks. Wanneer die semantiese inhoud van ’n betrokke doeltekselement dus noemenswaardig verskil van die semantiese inhoud van die vertaalde brontekselement en hierdie verskil geregverdig kan word deur na die spanning te verwys wat sodoende tussen die bronteks en die doelteks of die doelteks en die doeltaal ontstaan, kan die vertaling as ’n korrupterende vertaling getipeer word.

Korrupterende vertalings verskil egter van die behoud van die vreemdheid van ’n bronteks in die doelteks wat kommentators soos Venuti voorstaan om die sogenaamde domestikering van vreemde tekste teen te werk. Volgens Venuti (2000:468) behels die domestikering van vreemde tekste die volgende:

[T]he translator negotiates the linguistic and cultural differences of the foreign text by reducing them and supplying another set of differences, basically domestic, drawn from the receiving language and culture to enable the foreign to be received there.

Hierteenoor stel Venuti (2000:469) ’n soort vertaling voor waarvolgens “the hierarchies that rank the values in the domestic culture are disarranged to set going processes of defamiliarization, canon formation, ideological critique and institutional change”.

Korrupterende vertalings gaan egter verder as Venuti se voorstel, omdat korrupterende vertalings nie bloot poog om die doeltaal van sigself te vervreem nie, maar ook om terug te praat met die bronteks en sodoende die bronteks van sigself te vervreem. In hierdie verband skryf Lewis (1985:43): “[I]t is as if the [abusive] translation sought to occupy the original’s already unsettled home, and thereby, far from ‘domesticating’ it, to turn it into a place still more foreign to itself.”

5. Oortekening as vertaalstrategie in oorblyfsel/voice over (2009)

Met inagneming van die bostaande tentatiewe raamwerk vir ’n dekonstruktiewe vertaling kan ons nou op sekere oënskynlik vreemde vertalings in oorblyfsel/voice over fokus waar die semantiese inhoud van ’n betrokke doeltekselement noemenswaardig van die semantiese inhoud van die ooreenstemmende brontekselement verskil. (Onthou dat die inhoud van die doelteks in elk geval nooit semanties gelyk aan die bronteks s’n kan wees nie, omdat betekenis nie tussen tale vervoer kan word sonder ’n mate van verlies nie.)

Die volgende voorbeelde ondersteun bostaande stelling:

*   “vog” in gedig 3 (r. 16) word as “a vow of water” (r. 17) vertaal, eerder as die gebruiklike “vapour” wat semanties gesproke nader aan “vog” lê.
*   “spoel van ’n hart” (gedig 2, r. 24) word met “spoil of a heart” (r. 25) vervang, eerder as die gebruiklike “swill/sluice of a heart”.
*   “kreun” (gedig 10, r. 59) word nie met “groan”, “moan” of “whimper” vertaal nie (woorde wat semanties gesproke nader aan “kreun” lê), maar met “keen” (r. 59).
*   “verbrande tong” (gedig 10, r. 124) word “errant tongue” (r. 124), in plaas van die meer ‘toepaslike’ “burnt tongue”.

Dat Breytenbach doelbewus besig is om nie semantiese ekwivalensie in die bogenoemde gevalle na te streef nie, blyk eerstens uit die groot aantal “vertaalfoute” wat in die Engelse weergawes voorkom. Die verskille tussen die bronteks en die doelteks is so opsigtelik en volop dat die vertaalkeuses hoegenaamd nie as “vertaalfoute” afgemaak kan word nie. Tweedens is Breytenbach ’n gesoute skrywer wat ook al oorspronklike tekste in Engels geskryf het; en derdens verwoord Breytenbach die motivering vir sy vertaalkeuses as volg in sy “Nota” aan die einde van oorblyfsel/voice over:“Die Engelse weergawes [...] het terugwerkend gespruit uit my Afrikaanse pogings, met die bedoeling om ’n gesprek tussen die twee tale te bemiddel. Hulle is dus nie woordelikse ‘vertalings’ nie” (62). Breytenbach maak met hierdie opmerking as’t ware voorsiening vir moontlike kritiek teen die vertalings deur aan te toon dat hy nie bloot besig is met die tradisionele siening van vertaling as die ongekompliseerde oordrag van betekenis nie.

Uit bostaande voorbeelde behoort dit duidelik te wees dat Breytenbach nie besig is met die tradisionele opvatting van vertaling as die onproblematiese oordrag van betekendesvan een taal na ’n ander nie en dat hy veel eerder bewustelik besig is met ’n soort transformerende of korrupterende vertaling waar die betekenis van die doeltekselement noemenswaardig van die betekenis van die brontekselement verskil. Die res van die artikel bemoei sigself met die spesifieke vertaalstrategie wat Breytenbach inspan om hierdie transformerende of korrupterende vertalings te skep.

Chatzidimitriou (2009:24) se beskrwying van die ongewone vertaalkeuses wat selfvertalings dikwels kenmerk, kan help om sin te maak van die ongewone vertaalkeuses in oorblyfsel/voice over:

[T]ranslingual authors are ideal scavengers of sign systems that are obsolete or altogether absent from the normative linguistic body of the adoptive tongue. Often guided by a sense of phonetic euphoria (newly discovered aural particularities of the foreign language) or archaeological curiosity (unearthing of linguistic rarities) alone, translingual writers develop a rather unsystematic relationship to the foreign language. […] In fact, translingual writers very consciously allow the processes of intralingual and interlingual translation to intersect and the very vocabulary of their encounter to dominate the literary space: the occasional anecdote of linguistic incompetence [and] free-associations crossing linguistic lines […] construct a text fully conscious of and participating in its own textuality…

Met inagneming van bostaande aanhaling is my hipotese dat sekere vertaalkeuses in oorblyfsel/voice over die gevolg van fisiese betekenaarooreenkomste eerder as die gevolg van betekenisekwivalensie tussen brontekselemente en doeltekselemente is.

