Oorspanne verwagtinge en die wantrouedebat van 8 Augustus 2017

  • 1

Jacob Zuma (Foto: Youtube)

Die mosie van wantroue wat op 8 Augustus 2017 in die Parlement in Kaapstad plaasgevind het, was baie meer as net ’n formele debat met ’n verrassende geheime stemming daaraan gekoppel; dit was ’n kulminasiepunt van vele politieke gebeure met langtemyngevolge vir die regerende ANC, maar ook vir opposisiepartye. Die opbou van verwagtinge gedurende Augustus 2017 was aanvoelbaar en dit gaan voortduur in September en Oktober 2017 wanneer President Jacob Zuma drie maal in die howe betrek sal word. Eers sal die saak oor sy staat van beskuldiging (impeachment) op 5 September aangehoor word, dan sal die appèlsaak oor die 783 kriminele klagtes op 15 September aangehoor word en laastens sal die staatskapingsverslag op 23 Oktober 2017 aangehoor word. Die politieke onsekerheid sal dan in die tweede helfte van Desember ’n hoogtepunt bereik wanneer die ANC sy nuwe leierskorps tydens ’n nasionale konferensie moet aanwys.

Die wantrouedebat op 8 Augustus 2017 was die agtste mosie van wantroue sedert President Jacob Zuma staatshoof geword het, maar tog het dit baie meer aandag geniet as die vorige sewe wantrouemosies in die Parlement. Die rede vir die geweldige verwagtinge van die mosie en stemming wat selfs die waarde van die Suid-Afrikaanse geldeenheid beïnvloed het, kan aan ’n aantal faktore toegeskryf word, naamlik:

  • Die groter samewerking tussen opposisiepartye in die Parlement sedert die 2014 nasionale verkiesing.
  • Die uitspraak van die Konstitusionele Hof in Maart 2016 met betrekking tot die Nkandla-saak waarin Jacob Zuma skuldig bevind is aan ’n verbreking van sy ampseed en gevolglike persoonlike verryking. As gevolg van die hofsaak moes Zuma bykans R8 miljoen aan die staat terugbetaal.
  • Die ANC parlementêre koukus wat toenemend sedert die Nkandla-uitspraak in 2016 meer beslis opgetree het met betrekking tot korrupsie en die Presidensie se omseiling van parlementêre prosesse en die regs- en konstitusionele prosesse in die algemeen. Die ondersoeke na gebeure by die SAUK, staatskaping en staatsondernemings is voorbeelde hiervan. Die Parlement het begin om sy oorsigrol met nuwe ywer te vertolk.
  • Die politieke terugslag wat die ANC in Augustus 2016 se plaaslike verkiesings ervaar het en wat hulle steun tot ongeveer 53% van die nasionale steun laat krimp het. Dit het egter geen invloed op hulle 62% verteenwoordiging in die Parlement gehad nie, maar tog ’n betekenisvolle sielkundige impak gehad.
  • Toenemende faksievorming en verdeeldheid in die ANC op pad na ’n nasionale partykonferensie in Desember 2017 waar die partyleierskap verkies moet word.
  • Alliansievennote soos Cosatu en die SAKP wat toenemend openlik vir President Zuma se uittrede en bedanking begin vra het. Die Alliansie sit met die feitlik onhoudbare paradoks dat lede van Jacob Zuma se kabinet openlik vir sy uittrede vra en hom van korrupte optrede en nepotisme met betrekking tot sy familie en die Gupta-familie beskuldig.
  • Die afdanking van Pravin Gordhan as minister van finansies en sy adjunk Mcebisi Jonas as deel van ’n kabinetskommeling in die middernagtelike ure van 30 Maart 2017 en die verwoed-frustrerende uitsprake deur ANC-veterane tydens die Ahmed Kathrada-begrafnis en landswye oordenkingsbyeenkomste.
  • Die uitspraak van die Konstitusionele Hof met betrekking tot die prerogatief wat die Speaker het om wel geheime (geslote) stemming in die Parlement toe te laat, in teenstelling met die parlementêre tradisie dat stemming in die Parlement altyd ’n oop stemming sal wees.

