Oorlog en terpentyn deur Stefan Hertmans

  • 2

Titel: Oorlog en terpentyn
Skrywer: Stefan Hertmans
Vertaler: Daniel Hugo
Uitgewer:
Protea Boekhuis, 2016
ISBN: 9781485306108

Kort voor sy dood oorhandig Stefan Hertmans se oupa, Urbain Martien – ’n vergete oorlogsheld uit die Eerste Wêreldoorlog – twee skryfboeke met sy memoires aan hom. Meer as 30 jaar gaan verby voordat Hertmans die boeke begin bestudeer en die waarde daarvan besef. Dit word ’n ontdekkingsreis na die verlede, wat nie net die verskrikking van die loopgrawe oopspit nie, maar ook op hartroerende wyse die verbintenis tussen generasies uitbeeld.

Oorlog en terpentyn is die eerste werk van die Vlaamse digter/skrywer Stefan Hertmans wat in Afrikaans verskyn, maar hy het reeds meer as 25 publikasies op sy kerfstok. Hy is die wenner van verskeie literêre pryse (waaronder die Vlaamse Cultuurprijs voor de Letteren), terwyl die New York Times die Engelse vertaling, War and turpentine, as een van die top 10 boeke van 2016 aangewys het. Danksy Protea Boekhuis se volgehoue poging om ons kultuurskat te verryk, kan ook Afrikaanse lesers hierdie werk geniet (vertaal deur Daniel Hugo) sonder die struikelblokke wat ons daarvan weerhou om skrywers uit die Lae Lande te ontdek.

Die verhaal word, heel gepas vir ’n werk oor die lewe van ’n skilder, as ’n triptiek aangebied: Terpentyn – Oorlog – Terpentyn. In Terpentyn is die skrywer aan die woord, en in Oorlog is dit sy oupa se beurt. Die stemme verskil merkbaar, hoewel Hertmans erken dat sy eie skryfkwas wel ingespan is by sy oupa se weergawe van die oorlog. Hy noem dat hy eers gevoel het dat hy sy oupa verraai wanneer hy dié se omslagtige styl in hedendaagse taal oorskryf, of sy skryffoute korrigeer (kwessies waarmee ook vertalers worstel!). Tog het hierdie deel van die verhaal my die meeste aangegryp. Tonele wat sy oupa nooit op doek kon vasvang nie, is hier tot in die fynste besonderhede geskilder.

In die eerste Terpentyn-deel word die skrywer se herinneringe aan sy oupa opgeroep en word brokkies uit sy oupa se grootwordjare gedeel, soos opgebou uit die oupa se memoires, staaltjies van familie en historiese feite. Hy skakel dit met sy eie speurtog na plekke wat in sy oupa se skryfboeke genoem word en sy indrukke daarvan.

Urbain Martien besef as jong seun dat hy, nes sy vader, ook ’n skilder wou wees (vandaar die verwysing na terpentyn in die titel). Ongelukkig word sy droom begrawe onder die werklikheid van armoede, verlies en uiteindelik die Eerste Wêreldoorlog. In die tweede gedeelte van die boek vind ons dan Urbain Martien se ooggetuieverslag vandat hy opgeroep word om in die oorlog te veg, hoe hy drie maal nouliks aan die dood ontkom het, tot hy aan die einde van die oorlog kon terugkeer na ’n wêreld wat vir altyd verander het. Die tweede Terpentyn-deel handel oor die oupa se groot hartsverlies en lewe ná die oorlog tot sy dood op 90-jarige leeftyd – die langste deel van sy lewe, maar die kortste deel in die boek, oorheers deur die swaarkry en trauma uit sy vroeë bestaan. Uit my skyfskietdae onthou ek dat terpentyn, ironies genoeg, ook gebruik word om wapens mee skoon te maak. Kuns word dan vir die oupa as’t ware ’n manier om die residu wat die armoede en oorlog op sy lewe gelaat het, te verwyder.

Hoewel die werk as ‘n roman bemark word, is die leser deurentyd bewus van die skrywer se worsteling met die geskiedenis en hoe sy oupa se lewe daarin gepas het (of soms, by nadere ondersoek, nié daarin gepas het soos dit onthou is nie) – dus elemente van ’n biografie en outobiografie. Vir lesers wat daarvan hou om streng binne ’n bepaalde genre te bly, mag dit dalk steurend wees, maar vir my het dit bygedra tot ’n ryk leeservaring wat nooit eentonig geraak het nie.