Die volgende voorbeelde ondersteun hierdie hipotese: die frase “beweging van emosies” word as “burgeoning of emotions” in strofe 17 van gedig 10 vertaal. Die voor die hand liggende vertaalkeuse vir “beweging” sou “movement” wees, maar in plaas daarvan kies Breytenbach die woord “burgeoning”, aangesien “burgeoning” op ’n grafiese vlak nader aan “beweging” lê as “movement”. Om dieselfde rede word “dobbelaar” as “dabbler” in plaas van “gambler” vertaal (gedig 10), en in gedig 5 word “dors” in die bronteks met “door” in plaas van “thirst” vertaal.

Hierdie soort “vertalings” is volop in die bundel. By bogenoemde voorbeelde is dit dus duidelik dat Breytenbach kies om sekere doeltekselemente te gebruik op grond van die fisiese tekenooreenkomste wat hulle met brontekselemente deel, eerder as om betekenisekwivalensie na te streef. (Die Bylaag bevat ’n uitvoerige lys van hierdie soort vertaalkeuses wat in oorblyfsel/voice over voorkom.)

Dit lyk asof Breytenbach na ’n teken in die doelteks soek wat so veel moontlik soos die brontekselement lyk of klink sonder om noodwendig op die semantiese inhoud van die teken te konsentreer. Betekenisekwivalensie word ondergeskik aan grafiese of fonologiese ekwivalensie gestel en daarom kan daar by hierdie gevalle van ’n “oortekening” eerder as ’n betekenisvertaling van brontekselemente gepraat word. Die term oortekening is ’n neologisme wat ek voortaan sal gebruik om na die vertaalstrategie te verwys wat Breytenbach inspan wanneer hy brontekselemente vertaal op grond van hulle fisiese betekenaarooreenkomste, hetsy op fonologiese of op grafiese vlak. Verder sal ek ook die term oortekeninge gebruik om na daardie doeltekselemente te verwys wat die produkte van die strategie van oortekening is.

Grafiese en fonologiese ekwivalensie is nie op sigself ’n radikaal nuwe vertaalstrategie nie. Catford het reeds in 1965 na hierdie soort vertalings en hul belang vir vertaalteorie verwys: “Both phonological and graphological translation must be inlcuded in a general theory of translation because they help to throw light on the conditions of translation equivalence, and hence on the more complex process of total translation” (Catford 1965:23). In die lig van Derrida se differensiële model van taal blyk dit egter dat Breytenbach besig is met meer as bloot die oppervlakkige vertaling van sekere brontekselemente op grond van die betekenaarooreenkomste wat hulle met die betrokke brontekselemente toon: hy dekonstrueer die tradisionele hiërargie van betekende versus betekenaar deur aan die betekenaar die voorkeurposisie toe te wys wat gewoonlik tydens die vertaalproses aan die betekende toegewys word. Sodoende onthul Breytenbach in sy vertalings die fundamentele diskrepansie tussen die materialiteit van tekens en hul betekenisse, tussen betekenaars en betekendes – ’n diskrepansie wat te maklik vergeet word.

De Man bespreek hierdie onthullende funksie van sekere vertalings wanneer hy die Duitse vertaling van die Engelse “bread” as “Brot” ondersoek: “To mean ‘bread’, when I need to name bread, I have the word Brot, so that the way in which I mean ‘bread’ is by using the word Brot. The translation will reveal a fundamental discrepancy between the intent to name Brot and the word Brot itself in its materiality, as a device of meaning” (De Man 1986:87). Breytenbach se vertalings werp dus lig op die arbitrêre verband wat daar tussen betekenaars en betekendes in enige taal bestaan deur die tradisionele hiërargie van betekende versus betekenaar te dekonstrueer.

Die vertaalstrategie van oortekening kan ook anders beskryf word deur aan te voer dat Breytenbach hier met intertalige woordspel besig is. Woordspeling speel ’n belangrike rol in dekonstruktiewe besprekings van taal, omdat dit die arbitrêre verhouding tussen betekende en betekenaar in ’n taalsisteem belig en daardeur as ’n soort selfverwysing van die sisteem dien. Om hierdie rede noem Davis (2001:59) woordspeling die “handtekening” van taal. Breytenbach se voorliefde vir (intratalige) woordspel is welbekend (sien Verster 1968:137–44, 147; Van der Merwe 1975:51–61; Viljoen 1988:135–40), en Huysamer (1997:42) bring hierdie eienskap van sy poësie in verband met Derrida se taalfilosofie deur te noem dat Breytenbach se “dekonstruktiewe spel met sillabes en woordfragmente [...] die opvattings oor taal van teoretici soos [...] Jacques Derrida prakties illustreer”. Huysamer se opmerking geld ook vir die bespreking van oortekening as vertaalstrategie in oorblyfsel/voice over, omdat die tekenspel tussen bron- en doeltekselemente die arbitrêre verhouding tussen betekenaar en betekende belig deurdat betekenaars wat in verskillende tekensisteme soortgelyk lyk of klink, verskillende betekeniseffekte (lees: betekendes) tot gevolg het.