Die intensiteit van die mosie van wantroue wat deur die opposisiepartye onder leiding van die DA aangevoer is, is versterk nadat die Speaker Baleka Mbete in April 2017 nie die versoek om ’n geslote stemming te hou wou toestaan nie omdat sy van mening was dat sy nie oor daardie grondwetlike bevoegdheid beskik het nie. Die UDM onder leiding van Bantu Holomisa het die saak egter na die Konstitusionele Hof verwys en die uitspraak is in Junie 2017 gelewer. Die beslissing was dat die Speaker wel oor daardie bevoegdheid beskik en dat geheime stemmings soms in die tradisionele deursigtige parlementêre stemproses nie alleen toelaatbaar was nie, maar soms selfs gewens of noodsaaklik was, was ’n groot deurbraak. Die Konstitusionele Hof het egter die finale besluit aan die Speaker oorgelaat. Sy het uiteindelik hierdie beslissing op 7 Augustus 2017 gemaak en besluit dat ’n geheime stemming wel kon plaasvind, teen die algemene verwagting in.

Om die mosie van wantroue in perspektief te stel is dit tog nodig om na die Suid-Afrikaanse partywese in die algemeen te kyk, asook hoe die politieke proses dinamies aan die ontwikkel is. Volgens Giovanni Sartori (1976) se klassifikasie van partystelsels kan Suid-Afrika as ’n predominate partystelsel geklassifiseer word. Kortliks beteken dit dat een dominante party gewoonlik die verkiesings wen en dit veroorsaak dat die normale politieke dinamika tussen partye verplaas word deur ander politiek dinamiese prosesse en magsverhoudings. So byvoorbeeld word die impak van die belangrikste opposisiepartye verplaas deur faksies binne die dominante party. So word dit belangriker om na die ideologiese en beleidsverskille binne die dominante party te let, eerder as na wat opposisiepartye aanvoer. Die rol van die media en ander belangegroepe in die burgerlike gemeenskap en in die sakegemeenskap word die informele opposisie in die afwesigheid van ’n sterk opposisie. Die dominante party ontwikkel ’n onverdraagsaamheid teenoor kleiner politieke partye en groeperinge en inkorporeer en internaliseer eerder dominate stemme buite die party as ’n strategie.

Die dominante politieke party in predominate stelsels bly egter nie altyd dominant nie en wanneer daardie dominansie begin vermurwe/verbrokkel (soos wat die ANC in Augustus 2016 beleef het) ontstaan daar ’n baie belangrike nuwe speelveld. As gevolg van jare se politieke dominasie, verleer hierdie partye die kuns van opposisiepolitiek en bevind hulle hulself in baie troebel politieke vaarwaters. Eers vorm faksies en dit verlam die gewone partyprosesse en daarna volg daar party-erosie. Die ANC het sedert 2007  twee sulke prosesse beleef met die vorming van COPE in 2008 en die EFF in 2013. Die politieke uitdagings wat Cosatu en die SAKP gedurende 2017 aan die ANC gerig het, is deel van die proses.

Die ANC is dus die laaste twee weke voor 8 Augustus 2017 met twee baie belangrike strategiese keuses gekonfronteer met betrekking tot die mosie van wantroue, wetende dat die opposisiepartye baie nou gaan saamwerk (ten spyte van ideologiese verskille). Die een was om die mosie van wantroue in ’n oop debat te verdedig met die risiko dat sekere lede, byvoorbeeld Pravin Gordhan en Makhosi Khosa (en ’n paar ander) openlik teen President Zuma sou stem. Dit sou noodwendig daartoe lei dat hierdie lede aan partydissipline onderhewig gemaak sou moes word en waarskynlik geskors sou word. Dit kon maklik lei tot verdere hofsake en selfs die ontstaan van ’n nuwe politieke party soos COPE. Die ander risiko was ’n geheime stemming waarin verskeie ANC-lede saam met die opposisie sou stem en daar ’n geringe kans sou wees dat die ANC die mosie van wantroue teen die president sou kon verloor, met al die gevolge daaraan gekoppel. Die gevolg wat die ANC-leierskap egter die meeste gevrees het, was dat die ANC in die verloorscenario nie binne 30 dae ’n nuwe presidentskandidaat sou kon aanwys nie as gevolg van die diepgang van die politieke verdeeldheid en gepaardgaande faksies.