Tyd of spasie vir ’n deeglike ontleding van die vertaling en vergelyking met die bronteks is daar ongelukkig nie, maar ek wil tog ’n paar gedagtes rondom die vertaling deel. Daar is verskeie strikke waarin ’n vertaler wat tussen Afrikaans en Nederlands werk, kan trap – dit word altyd ’n interessante (en dikwels komiese) uitruiling van voorbeelde tydens vertaalwerkswinkels en -gesprekke (Daniel Hugo het trouens self al daaroor geskryf en in werkswinkels daarop gefokus – http://www.litnet.co.za/valse-vriende-die-gevaarlike-avontuur-van-vertaal-uit-nederlands). Soms lê die verskil tussen Afrikaans en Nederlands in die letterlike of figuurlike gebruik van ’n woord. Wanneer “smetteloze witte overhemd” (bl 11 van die bronteks) as “silwerskoon wit hemp” (7) vertaal word, val dit glad nie vreemd op nie, maar “smetteloos blinkgepoetste stewels” (33) (“smetteloos opgeblonken bottines”, bl 37 van die bronteks) werk nie, omdat “smetteloos” in Afrikaans meestal figuurlik gebruik word. As die gebruik van “smetteloos” in die bronteks vreemd is, sou dit natuurlik nie ’n probleem gewees het om dit in Afrikaans ook so te gebruik nie, maar waarom is die woord dan nie konsekwent in die vertaling hanteer nie?

Die leser wat ’n teks soos Oorlog en terpentyn aanpak waarin, benewens die historiese materiaal, ook groot kuns ’n rol speel, sal beslis nie vir lang sinne wegskram nie. Dit is jammer dat daar aan die skrywer se styl getorring is deur sinne in korter dele op te breek (die openingsparagraaf in die bronteks bestaan byvoorbeeld uit vyf sinne – in die vertaalde teks word dit elf sinne). Dit verklaar dalk die oorsprong van die gevoel van afgestomptheid wat ek in die eerste deel van die boek ervaar het.

Dit is onvermydelik dat daar iets in ’n vertaling verlore sal gaan, maar terselfdertyd word daar in die doeltaal nuwe moontlikhede ontsluit wat vir hierdie verlies kan vergoed (so byvoorbeeld word “Het is drukkend heet ... de hele wereld lijkt op apegapen te liggen” vertaal as “Dit is drukkend warm ... dit lyk of die hele wêreld saam met die kraaie gaap”, waar die Nederlandse uitdrukking met ’n gepaste Afrikaanse uitdrukking vervang is). Die vertaler moet toelaat dat die “luikje van gekte”, om die Nederlandse vertaler, Rob van der Veer, se uitdrukking te gebruik, tydens die vertaling en revisie vir hom/haar oopgaan. Dit kan egter nie gebeur as die vertaler nie genoeg tyd het om, eerstens, die teks baie goed te bestudeer (soos Hertmans oor sy skryfproses sê: “Ek het dit wat ek gelees het eers laat insink ...”, bl 21), en tweedens, tydens revisie met vars oë daarna te kyk en vertaalkeuses te heroorweeg nie. Gegewe Protea Boekhuis se vertaaluitset, beperk tot enkele vertalers wat uitsluitlik vir die vertalings verantwoordelik is, kan ’n mens nie anders as om te wonder of hierdie kwalitatiewe vereistes ingeboet word nie.

Afgesien van bogenoemde kwessies oor die vertaling is Oorlog en terpentyn ’n boeiende en aandoenlike verhaal – ’n kosbare altaarstuk vir ’n oupa.

US Woordfees


 

Stefan Hertmans: Oorlog en terpentyn, vertaal deur Daniel Hugo

Stefan Hertmans, Peter Verhelst , Tom Lanoye, Zandra Bezuidenhout

Moontlik gemaak deur Protea Boekhuis, SASNEV en die Vlaamse Regering

Kort voor sy dood in die 1980’s gee die Belgiese digter en skrywer Stefan Hertmans se oupa aan hom ’n pak ou, volgeskrewe dagboekies. Wanneer hy dit uiteindelik lees, ontdek hy meer as een geheim. Soos sy oupa se armoedige kinderjare in Gent voor 1900, sy gruwelike ervarings as frontsoldaat in die Eerste Wêreldoorlog, ’n vroeg gestorwe groot liefde, en hoe sy oupa ná die oorlog sy verdriet probeer wegskilder. Luister oor
’n glas wyn hoe Stefan en sy Afrikaans vertaler, Daniel Hugo, gesels.

4 Maart 17:00, 60min, R50 | R60 by die deur


 

Vertalingtameletjie – van hier tot daar en terug

Stefan Hertmans, Daniel Hugo

Moontlik gemaak deur Protea Boekhuis, SASNEV en die Vlaamse Regering

Die hoog aangeskrewe Vlaamse skrywer en digter Stefan Hertmans, Vlaamse dramaturg Peter Verhelst en Tom Lanoye gesels met Zandra Bezuidenhout oor hulle ervaring om hulle werk in Afrikaans te laat vertaal. Antjie Krog lees uit haar Afrikaanse gedigte en hulle gepaardgaande Nederlandse vertalings voor.