Noudat oortekening as vertaalstrategie in oorblyfsel/voice over geïdentifiseer is, is dit duidelik dat die dubbele bundeltitel vooruitwys na hierdie strategie. Die oortekeninge is “voice overs” – “voice overs” is letterlik die oordrag van stemme, oftewel die oordrag van klanke.

Hambidge (2009:4) het ook reeds gelet op die genoemde vooruitwysing in die titel na ’n sekere soort vertaling – sy bespreek die term voice over as ’n filmiese term en interpreteer hierdeur die Engelse vertalings as “agterna-perspektiewe” van die Afrikaanse gedigte. Eweneens dui die Afrikaanse gedeelte van die bundeltitel daarop dat daar betekenaarspore van die Afrikaans in die Engelse gedigte oorbly.

Sommige resensente het hul bedenkinge oor die vertalings in oorblyfsel/voice over uitgespreek. Pienaar (2009:5) meen byvoorbeeld dat die Engelse weergawes “nogal verrassend swak” is en raai selfs potensiële lesers aan om die vertalings “te ignoreer”. Pienaar se waarde-oordeel is geldig as betekenisekwivalensie as ’n evaluerende maatstaf dien om vertalings te beoordeel, maar betekenisekwivalensie kan nie as ’n evaluerende maatstaf vir die vertalings in oorblyfsel/voice over dien as Breytenbach op ’n bewuste vlak besig is om teen die grein van tradisionele vertalingstrategieë in te gaan nie. Om hierdie rede is dit meer sinvol om, in plaas daarvan om die vertalings krities te evalueer, eerder deur middel van ’n deskriptiewe ontleding drie soorte oortekeninge te identifiseer en vervolgens hul betekeniseffekte te bespreek.

5.1 Eerste soort oortekening

By die soort oortekening word ’n brontekselement soms met ’n doeltekselement vertaal sodat die doeltekselement aan die een kant ’n oortekening van die brontekselement is, maar aan die ander kant ook semantiese inhoud besit wat soortgelyk aan die betekende van die brontekselement is. Sowel die konnotasies as die klanke van die brontekselement bly dus in die doelteks behoue.

Een so ’n voorbeeld is die vertaling van “bleek” as “bleached” in gedig 6. Die Afrikaanse en ooreenstemmende Engelse frases lees as volg: “so bleek soos ’n skulp” (r. 12) en “as bleached as a shell” (r. 11). Eerder as om “bleek” met die gebruiklike “pale” te vertaal, kies Breytenbach om die woord “bleached” te gebruik. Die woorde “bleek” en “bleached” lyk meer na mekaar as wat “pale” na “bleek” lyk, sodat “bleached” ’n oortekening eerder as ’n semantiese vertaling van “bleek” is. Maar “bleek” en “bleached” het ook soortgelyke semantiese konnotasies, sodat die frases “so bleek soos ’n skulp” en “as bleached as a shell” min of meer dieselfde beeld oproep. Alhoewel “bleek” en “bleached” nie presies dieselfde semantiese waarde het nie, word die betekenis van die bronteksfrase nie noemenswaardig deur die keuse van “bleached” in die doelteksfrase verander nie.

’n Tweede voorbeeld is die vertaling van “skrywer” (r. 33) as “scribe” (r. 34) in gedig 10. Weer eens is daar ’n fonologiese ooreenkoms tussen “skrywer” en “scribe” en het die elemente ook gedeelde konnotasies, sodat die betekenis van die oorspronklike “skrywer” nie heeltemal verlore gaan tydens die oortekening-proses nie.

Hierdie soort oortekening herinner baie aan een van die groot taboes in tradisionele vertaalteorie sogenaamde faux amis, oftewel valse vriende. Valse vriende is woorde wat op grond van hul fonologiese of grafiese ooreenkomste met sekere brontekselemente dikwels as betekenisekwivalente vir brontekselemente in doeltekste gebruik word. ’n Klassieke voorbeeld is die “verkeerde” vertaling van die Engelse werkwoord “travel” as “travailler” in Frans. Die Franse woord “travailler” beteken egter “om te werk” en nie “om te reis” nie. Die “korrekte” semantiese vertaling vir “travel” sou “voyager” wees. Derrida stel voor dat die term “belles infidèles” (pragtige ongetroues) meer gepas is om na faux amis te verwys. Hierdie alternatiewe benaming vir die verskynsel van valse vriende blyk uiters gepas te wees vir die eerste soort oortekening in Breytenbach se bundel.

5.2 Tweede soort oortekening

Die tweede soort oortekening is die gevolg van ’n proses waar ’n enkele brontekselement met twee doeltekselemente vertaal word. Die doelteks bevat twee elemente waarvan die een ’n semantiese vertaling en die ander een ’n oortekening van die brontekselement is. In hierdie gevalle word sowel die betekende as die betekenaar van ’n brontekselement dus “vertaal”. Die sinsnede “sodat die maat en die pyn waaroor jy skrywe” (gedig 2, r. 4) word byvoorbeeld as “so that the meat and the measure of your poem’s pain” (r. 4) vertaal. Hier word “maat” as’t ware twee keer vertaal: eerstens as “measure” en tweedens as “meat”. Die betekeniseffekte van die Engelse woord “measure” stem ooreen met die betekeniseffekte van “maat”, sodat die sinsnede “so that the measure of your poem’s pain” aan die tradisionele maatstaf van betekenenisekwivalensie sou voldoen. Breytenbach voeg egter die woord “meat” in die Engels by om as ’n oortekening van “maat” te funksioneer. Die Engelse sinsnede kry ook ’n verdere betekenis wat nie in die Afrikaans terug te vind is nie, alhoewel die betekenaar van “meat” reeds as’t ware in die bronteks gegee is. ’n Mens kan daarom sê dat die betekenaar van die Afrikaanse “maat” as ’n wegspringplek dien vir die byvoeging van betekenis in die Engelse sinsnede.

