Oorkant jou deur Juliana Coetzer: ’n lesersindruk

  • 1

Foto van Juliana Coetzer: Blits-leer van S-Leer (www.s-leer.co.za)

Oorkant jou
Juliana Coetzer
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868428151

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Normaalweg is daar in elke boek sekere gedeeltes of karakters wat my minder beïndruk as ander, dan gebeur dit dat ek daardie dele vluglees. Oorkant jou was die uitsondering, ek het elke paragraaf met aandag gelees, soveel dele op my Kindle gemerk dat die gemerkte gedeeltes bladsye beslaan.

In Coetzer se debuut, Bloedvreemd, het ek die gevoel gekry dat die skryf van die ervaring met haar gestremde dogter ’n innerlike groeiproses was, maar in Oorkant jou het ek haar potensiaal gesien om elke leser op ’n innerlike groeiproses en spirituele ontwikkelingsreis te neem. Vir my was dit pynlik ongemaklik om van haar karakters se eienskappe, vrese en emosies in myself te herken. Die skryfstyl en gebeure word so oortuigend oorgedra, dis moeilik om te glo dat dit inderdaad waarheid en verdigsel is wat gekombineer is, sodat niemand herkenbaar is nie. Karakters en inhoud is aangepas, verander en gekombineer. Vir my moet enige verhaal waar sou kon wees om geloofwaardig te wees. Hierdie was veel meer as dit: dit was asof universele emosies en gedrag uit ’n bron van buite geneem is en op ’n vlak aangespreek is wat in ons almal se onbewuste teenwoordig is.

Dit was duidelik dat die mate van betrokkenheid by verskillende kliënte ook wissel – om te besluit wanneer om te “red”, wanneer om bloot professionele afstand te behou en van terapeutiese tegnieke gebruik te maak. Dit moet bitter moeilik wees om nie veroordelend op te tree in sekere situasies nie. Die eerlikheid en opregtheid waarmee die skrywer haar eie emosies, vrese en vooroordele aanspreek en bereid is om van haar kliënte te leer, het opgeval.

Verskillende mense oor wie sy skryf (soos Venicia, Sonja, Lisa en Rina) het ’n verskillende invloed op haar groeiproses gehad, tog was hulle uit totaal verskillende sfere van haar lewe en werk. Ek het haar gevra of daar ’n gemeenskaplike faktor was wat hulle bind en sy het soos volg geantwoord: “Ek dink die gemeenskaplike faktor is miskien omdat ek met elkeen van hulle ’n emosionele band gevorm het en werklik vir hulle omgegee het. Iets het my na hulle aangetrek. Hulle het vir my omgegee en ek vir hulle en elkeen het my iets van liefde geleer. Aanvanklik was Venicia interessant en skokkend-eerlik; Rina soos ’n ma; Sonja het my gedruk om ’n beter terapeut te wees; en Lisa het keuses gemaak ter wille van vooruitgang. Ek kan met elkeen van hierdie eienskappe identifiseer. Venicia en Sonja beskou ek as my alter ego’s.”

“’n Mens is so siek soos die geheim wat jy dra.” (Hierdie sin uit Oorkant jou pla my en ek het probeer dink aan geheime waaraan ek alleen dra. Kan mens ’n geheim namens iemand dra? Wie se siekte is dit dán?) Volgens Coetzer is die rede dat ’n mens al jou energie gebruik om die geheim te onderdruk. Dit beteken nie dit hoef aan die groot klok gehang te word nie; al praat mens net met een mens wat die getuie is van jou storie. Sy sien dikwels die verligting wat mense ervaar as die storie net eers uit hul sisteem is. Eers dan kan hulle vorentoe beweeg, ’n nuwe storie skryf. As terapeut luister sy na baie mense se geheime, maar dit het ’n effek op haar net wanneer sy aan die onreg begin vasklou en die effek daarvan op mense sien.

Dwarsdeur die boek was daar vir my ’n draad van groei, vergifnis en oorwinning van vrees, maar die grootste hiervan is die liefde. In die laaste hoofstuk word gepraat van ’n swartswaan-ervaring, ’n lewensveranderende proses. Vir die skrywer self was daar ’n ongelooflike proses wat sy beskryf wat gelei het tot selfinsig, met liefde en deernis as grondslag.

Hierdie boek het my vreemd geraak, op ’n dieper vlak as bloot dié van ’n psigoterapeut wat oor haar ervarings van kliënte en haar eie innerlike prosesse skryf. Self probeer ek nog ontleed waarom dit my so geraak het. Vermoedelik het dit te doen met my eie oortuigings, hoe dit inpas met die loop van elke mens se lewenspad en die mense wat daarop saamstap.

Ek het haar gevra hoe die skryf van hierdie boek, en ook Bloedvreemd, of die innerlike prosesse, ook vir haar sou werk met die skryf van fiksie. Daarop antwoord sy: “Ek is so dankbaar ek kon die stories uit my skryf, want met my volgende projek, wat fiksie is, wil ek geen reste van stories in my kop hê nie. Dit moet heeltemal nuut wees. Ek is bitter bang, maar dis ‘n nuwe fase en ek weet ek moet. Met die skryf van Bloedvreemd en Oorkant jou het ek my indirek losgemaak van al my herinneringe en hoop om vorentoe nuut te skep. Ek het genoeg gehad van my.”

Baie lesers sal seker met my saamstem: óns het nog nie genoeg gehad van haar nie en sien uit na die volgende boek.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top