Poësie oor Patrick Petersen

  • 0

Digters tel hul penne op en skryf oor Patrick Petersen, die man wat ander digters vlerke probeer gee en bemagtig het. Vanjaar sou Patrick sy sestigste verjaarsdag gevier het.

Patrick Petersen 1951–1997
Joan Hambidge

Sou jy kon voel hoe hierdie vers,
hierdie vers
die pyn skandeer van iets so wrakkig
as ‘n lewe wat eindig in ‘n ambulans
onbetyds om die hartlongmasjien te haal,
‘n suurstofmasker of intensiewe eenheid ...
maar die digter bly asemhaal, sy hart bly klop
in sy woorde,
in die intensiewe eenheid van die poësie.

***

Elegie vir ‘n digter
(vir Patrick Petersen 1951-1997)
Selwyn Milborrow

ek is ‘n doodgewone ou
wie die reënboogkleure meng
en ‘n huldeblyk verf
nét vir jou

só swaar om protes en pyn
deur jou pen te voel vloei
tog was dit vir jóú
ver verhewe bo vers en kwatryn

nóú wil ek jou prentjie skilder
op die doek van die mensdom
wat nooit sal afskilfer

want ál onthou ek
die gehuil van ‘n pen
versteen in ‘n oomblik
toe bloed en metaal meng
weet ek ook jỳ
kon jou oë in vrede sluit
met jou laaste huistoery

***

In Memoriam* – Patrick James Petersen
(6 Julie 1951 – 7 Junie 1997)
Robert Pearce

my Xhosa broer
ons het ‘n lang pad gekom
tot hier op Vredenburg
waar ons afskeid kom neem het van jou
‘n Groter Gees as die een wat jy gegee het.

Ja-nee

jou koms was ver
vanaf Eerstelaan op Wolseley
deur na Bellville, Oudtshoorn, Paternoster en Vredenburg
waar jy uiteindelik tot ruste gekom het
en begrawe lê op Vredenburgse maan.

Drie-duisend-tweehonderd kilometer aflê
tussen Eersterust en Vredenburg is gans te min
vir Speedo, Felecity, Sylvia en my
vir ‘n laaste vaarwel aan ‘n Gestalte soos jy.

Aaa, Pat

Ek weet ek praat uit huis, maar broer
was ons nie lief vir die vrug van die wingerd
en vlees in wit gehul?
Maar in dieselfde asem laat my soos Christus beveel:
"sondevrye, gooi die eerste steen!"

Bra

gun my ‘n bietjie sentimentaliteit
om te leen uit van ver af en te sê dat jy in jou kis
"alkant donners mooi" was my swartbroer.
O wee
kan ons na jou heengaan weer na Paternoster gaan
vir dig, praat en baklei oor-en-in Afrikaans?
O nee
Ons sal gaan om krans te lê
op Paternosterpad waar jy verongeluk het
daai koue Vrydagaand van ses Junie.

Elize, Amos, Renata en familie
ons het ‘n Pa verloor
wat diep spore getrap het
vanuit verdrukte-bevryde Azania
tot in Nederland en België.
Laat ons nooit vergeet die onopsigtelike liefde
wat hy aan ons betoon het.
Ons ken vandag ten dele
maar eendag soos daar belowe is:
"sal ons ten volle verstaan".

Sondagdigter broers
twee skakels in van ver af-digtersketting ontbreek tans
maar moenie vergeet dat eers Isak en nou Pat
‘n "weg gaan voorberei het".
Ons is verslae en rou in ons gemoed
maar soos die ontslapenes so dikwels gepreek het:
"sy wil het geskied."
Soek dan salwing en vertroosting daarin
dat die weë wat hulle uitgebeitel het
soos ‘n swaar mantel op julle val
om voort te sit die Prog-drome
ter nagedagtenis en vir nageslagte.
Faal ons dan nie in nuutopgelegde taak
want, indien, sal ons ontslape bruinbroers onrustig slaap
en soos die vader van Hamlet na jul terugkeer om te eis:
"voltooi wat begin is!"

My bruin/wit/swart broers en susters
moenie laat Pat-leemte
julle jul spoor laat byster raak.
Is ons geloof dan so oppervlakkig
dat ons nou leierloos na Pat se heengaan
op ashoop gaan sit en rou in wanhoop?

Pat

laat my toe in afwesigheid
jou aan te spreek in nog ‘n vers:
nalatenskappe sal geboorte en gestalte gee
aan nuwe beginne en embrio’s wat om die beurt
jou visie sal volbring.
As eens gelowige dominee hoort jy mos te weet my broer
dat die geeste wat jou vervul en verlaat het moes,
om gestalte te gee in jou geskrifte en nagelatenis.
‘n Leemte het jy gelaat my Xhosa broer
wat gedwonge gevul sal word deur:
Amandla Ngawetu/Advent/Optog/Vergenoeg/
Aankoms uit die skemer en Ons kom van ver af.