Die tweede soort oortekening is dus ’n voorbeeld van ’n vertaalstrategie wat tot ’n transformerende vertaling lei. Hierdie vertaalstrategie lei daartoe dat die doelteks organies groei uit die bronteks deurdat oortekening letterlik tot ’n aanwas van tekens lei.

’n Verdere voorbeeld is die naamwoordstuk “miere se koninginneryke” (gedig 10, r. 40) wat as “the mired queendoms of ants” (r. 40) vertaal word. Sowel “ants” as “mired” kan teruggevoer word na “miere”: “ants” dien as ’n betekenisvertaling van “miere” terwyl “mired” ’n oortekening van “miere” verteenwoordig. Hier onder volg ’n lys voorbeelde uit die bundel (’n uitvoeriger lys kan in die Bylaag gevind word). Die brontekselemente en hulle oortekeninge word telkens in vetdruk belig, terwyl die brontekselemente se doelteks-betekenisekwivalente in skuinsdruk aangetoon word:

*    “heilige krokodille” (gedig 3, r. 14) word “sacred crocodiles of healing” (r. 15)
*    “skemer” (gedig 3, r. 18) word “shimmering dusk” (r. 19)
*    “die moeders in die gaskamers” (gedig 5, r. 14) word “gossamer mothers in gas chambers” (r. 14)
*    “fluit” (gedig 10, r. 5) word “fluid flute” (r. 5)
*    “skrik” (gedig 10, r. 14) word “from fright skirled” (r. 12)
*    “stadige ontploffings” (gedig 10, r. 48) word “slow studied explosions” (r. 48)
*    “vroulike” (gedig 12, r. 1) word “froglike and female” (r. 1).

Ten spyte van Derrida se radikale hersiening van wat vertaling behels, meen hy dat vertalings waar die doelteks nie kwantitatief ekwivalent aan die bronteks is nie, onvoldoende is: “The translation must be quantitatively equivalent to the original” (2001:180) en “as soon as one puts two or three words in the place of one, translation becomes an analytic explication; that is, it is no longer strictly speaking a translation” (Derrida 1985:155).

Breytenbach se tweede soort oorklankings weerlê egter Derrida se standpunt dat kwantitatiewe ekwivalensie altyd as ’n norm vir vertaling moet dien. Breytenbach is nie besig om te vergoed vir sy gebrekkige vertalings deur ’n ekstra doeltekselement by te voeg en daardeur die norm van kwantitatiewe ekwivalensie te breek nie. Die Engelse frases hier bo behou telkens die betekenis van die Afrikaanse uitdrukkings én borduur daarop voort deur die betekenaar oor te teken. Die bronteksbetekenis bly in die doelteks enersyds behoue en word andersyds uitgebrei deur hierdie soort oortekening.

Ter verdediging van Derrida moet bygesê word dat Breytenbach ’n sekere vryheid met betrekking tot die Engelse vertalings geniet wat nie gewoonlik aan vertalers gegun word nie, omdat hy die skrywer van die bron- én die doelteks is. Om hierdie rede is Breytenbach reeds uit die staanspoor nie so onderhewig aan die norm van kwantitatiewe ekwivalensie as die meeste ander vertalers nie.

5.3 Derde soort oortekening

Die derde soort oortekening wat in oorblyfsel/voice over geïdentifiseer kan word, is daardie oortekening van brontekselemente waar die betekenis van die brontekselement glad nie in die doelteks terug te vind is nie. Die semantiese inhoud van die brontekselement gaan dus heeltemal verlore by hierdie soort oortekening. So word “naakte ” in “naakte landskap” (gedig 1, r. 19) as “nacre” in “nacre landscape” (r. 19) vertaal. Die semantiese inhoud van “naakte” verdwyn as’t ware in die Engelse teks. Hierdie soort oortekening verskil egter van die eerste soort oortekeninge waarna reeds verwys is: by die eerste soort oortekening bly die betekenis van die brontekselement in ’n mate behoue in die doeltekselement, aangesien die twee elemente sekere semantiese konnotasies deel; by die derde soort oortekening is daar geen gedeelde konnotasies tussen die brontekselement en die doeltekselement nie.

By die derde soort oortekeninge wyk die doelteksbetekenis van die bronteksbetekenis af sodat ’n nuwe betekenis in die doelteks ontstaan wat nie in die bronteks teruggevind kan word nie. Hierdie oortekeninge is die duidelikste voorbeelde van korrupterende vertalings in oorblyfsel/voice over, omdat hulle klaarblyklik die tradisionele norm van betekenisekwivalensie laat vaar en daarom ’n soort terugvoerlus (“feedback loop”) verteenwoordig wat die leser se aandag terugvoer na die bronteks en die brontekselement opnuut belig om gevolglik die bronteks as’t ware van sigself te vervreem.

In hierdie verband sal dit nuttig wees om weer Lewis (1985:43) se beskrywing van korrupterende vertalings aan te haal: “[An abusive translation seeks] to occupy the original’s already unsettled home, and thereby, far from ‘domesticating’ it, to turn it into a place still more foreign to itself.”