4 Maart 12:00, 60min, R50 | R60 by die deur

  • 2

Kommentaar

  • Marike, baie dankie vir jou simpatieke resensie van "Oorlog en terpentyn"...
    Ek kan egter nie anders as om te reageer op jou opmerking omtrent die skynbaar lang sinne van die bronteks wat ek in korter sinne sou opgebreek het nie. Jy beweer dat die openingsparagraaf in Nederlands uit vyf sinne bestaan, maar jy het jou laat mislei deur Hertmans (en talle ander moderne Nederlandstalige skrywers) se gebruik van interpunksie. Hulle koppel (of skei) dikwels twee of meer selfstandige sinne met 'n komma. In werklikheid bestaan die eerste paragraaf in die boek uit nege sinne - wat ek in elf sinne weergegee het.
    Die laaste sin van die paragraaf bevat so 'n tipiese aaneenryging van selfstandige hoofsinne. Ek dui die onderskeie sinne met syfers aan: (1) "Mijn moeder naaide deze merkwaardige strikken volgens zijn aanwijzingen, (2) ik heb hem zijn hele lange leven niet anders gekend dan met een dergelijke zwarte strik met slippen als van een pandjesjas; (3) er moeten er tientallen zijn geweest, (4) er ligt er hier ergens een tussen mijn boeken, relict van een verre, verloren tijd."
    Al wat ek gedoen het, is om elke sin met 'n punt te laat eindig en die nuwe met 'n hoofletter te begin - om dit vir die Afrikaanslesende oog makliker te maak: "My ma het hierdie merkwaardige strikdasse volgens sy voorskrifte gemaak. Ek het hom my lewe lank nooit sonder sulke swart strikdasse gesien wat soos manelpante lyk nie. Hy moes tientalle daarvan gehad het. Een van hulle lë hier êrens tussen my boeke - die reliek van 'n verre, verlore tyd."
    Normaalweg word die sinsritme van die bronteks versteur, wanneer lang sinne tot korter sinne verbrokkel word. Dit gebeur uiteraard nie hier nie. Ek het beslis nie aan Hertmans se styl "getorring" nie.
    Wat my nou opval terwyl ek die Nederlands en Afrikaans oortik, is dat ek 'n feitelike onmoontlikheid in my vertaling gekorrigeer het. Die kleinseun (Stefan Hertmans) sê van sy oupa: "ik heb hem zijn hele lange leven niet anders gekend dan met een dergelijke zwarte strik ..." Hertmans het sy oupa slegs in die laaste deel van sy lewe geken, en daarom het ek vertaal: "Ek het hom my lewe lank ..." Maar dit net ter interessantheid.
    Wat "smetteloos" betref - dit word meestal figuurlik gebruik in Afrikaans, maar nie altyd nie (vgl die HAT). Met "smetteloos blinkgepoetste stewels" het ek Hertmans se styl, wat plek-plek barokagtig raak, probeer weergee. En van wanneer af moet een woord in die bronteks konsekwent en meganies met dieselfde vertaalekwivalent in die doelteks vervang word? Dit is iets waarin vertaalmasjiene uitblink.

  • Ek het lank getob en besluit om tog te reageer op Marike van der Watt se insinuasie dat Protea Boekhuis se vertalings uit Nederlands aan kwaliteit inboet, omdat die vertalers nie genoeg tyd kry om die bronteks goed te bestudeer en om die vertaling daarna deeglik te hersien nie. Dit lei sy af van die hoë tempo waarteen vertalings by die uitgewery die lig sien en dat net 'n handjie vol vertalers daarvoor verantwoordelik is.
    Elkeen van daardie vertalers is geakkrediteer by die twee vertaalfondse in die Lae Lande wat die subsidies vir die vertaling en produksie van die boek in Suid-Afrika verskaf. Om geakkrediteer te word, moet elke kandidaat 'n proefvertaling doen wat aan streng keuring onderwerp word. Uitstekende kennis van Nederlands en 'n bo-gemiddelde skryfvaardigheid in Afrikaans is die belangrikste maatstawwe. Daarby kom die vermoë om die styl en register van die bronteks getrou weer te gee. Daarom is die meeste vertalers ook reeds literêre skrywers in eie reg.
    Akademiese vertaalkwalifikasies is irrelevant en selfs 'n hindernis, omdat dit met die vertaalpraktyk weinig uit te waai het.
    Vir die opdraggewende uitgewer is dit van deurslaggewende belang dat die vertaler by sperdatums kan hou - sonder om aan kwaliteit in te boet. Wanneer 'n plaaslike uitgewer 'n vertaalkontrak met 'n Nederlandse uitgewer sluit, bevat dit altyd 'n realisties haalbare keerdatum vir die verskyning van die vertaling. Al die huidige vertalers by Protea voldoen aan daardie eis. Bekwame en gesoute vertalers kan vinnig en terselfdertyd noukeurig werk. Selfs sonder om die boek vooraf "goed te bestudeer". (Wat sou dit dan behels?)
    Protea Boekhuis se vertalers is al meermale vir hul werk deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon. Maar Marike van der Watt stel skynbaar nog hoër akademiese standaarde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top