Oor rotskuns as vertelling

  • 0

Hierdie gesprek vind sy oorsprong in die resensies van David Attwell en Derek Attridge se The Cambridge History of South African Literature.

Lees Waldemar Gouws se reaksie op Helize van Vuuren se resensie van Attwell en Attridge se boek. Hennie van Coller reageer op Waldemar Gouws. Hier reageer Waldemar Gouws op Hennie van Coller se repliek.

Die ruimhartigheid en akademiese lydsaamheid onderliggend aan Hennie van Coller se kommentaar op my vrae het my verras. Ek sê dankie vir die inligting (oor ’n punt in sy hoofstuk in die nuwe literatuurgeskiedenis) en vir sy afleidings, opmerkings, ingewings en uitleggings.

Een kwessie wat hy aanraak, is relevant vir my vraag oor die moontlike geldigheid daarvan om die rotskuns van die San/Boesmans onder die noemer van “die Suid-Afrikaanse letterkunde” te wil kry. Ek wil kortliks sy implisiete aanvaarding van die konsep “rock art as narrative” bekyk.

Ter verduideliking van een van die voorhande benaderingswyses, nl die inklusiewe beleid van literêre geskiedskrywing, verwys Van Coller in sy reaksie op my reaksie op Helize van Vuuren se resensie van Attwell en Attridge se nuwe literatuurgeskiedenis, na dokumente in Portugees, opgestel deur Portugese seevarende reisigers met ons deel van die subkontinent as tema, wat dan sou tuishoort by Suid-Afrikaanse letterkunde. Dat hierdie dokumente nie deur Roemeense sigeuners geskryf is nie, kan met sekerheid vasgestel word. Dan verwys Van Coller na die “rock art as narrative” sonder ’n kwalifiserende “sogenaamde”of “(sic)”.  Waarom sou hierdie idee van rotskunsvertelling so hanteer moes word? Bloot omdat daar geen aanvaarde opgetekende bewyse in Suid-Afrika beskikbaar is wat op die bestaan van so ’n narratief dui nie. Die Duitse navorser Sigrid Schmidt noem een enkele voorbeeld in die Brandberg. Maar dit is in Namibië.

Die San/Boesman-rotskuns sluit nie aan by die behoue of bekende verhalende tradisie van hierdie mense nie, in teenstelling met die uitbeelding van Griekse mites, vanaf ongeveer 900 vC, byvoorbeeld van Theseus tydens sy tog vol hindernisse op pad na sy pa toe, of van die jagter Akteon wat in ’n takbok verander het en deur sy eie honde verskeur is nadat hy per toeval (of dalk juis nie per toeval nie) op die hitte van die dag op die godin Artemis (godin van die jag, onder andere) afgekom het terwyl sy besig was om af te koel in ’n beskutte bergpoel, kaal. Terloops, Ovidius noem 35 van Akteon se jaghonde by die naam, en dit was nie eers almal van hulle nie. Selfs ’n klein skilderytjie teen ’n muur van ’n geïsoleerde mansfiguur uit wie se kop ’n takbokgewei groei, omring deur ’n paar aggressiewe honde wat teen hom opspring, was genoeg om die eietydse én latere kykers aan die verhaal van Akteon te herinner. Soos Jenifer Neils elders geskryf het: “In order for a work of art to succeed in narrating a myth, it must employ a grammar understood by its viewers and relate in some fashion to the Zeitgeist of contemporary society.”

Of dit nou Bleek en Lloyd se optekening van Boesman-opvattings, -verhale, -poësie en -gebruike is, of Von Wielligh se oorvertellings, of Eugène Marais se Dwaalstories, mens soek verniet na herkenbare uitbeeldings van enige van die verhale in die rotskuns. Die geloof in die bestaan van die reëndier was byvoorbeeld sterk, en redelik algemeen wyd versprei oor die gebiede waar die San was. Talle afbeeldings op rots van hierdie mitiese dier is al geïdentifiseer. Maar nêrens in ’n verhaalgegewe nie.   

Toe die jong San-jagter Qieng in Desember 1873 vir Orpen, ’n Britse administrateur in die Natal van toe, in die Drakensberge dmv ’n tolk verskeie motiewe in rotskunstonele verduidelik het, het die verklarings nie na enige verhale verwys nie. Ook Diä!kwain, die /Xam-man van die Katkopheuwels naby Kenhardt, wat vir Lucy Lloyd verduidelik het wat op Orpen se kopieë van sommige rotsskilderye aangaan, het nie van enige verhalende elemente melding gemaak nie. Van Diä!kwain se kommentaar sê JC Hollmann – voorheen ’n navorser aan Wits se rotskunsnavorsingsinstituut: “Diä!kwain’s comments are about as close as a rock art researcher can get to interviewing the makers of Bushman imagery from long ago.”

Reeds in 1934 het Walter Benjamin sy publiek ingelig oor die begin van die proses van die versmelting van literêre vorme. Sou iemand ’n tipe Rosetta-rots hier in die veld ontdek wat die narratiewe krane oopgedraai kan kry, kan rotskuns ’n waardevolle pendant vorm vir Suid-Afrikaanse letterkunde vanaf die mondelinge tradisie tot in die hede. Maar tot tyd en wyl dit gebeur, bly die uitdrukking “rock art as narrative”, oftewel rotskunsverhale, vir my in ’n staat van aporia.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top