Oorlog en terpentyn deur Stefan Hertmans: ’n lesersindruk

  • 0

Oorlog en terpentyn
Stefan Hertmans
Vertaler: Daniel Hugo
Uitgewer: Protea Boekhuis

ISBN: 9781485306108

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Daar is ’n tendens wat ’n positiewe ontwikkeling in die Afrikaanse letterkunde aandui en wat nuwe werke toenemend begin aanvul. Dit is die vertaling van Europese (en ander) letterkundige tekste in Afrikaans. Onlangse voorbeelde sluit in die gedigte van Michel Houellebecq, Plato se Apologie van Sokrates en nou ook Stefan Hertmans se Oorlog en terpentyn. Hertmans het met hierdie boek die Vlaamse Cultuurprys voor de Letteren, die AKO Literatuurprys en die Lezersjury Gouden Boekenuil ontvang. Mens kan net hoop dat hierdie tendens beteken dat die Afrikaanse band met Europa, al is dit nou ’n “ander” Europa, aan die verstewig is.

Vir agtergrond: een teorie oor suiwer strategie, in die militêr-politieke sin daarvan, meld dat strategie in sy suiwerste vorm iets is wat die voer van oorlog verbind met die intensie van die politiek. Uiteindelik skep ’n bepaalde strategie die konteks waarbinne oorlog en politiek afspeel. Maar daar is ook ’n ander konteks hier betrokke, een wat maklik misgekyk word deur strateë, en dit is die konteks van die rolspelers, die mense wat binne hierdie strategiese konteks leef. Hertmans beskryf een so ’n konteks en die rolspelers daarin. Die verhaal speel grootliks af binne ’n oorlog, maar ook binne die hedendaagse leefwêreld van die verteller. Hertmans self sê heel aan die begin en met verwysing na sy oupa se lewe: “[D]it is met hierdie soort flardes en besonderhede wat ek moes meet en pas om iets te verstaan van wat ’n lewe lank in hom afgespeel het: die stryd tussen die verhewene waarna hy gesmag het, en die herinnering aan die dood en verderf wat hom in sy greep bly hou het.” En aan die einde vervolg hy: “Hierdie paradoks was die konstante gegewe van sy lewe: om heen en weer geslinger te word tussen die soldaat wat hy noodgedwonge was en die kunstenaar wat hy wou wees.”

In Oorlog en terpentyn vertel Hertmans die storie van sy oupa wat aan die einde van sy lewe sy dagboeke, waarvan ’n groot deel sy ervaring van die Eerste Wêreldoorlog beskryf, aan hom nagelaat het. Hierdie ervaringe word afgewissel deur die een ander dwingende aspek van sy oupa se lewe: die drang om te skilder. Die besonderhede van hierdie aspekte van sy oupa se lewe en die mense wat daarin gedeel het, vorm die “lyf” van die boek en word so deeglik gedoen dat dit enige karakter van iemand soos Bernard Comment in sy boek The shadow of memory jaloers sal maak. Die leser kry ook sporadies insae in die skrywer se eie lewe waar hy oor sy eie verhouding met sy oupa en familie vertel. Hertmans skroom ook nie om samelewingskommentaar in sy vertelling in te vleg nie, soos sy kommentaar op die ouderwetse soldaat pragtig illustreer. Hierdie sin vir waarneming lei tot ’n meesleurende werk en ’n waardevolle toevoeging tot die reeds uitgebreide literatuur oor die onderwerpe van oorlog, herinnering, tradisie en menslike verhoudings.

Tog is hier uniekhede aan te dui. Eerstens sukkel mens om te besluit wat hierdie verhaal nou eintlik is: biografie, drama, dagboek? Reeds vroeg val iets anders op wat selde gebeur: daar word toepaslike foto’s in die teks ingesluit. En dan die inhoudelike, waar die vertelling spring van die verlede (soos opgeteken in die dagboeke) na die hede, waar Hertmans self terugkyk na sy verlede en sy oupa, beskryf hoe hy daaroor peins, hoe hy sy oupa se voetspore probeer naloop deur na plekke te reis waar sy oupa was en watter gevoelens dit by hom (Hertmans) losmaak. Tydens ’n besoek aan Gent en sy besef dat van die historiese geboue daar nie meer bestaan nie, skryf hy byvoorbeeld: “Die jonger generasies ervaar geen gevoel van verlies nie – vanselfsprekendheid is ’n byproduk van vergetelheid.”