Breytenbach gebruik woorde soos “gesprek” en “dialoog” om die terugvoerlus te beskryf wat danksy die derde soort oortekeninge tussen die bron- en doelteks ontstaan. In ’n onderhoud op RSG (2010) sê hy dat die vertalings “’n dialoog vir [hom] as skrywer tussen die Afrikaans en die Engels” is, en aan die einde van oorblyfsel/voice over skryf hy dat die vertalings vir hom ’n gesprek tussen die Afrikaans en die Engels verteenwoordig (2009:62).

Bassnett (1998:31) stel ’n soortgelyke punt wanneer sy die selfvertalings van Samuel Beckett ondersoek deur te let op die ooglopende betekenisverskille tussen verskeie bron- en doeltekste en die dialektiese verhouding wat sodoende tussen Beckett se (Franse) brontekste en (Engelse) doeltekste ontstaan in publikasies waar hulle langs mekaar verskyn. In hierdie gevalle funksioneer die doelteks nie net as ’n herskrywing van die bronteks nie (omdat die doelteksbetekenis van die bronteksbetekenis afwyk), maar veroorsaak hierdie betekenisverskille dat ’n tweetalige leser heel moontlik weer die bronteks sal lees nadat hy/sy die betekenisveranderinge in die doelteks opgemerk het en sodoende die bronteksbetekenis sal heroorweeg.

Voorbeelde uit oorblyfsel/voice over sal bostaande punt verhelder. Die eerste voorbeeld is “ontbinding in die donker” (gedig 1, r. 23) wat vertaal word as “to unbind darkness” (r. 24). Die woord “ontbinding” is dus oorgeteken as “unbind”. Hierdie oortekening veroorsaak dat daar ’n nuwe betekenis in die Engelse teks ontstaan wat verskil van die betekenis in die Afrikaanse teks. Maar “unbind” funksioneer ook om die woord “ontbinding” van sigself te vervreem deurdat die betekenis van die woord “unbind” op die woord “ontbinding” van toepassing gemaak kan word: om iets te “unbind” is om dit los te maak of om dit te ontknoop. In die gesprek tussen die woorde “ontbinding” en “unbind” word die letterlike betekenis waarop die Afrikaanse metafoor van ontbinding geskoei is, herbelig deur “ontbinding” as ’n proses van losmaking of ontknoping te hergiet. Die strategie van oortekening maak hierdie korrupterende vertaling (Breytenbach sou die woord “gesprek” gebruik) moontlik.

Hierdie vernuwende vertaalstrategie is presies waarna Gentzler (1993:160) verwys as hy sê: “[On]e could also project a translation theory aimed at protecting differences, reinvigorating language with lost etymological resonances, thereby opening up new avenues of thought.” Die oortekening van “ontbind” as “unbind” maak nie net nuwe denkpatrone moontlik nie, maar ontbloot ook die morfemiese oorsprong van die woord “ontbind”.

’n Tweede voorbeeld is die vertaling van “laat daar musiek wees” (gedig 2, r. 21) as “let music weep” (r. 22). Die woord “weep” is ’n oortekening van “wees”. Hierdie oortekening bemiddel ’n gesprek tussen die Afrikaanse en Engelse gedigte sodat die aansporing dat daar musiek moet wees ook ’n oproep word dat hierdie musiek moet “weep”, moet ween.

Dit is belangrik om daarop te let dat die geprekke wat deur oortekeninge in die bundel moontlik gemaak word, net soos die lees van enige litêrere teks onderworpe is aan ’n subjektiewe interpretasieproses, sodat hier nie sprake van finale en afgehandelde interpretasies rakende die gesprek tussen die bron- en doelteks is nie. Wat wél duidelik is, is dat hierdie gesprek deur die strategie van oortekening bemiddel word.

’n Derde voorbeeld is die oortekening van “beminde” (gedig 12, r. 9) as “bemoaned one” (r. 9). Die intieme verhouding tussen smart en die liefde word deur hierdie oortekening onderstreep: enersyds is bemindes “bemoaned ones” omdat hulle dikwels vir die liefhebber smart veroorsaak, en andersyds is die smart wat ’n mens as gevolg van iemand anders ervaar, ’n goeie betekenaar van liefde jeens die persoon. Breytenbach kry dit reg om implisiete kommentaar op die aard van liefdesverhoudings te lewer bloot deur “beminde” as “bemoaned one” oor te teken.

Hier onder volg ’n seleksie uit die volledige lys van die derde soort oortekeninge soos dit in die Bylaag verskyn (die brontekselemente en hulle oortekeninge word telkens in vetgedrukte letters aangedui). Ek laat dit aan die leser oor om self die bemiddelde gesprek tussen die bronteks- en doeltekselement te interpreteer:

*    “begelei deur ’n beier / paddas” (gedig 3, rr. 8-9) en “beguiled by a pealing / of frogs” (rr. 8-9)
*     “van verbygaan” (gedig 5, r. 5) en “of verbs become verbiage” (r. 5) 
*     “die wrang smaak van die tong” (gedig 8, r. 11) en “the wrong taste
of tongue” (r. 11)
*     “die woestyn” (gedig 10, r. 126) en “the wasting” (r. 126)
*     “maak dit eenvoudig” (gedig 10, r. 138) en “mask it with simplicity” (r. 137)
*     “jou lieflike mooityd” (gedig 12, r. 8) / “your lifelike beauty” (r. 8).