Laat my dan toe om af te sluit met laaste vers
en saam met die struggle- en Afrikaanse digters te uiter:

"Lank lewe die gees van Patrick James Petersen, lank leef!"
en:
"Hamba Kahle Pat, Hamba Kahle."
"Stil mense, daar lê ‘n Man op Vredenburg begrawe."

15 Junie 1997
Vredenburg, Wes-Kaap by Patrick se begrafnis.

***

Patrick*
(6 Julie 1951 - 7 Junie 1997)
Robert Pearce

"Inkie ek het nie goeie nuus nie. Pat is oorlede."
(Ingrid Geldenhuys in De Kat)

Pat,
vertel my van daai pyn
wat so vlak lê in donker oë.

Vertel my van diep-inbors-geboesemde lag
wat weier om spontaan te ontspring.
Deel met my jou hartseer van onbeantwoorde liefde
Van ‘n Dominee se dogter wat nie meer loop oor pastorievloer.

Vertel my hoekom jy soos Holly en Valens
ook jonk moes gaan?
Is dit te veel gevra, Broer?
Vertel my die pyn van ‘n Swart Afrikaanse Skrywer
wat as halfnaaitjie (sic) misken was
asook hoekom jou "honderdjarige merk" as Skrywer
kort geknip is na 46 jaar?

Is dit te veel gevra, Broer?

Nog ’n goeie vriend Willem Fransman Jrhet ook gedig oor Patrick:
Patrick James Petersen

Poëet van die mense
Paljasmaker met woorde
Prediker vir die mense
Pastor ewige
Prog-stigter
Plesier aan ander
Padongeluk grusaam
Paternoster-pad eis lewe
Prys vernoem
Postuum vereer
Per excellence

***

Op die Paternoster-pad
Leonard Koza

Op die Paternoster-pad
Ja, op die Paternoster-pad
Ja op die Paternoster-pad
Ja op die Paternoster-pad
Alleen in die donker
Alleen in die donke

Op die Paternoster-pad
Ja, op die Paternoster-pad
Met die ysterwiele wat sny deur die koue
Ja die koue wat ook sny deur
Murg en been
Alleen in die koue
Ja, alleen in die koue

Alleen
Ja alleen
Stoksielalleen toe die donker teerpad
Die grondpad soen, ja die grondpad
Ja daardie grondpad waar die
Warrelwind gereeld die stof en
Sand teen die windskerms waai.
Ja, die daardie grondpad wat nooit
sy wraak teen die teerpad vergeet

Op die Paternoster-pad
Ja, daardie Paternoster-pad
Het die wrede grondpad ‘n man
Uit sy motor geslinger
Stof laat byt,
Ja, daardie grondpad het ‘n siel geëts
Vir sy grond stof tot stof
Op daardie grondpad is die ink van
‘n pen opgedroog
Is gedagtes wat
gestrewe het na verbeeldingsryk
vir altyd gedemp
Daardie grondpad
Daardie grondpad-
Al word dit eendag geteer
Sal lesers, skrywers én digters
Dit as “daardie grondpad” nooit vergeet

***

By die dood van ‘n digter
Vernie Plaatjies

Nie ‘n engel nie,
maar Radiosondergrense het die nuus gebring
Die gevoel verklaar
van ‘n hartseer iewers in die dag
en wolke wat Weskus toe.

Soos in die bygeloof van sterfte lê
en in my hart het die dag gekrimp,
het ‘n wind glasbleek en skraal gewaai;
het ‘n son oor ‘n volk ondergegaan
het ek jou as digmaat aangeraak.

Nie as mens van God nie,
maar mens van mens
van siel en die smart van ‘n arm volk
van miskende lewens en swart (stom) krete
van vryheidsvegters en gestorwe stryders;
van ‘n Afrikaanse so vol ontkende monde
‘n stukkie van die reënboog in elke kleur …
met jou heengaan weerklink steeds die refrein
dat die reënboog nog nie oral oor die aarde span
dat die reën nog hard in die gopse val,
‘n volk oor die vlakte steeds berg toe bid
Dat bande steeds verlore op plase raak
Ons Xhosa-broers en -susters ons noe moet verlaat …

Jou sterfte is ons seer en het geen dood
In woord en mens leef jy grensloos voort

***

Vir Patrick Petersen (gesterf 6/7/1997)
Diana Ferrus

Vader van die Swart Afrikaanse skryf
stil lê jou lyne
In die nag afgeëts
op jou lippe verstar
die eind van die vers
skielik voltooi
verskyn die verhaal.

Resensente skryf: "onvolledige slot"
die lesers vra: "wat het gebeur?"
maar tussen die reëls
in die hart van die woord
het kripties die leidraad
verweef gelê,

"met die koms van die winter
in die middel van die jaar
verys die ink in jou punt,
verhuis die gees in die stil van die wind."

Armer steeds die Afrikaanse taal –
‘n kryger, ‘n vegter, die skrywerssoldaat
Voor in die linie op die oorlogsfront
Vader van die Swart Afrikaanse skryf
jou memoirs vervolg
in die taal wat ons praat
in winter in somer,
selfs diep in die nag
nooit is jou gees van ons verlaat!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top