Die uitkoms van die agtste mosie van wantroue is nou deel van die geskiedenis met die ANC wat die mosie in ’n geheime stemming verslaan het met 198 stemme teenoor 177, met nege lede wat buite stemming gebly het uit ’n totaal van 384 stemme. Die totale aantal stemme van die opposisiepartye was ’n maksimum van 151, maar twee lede van die DA was afwesig en van die kleiner partye het aangedui dat hulle saam met die ANC sou stem. Omdat dit ’n geheime stemming was, sal ons nooit werklik weet wie waar gestem het nie, maar kon daar tussen 28 en 40 ANC-lede gewees het wat vir die mosie gestem het om by die uitkoms te kon kom en dit gaan die ANC nog baie lank treiter. Dit gaan die ANC treiter omdat die uitslag die hele tyd in twyfel was, dit die konflik tussen verskillende faksies gaan intensifiseer en dit agterdog oor lede se lojaliteit teenoor die leier van die party, Jacob Zuma, net verder gaan verdiep.

Die ANC het wel die mosie van wantroue afgeweer, maar 8 Augustus 2017 sal nog lank onthou word as ’n politieke waterskeidingsoomblik op dieselfde vlak as die afdanking van Jacob Zuma as adjunk-president (2005), terugroeping van Thabo Mbeki as president (2008), die Marikana-insident (2012),  die Al Bashir-insident (2015), die afdanking van Nhlanhla Nene (2015), die Nkandla-uitspraak (2016), die Staatskapingsverslag (2016) en Pravin Gordhan se afdanking (2017). President Jacob Zuma het reeds vir hom ’n plek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis staangemaak as die mees omstrede staatshoof sedert 1910 en dit is duidelik dat hy aan sy pos as leier van die regerende party en staatshoof klou sonder dat die ANC as politieke party weet wat om met hom te doen. Die wantrouedebat het daardie punt net weereens bevestig. Uit vele oorde, insluitend die ANC-alliansie, word daar negatiewe scenario's geskets vir die 2019 nasionale verkiesing as gevolg van die ANC se vele beleids- en bestuursmislukkings, maar die grootste risiko wat die ANC in die gesig staar in om in Mei 2019 steeds met Jacob Zuma geassosieer te word. Wie die mosie van wantroue gewen het en wie nie, is van mindere belang in die politiek-dinamiese proses in Suid-Afrika op pad na die volgende algemene verkiesing net twintig maande van nou af in 2019. Die les wat die ANC dus uit die wantrouemosie moes leer, was dat indien hulle steeds die regering wil bly na Mei 2019, hulle die politieke raklewe van Jacob Zuma op een of ander manier na Desember 2017 drasties sal moet inkort.

  • 1

Kommentaar

  • My siening van sake is op my vrou se webblad geplaas. Dus dit is hoe ek dit sien.
    Dit is nie die uitslag wat my verras het nie, maar wel die gebrek aan insig wat ANC-lede geopenbaar het.
    Een na die ander ANC-lid, asook sommige politieke kommentators op TV, het die lof van die ANC besing.
    Hulle kan eenvoudig nie ‘n onderskeid tref tussen die regering, die ANC en die President nie. Vir hulle is alles dieselfde!
    Die President mag ‘n lid van die ANC wees, maar hy is die President van Suid-Afrika, wat moet toesien dat die regering so regeer dat dit tot voordeel van alle inwoners van Suid-Afrika is en nie slegs tot voordeel van ‘n party of individue nie, soos tans die geval is.
    In 1994 is daar mos belowe daar is ’n nuwe skip gebou, groot genoeg met plek vir alle passasiers (inwoners), met ‘n nuwe kaptein en bemanning en bestemming. Ons weet dat daar op die see ander groot skepe en storms is en ook seerowers, wat vermy moet word.
    Maar hierdie kaptein het die seerowers aan boord toegelaat en het aan sy bemanning opdrag gegee of toegelaat dat hul met ‘n groot deel van die vrag wegkom, tot eie voordeel en nie tot voordeel van die ander passasiers nie.
    Ja die kaptein het selfs met hulle om die tafel gesit en feesvier en, selfs al het van die bemanning muitery gepleeg, nog steeds met behulp van die res aan bewind gebly.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top