6. Slot

In die voorgaande bespreking het ons gesien hoe Breytenbach die grense tussen bronteks en doelteks laat vervaag, en ’n alternatiewe en tentatiewe verstaansraamwerk is uiteengesit wat gegrond is op Derrida se insigte oor taal. Verder is oortekening as ’n vertaalstrategie in oorblyfsel/voice over geïdentifiseer en moontlike redes vir die gebruik van hierdie oortekeninge is bespreek. Hierdie redes sluit die skep van transformerende of korrupterende vertalings in wat die tradisionele opvatting van vertaling as die oordrag van betekendes uitbrei. Ten slotte kan gesê word dat Breytenbach deur die gebruik van oortekeninge ’n brug skep waaroor betekendes en betekenaars telkens tussen die bron- en doelteks kan beweeg. Deur bron- en doeltekselemente intiem met mekaar te verweef, hou die bron- en doelteks in oorblyfsel/voice over mekaar voortdurend aan die lewe. 

Bylaag

Eerste soort oortekening

kronkelend (gedig 1, r. 2) / crinkled (r. 3)

donker ink (gedig 1, r. 15) / danker ink (r. 16)

klank (gedig 1, r. 4) / clink (r. 4)

skip (gedig 1, r. 30) / sloop (r. 32)

betekenis (gedig 3, r. 46) / tokening (r. 48)

beenbleek (gedig 5, r. 4) / bone-bleached (r. 4)

bleek (gedig 6, r. 12) / bleached (r. 11)

praat (gedig 10, r. 1) / prattle (r. 1)

geskreeu (gedig 10, r. 13) / skirled (r. 12)

skrywer (gedig 10, r. 33) / scribe (r. 34)

verwilder (gedig 10, r. 107) / bewilder (r. 107)

posbode (gedig 10, r. 114) / post-box (r. 114)

stemme (gedig 11, r. 11) / songs (r. 11)

teken (gedig 12, r. 10) / token (r. 10)

Tweede soort oortekening

tyd tydsaam (gedig 1, r. 24) / tidal time (r. 25)

die maat en die pyn waaroor jy skrywe (gedig 2, r. 4) / the meat and the measure of your poem’s pain (r. 4)

heilige krokodille (gedig 3, r. 14) / sacred crocodiles of healing (r. 15)

die vog (gedig 3, r. 16) / a vow of water (r. 17) (ook eerste tipe)

skemer (gedig 3, r. 18) / shimmering dusk (r. 19)

gesterf (gedig 3, r. 24) / the gesture of dying (r. 27)

testament (gedig 3, r. 26) / will and testament (r. 29)

ek weier om te glo ek is hoegenaamd uitoorlê (gedig 3, r. 48) / I refuse to believe I was utterly fooled (r. 50)

lewe (gedig 3, r. 51) / lewd life (r. 53)

marmerepitaaf (gedig 4, r. 15) / murmured epitaph marbling time (r. 15)

julle wat blind op loer lê (gedig 5, r. 10) / you lying low in the lee of your blindness (r. 10)

die roos in ons wonde (gedig 5, r. 12) / rose roosting our wounds (r. 12)

die dooies se gesigte (gedig 5, r. 13) / the gazetted faces of the dead (r. 13)

die moeders in die gaskamers (gedig 5, r. 14) / gossamer mothers in gas chambers (r. 14)

die deure van ons huise (gedig 5, r. 17) / the doorways of our demure dwellings (r. 17)

die sterre (gedig 6, r. 16) / a stir of stars (r. 16)

verskroeide vlerke (gedig 6, r. 30) / scorched verses and plumes (r. 30)

dooie walvisse (gedig 8, r. 5) / domed dead whales (r. 5)

walvisse gebraak deur die maan (gedig 9, r. 9) / whales valised by moon (r. 9)

ouers (gedig 10, r. 19) / all alders and outers (r. 19)

seunskind (gedig 10, r. 21) / swanskin boy (r. 21)

bleek (gedig 10, r. 22) / bled pale (r. 22)

die droom (gedig 10, r. 25) / a doom of dreaming night (r. 25)

miere se koninginneryke (gedig 10, r. 40) / the mired queendoms of ants (r. 40)

die dobbelklippie se worp (gedig 10, r. 43) / the warp of the diceman’s throw (r. 43)

’n militêre teiken (gedig 10, r. 46) / the muleteer’s military target (r. 46)

stadige ontploffings van glas (gedig 10, r.48) / slow studied explosions of glass (r. 48)

trosse (gedig 10, r. 51) / tressed grapes (r. 51)

vrees was my voetstreep (gedig 10, r. 53) / fear versed my footsteps (r. 53)

gesigte (gedig 10, r. 42) / vestiges of faces (r. 59)

maar as die wind dit nie wou hê/ was ek nooit ’n swael (gedig 10, rr. 62-63) / but if the wind didn’t swell/ my time as swallow would have been moot (rr. 62-63)

want die suide is heemte (gedig 10, r. 67) / for the south hemmed a home (r. 67)

wat in die vroeg en die najaar uit die lug/ oor bouvalle tuit (gedig 10, rr. 69-70) / leaving ajar in spring and in fall the sky/ over ruins (rr. 69-70)