Weer eens hanteer Daniel Hugo die vertaling, en is dit soms nodig om die oorspronklike Nederlands of Frans te behou wat woorde of frases betref, aangesien ’n vertaling nie altyd reg laat geskied hieraan nie. Vir lesers wat hierdie tale magtig is, sal die beskrywings nog meer waarde hê. Die vertaling slaag, en daar is pragtige sinne en beskrywings, byvoorbeeld:

“... dis ’n sonde dat mens moet sterf sonder om te verstaan hoe so iets tot stand kan kom.”

“Wat verstaan ons nog van mense uit die tyd van die groot katastrofes in Europa?”

“... met die smaakloosheid wat handelaars oral ter wêreld aangebore is ...”

“Die grond walm yskoud, dit voel soos ’n onbekende planeet van koue humus, en ons – onbeduidend klein en bewend – is daarop vasgeplak soos vlieë in stroop.”

“Dit is daardie sinlose, idiotiese lag wat hy later, in omstandighede wat nou nog ondenkbaar is, weer sal sien toe hy swewend tussen slaap en wakkerwees in die yskoue modder die dinge sal oordink wat hy vandag gesien het – die pappery van die wêreld, dit wat hy teen wil en dank inkry.”

“Iets in my kan nie meer onderskei tussen wat ek dink en wat ek sien nie.”

Mens kan sekerlik Oorlog en terpentyn gewoon sien as ’n pragtige storie wat aangrypend vertel word, maar as mens dan dieper wil soek, is daar meer pitkos te kry. Dit het deels te make met die skilderkuns wat hier altyd (in mindere of meerdere mate) teenwoordig is en uiteindelik by die hoofkarakter gesien kan word as ’n stuk lewensterapie. Soos reeds genoem, word die teks deur toepaslike foto’s toegelig. Met eerste oogopslag wonder mens hoekom dit ingesluit is en of dit nie die “waardigheid” van die teks tot nadeel strek nie. Mettertyd begin mens egter agterkom dat dit tog iets tot die teks bydra, al is dit bloot om die leser se eie verbeelding te stimuleer en jou nog meer in die verhaal te betrek. Saamgelees met die fyn besonderhede en soms goedgemikte samelewingskommentaar wat in die teks voorkom, word jy hierdeur herinner dat hier werklike dagboeke ter sprake is en dat afbeeldings maklik deel van so ’n persoonlike versameling kan vorm. JRR Tolkien het in een van sy briewe die volgende gesê, en alhoewel dalk buite sy bedoelde konteks, is dit dalk net so geldig ten opsigte van dele van hierdie werk: “Jy is aan die binnekant van ’n baie groot verhaal. Jy verwag geheimenisse .... verskrikkinge wat jou hart laat stol en vreugdes wat dit kan breek ... In hierdie wêreld mag daar nie net dinge soos drake wees nie, maar selfs ook helde.” Oorlog en terpentyn kry iets hiervan reg in Hertmans se afwisseling tussen die verlede en hede, terwyl die vertelling ook hoogs persoonlik is.

Ten slotte miskien nog net dit: as daar twyfel by enige leser bestaan oor die waarde van geskiedenis, die tradisie, die nostalgie, en of dit enigsins nog relevant is vir die supermarkbestaan (wat aldus iemand soos Michel Houellebecq grootliks net gaan oor die inrig van die sosiale rakruimtes en die toeken van ’n bepaalde handelswaarde aan mense) wat ons vandag gedwing word om te bedryf, is die aanhaling van Remarque, heel aan die begin van die boek, dalk die finale woord: “Dit is asof die dae, soos engele in goud en blou, ongrypbaar bo die sirkelgang van die vernietiging staan.” Daaroor kan ons, ook ter plaatse, net instemmend kopknik, veral wanneer mens ná die lees weer opkyk na die lewe waarna jy moet terugkeer, maar ook gegee die moderne opbloei van “identiteit” wêreldwyd. Hierdie teks is ’n persoonlike ervaring van waarde in ’n realiteit wat alte dikwels ’n gebrek aan betekenis, samehang en allerhande vorme van moderne korrektheid voorhuigel. Dit beskryf ’n tyd voordat alles ’n kommoditeit geword het; ’n handelswaarde gekry het. In Hertmans se eie woorde: “Wat ’n vreemde aarde waarop ons gewoond is om te lewe.”

In kort is Oorlog en terpentyn die tyd wat aan die lees daarvan spandeer word, werd.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top