’n donker keël (gedig 10, r. 77) / a dancer-dark cone (r. 77)

wat betekenis onthul (gedig 10, r. 84) / of meaning betoken (r. 84)

beswyming (gedig 10, r. 84) / busying/ a trance (rr. 84-85)

die vroulike ek geskoot in jou (gedig 10, r. 95) / womanly I besotted in your lap (r. 95)

die bries se voue (gedig 10, r. 107) / the breeze’s bridal folds (r. 107)

of ooit weer mag word nie (gedig 10, r. 112) / or one day may weep (r. 112)

heilige krokodille (gedig 10, r. 127) / hailing the holy crocodiles (r. 127)

verdwaal in die tussengang van nagte (gedig 10, r. 140) / get lost before then/ in the vandal corridors of darkness (rr. 139-140)

sou ek my geheue lankal moes verloor (gedig 10, r. 150) / my memory would long since have been lost like geese (r. 150)

om die niet verleë te maak (gedig 10, r. 155) / to make of the void an embarrassed verse (r. 155)

dis nie liggame van klip en been en kwarts (gedig 11, r. 9) / they are neither ligaments nor lingams of stone or bone or quartz (r. 9)

ek het jou so uit die oog verloor (gedig 11, r. 20) / the eye is such a dog (r. 20)

walvisse/ as buitelande heuwels in die maanlig (gedig 11, rr. 28-29) / mantled as jewels and howls under moon (r. 29)

vroulike (gedig 12, r. 1) / froglike and female (r. 1)

niemand (gedig 12, r. 4) / no knifeman (r. 4)

pantserwa (gedig 12, r. 19) / painted war wagon (r. 20)

Derde soort oortekening

modder (gedig 1, r. 18) / madder (r. 19)

onsigbaar oordag (gedig 1, r. 21) / cordage by day (r. 22)

ontbinding in die donker (gedig 1, r. 23) / to unbind darkness (r. 24)

die los lykevlies (gedig 1, r. 26) / the veiled fleece (r. 27)

skaduwees oor die naakte landskap (gedig 1, r. 27) / schedules over the nacre land (r. 29)

laat daar musiek wees (gedig 2, r. 21) / let music weep (r. 22)

spoel van ’n hart (gedig 2, r. 24) / spoil of a heart (r. 25)

diep en soel en somber aarde (gedig 3, r. 5) / dipped and soiled and sombre earth (r. 5)

aftakeling van herfs (gedig 3, r. 7) / articling of fall (r. 7)

begelei deur ’n beier/ paddas in ’n poel (gedig 3, rr. 8-9) / beguiled by a pealing/ of frogs in a poem (rr. 8-9)

verbyster oor hoe vinnig alles vervliet (gedig 3, r. 23) / verbosed by the speed at which everything flees (r. 25)

beledig en bespot (gedig 6, r. 8) / bleed and mock (r. 7)

maar niemand het die telefoon opgetel (gedig 3, r. 30) / but no one opened the telephone (r. 33)

om dit vir jou voor te berei (gedig 3, r. 32) / to lay it bare for you (r. 35)

[ek] kon geen handeling bedink/ wat ’n dooie man waardig sou wees nie (gedig 3, rr. 43-45) / [I] can think of no action/ awarding a dead man’s weight (rr. 46-47)

hierdie dood het geen betekenis (gedig 3, r. 42) / this doom has no tokening (r. 48)

miskien is ek ’n afgetrede ontslapene (gedig 3, r. 50) / perhaps I’m an aftertime corpse (r. 52)

hy wat met my ’n bewussyn deel (gedig 4, r. 5) / he who shares with me a musing (r. 5)

die koelte van eike (gedig 4, r. 14) / the kilter of oaks (r. 14)

om tyd vas te beitel (gedig 4, r. 15) / marbling time in a boat (r. 15)

getye se tyding/ van verbygaan (gedig 5, rr. 4-5) / gospel tides/ of verbs become verbiage (rr. 4-5)

’n dors na lewe (gedig 5, r. 9) / a door to life (r. 9)

die verre noorde (gedig 8, r. 1) / the verged north (r. 1)

die wrang smaak van die tong (gedig 8, r. 11) / the wrong taste of tongue (r. 11)

om die blinde danseres se buik te aai (gedig 9, r. 6) / avail themselves/ of the blind dancer’s belly (rr. 5-6)

blink gespoel deur water (gedig 10, r. 2) / despoiled by water (r. 2)

die riet deur wind deurboor (gedig 10, r. 4) / the wind-disrobed reed (r. 4)

ek is die dobbelaar (gedig 10, r. 6) / I’m the dabbler (r. 6)

partykeer val die dobbelsteentjies reg (gedig 10, r. 7) / partaking of the arc of falling (r. 7)

met skraler skaduwee uit die put geskater (gedig 10, r. 10) / gestated in scarier shadow from the well (r. 10)

per abuis het ek hul trekke en skete geërf (gedig 10, r. 15) / I took the abused traits of the clan (r. 15)

die geheue (gedig 10, r. 18) / forgetting to ghee (r. 18)

wat hoeka meer weet van tou as musiek (gedig 10, r. 20) / hooked on rope much more than music (r. 20)

per ongeluk (gedig 10, r. 21) / angelic (r. 21)

om vroue met die nag/ wakker te fluister (gedig 10, rr. 23-24) / to fluster awake/ the women (rr. 23-24)

moes sneuwel soos die skrywer/ in sy broek (gedig 10, rr. 33-34) / would have snowed / like the scribe in his brook (rr. 33-34) (twee voorbeelde)

as die landskap se rug nie geknak is nie (gedig 10, r. 38) / if the landscape’s back had not been gunked (r. 38)

lig word (gedig 10, r. 57) / lag (r. 57)

blindsien (gedig 10, r. 58) / blindside (r. 58)

kreun (gedig 10, r. 59) / keen (r. 59)

bloei (gedig 10, r. 60) / bloat (r. 60)

om my vere/ te doop in die dooie see se wolke (gedig 10, rr. 70-71) / to droop/ my feathers in the dead sea’s clouds (rr. 70-71)

die gedig is slegs ’n gooi van die dice (gedig 10, r. 76) / the poem is but a geeing of dice (r. 76)

haar ritme/ se beweging van emosies (gedig 10, rr. 81-82) / the rhythm/ of its burgeoning emotions (rr. 81-82)

my voorreg (gedig 10, r. 98) / my vortex (r. 98)

o die skrille eensaamheid van die berg (gedig 10, r. 110) / ah the mountain’s   twirled loneliness (r. 110)

ek het geen partituur wat ek kon wees (gedig 10, r. 111) / I have no partition in what might have been (r. 111)

die verbrande tong (gedig 10, r. 124) / an errant tongue (r. 124)

die woestyn (gedig 10, r. 126) / the wasting (r. 126)

maak dit eenvoudig (gedig 10, r. 138) / mask it with simplicity (r. 137)

my lyf/ se gawe om pyn asem vir asem te ontklee (gedig 10, rr. 151-152) / my body/ in its game of undressing pain breath by breath (rr. 151-152).

[om] die leemte te ontnugter (gedig 10, r. 154) / [to] disenchant the limits (r. 154)

die laaste asemteug (gedig 11, r. 14) / the ultimate assertion (r. 14)

o lewe, loop doekvoet (gedig 11, r. 19) / oh life, go devotedly (r. 19)

leë erwe van vergaan (gedig 11, r. 26) / a vagrant land of decay (r. 26)

buitelende heuwels (gedig 11, r. 29) / mantled as jewels and howels (r. 29)

’n ander dag sal aanbreek (gedig 12, r. 1) / another day will inbreed (r. 1)

geheel in syn gebrand (gedig 12, r. 2) / gavelled in being (r. 2)

soepel (gedig 12, r. 4) / steep-seeped (r. 4)

die swaard van selfmoord (gedig 12, r. 5) / the sword of selfhood (r. 5)

alles buite en behalwe die verlede (gedig 12, r. 6) / everything outside and beholden to death (r. 6)

asof die tyd/ sluimerend met vakansie is (gedig 12, rr. 7-8) / as if time/ were slivered on leave (rr. 7-8)

jou lieflike mooityd (gedig 12, r. 8) / your lifelike beauty (r. 8)

beminde (gedig 12, r. 9) / bemoaned one (r. 9)

skandering (gedig 12, r. 15) / squander (r. 15)

Bibliografie

Baker, M. en G. Saldanha (reds.). 2009. Encyclopedia of translation studies. Londen: Routledge.

Bassnett, S. 1998. When is a translation not a translation? In Bassnett en Lefevere (reds.) 1998.

Bassnett, S. en A. Lefevere (reds.). 1998. Constructing cultures: Essays on literary translation. Brittanje: Cromwell Press.

Breytenbach, B. 2009. oorblyfsel/voice over. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2010. Onderhoud op RSG se Leeskring.

Catford, J.C. 1965. A linguistic theory of translation. Londen: Oxford University Press.

Chatzidimitriou, I. 2009. Self-translation as minorization process: Nancy Hudson's Limbes/Limbo. SubStance, 38(2):22–42.

Davis, K. 2001. Deconstruction and translation. Manchester: St. Jerome.

De Kock, L. en C. Vos. 2011. Omdigting: ’n Proses. Versindaba. http://versindaba.co.za/2011/04/28/cas-vos-leon-de-kock-omdigting-n-proses (29 Junie 2011 geraadpleeg).

De Man, P. 1986. The resistance to theory. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Derrida, J. 1977. Le retrait de la métaphore. Analecta Husserliana,(14):273–300.

—. 1981. Positions. Vertaal deur A. Bass. Chicago: University of Chicago Press.

—. 1985. The ear of the other: Otobiography, transference, translation. Vertaal deur P. Kamuf. New York: Schocken.

—. 2001. What is a “relevant” translation? Vertaal deur L. Venuti. Critical Inquiry,27:174–200.

Gentzler, E. 1993. Contemporary translation theories. Londen: Routledge.

Graham, J.F. 1985. Introduction. In Graham (red.) 1990.

Graham, J.F. (red.). 1990. Difference in translation. Londen: Cornell University Press.

Hambidge. J. 2009. Breyten skuif grense. Volksblad, 2 November, bl. 4.

Huysamer, M. 1997. Breyten Breytenbach se digbundel Soos die so: ’n Ondersoek. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Kruger, J.L. 2004. Translating traces: Deconstruction and the practice of translation. Literator, 25(1):47–71.

Lewis, P. 1985. The measure of translation effects. In Graham (red.) 1990.

Nida, E. 1969. The theory and practice of translation. Leiden: Brill.

Pienaar, H. 2009. Breyten – “bloed, klip en been en kwarts wat spat”. Rapport, 20 September, bl. 5.

Polly, J. 2009. Opportunities of contact: Derrida and Deleuze/Guattari on translation. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Universiteit van Toronto.

Steiner, G. 1975. After Babel: Aspects of language and translation. Londen: Oxford University Press.

Van der Merwe, A. 1975. Paradoks as poësie: ’n Ondersoek na enkele aspekte van die poësie van Breyten Breytenbach. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Rhodes Universiteit.

Venuti, L. 2000. Translation, community, utopia. In Venuti (red.) 2000.

—. 2001. Introduction. Critical Enquiry,27(2):169–73.

Venuti, L. (red.). 2000. The translation studies reader. Londen en New York: Routledge.

Verster, J. 1968. Taal en beeld in die poësie van Breyten Breytenbach. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Viljoen, L. 1988. Breyten Breytenbach se (“yk”): ’n Semiotiese ondersoek. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

Vos, C. 2011. Duskant die donker/Before it darkens. Vertaal deur L. de Kock. Pretoria: Protea Boekhuis.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

Top